Grondoordrag: Landbou-organisasies koop in

Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming het Sondag verklaar dat die ANC die oordrag van wit grond as beleid aanvaar het en reeds toepas met die seën van landbou-organisasies.

Daarvolgens moet wit boere die helfte van hul plaas met hul werkers deel. Dit is amptelik deur die ANC as beleid aanvaar, het Nkwinti, lid van die ANC se subkomitee rakende grondhervorming, gesê.

Landbou-organisasies het glo “voorstelle” ingedien in die vorm van “sakemodelle” waarin “vaardigheidsontwikkeling” deur eiendomsoordrag aangebied word.

Volgens Nkwinti het talle kommersiële boere, veral in die Vrystaat en Noordwes, al aangedui dat hulle deel van die program wil wees.

‘n Resolusie oor die beleidsraamwerk is op die ANC se Mangaung-kongres in 2012 aanvaar. Die ANC het daarna die beleidsraamwerk in Februarie vanjaar te volle aanvaar en geformaliseer.

Boshof-plaasaanval: Werkers vrees vir hul lewens

Die polisie in die Vrystaat ondersoek ‘n klag van poging tot moord nadat ‘n boer, Douglas Pope, van Boshof gister by sy plaashek by ‘n grondpad vanuit ‘n bewegende motor geskiet is.

Die polisie soek nog na drie swart mans in verband met die voorval.

‘n Plaaswerker wat die afgelope 20-jaar vir Pope werk, Hendrik Seretsi, sê hy het Dinsdagoggend groot geskrik toe sy gewonde werkgewer by die opstal aankom nadat hy ‘n hele ent verder by sy plaas se hek geskiet is.

Seretsi het saam met Pope se seun Douglas gery om Douglas Senior, wat van agter in die regtersy geskiet is, na die Mediclinic Gariep in Kimberley te bring.

Hy sê plaaswerkers en hul gesinne is bekommerd oor die toenemende aanvalle op plase en vrees vir hul veiligheid.

Intussen sê polisiewoordvoerder, Mmako Mophiring, nog niemand is in hegtenis geneem weens die moord op ‘n bejaarde Oos-Vrystaatse plaasbestuurder by Harrismith verlede maand nie.

Robert Rhadebe en sy vrou Martha is op die plaas Silo in hul huis met messe aangeval. Robert is op die toneel dood, terwyl Martha, wat ook steekwonde opgedoen het, hulp by ‘n nabygeleë huis gaan soek het.

Boshof-plaasaanval: Verdagtes op vrye voet

Nog niemand is in hegtenis geneem in verband met ‘n skietvoorval gister waarin ‘n bejaarde boer op sy plaas by Boshof in die Vrystaat gewond is nie.

Die 69-jarige Douglas Pope is gister van agter in die regtersy gewond toe hy by sy plaas se hek by ‘n grondpad vanuit ‘n bewegende motor geskiet is.

Die polisie en plaaslike boere het kort ná die aanval die gebied gefynkam op soek na ‘n wit Toyota Corolla waaruit skote op Pope afgevuur is.

Pope se seun, Douglas, sê sy pa was op pad na ‘n vergadering op Boshof toe hy geskiet is. Sy gewonde pa het ná die skietery teruggejaag na die plaashuis om hulp te kry. Die polisie en boere was vinnig om omliggende paaie af te sper en ‘n soektog is begin.

Douglas sê die motief vir die voorval is onbekend.

Pope is in ‘n bestendige toestand in die Mediclinic Gariep in Kimberley. Die polisie het vroeër aan OFM-nuus gesê daar was vermoedelik drie mans in die motor. Skote is vanuit die motor se agterste sitplek gevuur.

Swartvlek onder beheer terwyl markte in Ooste groei

Sitrusboere in Suid-Afrika is nie verleë oor die EU se besware teen ‘n sogenaamde swam op hul produkte nie.

Sitrusinvoere na Europa is voorheen gestaak weens vrese oor swartvlek. Dié stap is deur talle ontleders gesien as ‘n manier om Suid-Afrikaanse produkte uit die mark te hou tot voordeel van ander produsente.

Die EU koop sowat 43 persent van Suid-Afrika se sitrus-uitvoere.

Maatreëls om swartvlek te bestuur, voldoen tans aan die Europese Unie (EU) se vereistes. Dit is glo tot so ‘n mate onder beheer gebring dat invoere hervat kan word.

