Oscar flous media oor vrylating

Die paralimpiese atleet Oscar Pistorius het die media geflous toe hy Maandagaand stilweg uit die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria vrygelaat is, ‘n dag vroeër as wat verwag is.

Hy sou volgens alle inligting eers vanoggend vrygelaat word. Pistorius is verlede jaar tronk toe gestuur nadat hy sy vriendin, Reeva Steenkamp in 2013 doodgeskiet het omdat hy haar glo vir ‘n inbreker aangesien het.

‘n Woordvoerder van die Departement van Korrektiewe Dienste het bevestig dat Pistorius reeds na sy oom se spoghuis in Waterkloof is.

Pistorius sal die res van sy vyf-jaar vonnis weens strafbare manslag in dié huis uitdien.

Hy sal glo ook psigoterapie moet ondergaan as deel van sy paroolvoorwaardes en sal ook nie vuurwapens mag besit nie.

Die Steenkamp-familie se regsverteenwoordiger, Tania Koen het vroeër gesê Pitorius se vrylating op parool was te wagte. Hulle sê dit verander niks, omdat hul dogter nie meer daar is nie.

Die staat se appèl teen Pistorius se skuldigbevinding aan strafbare manslag word volgende maand aangehoor.

Vyf jaar vir Oscar Pistorius

Die paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, is vir vyf jaar tronk toe gestuur.

Hy het Dinsdag sy vonnis gehoor nadat hy vroeër skuldig bevind is aan strafbare manslag na die skietdood van sy vriendin.

Regter Thokozile Mazipa het Pistorius tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir die dood van Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2014.

Hy is voorts tot drie jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar gevonnis vir die oortreding van die wapenwet. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Die vonnisoplegging het meer as ‘n uur geduur.

Regter Masipa het die verskillende vonnis-moontlikhede oorweeg en ‘n uiteensetting gegee.

Die belange van die gemeenskap, die erns van die misdaad en die persoonlike omstandighede van Pistorius is volgens die regter in aanmerking geneem.

Pistorius sal waarskynlik tien maande gevangenisstraf in die Kgosi Mampuru gevangenis in Pretoria uitdien voordat hy vir parool in aanmerking kom.

Volgens Artikel 276 van die Strafproseswet, kan ‘n sesde van ‘n gevangenistermyn omgeskakel word huisarres as die vonnis nie meer as vyf jaar is nie.

Regter Masipa het met haar vonnisoplegging gesê ‘n opgeskorte vonnis of korrektiewe toesig sou nie ‘n gepaste vonnis wees nie.

Die Nasionale Vervolgingsgesag sê intussen die NVG het nog nie besluit of hy gaan appelleer teen Pistorius se skuldigbevinding aan strafbare manslag nie.

Die regsverteenwoordiger van die Steenkamp-gesin, Dup de Bruyn het na die vonnisoplegging gesê die reg het geseëvier en die regte vonnis is opgelê.

Pistorius is na die hofverrigtinge in ‘n gepantserde voertuig na die gevangenis geneem.

Die atleet se loopbaan is waarskynlik verby aangesien hy nie toegelaat sal word om aan die 2016 Paralimpiese Spele deel te neem nie, selfs al word hy vroeër uit die tronk vrygelaat.

Die Internasionale Paralimpiese Komitee sê hy sal verbied word om aan enige van hulle byeenkomste deel te neem vir die volle vyf jaar wat sy vonnis is.

Die verbod sal steeds geld selfs al word hy vroeër vrygelaat onder huisarres of op volle parool.

Oscar vandag gevonnis

Die vonnisoplegging van die paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, sal Dinsdag in Pretoria geskied.

Na ‘n verhoor van sewe maande in die Noord-Gautengse Hooggeregshof sal die gestremde atleet uiteindelik sy straf is vir die dood van Reeva Steenkamp kry.

Regter Thokozile Masipa sal Pistorius na verwagting om halfelf haar vonnis uitspreek nadat sy hom verlede maand skuldig bevind het aan strafbare manslag.

Die Departement van Korrektiewe Dienste het intussen berigte ontken dat hulle ‘n tronksel vir Pistorius reggemaak het.

In slotbetoë voor die naweek het die staatsaanklaer, Gerrie Nel, aangevoer dat die graad van nalatigheid waaraan Pistorius skuldig bevind is, so ernstig is dat gevangenisstraf alleen gepas sal wees.

Hy het gesê Pistorius behoort nie weens sy gestremdheid tronkstraf vry te spring nie.

Barry Roux het namens Pistorius gesê hy behoort gemeenskapsdiens te verrig vir die oortreding.

Oscar onderhandel skikking met vermoorde se ouers

Reeva Steenkamp
Reeva Steenkamp

Oscar Pistorius, die paralimpiese atleet wat van moord aangekla word,  se prokureurs onderhandel met Reeva Steenkamp se ouers in ’n poging om ’n skikking buite die hof te bereik.

Pistorius se prokureurs het Steenkamp se ouers genader, berig The Times. Die prokureurs vir albei partye wou nie kommentaar lewer oor die bedrag wat onderhandel word nie.

Die Steenkamps het R3 miljoen siviele eis vir die verlies van inkomste teen Pistorius gebring.

Steenkamp en haar halfbroer, Adam, het hul ouers finansiël ondersteun en ook die huur betaal vir hul huis in Port Elizabeth.

Adv. Dup de Bruyn SC, die Steenkamps se regsverteenwoordiger, en Kenny Oldwage, Pistorius se prokureur, het bevestig dat hulle in gesprek is

Reeva is op Valentynsdag vanjaar in Pistorius se huis in die ooste van Pretoria doodgeskiet. Die atleet staan tereg op aanklag van moord met voorbedagte rade en die oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer.

Die saak is Maandag uitgestel tot die verhoor op 3 Maart 2014 begin.

 

Oscar-moordverhoor tot volgende jaar uitgestel

oscarDie moordverhoor van die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius sal van 3 tot 20 Maart aanstaande jaar in die hooggeregshof in Pretoria plaasvind.

Die staat het amptelik die klagstaat teen hom bekendgemaak. Daar is glo bewyse dat Pistorius op 14 Februarie vanjaar sy vriendin Reeva Steenkamp met voorbedagte rade doodgeskiet het, is vroeër berig.

Hy het vanoggend vlugtig in die landdroshof in Pretoria verskyn waar hy wel van moord met voorbedagte rade op Steenkamp, die onwettige besit van ammunisie en die oortreding van die Vuurwapenwet aangekla is.

Volgens berigte beoog die staat om ten minste 107 getuies te roep. Pistorius hou vol dat hy Steenkamp vir ‘n inbreker aangesien het.

Die hofverrigtinge in die Pretoriase landdroshof in die saak teen Oscar Pistorius het Maandagoggend begin en daar is wêreldwyd daaroor berig.

Pistorius het kort voor negeuur by die hof aangekom. Hy is vergesel deur sy broer, Carl en suster Aimee. Sy gesin moes die huilende atleet troos.

Die hofsaal was stampvol met tientalle plaaslike en buitelandse joernaliste teenwoordig.

Die polisie het die Pretoriase landdroshof, voor Oscar Pistorius se hofverskynin met snuffelhonde deursoek .

Die groot groep joernaliste was sedert vyfuur vanoggend by die hof saamgetrek.