Sankariste bedreig VSA-greep op Burkina Faso

Na ‘n gewilde opstand in Burkina Faso teen die jarelange diktator Blaise Compaore wat 27 jaar aan bewind gebly het ondersteun deur die Verenigde State en Frankryk, moes president Barack Obama vinnig beweeg om die VSA se teenstanders in dié land skaakmat te stel.

Die Withuis moet verseker dat lojaliste van Compaore se vermoorde voorganger, Thomas Sankara, nie ‘n greep op die mag verkry nie.

Die Amerikaanse Afrikabeheersentrum (Africom), met hul hoofkwartier in Stuttgart, Duitsland het vinnig het oorgegaan tot aksie om te verseker dat Burkina Faso ‘n militêre junta aanstel met luitenant-kolonel Isaac Zida as die “tussentydse” president.

Politieke partye en leiers van die burgerlike gemeenskap in Burkina Faso het intussen besluit dat die land in aanloop tot ‘n verkiesing aanstaande jaar deur ‘n burgerlike president gelei moet word, maar dat die regering ook lede van die weermag moet insluit.

Ingevolge ‘n konsep-handves oor die oorgangsperiode mag die tussentydse president en lede van die oorgangsregering nie aan die verkiesing deelneem wat vir November aanstaande jaar beplan word nie.

Die weermag, wat beheer van die land oorgeneem het ná die ontsetting van president Blaise Compaore sal sy eie handves voorlê in ‘n poging om konsensus te bereik.

Die adjunkbevelvoerder van die presidentswag, Isaac Zida het beheer van die land oorgeneem, maar belowe die weermag sal nie aan die mag vasklou nie. Maar sy vrome beloftes beteken dalk nie veel nie.

Obama, die CIA-direkteur John O. Brennan, en Africom is steeds bekommerd dat die grootste opposisie party, die Mouvement Sankariste (MS) nie ‘n nuwe regering moet vorm nie.

Die MS-leier, Bénéwendé Stanislas Sankara, ‘n familielid van die vermoorde Thomas Sankara en prokureur vir die Sankara-familie, staan ‘n baie goeie kans om Burkina Faso se nuwe president te word.

Maar Zida, ‘n gegradueerde van die VSA Gesamentlike Spesiale Operasies Universiteit by MacDill Air Force Base in Tampa, Florida, wat Africom se militêre intelligensiekursus in Botswana bygewoon het, is haastig deur die Obama-administrasie met dreigemente van geweld in Compaore se plek ingeskuif.

Die Ivoorkus-president, Alassane Ouatarra het die afgesette Compaore intussen met ope arms verwelkom. Ouatarra se moeder is in Burkina Faso gebore is, en word beskou as ‘n virtuele marionet van die Wêreldbank, die Pentagon, en Israel.

Burkina Faso, onder Compaore, het toegelaat dat ‘n Amerikaanse onbemandetuigbasis in die land gevestig word, ‘n geheime operasie met die kodenaam Creek Sand, en ‘n geklassifiseerde plaaslike intelligensiesentrum verbonde aan die Amerikaanse ambassade, met die kodenaam Aztec Archer.

Die gewilde Sankara was vyandig teenoor die IMF asook die Wêreldbank. Dit het hom duur te staan gekom. In Oktober 1987, het Sankara by ‘n nuuskonferensie gesê: “Ons moet met een stem praat, en sê hierdie skuld kan nie betaal word nie. En omdat ek die eensame stem is, sal ek vermoor word. Ons moet saam sê, ons kan nie betaal nie, want ons moet werk om ‘n toekoms vir ons mense te bou. Indien slegs Burkina Faso weier om te betaal, sal ek nie hier wees by die volgende konferensie nie.”

Twee weke na dié opmerkings, op 15 Oktober 1987, het Sankara se tweede-in-bevel, Compaore, by ‘n vertrek ingeloop waar Sankara gesit het en twee skote in Sankara se bors geskiet.

Compaore het sy staatsgreep met die CIA by die Amerikaanse ambassade in Ouagadougou en die Franse Algemene Direktoraat vir Eksterne Veiligheid (DGSE) in die Franse ambassade gekoördineer.

