Liggaam van vermiste hengelaar gevind

Polisieduikers het vanoggend die liggaam van Louis Jacobus Lotter uit die Vaaldam gehaal, nadat hy Sondag daar vermis geraak het.

Volgens Gautengse polisiewoordvoerder, Shado Mashobane, het die 43-jarige Lotter, van Meyerton, glo oor die kant van sy kano geval terwyl hy besig was om te hengel.

Lotter se familie het gesien hoe hy van sy kano afval en nie weer na die oppervlak kom nie. Die polisie se Soek en Redding- en Watervleuel het dadelik hul soektog na Lotter begin.

Sy liggaam is vanoggend om 08:30 gevind.

Twee tieners vermis by Heroldsbaai

Twee tieners word vermis nadat hulle vanoggend by Heroldsbaai naby George deur branders van rotse af geslaan is.

‘n Polisiewoordvoerder, Malcolm Pojie, sê die voorval het by ‘n plek wat plaaslik as Voëlklip bekend staan, gebeur.

Pojie sê ‘n 29-jarige man en twee 14-jarige seuns het gaan visvang toe hulle deur branders van die rotse afgeslaan is.

Die man kon daarin slaag om na veiligheid te swem. Die twee seuns, onderskeidelik van Kimberley en George het egter onder die water verdwyn.

Pojie sê die see is baie rof in die Voëlklip omgewing en hy het vakansiegangers gemaan om die gebied veiligheidshalwe te vermy.

Seuntjie se lyk in dam opgespoor

Die lyk van ’n kleuter wat Sondag in Hartebeespoortdam geslingers is toe ’n rubber-boot omgeslaan het, is deur polisie duikers gevind.

Noordwes-polisiewoordvoerder Sabata Mokgwabone, sê Zandré Vosloo se liggaam is Maandag met behulp van ‘n snuffelhond opgespoor. Hy het gesê die kind se liggaam is deur ‘n polisiesnuffelhond, wat deur ‘n beampte van die duikeenheid in Rustenburg hanteer is, opgespoor vier uur nadat die soektog om 07:00 hervat is. Zandré sou volgende maand sy tweede verjaardag gevier het. ‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen.

Nasionale seereddingsinstituut-woordvoerder, Craig Lambinon, het vroeër aan OFM-nuus gesê dat ’n Pretoria-Noord gesin van ses op ’n vriend se boot was toe dit naby die Eagle Waters-oord omgeslaan het, nadat hulle ’n skerp draai gemaak het.

Die kaptein, pa, ma en hul twee kinders, ’n 18-maande-oue dogter en hul seun, was op die boot. Mokgwabone sê die ondersoek na die voorval duur voort.

Pretoria-ouers red vyfjarige se lewe

‘n Ma van Pretoria is dankbaar dat ‘n man en twee vroue Saterdag haar vyfjarige kind se lewe by ‘n kinderpartytjie in Lynnwood gered het.

Die vrou, wat net as Karen geïdentifiseer wil word, het Sondag aan Rekord gesê haar kind sou waarskynlik dood gewees het, as dit nie vir die flink optrede was nie.

Karen se seuntjie het Saterdagoggend saam met maats geswem toe hy skielik onder die water verdwyn het.

“Hy weet hoe om te swem en ons vermoed ‘n golfie het hom dalk onkant gevang. Hy het baie water gesluk,” het Karen gesê.

Sy sê een van die pa’s by die partytjie het ‘n swart kol onder die water gesien. Toe hy besef dit was nie ‘n swembadsuier nie, het hy dadelik ingeduik en die kind uitgehaal.

“Twee van die ma’s het vir sowat drie minute lank mond-tot-mond asemhaling toegedien totdat hulle sy hartkloppie weer kon kry. Hy was potblou in sy gesiggie,” het Karen gesê.

Netcare 911 paramedici was vinning op die toneel en het die kind gestabiliseer en na ‘n hospitaal gehaas.

“Ek is so dankbaar vir almal se flink optrede – my kind kon voor ons oë verdrink het,” het Karen gesê.

Die seuntjie was Sondag nog in die hospitaal sodat sy longe gemonitor kon word, maar sal na verwagting Maandag ontslaan word.

Bron: Rekord Oos