Dit is luidens die jongste verslag van die EU se voedsel- en veeartsenykantoor.

Alhoewel Europa die grootste mark verteenwoordig, het plaaslike sitrusboere nuwe markte in Asië ontgin.

Klein vragte word reeds na China en Indonesië sowel as Suid-Korea verskeep, waar die aanvraag groei.

Die uitvoerende hoof van die Sitrusgroeiers-vereniging, Justin Chadwick sê daar is steeds ‘n risiko dat die EU in die toekoms strenger maatreëls kan instel.

Die plaaslike sitrusbedryf verskaf werk aan sowat 100 000 mense en uitvoere verteenwoordig 80% van ‘n jaarlikse omset van R9,4 miljard.

Intussen het die minister van water en sanitasie, Nomvula Mokonyane verklaar dat droogtetoestande in Suid-Afrika na verwagting vir die volgende drie jaar kan voortduur.

Sy het aan afgevaardigdes by die Wêreldwaterweek in Swede gesê volgens navorsing sal die ongunstige weerstoestande tot minstens 2018 voortduur, wat tot ondergemiddelde reënval sal bydra.

Die departement het reeds noodtoestande weens watertekorte in dele van die land verklaar, veral in KwaZulu-Natal.

Mokonyane sê die regering sal voortaan op waterbesparing fokus.

Beesboer se moordenaars nog op vrye voet

Die polisie in Noordwes soek steeds na vier rowers in verband met die moord op ‘n beesboer van Potchefstroom.

Die 68-jarige Koos van der Leeuw is op 18 Augustus in die Mediclinic Sandton dood nadat hy vroeër die oggend in ‘n rooftog by die Potchefstroom Abbatoir geskiet is.

Polisiewoordvoerder, Pelonomi Makau, sê die polisie volg alle leidrade op.

‘n Herinneringsdiens vir Van der Leeuw is Dinsdag, presies ‘n week na sy skietdood, in die plaaslike NG kerk Suiderkruis gehou. Die kerk was stampvol.

Van der Leeuw is voor sy vrou Marietjie en ‘n sakeman van Krugersdorp geskiet nadat hy en die man glo vir ‘n kontanttransaksie ontmoet het. Marietjie was in hul bakkie toe die skote geklap het. Makau het vroeër gesê vier skote is op Van der Leeuw gevuur. Een daarvan was in die kop.

Sy sê die skietery het gevolg nadat een van die rowers geld geëis en ‘n onbekende bedrag geld en ‘n selfoon by die sakeman afgeneem het. Van der Leeuw het uit sy bakkie geklim om te help.

Verdagtes van Vrede-plaasaanval weer voor

Die saak teen twee swartes wat in die rondgaande hof op Vrede verskyn het weens die aanval op ‘n bejaarde egpaar op hul plaas buite die dorp, sal na verwagting vandag hervat word.

Vrystaatse polisiewoordvoerder Zweli Mohobeleli sê Thabo Motloung sal na verwagting Augustus om borgtog aansoek doen, terwyl Paul Mei Zulu, wat slegs ure ná die aanval op Johannes en Rita Kritzinger in hegtenis geneem is, nie beplan om aansoek te doen nie.

Die verdagtes staan tereg op ‘n aanklag van poging tot moord, huisbraak en gewapende roof. Johannes is vier keer en Rita drie geskiet.

OFM-nuus het verlede week berig dat die egpaar steeds in die Netcare-Unie-hospitaal in Alberton se hoësorgeenheid is.

Hulle was onder pynverdowing en Johannes het al gepraat en reageer op sy kinders se stemme. Woordvoerder Ruan Combrink het gesê die egpaar is bewus dat twee verdagtes aangekeer is.

Aanranding van plaasbestuurder by Winburg ondersoek

Die polisie in die Vrystaat ondersoek ‘n klag van gewone aanranding nadat ‘n plaasbestuurder gisteraand na bewering deur twee swart mans buite sy huis op ‘n plaas tussen Winburg en Virginia oorval en aangerand is.

Polisiewoordvoerder, Ian Gaobepe, sê Josef Mathetau se hande is glo vasgebind. Volgens Gaobepe word niks van die toneel vermis nie.

Hy sê Mathetau het glo ontsnap en hulp by ‘n buurman gaan soek, waarna die polisie ontbied is.

