Twee tieners vermis by Heroldsbaai

Twee tieners word vermis nadat hulle vanoggend by Heroldsbaai naby George deur branders van rotse af geslaan is.

‘n Polisiewoordvoerder, Malcolm Pojie, sê die voorval het by ‘n plek wat plaaslik as Voëlklip bekend staan, gebeur.

Pojie sê ‘n 29-jarige man en twee 14-jarige seuns het gaan visvang toe hulle deur branders van die rotse afgeslaan is.

Die man kon daarin slaag om na veiligheid te swem. Die twee seuns, onderskeidelik van Kimberley en George het egter onder die water verdwyn.

Pojie sê die see is baie rof in die Voëlklip omgewing en hy het vakansiegangers gemaan om die gebied veiligheidshalwe te vermy.

Hengelaar se lyk opgespoor

Die liggaam van Hendro Schutte (29), wat twee weke gelede saam met sy oom in Barberspan naby Delareyville in Noordwes verdrink het, is gisteroggend gevind.

Polisieduikers het onverpoosd na Schutte se liggaam gesoek.

Die twee mans was besig om in ’n boot op die dam te hengel.

Schutte se oom, Koos Venter (56), se lyk is reeds ’n dag na die voorval gevind.

Die polisie se Paul Ramaloko sê die presiese oorsaak sal deur ‘n polisie-ondersoek bepaal word.

Schutte het as ’n bestuurder by die NWK-landboumaatskappy se kleinhandelwinkel in Ottosdal gewerk.