Krugerbeeld op Kerkplein beskadig

Die afgelope naweek het lede van die EFF groen verf uitgestort oor die standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria.

Die party sê dit is deel van sy veldtog om alle koloniale standbeelde en simbole te verwyder.

Die tweede standbeeld is Maandag in die Nelson Mandelabaai-gebied beskadig. Vermeende EFF-lede het ‘n standbeeld van ‘n perd en soldaat in Port Elizabeth gevandaliseer.

Die standbeeld is ter ere van die rol van diere in die Anglo-Boereoorlog.

Verlede Donderdag het EFF-lede ‘n oorloggedenksteen in Uitenhage aan die brand gesteek.

Die granietborsbeeld en marmergrafsteen van pres. Paul Kruger in die Heldeakker in Pretoria is in 1995 ook deur vandale beskadig.

Die standbeeld van Paul Kruger in Rustenburg is onlangs met ’n swart sak bedek en op sy voetstuk word hy met graffiti gewaarsku: “Gaan, hardloop!”

Amptenare het Maandag gesê dit is nog onduidelik wie die historiese standbeeld van Paul Kruger geskend het op Kerkplein in die Pretoriase middestad.

“Niemand het die verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie,” het Blessing Manale die burgemeesterskomitee se woordvoerder gesê.

Kruger se standbeeld is met groen verf Sondag beskadig.

Manale het gesê die burgemeester verwag om ‘n petisie van die African National Congress Youth League Dinsdag te ontvang.

Hulle het gevra dat die Kruger-standbeeld verwyder word.

Sekuriteit is sedertdien opgeknap by verskeie punte in die hoofstad waar historiese beelde staan.

“Die stad het besluit om sekuriteit by die Voortrekkermonument, Freedom Park, die stadsaal en by die Uniegebou op te knap,” het Manale gesê.

Die skending van Kruger kom te midde van oproepe om historiese standbeelde uit sentrale gebiede te verwyder.

Stamhoof wat grond eis doodgeskiet

Opperstamhoof Victor Lekhuleni is Dinsdagaand in Mamelodi-Wes, naby Pretoria, doodgeskiet, het Netwerk24 berig.

Lekhuleni het vroeër vanjaar die reusegrondeis­ wat talle gebiede in Pretoria raak, by die grondeisekommissie­ ingedien.

Die eis raak sowat 400 erwe, nege plase en verskeie kerke, skole en sakeondernemings van die noorde tot die ooste van Pretoria.

Kapt. Jan Sepato, polisiewoordvoerder, het die voorval­ gister bevestig en gesê geen bykomende inligting is beskikbaar nie.

Lekhuleni (48), opperstamhoof van die Mkwaduba van die Bakga­tla ba Lekhuleni-stam, het beweer sy mense is in die laat 1950’s tot vroeë 1960’s deur die polisie van die plaas Franspoort, wat die genoemde dele insluit, verwyder.

Dié Ndebele-stam het glo ook sy inisiasieskole daar bedryf.

TUT gee R60 miljoen aan oproerige studente

Die Tshwane Universiteit van Tegnologie het 60 miljoen rand bewillig vir studentehulp om sodoende om ‘n einde te bring aan betogings by al sy kampusse, het RSG berig.

Studente het verlede maand met gewelddadige betogings begin toe daar aangekondig is dat staatsubsidies uitgeput is.

Die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema het vanjaar 463-miljoen rand aan die TUT toegeken, teenoor die 633-miljoen rand verlede jaar.

Die Universiteit het van sy eie geld beskikbaar gemaak aan meer as vyf duisend studente wat nou met hulle studies kan voortgaan.

Die vise-kanselier, professor Lourens van Staden sê die Universiteit het meer as 74.000 studente en dié geld is slegs vir behoeftige, maar verdienstelike studente.