VSA brei lugaanvalle in Afrika uit

Die VSA het ‘n lugaanval deur ‘n onbemande tuig gedoen oor ‘n gebied waar die leiers van Somalië se Al-Kaida-militante vergader het, het intelligensie bronne Dinsdag gesê, maar dit is onduidelik of enige bevelvoerders gedood is.

Die aanval het volgens Somaliese regeringsamptenare die al Sjabaab-leier Ahmed Abdi Godane en ander leiers geteiken wat glo byeen was by die plek, maar daar was geen bevestiging dat hulle getref is nie.

Die Pentagon is tans besig met die voorbereiding van ‘n onbemande tuig-basis op een van die mees afgeleë plekke op aarde: ‘n Ou kameelkaravaankruispad in die middel van die Sahara.

Na maande van onderhandelinge het die regering van Niger, ‘n Wes-Afrika-land, is die Amerikaanse weermag gemagtig om onbemande tuie uit die modder-ommuurde woestynstad van Agadez te stuur.

Die besluit gee die Pentagon ‘n toesigmiddelpunt – die tweede in Niger en derde in die streek – om sogenaamde Islamitiese ekstremiste in Noord- en Wes-Afrika op te spoor.

Dit bevorder ook publisiteit vir die Amerikaanse strategie om bedreigings saam met Frankryk, die voormalige koloniale mag in daardie deel van die vasteland, aan te pak.

Die VSA se militêre magte onderneem dikwels oorvlugte oor Somalië, maar lugaanvalle en grondaanvalle is relatief ongewoon.

Die Pentagon het ‘n groot tuigbasis by Camp Lemmonnier in Djiboeti, wat grens aan Somalië in die Horing van Afrika, maar stuur tuie oor Somalië uit ‘n basis in Ethiopië.

Wit Brit lei al-Sjabaabterreur in Kenia

‘n Wit Britse man wat “vlot Britse Engels” praat lei die al-Sjabaab kommando’s wat dorpe in die noorde van Kenia aanval.

Sowat 60 mense is dood in die aanvalle wat deur die wit Brit gelei word, het getuies gesê.

Verskeie mense in Mpeketoni het gesê die bende se leier was ‘n blanke en praat Engels en Arabies. Een van die ooggetuies is ‘n laerskoolonderwyseres wat goed Engels praat.

Die aanvalle word deur ‘n goed opgeleide span van al-Sjabaabterroriste uitgevoer wat onder die koördinering van ‘n ervare buitelandse jihadi-span werk om Somaliese Islamiete te versterk.

Die grootste van die twee mees onlangse aanvalle was toe sowat 40 gewapende mans die beheer van Mpeketoni oorgeneem het deur te vra of mense Moslems is. Hulle het diegene wat nie was nie, summier doodgeskiet. Sestig mense het gesterf.

Daar was verdere terreuraanvalle Maandagnag, toe soveel as 15 mense gedood is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Keniaanse president Uhuru Kenyatta beweer dat die aanvalle die werk van plaaslike politici is wat probeer om etniese haat teen sy Kikuyu-stam aan te wakker.

Dit is ten spyte van die feit dat al-Kaida reeds verantwoordelikheid aanvaar het vir die sterftes.

Terreur-selle in SA laat gevaarligte flikker

Die Volksblad berig dat Al-Sjabaab-selle, afkomstig van Somalië, vir Suid-Afrika ‘n bedreiging inhou. Die groep is deur Osama bin Laden in die lewe geroep.

Kenia het sedert verlede jaar alle Somaliërs gebrandmerk ná ’n aanval op ‘n winkelsentrum in Nairobi.

Samantha Lewthwaite, ’n Britse vrou, was glo die baasbrein agter die bomaanval op die winkelsentrum in Nairobi.

Sy is ook bekend as die Wit Weduwee en het in Suid-Afrika gewoon en gewerk voor die aanval op die winkelsentrum in Nairobi.

Tydens die aanval op Westgate-winkelsentrum, het 67 mense hul lewens verloor.