Luidens ‘n verklaring van Vrystaat Landbou is Mathetau met ‘n voorwerp teen die nek geslaan, waarna hy sy bewussyn verloor het.

Vrystaat Landbou sê Alf Bronner, eienaar van die plaas waar Mathetau al 25 jaar werk, is bekommerd oor sy werknemer se welstand en hy sal sy toestand monitor. Volgens Bronner het Mathetau sy bewussyn verloor nadat hy geslaan is.

Toe hy wakker word was die booswigte nog op die toneel.

‘n Swart driepootpot wat aan Mathetau behoort, is ‘n ent verder op ‘n oop vuur gekry met ‘n sak vleis langsaan.

Gaobepe sê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die polisieondersoek duur voort.

Ope brief: Suid-Afrika is op pad na kommunisme, soos Gwede Mantashe sê

Meneer Mantashe,

In die lig van die ooreenkoms wat TLU SA in sy besit het met u handtekening daarop (waarna later in die skrywe meer volledig verwys sal word), waarin u die reg op ons kultuurbeskerming onderskryf het, rig ons hierdie skrywe aan u in ons kultuurtaal, wat ook ʼn wettige landstaal van die land is.

Dit was my twyfelagtige voorreg om namens TLU SA, die landbou-organisasie wat al vanaf 1897 (dus nog voordat daar ʼn gedagte van ʼn ANC was) in diens van die boere en landbou in Suid-Afrika staan, u Afrikaanse beraad by te woon.

Ter wille van die rekord is dit nodig dat ek u tog voorsien van my indrukke van die beraad, veral in die lig daarvan dat u gevra het vir voorstelle.

My eerste voorstel sal wees dat ʼn behoorlike sakelys opgestel moet word waaroor gesprek gevoer moet word. So ʼn oop gesprek rafel uit deurdat die beperkte tyd in beslag geneem word deur instansies wat graag hulle goeie hoedanighede op rekord wil plaas.

Dit is seker teen hierdie tyd gemene saak dat dit nie goed gaan met Suid-Afrika nie. Ten spyte van allerhande regeringsbeloftes ly die land onder werkloosheid, misdaad, korrupsie, gebrekkige dienslewering, kragonderbrekings, dalende onderwysstandaarde en nog vele meer, wat die land se ekonomie laat stagneer, en wat lei tot swak graderings deur gesaghebbende graderingsagentskappe. Bekwame en gesaghebbende ontleders voorspel dat die land tussen twee en vyf jaar van nou af ʼn ongekende krisis gaan beleef.

Terwyl dit die realiteit is, verdoesel u dit met die oogklappe van u politieke retoriek, soos verwoord in die Freedom Charter, die NDR en die ANC se “Strategy & Tactics” – ʼn soort politiek wat ander lande al ten gronde gerig het.

By die beraad het u die Freedom Charter op ʼn baie hoër vlak gestel as die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. Is u nie besig om die burgers van die land daardeur te mislei nie? Waarom sê u nie reguit en onomwonde waarheen u die land neem nie. Sê reguit en eerlik dat u u nie steur aan die land se Grondwet nie, maar dat u u laat lei deur ʼn revolusionêre partydokument, wat dateer uit die “struggle”-tyd waarin mense omgekom het? Waarom is u nie openlik oor die NDR en die Strategy & Tactics nie, sodat mense kan weet waarheen u op pad is nie? Dit is immer niks anders nie as politieke bedrog?

Die tweede voorstel rondom so ʼn beraad is dat u moet besluit watter hoed u dra as u so ʼn gesprek aanlê. Dalk sal u u kan herinner dat ek u gevra het wie nou werklik in beheer van die land is? Watter status het u as hoofbeampte van die ANC om so ʼn gesprek aan te lê? Beteken dit dat die ANC besluite maak? Maak die SAKP die beleid en besluite? Cosatu en die vakbonde? Of het die President en sy kabinet as regering van die land ook nog iewers inspraak in beleid- en besluitneming?

Van die ander kant gesien: vir wie moet die burgers en die kiesers tot verantwoording roep vir die gemors wat ek hierbo aangestip het? U antwoord dat “almal in beheer” is, is onaanvaarbaar en in terme van ʼn demokratiese bestel belaglik. Die ANC het die stemme gekry: nie die SAKP of Cosatu nie. Die ANC stel die regering saam, en dié behoort die verantwoordelikheid op hom te neem. Nou word verwarring gekweek deur die verantwoordelikheid van die een na die ander te verplaas, sodat uiteindelik niemand verantwoordelik is nie.

