Amerika het vandeesweek aangekondig dat sanksies teen die seuns van Joseph Kony, leier van die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) se Lord’s Resistance Army (LRA) ingestel is.
Die Amerikaanse tesourie sê Salim en Ali Kony is geteiken omdat hulle namens die LRA en hul pa optree, het AFP berig.
Dit volg nadat sanksies in Maart teen Kony senior ingestel is omdat hy burgerlikes in die Sentraal-Afrikaanse Republiek teiken deur opdrag vir dade van geweld en ontvoering te gee en verantwoordelik is dat duisende mense haweloos gelaat is.
Die LRA, wat in 1987 vir die eerste keer in die noorde van Uganda na vore getree het, het ‘n vreesaanjaende reputasie verwerf vir barbaarse aktiwiteite in die noorde van Uganda, Suid-Soedan, die Demokratiese Republiek van Kongo en SAR.
Die groep het meer as 100 000 mense vermoor, meer as 60 000 kinders ontvoer en baie van hulle gedwing om kindersoldate te word, sê die Verenigde Nasies.
Verkiesingsbeamptes het begin om die stemme te tel nadat kiesers in die Sentraal-Afrikaanse Republiek in verkiesings wat eers uitgestel is, vir die wetgewende liggaam en die president gestem het.
Die hoop is uitgespreek dat ’n einde aan die ergste sektariese geweld sedert die land se onafhanklikwording in 1960 nou gemaak sal word, het AFP berig.
Die stemmery het onder streng veiligheidsmaatreëls plaasgevind met duisende vredesbewaarders van die Verenigde Nasies wat landwyd ontplooi is. Sover vasgestel kon word, het die verkiesings vreedsaam verloop.
Die eerste amptelike uitslae word nie vir etlike dae verwag nie.
Anicet Georges Dologuele, ’n 58-jarige voormalige bankier van die sentrale bank, wat as “Mnr. Skoon” bekend staan vir sy pogings om deursigtigheid in die deurmekaar openbare finansies teweeg te bring, het in die eerste ronde van die presidentsverkiesing op 30 Desember 23,78 persent van die stemme op hom verenig.
Sy naaste teenstaander, Faustin Archange Touadera, ’n voormalige wiskunde professor, ook 58 jaar oud, wat as ’n onafhanklike kandidaat gestaan het, het vir ’n verrassing gesorg en 19,4 persent van die stemme ingepalm.
Kiesers het ook in ’n herverkiesing vir die wetgewende vergadering gestem nadat die aanvanklike verkiesing, wat ook op 30 Desember gehou is, ongeldig verklaar is ná talle onreëlmatighede aan die lig gekom het.
Altesaam 1 800 kandidate ding mee om 105 setels in die Nasionale Vergadering.
Die Sentraal-Afrikaanse Republiek se mees onlangse bloedvergieting is begin nadat die bewind van die veteraanpresident, Francois Bozize, ’n Christen, in Maart 2013 deur hoofsaaklik Moslem Seleka-rebelle omvergewerp is.
Die staatsgreep het ’n reeks vergeldingsaanvalle deur Christen “anti-balaka” (anti-kapmes) milisies en Moslem-rebelle meegebring. Duisende mense is dood en ongeveer ’n tiende van die land se 4,8 miljoen inwoners, het op die vlug geslaan.
Twee vars mensekoppe is in ‘n Nigeriese hotelrestaurant in Onishta te ete aangebied. Die dis is as “geroosterde kop” op die spyskaart aangedui, het die International Business Times berig.
Die polisie het op die hotel se restaurant toegeslaan ná gerugte dat mensvleis daar bedien word. Hulle het afgekom op twee vars mensekoppe, deurdrenk van die bloed en toegedraai in sellofaan.
Inwoners is glo nie verbaas deur die restaurant se aanbieding nie, want die omgewing is glo die uithangplek van onverkwiklike siele.
‘n Pastoor was nogtans geskok om te ontdek dat hy mensvleis geëet het.
“Ek het gedink die vleis is baie duur, maar ek het nie besef dis omdat dit mensvleis was nie.”
Dié afskuwelike vonds het na die sluiting van die restaurant in die Nigeriese staat van Anambra gelei.
Beslag is ook gelê op twee AK-47-gewere, ander wapens, ammunisie en verskeie selfone.