Die Mombasa-gebied is volgens prof. Hussein Solomon, ‘n ontleder, die skuilplek vir ekstremiste soos die Wit Weduwee. Volgens kenners praat ‘n hele aantal rebelleleiers Engels met ‘n swaar Britse aksent.

Sy is met die Somaliese Al-Sjabaab-krygsheer Hassan Maalim Ibrahim getroud. Sy word reeds in 200 lande gesoek vir haar aandeel in tientalle terreuraanvalle.

Al-Sjabaab beteken “Die Jeug” in Arabies.

Die heersende xenofobie teen Somaliërs kan lei glo tot terreur ter plaatse, volgens Solomon, ‘n leraar in die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat.

Die Amerikaanse ontplooiing in Afrika, bekend as AFRICOM, se aanvalle op burgerlikes deur onbemande tuie is glo deels die rede vir die toenemende geweld in Kenia.

Prof. Hussein Solomon
Prof. Hussein Solomon

Dié terreurgroep is ook een van talle wat Suid-Afrika glo as ’n basis gebruik om ’n inkomste te genereer om operasies soos dié in die res van Afrika te finansier, sê Solomon.

Solomon sê Suid-Afrika se powere intelligensiedienste weet nie veel van die terreurgroepe binne ons landsgrense nie.

“Ongelukkig is dié dienste deurspek van politieke aanstellings in senior poste. Nie een van hulle weet hoe om ’n situasie te ontleed en daaruit voorspellings te waag nie,” het hy gesê.

Minstens 48 mense is Sondag in Mpeketoni, aan die Keniaanse kus, in ’n aanval gedood.

Die rebelle het twee losieshuise en ’n polisiekantoor aangeval terwyl die inwoners saam na die Wêreldbeker-sokkertoernooi op televisie gekyk het.

Die rebelle gebruik “wit goud”, of ivoorsluikhandel uit die Afrika-bos na Asiatiese stede om hul opstand te finansier.

Andrea Crosta, uitvoerende direkteur van die Elephant Acion League (EAL), wat die afgelope paar jaar ondersoek na al-Sjabaab ingestel het, sê dié handel verloop seepglad.

Hy beweer dat tot drie ton ivoor elke maand verkoop word deur middel van ‘n gekoördineerde ketting.

Aktiviste en natuurbewaarders sê al-Sjabaab ontvang ‘n beduidende gedeelte van sy befondsing van ivoorsluikhandel.

Inligting oor presies hoe dit bereik word is reeds saamgeflans deur wildbewaarders en sekuriteitsdeskundiges.

Volgens ‘n VN-verslag is 22.000 olifante in 2012 deur stropers afgemaai.

 

 

Boko Haram: Om die Chinese projek in Afrika te stuit

Phumzile Mlambo-Ngcuka, herontplooi vir die VSA in Afrika
Phumzile Mlambo-Ngcuka

Die Nigeriese militante wat ten minste 284 skoolmeisies as gyselaar geneem het, wil hul kamerade uit die tronk kry, sê ‘n bemiddelaar vir Boko Haram.

Die VN Direkteur vir Vroue, Phumzile Mlambo-Ngcuka, wat tans gemoeid is met die aangeleentheid, se gesig is bekend aan Suid-Afrikaners omdat sy voorheen deur die VSA hier ontplooi is as minister van buitelandse sake.

Sy moedig tans die soektog na die ontvoerde meisies in Nigerië aan. Die terreurgroep Boko Haram sal glo die ontvoerde Moslemmeisies in ruil vir hulle gevangenes vrylaat.

Phumzile Mlambo-Ngcuka rep egter geen woord oor die dodelike aanval in Gamborou Ngala in die Borno-provinsie in Nigerië nie, ‘n aanval wat omtrent op die dieselfde tyd as die ontvoering gebeur het.

Volgens ‘n verslag deur die Vanguard, ‘n Nigeriese koerant, het die jihadistiese terreurgroep Boko Haram die dorp bestorm en ongeveer 300 mense vermoor.

Die ontvoering is dus waarskynlik gekoppel aan Sino-Amerikaanse onderhandelinge oor strategiese grondstowwe in die gebied na die terreurgroep se suksesvolle aanslae.

