President Xi Jinping van China het diegene wat die “geskiedenis van aggressie teen China romatiseer” Maandag tydens die 77ste herdenking van die begin van ‘n oorlog met Japan, gekritiseer.
Japan is tans besig om hul geskiedenis te herskryf en weer na militarisasie te beweeg.
Te midde van stygende spanning tussen Beijing en Tokio, het hierdie jaar se herdenking van die 1937 Marco Polo-brug-insident, ‘n buitengewoon hoë-profiel verkry.
‘n Groep Chinese skoolkinders het by die plegtigheid ‘n lied vir vrede gesing. China het gereageer op ‘n Japannese propagandaveldtog teen Beijing.
Betrekkinge het versuur ná die Japannese premier se besoek aan ‘n tempel in Tokio laat verlede jaar wat Japan se oorlogsmisdadigers vereer.
Kort daarna het amptenare by die Japannese uitsaaier NHK ontken dat die 1937-slagting in Nanjing duisende Chinese burgers se lewens gekos het, asook Japan se destydse gebruik van seksslawe.
Die twee regerings is tans betrokke in ‘n dispuut oor die eienaarskap van die onbewoonde eilande in die Oos-Sjinese See.
China het ook ongemak uitgespreek oor Japan se herinterpretasie van sy pasifistiese grondwet wat beperkings op militêre aktiwiteit ophef.
Terwyl dié verandering in Japan self met groot teenkanting begroet is deur die opposisie, is dit deur die Verenigde State van Amerika en Australië verwelkom.
Die Japannese Eerste Minister Shinzo Abe sal Maandag besoek aflê by sy Australiese ampsgenoot.
China het nie regstreeks verwys na Japan nie, maar diegene veroordeel wat “die harde werklikheid van die geskiedenis ignoreer”.
Die oorlog het op 7 Julie 1937 uitgebreek en Japan het Beijing kort daarna beset. Sowat 20 miljoen mense is volgens China in die oorlog dood.
Dit het in 1945 tot ‘n einde gekom toe Japan in die Tweede Wêreldoorlog verslaan is.
