Washington begin vuurmaak onder Kartoem

Pres. Barack Obama het Amerika se sanksies teen Soedan met nog ‘n jaar verleng en sê Kartoem se beleidsrigtings bly ‘n “buitengewone bedreiging” vir die nasionale veiligheid van Amerika.

Soedan is sedert 1997 onderworpe aan ‘n Amerikaanse handelsembargo vir steun aan Islamitiese groepe. Al-Kaïda­ se leier, Osama bin Laden, was vanaf 1992 tot 1996 in Kartoem gestasioneer.

In onlangse jare is die Soedanese regering se verskroeide aarde taktieke teen etniese minderheidsrebelle in Darfoer as rede aangevoer waarom die sanksies nie opgehef is nie.

Obama het Maandag opdrag gegee dat die sanksies vir nog ‘n jaar vanaf 3 November verleng word.

“Die optrede en beleid van die regering van Soedan gaan voort om ‘n buitengewone bedreiging vir die nasionale sekuriteit en buitelandse beleid van Amerika te wees,” het hy in ‘n verklaring gesê.

Daar was bespiegelinge dat die sankies moontlik opgehef kon word, ná herhaalde besoeke die afgelope maande aan Kartoem deur Amerika se spesiale gesant, Donald Booth.

In ‘n afsonderlike verklaring deur die Amerikaanse ambassade in Kartoem, word gesê die sankies is bloot tegnies van aard en dat dit steeds verlig kan word.

Dit was “deel van ‘n roetine, jaarlikse proses wat nie die vermoë van die president om sanksies op enige tydstip in die toekoms te verlig, in die gedrang bring nie,” lui die verklaring deur die ambassade.

Amerika, wat Soedan sedert 1993 op ‘n swartlys as borg van terrorisme het, is van voorneme om voort te gaan met sy beleid van betrokkenheid, voeg die ambassade by.

Washington was ‘n sleutelrolspeler in die vredesooreenkomste wat in 2011 tot Suid-Soedan se onafhanklikwording gelei het en daar was destyds sprake dat Soedan, as beloning, van die swartlys verwyder sou word.

Die Darfoer-konflik vertroebel egter steeds betrekkinge.

Pres. Omar al-Bashir word deur die Internasionale Geregshof gesoek op klagte van oorlogmisdade en volksmoord, wat met die konflik verband hou. Hy ontken die klagte.

In September verlede jaar het Washington geweier om ‘n visum aan Basjier uit te reik om die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies (VN) by te woon en as verduideliking die Internasionale Geregshof se dagvaarding aangevoer.

Die VN sê minstens 300 000 mense is dood en meer as 2,5 miljoen is haweloos gelaat sedert die Darfoer-konflik in 2003 uitgebreek het. 

Trump vermorsel Jeb Bush met Bin Laden-onthulling

Die voormalige goewerneur van Florida, Jeb Bush, het Dinsdag vir oulaas tevergeefs probeer om die Republikeinse voorloper in die presidentsnominasiestryd, Donald Trump, in ’n regstreekse televisiedebat aan te vat, het Reuters berig.

Die meeste ander aanspraakmakers op die nominasie was egter katvoet vir die vurige miljardêr. Hul versigtigheid was ’n erkenning van Trump se vermoë om aanvalle te weerstaan en sy man te staan.

Verlede week het Trump skokgolwe deur die Republikeinse kamp gestuur met sy voorstel om alle Moslems te verbied om Amerika binne te kom.

Sy teenstanders het hom hieroor gepak, net om agter te kom baie Republikeine deel Trump se sentiment en sy gewildheid in meningsopnames het toegeneem.

Al was Bush genadeloos in sy aanslag op Trump, was dit waarskynlik te min te laat om sy sukkelende veldtog te red.

“Donald is goed met een-sin-aanhalings, maar hy is chaos as ’n kandidaat en sal ’n chaotiese president wees,” het die 62-jarige Bush gesê.

Trump (69) het teruggekap: “O ja, en jy is ’n sterk ou wat in die meningspeilings in gewildheid afneem.”

Trump het ook onthul dat die Bush-gesin toegesien het dat Osama bin Laden se hele familie uit die VSA gesmokkel word, direk na 9/11 toe alle lugverkeer gestrand was.

Dit het die FBI se ondersoek in die wiele gery omdat hulle nie sleutelgetuies kon ondervra oor die grootste terreuraanslag in die VSA nie.

Trump het ook gerugte dat hy as onafhanklike kandidaat sou staan indien hy nie die Republikeinse party se nominasie kry nie, die nek ingeslaan.

“Ek is totaal verbind tot die Republikeinse party en voel geëerd om die voorloper te wees,” het Trump gesê.

Terreur-selle in SA laat gevaarligte flikker

Die Volksblad berig dat Al-Sjabaab-selle, afkomstig van Somalië, vir Suid-Afrika ‘n bedreiging inhou. Die groep is deur Osama bin Laden in die lewe geroep.

Kenia het sedert verlede jaar alle Somaliërs gebrandmerk ná ’n aanval op ‘n winkelsentrum in Nairobi.

Samantha Lewthwaite, ’n Britse vrou, was glo die baasbrein agter die bomaanval op die winkelsentrum in Nairobi.