Swart “hoofman” eis helfte van Pretoria in grondeis

ʼn Reusegrondeis is in die noorde en ooste van Pretoria ingestel.  Die eis van Victor Lekhulene is reeds op Vrydag 6 Februarie in die Staatskoerant gepubliseer.    Die grondeis betrek nege plase en sluit onder andere in – die gebied vanaf die Cullinan /KwaMhlanga-kruising tot wes van die Zambezi Mall, Derdepoort, Mamelodi, Koedoespoort, Laerskool Die Poort, verskeie kerke, die Derdepark-winkelsentrum, asook die Duitse Skool in die Wilgers.  Groot dele van die oostelike Moot, die Wilgers, Willow Park en Wapandrand is ook deel van die eis. Die Staatskoerant verwys na ongeveer 500 eiendomme in privaatbesit. Daar moet binne 60 dae insette gelewer word om die eis teen te staan.
Daar is Saterdag 14 Februarie ‘n beplanningsvergadering om die eis teen te staan gehou by Kleinhoewe 23, Mountain Drive, Derdepoort. Verteenwoordigers van verskeie Afrikaanse organisasies het die vergadering bygewoon.

Victor Lekhuleni, 48, beskou Pretoria as Ndebele-grond en homself as opperstamhoof van die Mkwaduba van die Bakga­tla ba Lekhuleni-stam. Na bewering is hy en sy stam in die laat vyftigerjare deur die destydse apartheidsregering van die plaas Franspoort, wat bogaande wyke van Pretoria, insluit, verwyder.

 

Oproer by TUT brei uit

Oproer oor studentelenings by die TUT, die Tshwane Universiteit van Tegnologie, het na Ga-Rankuwa, Emalahleni en die Pretoria-kampusse uitgebrei.

Werksaamhede by die TUT se Soshanguve Noord- en Suid-kampusse is reeds weens die voortslepende studente-onrus opgeskort.

Die universiteitsbestuur het Woensdag met studenteleiers vergader oor hulle griewe, maar studenteleiers het die universiteit se voorstelle verwerp

Swart studente kla dat hulle nie beurse ontvang nie.

Die Studente-organisasie Cosas het verlede week die universiteit se bestuur daarvan beskuldig dat hulle nie genoeg doen om behoeftige studente te help nie.

Die universiteit moes in September verlede jaar van sy kampusse sluit na geweldpleging. Swart studente hulself tot vandalisme en brandstigting gewend oor studente-befondsing en klasse ontwrig.

Agttien voertuie is aan die brand gesteek tydens die oproer wat byna drie weke geduur het.

Pretoria-ouers red vyfjarige se lewe

‘n Ma van Pretoria is dankbaar dat ‘n man en twee vroue Saterdag haar vyfjarige kind se lewe by ‘n kinderpartytjie in Lynnwood gered het.

Die vrou, wat net as Karen geïdentifiseer wil word, het Sondag aan Rekord gesê haar kind sou waarskynlik dood gewees het, as dit nie vir die flink optrede was nie.

Karen se seuntjie het Saterdagoggend saam met maats geswem toe hy skielik onder die water verdwyn het.

“Hy weet hoe om te swem en ons vermoed ‘n golfie het hom dalk onkant gevang. Hy het baie water gesluk,” het Karen gesê.

Sy sê een van die pa’s by die partytjie het ‘n swart kol onder die water gesien. Toe hy besef dit was nie ‘n swembadsuier nie, het hy dadelik ingeduik en die kind uitgehaal.

“Twee van die ma’s het vir sowat drie minute lank mond-tot-mond asemhaling toegedien totdat hulle sy hartkloppie weer kon kry. Hy was potblou in sy gesiggie,” het Karen gesê.

Netcare 911 paramedici was vinning op die toneel en het die kind gestabiliseer en na ‘n hospitaal gehaas.

“Ek is so dankbaar vir almal se flink optrede – my kind kon voor ons oë verdrink het,” het Karen gesê.

Die seuntjie was Sondag nog in die hospitaal sodat sy longe gemonitor kon word, maar sal na verwagting Maandag ontslaan word.

Bron: Rekord Oos

Metrobeampte deur minibus doodgery

‘n Tshwane-metropolisiebeampte is Dinsdag deur ‘n minibus doodgery terwyl hy verkeer gereguleer het.

Isaac Mahamba, woordvoerder van die metropolisie, het gesê die beampte het verkeer gereguleer by ʼn kruising waar die verkeersligte buite werking was in die Pretoriase middestad.

Volgens Mahamba het ‘n minibus die beampte omgery en is hy daarna na ‘n hospitaal gehaas waar hy enkele ure later aan sy beserings beswyk het.

Die minibusbestuurder staar ‘n klag van strafbare manslag in die gesig.

