ʼn Reusegrondeis is in die noorde en ooste van Pretoria ingestel. Die eis van Victor Lekhulene is reeds op Vrydag 6 Februarie in die Staatskoerant gepubliseer. Die grondeis betrek nege plase en sluit onder andere in – die gebied vanaf die Cullinan /KwaMhlanga-kruising tot wes van die Zambezi Mall, Derdepoort, Mamelodi, Koedoespoort, Laerskool Die Poort, verskeie kerke, die Derdepark-winkelsentrum, asook die Duitse Skool in die Wilgers. Groot dele van die oostelike Moot, die Wilgers, Willow Park en Wapandrand is ook deel van die eis. Die Staatskoerant verwys na ongeveer 500 eiendomme in privaatbesit. Daar moet binne 60 dae insette gelewer word om die eis teen te staan.
Daar is Saterdag 14 Februarie ‘n beplanningsvergadering om die eis teen te staan gehou by Kleinhoewe 23, Mountain Drive, Derdepoort. Verteenwoordigers van verskeie Afrikaanse organisasies het die vergadering bygewoon.
Victor Lekhuleni, 48, beskou Pretoria as Ndebele-grond en homself as opperstamhoof van die Mkwaduba van die Bakgatla ba Lekhuleni-stam. Na bewering is hy en sy stam in die laat vyftigerjare deur die destydse apartheidsregering van die plaas Franspoort, wat bogaande wyke van Pretoria, insluit, verwyder.
