
Oscar Pistorius, die paralimpiese atleet wat van moord aangekla word, se prokureurs onderhandel met Reeva Steenkamp se ouers in ’n poging om ’n skikking buite die hof te bereik.
Pistorius se prokureurs het Steenkamp se ouers genader, berig The Times. Die prokureurs vir albei partye wou nie kommentaar lewer oor die bedrag wat onderhandel word nie.
Die Steenkamps het R3 miljoen siviele eis vir die verlies van inkomste teen Pistorius gebring.
Steenkamp en haar halfbroer, Adam, het hul ouers finansiël ondersteun en ook die huur betaal vir hul huis in Port Elizabeth.
Adv. Dup de Bruyn SC, die Steenkamps se regsverteenwoordiger, en Kenny Oldwage, Pistorius se prokureur, het bevestig dat hulle in gesprek is
Reeva is op Valentynsdag vanjaar in Pistorius se huis in die ooste van Pretoria doodgeskiet. Die atleet staan tereg op aanklag van moord met voorbedagte rade en die oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer.
Die saak is Maandag uitgestel tot die verhoor op 3 Maart 2014 begin.