Die metropolisie het sy meegevoel en skok oor die voorval uitgespreek gesê: “Ons is geskok oor wat gebeur het want mens sal nie verwag dat hy gaan sterf terwyl hy aan diens is nie.”

Bheki Cele ontken dat ras ‘n rol speel by volksmoord op boere

Plaasaanvalle waartydens boere gemartel, verkrag en tereggestel word, het niks met die ras van die slagoffers te make nie, het die adjunkminister van landbou, Bheki Cele, gister gesê.

Dit lyk asof Cele wou reageer op wye internasionele veroordeling en die organisasie Genocide Watch wat moorde op Afrikanerboere op vlak 6 van ‘n volksmoord geklassifiseer het.

“Ons doen ‘n beroep op almal, beginnende by die media en elkeen – haal die rassekwessie uit plaasmoorde. Die mense wat vermoor word, is boere,” het Cele aan verslaggewers in Pretoria gesê.

“Of hulle wit, swart, geel, groen of pers is, ons het gesien dat boere aangeval word en ons hanteer dit só. Op die gebied van boerdery, beskou ons dit in ‘n ernstige lig. Ons sou wou sien dat almal dit ontras.”

Volgens Cele is dit egter nie sy departement se verantwoordelikheid om boere te beskerm nie en het hy ‘n “beperkte rol” om te speel.

“Landbou kan nie sê ons sal diegene wat boere doodmaak in hegtenis neem nie. Ek wens ons kon, maar ons kan nie. Ons kan nie sê dat ons hulle gaan skiet nie.”

 “Daar moet goeie kommunikasie tussen plase en plaaswerkers wees. Daar ‘n behoefte aan vinnige beweging in reaksie by die polisiestasies rondom plase.”

Volgens Cele is hy “hoogs tevrede” met hoe die polisie in Estcourt, Kwazulu-Natal, gereageer het nadat mnr. Malcolm Stick Green, 69, op sy plaasy op 5 Januarie deur vier swart aanvallers vermoor is.

Sondag het die polisie drie mense vir moord en poging tot moord in hegtenis geneem ná ‘n plaasaanval op ‘n bejaarde egpaar in Lindley, Muldersdrift in Gauteng. Charles Henderson, 60, en sy vrou Jenny is deur ‘n groep swartes in ‘n hinderlaag gelei wat hulle Donderdagnag met messe en vuurwapens aangeval het.

Die egpaar is vasgemaak terwyl die rowers hul huis geplunder het.

Jenny Henderson het daarin geslaag los te kom en hulp te gaan soek. Haar man Charles is egter dood toe die aanvallers hom met ‘n houtpaal en ‘n baksteen oor die kop geslaan het.

‘n Polisiewoordvoerder, Lungelo Dlamini, sê dat die polisie na drie ander mense op soek is.

Gister het die minister van landbou, Senzeni Zokwana, gesê dat plaasaanvalle ‘n “kommerwekkende neiging” is. Tydens die perskonferensie in Pretoria wou Zokwana nie sê of daar enige strategie bestaan om plaasaanvalle te kortwiek nie.

“Ons het nie hierheen gekom met enige besonderhede nie. Onthou, sekere besonderhede rondom optrede hierteen berus by die departement van polisie. Ons sal met hulle vergader om te kyk na maatreëls wat proaktief is,” het hy verklaar.

“Ons moet ‘n forum skep waarbinne die boere, plaaswerkers en die gemeenskap rondom die plase as ‘n span kan saamwerk. Ons moet die plaasgemeenskappe harmoniseer. Ons het met ander departemente begin saamwerk.”

Twee mense is Maandag vir die moord op ‘n bejaarde egpaar naby Bainsvlei, Bloemfontein, aangekeer. Die lyke van die egpaar, Toon, 72, en Rienie Swanepoel, 70, van die plaas Waaikraal, is in ‘n bos op die eiendom gelos. Hulle is doodgeskiet.

Die woordvoerder van die Vrystaatse polisie, Harry Nagel, sê dat ‘n derde verdagte, wat 19 jaar oud is, lat by Kelly’s View gevang is. Hy is in die besit van ‘n gesteelde televisiestel en ‘n vuurwapen betrap.