Tydens die beraad het ek dit aan u gestel dat dit wil voorkom of die SAKP in wese in beheer is, in die lig van die groot aantal ministers wat Kommuniste is. U sarkastiese antwoord dat ons weer net die Rooi Gevaar sien, is tiperend van iemand wat nie die argument kan voer op grond van feite nie, maar deur snedigheid en vernedering punte wil aanteken. Die feit is dat die Kommunisme ʼn ideologie is wat uitgedien is in die res van die wêreld. TLU SA het noue kontakte met Georgië. Daardie land lek nou nog sy ekonomiese wonde van die vernietigende effek van die Kommunisme onder die Sowjet-Unie. Dit is soms goed om oogklappe te verruil vir ʼn wyer visie, en te leer uit die lesse wat ander al uit dure ervaring geleer het! Ek stel dit duidelik en ondubbelsinnig aan u dat u beleidsrigting en veral die toepassing daarvan vir Suid-Afrika net armoede gaan skep.

Wat die land nou nodig het, is eerlikheid. Juis dit ervaar ons nie, hetsy van die regering, die ANC of enige van sy vennote nie. Aan die een kant meld u by die beraad dat u die boere nodig het aangesien landbou ʼn sleutelbedryf is. Net daarna dreig u ons met grondgrype en onwettige grondbesettings. Is u nou al skoon ʼn propagandis vir die EFF se beleid? Skep u daarmee die klimaat vir verdere geweld en onrus in die land, en is dit u bedekte opdrag dat boere van die plase verdryf moet word, al is dit deur besettings en selfs plaasmoorde? U is besig om die klimaat hiervoor te skep!

Maar as u so bekommerd is oor die landbou, waarom dan al meer en meer stremmende wetgewing op die wetboek plaas? Tans is daar al meer as 16 wette op die tafel wat landbou gaan strem. Trouens, nie net landbou nie: wette wat private besitreg oor ʼn wye spektrum insluit en wat uiteindelik ekonomies katastrofale gevolge vir die land gaan inhou.

As u weer wil gesels, laat ons oor die ekonomie gesels. Ek wil nie weer met u oor politiek praat nie, want ons sal bly by mekaar verby praat. Ekonomie is realiteit: laat ons dit ʼn slag op tafel sit! Indien u erns het met die toekoms van Suid-Afrika sal u besef dat daar met boere gepraat moet word oor kos en die verskaffing daarvan en dat al die ander geykte retoriek wat so vrylik gebruik word en wat veroorsaak dat beleggersvertroue geskend word nie tuishoort by enige verantwoordelike instansie nie. Ek kan ook nie met u oor kultuur praat nie. Ek het u tydens die beraad gewys op die dokument wat deur u persoonlik onderteken is nadat u destydse jeugleier skuldig bevind is aan haatspraak, waarin u die Afrikaner die reg op sy kultuur- en gemeenskapslewe erken het. U het daardie dokument, met u eie handtekening en al, by die beraad van die tafel af gevee.

As ek praat van toekomstige gesprekke, sê ek dit eintlik met huiwering. Dit is nodig dat daar oor die toekoms gepraat moet word, en dat die verlede agtergelaat moet word. Maar as u handtekening in u eie woorde en optrede niks beteken nie, en as u selfs ʼn geskrewe ooreenkoms nie die papier werd maak waarop dit geskryf is nie, wat help gesprekke? Waarom sal ons enige mondelinge stelling, ooreenkoms of onderneming ernstig neem as ons u nie eens kan vertrou met u handtekening op skrif nie? Dit is eweneens politieke bedrog!

Intussen moet u kennis neem dat ons boere in die land is om te bly. Ten spyte van u, die Regering, die ANC, die SAKP, Cosatu of wie ook al se vyandelikhede teen ons, sal ons voortgaan om ons roeping, waarvoor ons ʼn passie het, uit te leef. Dit is om te boer, en om selfs toe te sien dat u elke dag kan smul van die vette wat die boere produseer.