Sy is ook bekend as die Wit Weduwee en het in Suid-Afrika gewoon en gewerk voor die aanval op die winkelsentrum in Nairobi.

Tydens die aanval op Westgate-winkelsentrum, het 67 mense hul lewens verloor.

Die Mombasa-gebied is volgens prof. Hussein Solomon, ‘n ontleder, die skuilplek vir ekstremiste soos die Wit Weduwee. Volgens kenners praat ‘n hele aantal rebelleleiers Engels met ‘n swaar Britse aksent.

Sy is met die Somaliese Al-Sjabaab-krygsheer Hassan Maalim Ibrahim getroud. Sy word reeds in 200 lande gesoek vir haar aandeel in tientalle terreuraanvalle.

Al-Sjabaab beteken “Die Jeug” in Arabies.

Die heersende xenofobie teen Somaliërs kan lei glo tot terreur ter plaatse, volgens Solomon, ‘n leraar in die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat.

Die Amerikaanse ontplooiing in Afrika, bekend as AFRICOM, se aanvalle op burgerlikes deur onbemande tuie is glo deels die rede vir die toenemende geweld in Kenia.

Prof. Hussein Solomon
Prof. Hussein Solomon

Dié terreurgroep is ook een van talle wat Suid-Afrika glo as ’n basis gebruik om ’n inkomste te genereer om operasies soos dié in die res van Afrika te finansier, sê Solomon.

Solomon sê Suid-Afrika se powere intelligensiedienste weet nie veel van die terreurgroepe binne ons landsgrense nie.

“Ongelukkig is dié dienste deurspek van politieke aanstellings in senior poste. Nie een van hulle weet hoe om ’n situasie te ontleed en daaruit voorspellings te waag nie,” het hy gesê.

Minstens 48 mense is Sondag in Mpeketoni, aan die Keniaanse kus, in ’n aanval gedood.

Die rebelle het twee losieshuise en ’n polisiekantoor aangeval terwyl die inwoners saam na die Wêreldbeker-sokkertoernooi op televisie gekyk het.

Die rebelle gebruik “wit goud”, of ivoorsluikhandel uit die Afrika-bos na Asiatiese stede om hul opstand te finansier.

Andrea Crosta, uitvoerende direkteur van die Elephant Acion League (EAL), wat die afgelope paar jaar ondersoek na al-Sjabaab ingestel het, sê dié handel verloop seepglad.

Hy beweer dat tot drie ton ivoor elke maand verkoop word deur middel van ‘n gekoördineerde ketting.

Aktiviste en natuurbewaarders sê al-Sjabaab ontvang ‘n beduidende gedeelte van sy befondsing van ivoorsluikhandel.

Inligting oor presies hoe dit bereik word is reeds saamgeflans deur wildbewaarders en sekuriteitsdeskundiges.

Volgens ‘n VN-verslag is 22.000 olifante in 2012 deur stropers afgemaai.

 

 

Kernwapens vir Osama?

ImageDaar word beweer dat die "Arctic Sea" – die Russiese skip wat blykbaar gekaap is en vir twee weke vermis is – 'n kernwapen aan boord gehad het wat vir Osama bin Laden bestem was. Volgens Joseph Farah se G2 Bulletin word dié bewerings tans deur die Britse inligtingsdiens, MI6, ondersoek.

Die skip is vandag 300 seemyl vanaf die Wes-Afrikaanse kus gevind en die bemanning is veilig, maar 'n span spesialiste in die opsporing van kernstowwe is vanuit Moskou na die toneel gestuur.

Die moontlikheid dat die skip heelwat meer as net die hout wat dit veronderstel was om te verskeep aan boord gehad het, val saam met die bin Laden se mees onlange openbare aanspraak dat hy "binnekort 'n kernwapen in die hande gaan kry".

In 'n reeks verwikkelinge wat as hoogs ongewoon beskryf word, het die "Arctic Sea", 'n vragskip met 'n Russiese bemanning, ongeveer twee weke gelede verdwyn toe dit deur die Mou, een van die besigste seekanale ter wêreld, gevaar het.

Die skip van 4 000 ton het van die hawe Pietarsaari in Wes-Finland weggevaar met hout ter waarde van $1,3 miljoen aan boord, blykbaar onderweg na Algerië.

Vier dae later is sy in Sweedse waters deur gewapende en gemaskerde mans oorval.

Die afgelope naweek het dit geblyk dat bestralingstoetse in die hawe van Pietasaari uitgevoer is nadat MI6 en beamptes van die FSB, die Russiese geheime diens, by die hawe aangekom het.

Die uitslag van daardie toetse bly geheim. Intussen het die Russiese vloot vyf oorlogskepe wat van spesiale toerusting – sensors wat kernstof kan opspoor – voorsien is na die Atlantiese oseaan gestuur.

Die moontlikheid dat kernmateriaal aan boord van die "Arctic Sea" versteek was, is ook verhoog deur die verslag dat splytbare stowwe enkele weke gelede uit 'n kernbergingsdepot indie Oeralgebergte in Rusland verdwyn het.

free pokerФильчаков прокурор отзывы