Elders in die Vrystaat is die lyk van die 68-jarige Martie Bester in her verbrande huis op die plaas Erfbloem naby Theunissen gevind.

“Vier vuurwapens word uit die kluis vermis. Die slagoffer se Toyota Hilux is in ‘n uitgebrande toestand naby die plaas gevind,” sê Nagel.

‘n Nadoodse ondersoek sal uitgevoer word om te bepaal wat die oorsaak van haar dood is.

Sedert die begin van die jaar is sewe mense reeds op plase vermoor.

 

Becker van Waterkloof-vier uit op parool

Christoff Becker, een van die sogenaamde Waterkloof-vier, is Dinsdag op parool vrygelaat.

‘n Woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het gesê Becker is vrygelaat na ‘n bevel van die hooggeregshof in Pretoria.

Sy prokureurs het vroeër dié maand ‘n dringende aansoek om parool in die hooggeregshof gebring. Dit is toegestaan.

Die vier seuns van Waterkloofhoërskool, naamlik Becker, Frikkie du Preez, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt, het glo op 1 Desember 2001 ‘n hawelose swarte in Moreletapark, Pretoria, aangerand.

Hulle is in Junie 2005 skuldig bevind aan moord.

Die slagoffer is nooit uitgeken nie. Die vier is op 11 Februarie 2014 vrygelaat ná vyf en ʼn half jaar van die 12 jaar tronkstraf wat hulle opgelê is.

Becker en Du Preez se parool is egter teruggetrek nadat ʼn selfoonvideo aan die lig gekom het wat glo wys hoe hulle partytjie hou in die tronk. Hulle is op 28 Februarie weer teruggestuur tronk toe.

Becker is later na Kokstad oorgeplaas nadat ’n selfoon glo by hom gekry is. Du Preez kan eers weer in Januarie 2015 vir parool oorweeg kan word.

Zuma verwelkom Palestynse leier in ‘bevryde sone’

Pres. Jacob Zuma het Woensdag pres. Mahmoed Abbas van Palestina op sy eerste staatsbesoek in Pretoria verwelkom.

Die president het Nelson Mandela aangehaal waar hy die Palestyne se vryheidstrewe met dié van Suid-Afrika verbind.

Zuma het Suid-Afrika se steun aan die Palestyne se onafhanklikheidstrewe toegesê: “Ons sal julle met elke tree bystaan, wat dit ookal verg.

“Julle het aangedui watter soort steun julle van ons vereis en ons sal ons belofte aan julle nakom.”

Zuma het na die verwoestende aanvalle deur Israel in Gasa verwys wat vyftig dae geduur het, meer as 2 000 Palestyne se dood veroorsaak het.

Talle burgerlikes en kinders was ook onder die slagoffers en noodsaaklike infrastruktuur en huisvesting is in die aanvalle vernietig.

Zuma het gesê dat die Palestyne voorheen slagoffers van sulke aggressie was.

Met die verenigde steun van die wêreldgemeenskap, wat duidelik by die Kaïro-skenkerskonferensie Oktober sigbaar was, het die Palestyne sterker uit die konflik getree, het Zuma gesê.

Zuma het gesê Suid-Afrika is dit eens met die wêreldgemeenskap in sy eis vir ’n tweestaat-oplossing.

Palestina en Israel moet vreedsame naasbestaan binne internasionaal erkende grense van Junie 1967 met Jerusalem as die hoofstad, nastreef het hy bygevoeg.

“Ons is vol vertroue dat die mense van Palestina hul oogmerke sal verwesenlik en dat die droom van ons inspirerende held, pres. Arafat van ’n vrye en onafhanklike Palestina, ’n werklikheid sal word,” het Zuma aan Abbas gesê.

Zuma het sy toespraak afgesluit deur Abbas te verwelkom in ‘n “bevryde sone”.

‘Grondgryp in Pretoria is wettig’

Die EFF het Woensdag aan Sapa gesê daar is niks onwettig aan die grondgryp by Nellmapius, oos van Pretoria, nie.

“Daar is niks fout daarmee nie. Indien die regering sloer om grond aan mense toe te ken, moet hulle dit beset,” het Floyd Shivambu, EFF-hoofsweep, aan verslaggewers by die parlement gesê.