Boko Haram se amptelike naam is Jama’atu Ahlis Sunna Lidda’awati wal- Jihad, wat vertaal uit die Arabies beteken “Mense verbind tot die voortsetting van die profeet se leringe en Jihad”.

Die groep is ‘n tak van die Takfiri Salafi-beweging. Salafi-Takfiris beskou ander Moslems en Christene as afvalliges.

Boko Haram wil sjariawette in Nigerië, Noord- Kameroen en Niger instel, en val Christenkerke en -skole aan, asook polisiestasies, regeringinstallasies en ontvoer en vermoor Westerse toeriste.

Ons oud-minister is ewe gefokus op die onderhandelinge om die meisies vrygelaat te kry as die Obama-administrasie.

Die VSA het intussen militêre, intelligensie- en wetstoepassingsadviseurs na Nigerië gestuur om te help om die meer as 270 tienermeisies op te spoor.

Volgens die Los Angeles Times, sal die span gebruik word vir militêre intelligensie doeleindes en sal deel wees van ‘n ondersoekspan na die meisies wat op 14 April uit ‘n landelike hoërskool in Nigerië se oorwegend Moslem-noordooste verdwyn het.

Obama het gesê die ontvoering “mobiliseer die hele internasionale gemeenskap” in  weerwil van ‘n trae ontvangs oral. In Oktober 2013 het die VSA Boko Haram as ‘n terroristegroep gelys.

In 2012, het Obama die aantal Amerikaanse militêre personeel wat ontplooi is in Nigerië reeds verhoog. Nigerië is na Saoedi-Arabië die VSA se grootste ru-olieverskaffer.

Die VSA se Afrikaweermag, Africom, het gesê Boko Haram se bedrywighede bedreig Nigerië , Kameroen , Niger , Mali en Tsjad.

In 2012 het die Nigerian Tribune berig dat Boko Haram se befondsing uit die Verenigde Koninkryk en Saoedi-Arabië kom, spesifiek uit die Al-Muntada Trustfonds.

In 2005 was dit reeds duidelik dat Al-Muntada besonder aktief in die bevordering van Islamisme in Nigerië is.

Soortgelyke Islamitiese skole is tydens die CIA se geheime oorlog teen die Sowjet-Unie in Afghanistan in Pakistan gestig. Hulle is gefinansier deur Saoedi-Arabië en sy netwerk van liefdadigheidsorganisasies.

Benewens ondersteuning ook uit Brittanje, het Boko Haram indirekte hulp via Libië se al-Kaida-huursoldate ontvang van NAVO.

Tydens ‘n onderhoud met Al-Jazeera het die AQIM-leier verklaar dat Algerië wapens aan Nigerië se Boko Haram-beweging verskaf.

Al-Kaida ( AQIM ) en die Libiese rebelle is direk tydens die Libiese konflik in 2011 van wapens en logistieke ondersteuning voorsien deur NAVO, het die navorser Nile Bowie vasgestel.

AQIM en Boko Haram hou egter minder van ‘n bedreiging vir Afrika in as China wat die VSA en Frankryk betref, en die aanwesigheid van ekstremiste is duidelik ‘n goeie manier om op kort kennisgewing wapens en militêre personeel te ontplooi.

China se ekonomiese en diplomatieke invloed in die streek moet beperk word aangesien Nigerië die 13de grootste olie-produsent in die wêreld is.

Die Wes-Afrikaland se ander natuurlike hulpbronne sluit in natuurlike gas, tin , ystererts , steenkool, kalksteen, niobium , lood, sink en landbougrond .

Die VSA en Franse wil verseker dat die nuwe Chinese leierskap nie sal voortgaan om sy voordelige verhoudings met die hulpbronryke Afrika-lande uit te bou nie.

Daarom sal ekstremiste onstabiliteit in lande soos Nigerië verhoog en sal dit hopelik China se ekonomiese groei inperk.

Africom se missie is dus om in die naam van die stryd teen terrorisme oorlog te skep wat sogenaamd Amerikaanse nasionale veiligheid bedreig, sodat die VSA China se projek in Afrika kan stuit.

