Hofbevel om Winburg-konsentrasiekampbegrafplaas te red

Die Masilonyana-munisipaliteit in die Vrystaat moet binne 60 dae ‘n rehabilitasieplan saamstel om die bewaring van die Winburg-konsentrasiekampbegrafplaas te beskerm.

Dit volg ná ‘n jarelange regstryd tussen drie belastingbetalers van Winburg en die Erfenisstigting weens die munisipaliteit se swak bestuur van die terrein.

Die begraafplaas dateer uit die Tweede Vryheidsoorlog en bestaan uit gedenktekens, grafte en unieke grafstene van slagoffers wat in Winburg se konsentrasiekamp aangehou is, sowel as Britse soldate.

Die munisipaliteit moet ingevolge die hofbevel ook die gestorte rommel in die omgewing opruim, die terrein en pad daarheen onderhou, asook toesien dat onwettige gruisgrawery in die omgewing gestaak word.

Die senior bestuurder vir Erfenisbewaring, Cecilia Kruger, sê dit is ‘n oorwinning vir erfenisbewaring in Suid-Afrika.

Aanranding van plaasbestuurder by Winburg ondersoek

Die polisie in die Vrystaat ondersoek ‘n klag van gewone aanranding nadat ‘n plaasbestuurder gisteraand na bewering deur twee swart mans buite sy huis op ‘n plaas tussen Winburg en Virginia oorval en aangerand is.

Polisiewoordvoerder, Ian Gaobepe, sê Josef Mathetau se hande is glo vasgebind. Volgens Gaobepe word niks van die toneel vermis nie.

Hy sê Mathetau het glo ontsnap en hulp by ‘n buurman gaan soek, waarna die polisie ontbied is.

Luidens ‘n verklaring van Vrystaat Landbou is Mathetau met ‘n voorwerp teen die nek geslaan, waarna hy sy bewussyn verloor het.

Vrystaat Landbou sê Alf Bronner, eienaar van die plaas waar Mathetau al 25 jaar werk, is bekommerd oor sy werknemer se welstand en hy sal sy toestand monitor. Volgens Bronner het Mathetau sy bewussyn verloor nadat hy geslaan is.

Toe hy wakker word was die booswigte nog op die toneel.

‘n Swart driepootpot wat aan Mathetau behoort, is ‘n ent verder op ‘n oop vuur gekry met ‘n sak vleis langsaan.

Gaobepe sê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die polisieondersoek duur voort.