Die hoofsweep van die Tshwane-metroraad, het intussen gesê dat ‘n wyksraadslid in Nellmapius, Precious Marole, se huis gevandaliseer en geplunder is. Die polisie kon nie onmiddellik die voorval bevestig nie.

Die Tshwane-metropolisie het vroeër Woensdag besetters van Nellmapius met rubberkoeëls verwilder nadat hulle plakkershutte in ʼn oop stuk veld wou oprig.

Die oproeriges het metropolisielede met klippe bestook waarna die metropolisielede met rubberkoeëls op hulle losgebrand het. Die klipgooiers het na die nabygeleë lokasie gevlug toe die metropolisie ‘n Nyala-pantservoertuig teen hulle ontplooi het.

Die Ou Bronkhorstspruit-pad is vroeër met brandende motorbande, klippe en takke versper.

Vusi Msiza, woordvoerder van die EFF se Nellmapius-tak, het vroeër gesê die grondbesetting het Sondag begin. “Ons het mense hier op die stuk grond aangetref waar hulle besig was om plakkershutte te bou. Ons het besluit om hulle te ondersteun, aangesien ons almal hierdeur geraak word.” Hy het gesê mense is moeg daarvoor om vir HOP-huise te wag en dat hulle grond soek waar hulle hul eie huise kan bou.

Julius Malema, leier van die EFF, was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Dumisa Ntuli, woordvoerder van die ANC in Gauteng, het gesê die spesifieke stuk grond is geoormerk vir laekostebehuising.

Mbuyiseni Ndlozi, die EFF se nasionale woordvoerder, het vroeër gesê die party ondersteun grondonteiening maar wou nie spesifiek kommentaar lewer die gebeure in Nellmapius nie.

Oscar vandag gevonnis

Die vonnisoplegging van die paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, sal Dinsdag in Pretoria geskied.

Na ‘n verhoor van sewe maande in die Noord-Gautengse Hooggeregshof sal die gestremde atleet uiteindelik sy straf is vir die dood van Reeva Steenkamp kry.

Regter Thokozile Masipa sal Pistorius na verwagting om halfelf haar vonnis uitspreek nadat sy hom verlede maand skuldig bevind het aan strafbare manslag.

Die Departement van Korrektiewe Dienste het intussen berigte ontken dat hulle ‘n tronksel vir Pistorius reggemaak het.

In slotbetoë voor die naweek het die staatsaanklaer, Gerrie Nel, aangevoer dat die graad van nalatigheid waaraan Pistorius skuldig bevind is, so ernstig is dat gevangenisstraf alleen gepas sal wees.

Hy het gesê Pistorius behoort nie weens sy gestremdheid tronkstraf vry te spring nie.

Barry Roux het namens Pistorius gesê hy behoort gemeenskapsdiens te verrig vir die oortreding.

Marrokkaanse diplomaat vermoor

Die onnatuurlike dood van ‘n diplomaat van die Marokkaanse konsulaat in Pretoria word ondersoek.

Sy kollegas het hom dood aangetref in ‘n plas bloed. Hy het nie vir werk opgedaag nie en onraad is vermoed.

Die polisie sê Fatmi Noureddine se kollegas het na hom gaan soek in die gastehuis waar hy tuisgegaan het in Monumentpark.

Die diplomaat het nie sy gesin saamgebring na Suid-Afrika nie.

‘n Nuusbron uit Noord-Afrika het berig dat Nourreddine in ‘n sluipmoord vermoor is.

Sy foon was ook afgeskakel. ‘n Selfoon word vermis, maar dit is nie bekend of enige geld geroof is nie.

Pa behandel nadat sitkamer afbrand

‘n Pa van twee is Sondagaand vir rookinaseming behandel nadat sy sitkamer in Wonderboom, Pretoria aan die brand geraak het.

Volgens Frikkie Gous, woordvoerder van Lifemed-ambulansdienste, is slegs die pa op toneel behandel.

Die vrou en twee kinders, onderskeidelik 2-jaar en 10 maande oud, is nie beseer nie.

Die brand het omstreeks 19:00 uitgebreek.Gous het gesê dit is onseker hoe die brand ontstaan het. Die brand is geblus voordat dit na enige ander vertrek versprei het.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het die brand bevestig. Die brand was vinnig onder beheer gebring en daar was geen beserings nie.