 

 

Moslemgeweld teister Afrika-vasteland

'Wit weermag' in Suid-Soedan
‘Wit weermag’ in Suid-Soedan

Moslemgeweld teister die vasteland van Afrika nadat minstens tien mense omgekom het na twee selfmoord-bomaanvalle by die Jazeera Palace-hotel in die Somaliese hoofstad, Mogadishu.

Regeringsoldate is ook in die jongste aanvalle beseer. Verlede week is sewe mense in ‘n bomaanval op ‘n restaurant in Mogadishu dood.

Die Islamitiese groep, al-Shabaab, wat glo verantwoordelik was vir die aanslag verlede jaar op ‘n winkelsentrum in Kenia, het verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar.

Verskeie berigte van aanvalle op regeringsbasisse in sleutelgebiede rondom die hoofstad is ontvang.

Intussen het Suid-Soedan se strydende partye in Ethiopië aangekom vir vredessamesprekings om die driewekelange burgeroorlog te probeer beëindig.

Die geweld tussen etniese faksies van die president en die voormalige vise-president het reeds duisende lewens geëis. Daar is meer as 60 etniese groepe wat hoofsaaklik verdeel is tussen grondeienaars en nomadiese herders.

Die onderskeie onderhandelaars wat namens verskeie regerings en die rebelle optree, het in Addis Abeba aangekom vir die formele vredessamesprekings wat vandag begin.

Gevegte het op 15 Desember verlede jaar tussen die twee grootste etniese groepe uitgebreek nadat president Salva Kiir sy voormalige adjunk, Riek Machar, daarvan beskuldig het dat hy ‘n staatsgreep in die mou voer.

Kiir is Roomskatoliek, maar sy seun is glo ‘n Moslem.

Machar het het op sy beurt die president daarvan beskuldig dat hy besig is met ‘n gewelddadige suiwering van sy teenstanders en die beweerde staatsgreep as ‘n voorwendsel gebruik.

Die krisis het geëskaleer nadat die “wit weermag”, swart jeugdiges lojaal aan Machar, wat hul gesigte met potas witsmeer, toegetree het. Na bewering het Machar reeds 25.000 jeugdiges wat na die hoofstad sal opmars, agter hom geskaar.

Rebelle het reeds beheer oor verskeie gebiede in die olieryke noorde oorgeneem.

In die hoofstad Bengui van die Sentraal Afrikaanse Republiek is drie mense dood in botsings tussen Moslems en Christene terwyl ontstoke inwoners handgranate geslinger en huise aan die brand gesteek het.

Minstens 15 mense is beseer. Inwoners van Bangui sê lede van die Seleka rebellemagte in burgerdrag het handgranate na Christenhuise gegooi en hulle aan die brand gesteek.

Christenjeugdiges het daarna met weerwraakaanvalle begin en nabygeleë Moslemhuise aan die brand gesteek.

Soldate van die Afrikamag wat in die land ontplooi is om Franse troepe te ondersteun, maar het gesukkel om die geweld tussen die Selekarebelle en Christenvigilantes te keer.

Die Moslemrebelle het in Maart die mag oorgeneem.

Meer as ‘n duisend mense het in Desember in gevegte tussen die twee groepe omgekom.

Tien mense is ook beseer na ‘n handgranaataanval op ‘n restaurant in Kenia. Die land se polisie sê die aanval het in die gewilde kusdorp Diani, suid van Mombassa voorgekom.

Niemand het verantwoordelikheid vir aanval aanvaar nie, maar verskeie terreuraanvalle kom in die land voor sedert Kenia sy weermag in Somalië ontplooi het om die ekstremistiese groep al-Shabaab te verslaan.

Geweld het skerp toegeneem regoor die vasteland nadat die VSA hulle Afrika-mag, AFRICOM ontplooi het.

Africom maak reg vir Suid-Soedan

Genl. David M. Rodriguez
Genl. David M. Rodriguez

Die bevelvoerder van die Amerikaanse Africa Command sal magte in Oos-Afrika herposisioneer in ‘n poging om maksimum buigsaamheid te verseker om te kan reageer op die State Department se versoek, het ‘n Pentagon-woordvoerder kol. Steve Warren aan verslaggewers gesê.