Ons het nie ons grond gesteel nie. Ons was nooit deel van die koloniale stelsel nie. Ons is inheems aan Afrika, ʼn stam wat hier gebore en gevorm is tot uniekheid, net soos enige ander stam. Daarmee sal ons voortgaan, ongeag of u ons ʼn regmerkie daarvoor wil gee of nie.

Dis ons reg, wat ons sal bly opeis!
Louis Meintjes
President TLU SA

WGO spreek kommer uit oor glifosaat

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het onlangs bevind dat glifosaat moontlik kanker kan veroorsaak.

Glifosaat is die grootste onkruiddoder in Suid-Afrika. Ten minste 100 produkte bevat dié middel.

Ná die WGO se bevinding het miljoene mense oor ses kontinente, 56 lande en 452 stede weer opgeruk teen die Amerikaanse multinasionale maatskappy Monsanto se produk Roundup.

Glifosate word ook verbind met die dramatiese toename in outisme.

Die landbou-sektor kan miljarde rand verloor indien die onkruiddoder, glifosaat, verbied sou word.

Gerhard Verdoorn, ‘n woordvoerder vir landboupodukte, sê ‘n verbod sal reuse oesverliese tot gevolg hê, asook voedselverliese weens ‘n toename in onkruid.

Volgens Verdoorn is die WGO se bevindings gegrond op “onvolledige data” en ‘n “wanbegrip” van duisende ander studies oor die dekades heen wat nie dieselfde soort risiko kon bewys nie.

Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het vroeër gesê hulle sal die data en assessering ondersoek om vas te stel of enige regulerende aksie nodig is.

Zuma, Poetin hou samesprekinge

Die Russiese president, Vladimir Poetin, en president Jacob Zuma het hulle bilaterale samesprekings in Moskou afgesluit, het RSG berig.

Die twee leiers het tydens die vieringe van die 70 ste herdenking van die oorgawe van Nazi-Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog samesprekings gevoer.

Volgens ‘n verklaring deur die Presidensie het die twee leiers die status van die Interregeringskomitee oor Handel en Ekonomiese Samewerking vir die komende BRICS-beraad in Julie in Moskou bespreek.

Poetin en Zuma het ook ooreengekom om onderlinge samewerking in mynwese, energie en landbou te verskerp.

Rusland het die oorwinning van die Geallieerdes oor Duitsland met ‘n luisterryke militêre parade gevier.

Dit was ‘n verleentheid vir die oorwinnaars oor Nazisme in die Weste wat nie die geleentheid wou bywoon nie.

Meer as 50 000 nuwe grondeise

Daar is reeds 54 351 nuwe restitusie grondeise, in terme van die wysiging van die Wet op Restitusie van Grondregte (Wet 15 van 2014), ingedien. Hierdie syfer is bekend gemaak deur die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugile Nkwinti, in opvolg op ‘n vraag in die parlement gesê.

“Nuwe restitusie grondeise is vir vyf jaar heropen tot 2019. Die 54 351 eise in minder as een jaar van heropening, is reeds 68% van die 79 600 eise wat ingedien was van 1994 tot 1998. Na 16 jaar is daar steeds ongeveer 5 000 aanvanklike eise wat nog nie afgehandel is nie. Indien die huidige syfer oor vyf jaar geprojekteer word kan meer as 200 000 eise verwag word. Die departement self verwag meer as 300 000 eise. Indien dit 16 jaar neem om 75 000 eise te hanteer sal dit meer as ʼn halwe eeu neem om 200 00 af te handel,” sê Pieter Groenewald van die VF+.

“Ons het reeds gewaarsku dat die heropening van grondeise groot onsekerheid in die landbousektor gaan skep. Nuwe eise sal veroorsaak dat dit nog baie jare mag neem om al die nuwe eise af te handel.

“Vanweë die moontlikheid van ’n grondeis, brei meeste boere op die oomblik nie hulle landboubedrywighede uit nie. Op hierdie tydstip het die Suid-Afrikaanse kommersiële landbousektor sekerheid oor die toekoms nodig om met nuwe beleggings en uitbreidings te verseker dat daar genoeg kos vir almal in die toekoms is.

“Wat Suid-Afrika tans nodig het, is dat die landbougrond wat reeds aan nuwe swart boere oorgedra is, suksesvol kos moet produseer. Suid-Afrika kort meer suksesvolle swart kommersiële boere. Nege uit tien van die oordragte van grond het misluk volgens syfers wat minister Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, verskaf het. Ons kan nie bekostig dat nog vrugbare grond onproduktief raak nie terwyl die bevolking groei en daar daagliks meer voedsel nodig is nie,” het Groenewald gesê.

