Die departement van energie het Woensdag gesê geen bindende kernkragooreenkoms is in Wene met Rusland gesluit nie.
Hulle het egter bevestig dat die Russies-Suid-Afrikaanse verklaring die grondslag sal lê vir die bou van 8 kernkragstasies in Suid-Afrika wat 9 600 megawatt aan die land se kragnetwerk sal lewer.
Dr. Wolsey Barnard, waarnemende direkteur-generaal van energie, het gesê die ooreenkoms vir die oprigting van kernkragstasies met Russiese VVER-tegnologie is onderteken en is deursigtig.
“Geen belangrike inligting hieroor sal van die publiek weerhou word nie, maar die regering gaan voorlopig nie die inhoud van verlede week se ooreenkoms met Rusland openbaar maak nie. Ons sal die inhoud van al die raamwerkooreenkomste bekend maak wanneer almal onderteken is,” het Barnard gesê.
Zizamele Mbambo, adjunk-direkteur-generaal vir kernenergie, sê Suid-Afrika het vroeër ’n soortgelyke ooreenkoms met Suid-Korea gesluit en soortgelyke ooreenkomste sal met Frankryk, China en Japan gesluit word.
Verskafferlande sowel as die kabinet sal besluit watter inligting vrygestel word.
Mbambo het benadruk dat ’n tenderproses vir kernenergie heeltemal verskil van enige ander tenderprosedure.