Warren ook aan verslaggewers gesê dat drie van die vier Amerikaanse personeel wat gewond is op 21 Desember in Bor, Suid-Soedan sal na die Landstuhl militêre hospitaal in Duitsland ontruim word. Die vierde sal ontruim word wanneer sy toestand stabiliseer.

Die vier beseerde Amerikaanse dienslede is tans in ‘n hospitaal in Nairobi, die Keniaanse hoofstad. Hulle is getref deur kleinwapenvuur toe hul Osprey probeer het om te land in Bor .

Genl David M. Rodriguez, die bevelvoerder van Africom, het elemente van die Spesiale Taakmag van Moron, Spanje, na Camp Lemonier, Djiboeti oorgeplaas.

Die Amerikaanse verdedigingsekretaris Chuck Hagel volg die situasie nougeset en is in byna deurlopende kommunikasie met die bevelvoerder, het die amptenaar gesê .

Ongeveer 3.000 buitelandse burgers bevind hulle nog steeds in Suid-Soedan ten spyte van talle Amerikaners wat reeds uit die geweldgeteisterde land verwyder is.

‘n Humanitê koördineerder van die Verenigde Nasies sê burgers van Australië, Brittanje en Kanada is steeds in Suid-Soedan

‘n VN-sending het belowe dat hy nie enige burgerlikes sal agterlaat nie. Die Amerikaanse Departement van Verdediging het nie aangedui of hulle met die VN skakel oor die lot van dié burgerlikes nie.

‘n Woordvoerder in die hoofstad Juba, Joseph Contreras, sê die VN-vestings waar meer as 20.000 vlugtelinge skuiling gesoek het, is relatief veilig.

Sporadiese aanvalle kom steeds voor en geweer- en masjiengeweervuur word redelik gereeld in die stad Bor gehoor.

Dit is dieselfdse stad waar rebelle die naweek op drie VN militêre vliegtuie en Amerikaanse helikopters geskiet het.

Africom-opdrag om Afrikamag in te vlieg in konflikgebied

Obama kom op Waterkloof aan
Obama kom op Waterkloof aan

Die Amerikaanse Sekretaris van Verdediging, Chuck Hagel het gelas dat Amerika troepe vervoer vanaf Burundi na die Sentraal-Afrikaanse Republiek om te help met onderdrukking van die jongste oplewing in geweld daar.

Hagel het sy goedgekeuring gegee net nadat hy met die Franse Minister van Verdediging, Jean-Yves Le Drian Maandagnag uit Afghanistan gepraat het, waar hy ‘n besoek aan troepe gebring het.

Le Drian het die VSA om hulp gevra om ‘n Afrikamag vinnig in die land in te voer om die geweld daar te verhoed en te keer dat dit verder versprei, het ‘n Pentagon-woordvoerder gesê.

Daar is meer as 1000 Franse troepe in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, waar meer as 400 mense in twee dae van geweld tussen Christene en Moslems verlede week omgekom het.

AFRICOM sal magte in samewerking met Frankryk vervoer, omdat die VSA glo onmiddellike optrede is nodig “om ‘n humanitêre katastrofe” te voorkom. Die woordvoerder het gesê dat die Pentagon sal evalueer of ander Amerikaanse hulpbronne beskikbaar sal wees indien addisionele versoeke vir hulp ontvang word.

Hagel se opdrag het uur voor President Barack Obama se boodskap gekom wat hy laat opneem het om vir kalmte in die Sentraal-Afrikaanse Republiek te pleit.

Obama se boodskap is Maandag op band opgeneem in Dakar, Senegal, waar Air Force One brandstof ingeneem het op pad na Suid-Afrika.

Obama het reeds aangekom vir ‘n gedenkdiens ter ere van die voormalige president Nelson Mandela, wat verlede week dood is.

Hy het ‘n oproep gedoen op “die trotse burgers van die Sentraal-Afrikaanse Republiek, “om ‘n ander pad te kies” weg van geweld.

Die amptenaar het gesê daar sal geen ander Amerikaanse troepe op die grond wees nie, behalwe lugbemanning wat nodig is vir die vlug na die Sentraal-Afrikaanse Republiek.