Daar is voortdurend berigte van kannibalisme in Nigerië, maar dis die eerste keer dat ‘n restaurant betrap is dat hy mensvleis op die spyskaart aanbied.
In 2012, is Joshua Akindele, ‘n 56-jarige, in hegtenis geneem nadat hy by die polisie aangemeld is omdat hy na bewering kannibalisme beoefen.
Tydens sy ondervraging, het Akindele erken dat hy kannibalisme beoefen en menslike liggaamsdele vir rituele doeleindes verkoop.
Hy het beskryf hoe hy sy niksvermoedende slagoffers oor die kop geslaan het en hulle liggame in ‘n gat gesleep het wat gedien het as sy skuilplek.
Hy het die menslike verkoop aan sekere kerke gereelde kopers en sommer self daarvan geëet. Hy het ook vertel dat mensvleis duur is.
Ander kannibale het vertel dat hulle die dele van politieke en godsdiensvyande eet uit weerwraak.
In een onlangse geval in die Sentraal-Afrikaans Republiek het ‘n man sy slagoffer van die bus getrek, geslaan, gesteek en aan die brand gesteek nadat hy petrol oor hom uitgegiet het.
Daarna het hy sy been in die openbaar geëet. Die voorval is afgeneem deur omstanders met hul selfone, maar niemand het Ouandja Magloir probeer keer nie.
‘n Vorige diktator van die SAR vanaf 1966 tot 1979, Bedel Bokassa, was ook ‘n mensvleisliefhebber.
Nog Europese lande sal binnekort soldate stuur om die Franse Afrikavredesending in die Sentraal Afrikaanse Republiek te versterk.
Dit is deel van Frankryk se pogings om ‘n Europese mag te skep wat die EU voortaan sal kan verdedig.
Sommige ontleders sê die Franse wil NAVO daarmee troef en kritici sê dis ‘n manier vir Frankryk om sy weermag met ander lande se geld te befonds.
Die Franse minisiter van buitelandse sake, Laurent Fabius het hulp versoek om die geweld in die SAR te probeer keer, het RSG berig.
Frankryk het 1.600 soldate in die S.A.R ontplooi om te voorkom dat die geweld tussen die Christen ekstremiste en grootliks Moslem Seleka rebelle verder uitbrei.
Pole, Brittanje, Duitsland, Spanje en België het hulp aangebied. Intussen het Franse soldate vir die tweede keer vanjaar in Mali ingegryp in ‘n poging om insypelaars in die noorde te stuit.
Intussen het die VN berigte ontvang dat tussen 400 en 500 mense in die jongste geweld in Suid-Soedan dood en tot 800 beseer is.
Die regering in Suid-Soedan sê 10 politici is in hegtenis geneem in verband met ‘n mislukte staatsgreep.
Die regering soek nog na die gewese visepresident Riek Machar wat daarvan beskuldig word dat hy die mislukte staatsgreep aangevoer het.
Geweld tussen twee faksies in die weermag het die naweek uitgebreek en die president Salva Kiir het ‘n aandklokreël ingestel.
Die geweld weerspiëel die ernstige verdeeldheid in Afrika se jongste staat, net meer as twee jaar nadat dit van Soedan afgestig het.
Die VSA het intussen sy burgers aangeraai om Suid-Soedan te verlaat en het werksaamhede by sy ambassade in die land opgeskort.
Die Amerikaanse Sekretaris van Verdediging, Chuck Hagel het gelas dat Amerika troepe vervoer vanaf Burundi na die Sentraal-Afrikaanse Republiek om te help met onderdrukking van die jongste oplewing in geweld daar.
Hagel het sy goedgekeuring gegee net nadat hy met die Franse Minister van Verdediging, Jean-Yves Le Drian Maandagnag uit Afghanistan gepraat het, waar hy ‘n besoek aan troepe gebring het.
Le Drian het die VSA om hulp gevra om ‘n Afrikamag vinnig in die land in te voer om die geweld daar te verhoed en te keer dat dit verder versprei, het ‘n Pentagon-woordvoerder gesê.
Daar is meer as 1000 Franse troepe in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, waar meer as 400 mense in twee dae van geweld tussen Christene en Moslems verlede week omgekom het.