VSA lewer rekordmielie-oes

Die volhoubare produksie van witmielieverbouing in Suid-Afrika noodsaak bogemiddelde opbrengste en ‘n witmielieprys wat die totale produksiekoste dek. Hiermee saam is dit noodsaaklik dat uitvoerpryse nie onder die gelykbreekproduksiekoste per ton daal nie.

Wêreldvoedselpryse sal egter vanjaar tot die laagste vlak sedert 2010 daal omdat die VSA se mielievoorraad aan die begin van Maart die grootste­ in 28 jaar was.

Die VSA is die wêreld se grootste produsent van dié landbouproduk.

Die VSA se departement van landbou het verlede week bekend gemaak dat die land se mielieboere in die nuwe seisoen 36 miljoen hektaar sal aanplant.

Die wêreld se graanskure is vol wat ‘n daling in internasionale­ graanpryse voorspel.

Oorvoorsiening sal Suid-Afrikaanse graanpryse negatief raak weens die daling in VSA-pryse. Tans ondersteun die laer oesskatting en ’n swakker rand plaaslike pryse.

Amerikaanse mielieboere het die afgelope twee seisoene rekordoeste behaal, wat pryse met meer as 20% teenoor afwaarts gedruk het.

Internasionale sojaproduksie het ook ’n hoogtepunt bereik en die Amerikaanse­ regering verwag dat sy binnelandse produsente hierdie lente ook meer as voorheen sal plant.

Amerika se mielievoorraad is tans 11% hoër as dieselfde tyd verlede jaar en ook op die hoogste vlak sedert 1987.

China se voorraad is ook vandeesmaand­ deur die Verenigde Nasies met 13 miljoen ton opwaarts aangepas na 95 miljoen ton.

Suid-Afrika se plaaslike pryse het in weerwil van ’n sterker rand en laer Amerikaanse pryse hoër as die internasionale indeks gesluit, maar die plaaslike prys sal waarskynlik aanstons die VSA se pryse navolg.

Grafte ontdek toe landboubedrog op die lappe kom

Die KwaZulu-Natalse premier, Senzo Mchunu gaan president Jacob Zuma vra om ‘n omvattende ondersoek van stapel te stuur na die grafte wat aan die Suidkus in suikerrietlande ontdek is.

Mchunu het die bykans honderd grafte by die Glenroy-plaas in Dududu besoek.

Hy sê die owerhede wil in dié stadium geen moontlikhede uitsluit oor wat kon gebeur het nie. Aanduidings is egter dat gevangenes wat as arbeiders ingespan is, op die grond begrawe is.

Daar is ook bewerings dat dit mense is wat deur die destydse Veiligheidspolisie vermoor is, het RSG berig.

Intussen is grootskaalse bedrog in die KwaZulu-Natalse departement van landbou ontbloot. ‘n Opposisielid sê sowat 175 miljoen rand het weens onreëlmatighede en wanadministrasie verdwyn.

‘n Forensiese verslag wat verlede maand afgesluit is, is nog steeds nie vrygestel nie.

Die forensiese ondersoek is glo net halfpad afgehandel wat beteken dat die bedrag dalk meer as 300 miljoen rand kan beloop.

Landbouminister prys Afriforum oor plaasmoordinisiatief

AfriForum se vergadering Vrydag, met die ANC se minister van landbou, Senzeni Zokwana, was glo “opbouend” sê dié organisasie.

Die vakbondsambreelorganisasie sê moontlike stappe wat gedoen kan word om die veiligheid van boere en ander Suid-Afrikaners in landelike gebiede, te verbeter, is bespreek.

Volgens die sambreelorganisasie was die minister beïndruk met die stappe wat reeds in plek gestel is om plaaslike gemeenskappe te betrek by veiligheidsinisiatiewe, én met die afname wat misdaad getoon het as gevolg van hierdie inisiatiewe.

AfriForum het onder meer ingestem om die departement volle toegang tot hul navorsing oor plaasmoorde te gee.

Die organisasie is besig met ’n omvattende studie waarvan die verslag voor die einde van die jaar aan die minister oorhandig sal word.