AFRICOM sal magte in samewerking met Frankryk vervoer, omdat die VSA glo onmiddellike optrede is nodig “om ‘n humanitêre katastrofe” te voorkom. Die woordvoerder het gesê dat die Pentagon sal evalueer of ander Amerikaanse hulpbronne beskikbaar sal wees indien addisionele versoeke vir hulp ontvang word.
Hagel se opdrag het uur voor President Barack Obama se boodskap gekom wat hy laat opneem het om vir kalmte in die Sentraal-Afrikaanse Republiek te pleit.
Obama se boodskap is Maandag op band opgeneem in Dakar, Senegal, waar Air Force One brandstof ingeneem het op pad na Suid-Afrika.
Obama het reeds aangekom vir ‘n gedenkdiens ter ere van die voormalige president Nelson Mandela, wat verlede week dood is.
Hy het ‘n oproep gedoen op “die trotse burgers van die Sentraal-Afrikaanse Republiek, “om ‘n ander pad te kies” weg van geweld.
Die amptenaar het gesê daar sal geen ander Amerikaanse troepe op die grond wees nie, behalwe lugbemanning wat nodig is vir die vlug na die Sentraal-Afrikaanse Republiek.
Suid-Afrika en die Kongo-Brazzaville sê die tyd het aangebreek vir Afrika-leiers om oplossings vir Afrika- probleme te vind.
Afrika-leiers berei voor om volgende maand se Veiligheidskonferensie oor Afrika in Frankryk by te woon.
President Jacob Zuma het ‘n vergadering met sy eweknie van die Republiek van die Kongo Denis Sassou Nguesso Saterdag in Pretoria gehou. Die Kongo is die DRK se buurland en tuiste van stamme wat ook in die DRK woon.
Zuma sê wat hulle nodig het is om eenheid te wys in die soeke na oplossings vir die vasteland se probleme.
“Die tyd het aangebreek dat ons moet werk aan oplossings vir Afrika se probleme. In plaas daarvan dat mense ons te vertel wat om te doen, moet mense ons ondersteun as sê wat ons gaan doen.”
Sassou – Nguesso se sê Afrika-leiers moet ondersteuning van buite kry.
“Op die kollektiewe kwessies, veiligheid en vrede, stem al die Afrika-leiers saam. In die SAR is ons besig met optredes en ons wag vir die ondersteuning van ons vennote. Ons hoop die Afrika-Unie (AU) sal die voortou neem en sal later bygestaan word deur die Verenigde Nasies (VN ),” sê Sassou – Nguesso .
Die Veiligheidskonferensie oor Afrika sal onder andere die verslegtende situasie in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR ) bespreek.
Frankryk gaan soldate na die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) stuur om stygende chaos in die land te verhoed.
Die aankondiging deur die Franse minister van verdediging, Jean-Yves Le Drian, volg ‘n dag nadat ‘n amptenaar van die Verenigde Nasies (VN) gewaarsku het teen grootskaalse menseregteskendings asook die gevaar van ‘n moontlike burgeroorlog wat dreig in een van die wêreld se armste lande.
Sedert die Seleka-rebellegroep in Maart kragte saamgespan het om pres. François Bozizé uit die kussings te lig, het die krisis in die SAR handuit geruk.
Frankryk sal die aantal soldate in die Sentraal-Afrikaanse Republiek verdriedubbel tot 1200 ná maande van geweld.
Die mineraalryke, maar arm land van 4,6 miljoen mense verkeer in chaos met baie rebelle wat uit die naburige Tsjad en Soedan die land instroom.
Die Franse minister van buitelandse sake Laurent Fabius het gesê die versterkings sal opdaag nadat die Veiligheidsraad van die VN ‘n resolusie ingestem het.
“Frankryk het 410 soldate nou in Bangui en dit sal versterk word na 800, wat die aantal na 1200 verhoog.”
Die VSA skat dat byna 400.000 mense ontwortel is en 68.000 het na buurlande gevlug sedert Selekaleier en tussentydse president Michel Djotodia beheer oor sy los koalisie van krygshere verloor het.
Die konflik word deur Seleka se hoofsaaklik Moslemvegters teen die Christene gevoer. Christene maak die helfte van die bevolking uit en Moslems net sowat 15 persent.
Die rebelle word deur menseregtegroepe van moord, verkragting en die opleiding van kindersoldate beskuldig. – Reuters/Sapa/AP