Die Stem: Ons moet eie kultuur en tradisies beja

Pleks van klasseloosheid, verteenwoordig ‘n ongedifferensieerde samesyn die nuwe utopie wat aan ons voorgehou word.

Leon Shreiber se poging in Beeld om Afrikaners wat graag Die Stem wil sing en Julius Malema se swart radikalisme as “spieëlbeelde” aan mekaar gelyk te stel, mag goeie propaganda wees, maar sneuwel sodra dit onder die vergrootglas kom.

As ons vergelykings wil tref, is daar eerder ‘n ooreenkoms tussen Schreiber se soort opgewarmde “smeltkroes”-denke en dié van die EFF. Malema het hom tydens ‘n onderhoud met Debora Patta as ‘n “Marxis-Leninis” beskryf. Sy sienings van ons geskiedenis is radikaal en strook met dié van Joe Slovo en Ruth First, wat glo dat die Suid-Afrikaanse verhaal een lang geskiedenis van diefstal deur blanke “setlaars” verteenwoordig.

roodt_dan_wikiSoos ons weet, is die marxisme ‘n internasionalistiese ideologie wat opgesom word deur die slotreël van Marx en Engels se Kommunistiese Manifes: “Werkers van die wêreld, verenig u!” Die hedendaagse multikulturalisme en Anglo-Amerikaanse imperialisme wat die bestaan van individuele volkere misken, is deelagtig aan dieselfde internasionalisme. Onlangs het die Amerikaanse meningsvormer en voormalige redakteur van die Wall Street Journal, Paul Craig Roberts, geskryf:

If we are honest and have the strength to face reality, we will realize that the Soviet Union did not collapse. It simply moved, along with Mao and Pol Pot, to Washington and London.

Pleks van klasseloosheid, verteenwoordig ‘n ongedifferensieerde samesyn die nuwe utopie wat aan ons voorgehou word. Dit is wat Schreiber met die cliché van ‘n “inklusiewe visie” bedoel. Dieselfde gemeenplaas word oor en oor aan ons in bier- en kola-advertensies oorgedra. Trouens, die skryfster en reklamekundige Sarah Britten het ‘n verdoemende PhD-proefskrif aan Wits geskryf waarin sy die rol van die SA Brouerye (tans SABMiller) by die skep van Suid-Afrika se “nuwe identiteit” aan die kaak stel: One Nation, One Beer: The Mythology of the New South Africa in Advertising.

Ons sien dus dat daar veel eerder ‘n verband tussen Schreiber se eie “inklusiewe smeltkroes”-denke en die revolusionêre marxisme van die EFF bestaan. Nóg Schreiber nóg Malema hou van ons land soos hy tans is en wil dit deur revolusionêre ingryping of sosiogeniëring verander.

Blykbaar is “konserwatisme” vir Schreiber ‘n vloekwoord, daarom dig hy dit vrylik toe aan almal wat hy wil kritiseer. Onderliggend aan die meeste konserwatiewe lewensbeskouings is egter die gedagte dat ‘n volk of gemeenskap oor die vryheid moet beskik om self sy aard en toekoms te bepaal. Patriotiese Afrikaners kies self om “Die Stem” te sing, sonder dat dit deur die staat of SA Brouerye of die grondwet op hulle afgedwing word.

Hoewel die huidige SA grondwet oor verskeie gebreke beskik, erken dit nogtans vryheid van assosiasie en vryheid van uitdrukking, wat dit vir mense moontlik maak om enigiets te sing wat hulle wil.

Dit is ook natuurlik dat Afrikaners weens algemene geweldsmisdaad en korrupsie minder met die huidige bewind identifiseer as met hul vertroude nasionale simbole, waaronder ‘n verruklike volkslied soos “Die Stem”. Trouens, tesame met die Franse “La marseillaise”, is “Die Stem” waarskynlik die mooiste volkslied ter wêreld. Suiwer om estetiese redes verdien dit om nog baie lank in die harte van mense te leef. Die huidige hibriede volkslied van Suid-Afrika skend die integriteit daarvan as kunswerk en dit was net die grysskoengenerasie van NP-politici wat daartoe kon instem dat dit as ‘n laslappie by die ANC se lied, “Nkosi Sikelel’ iAfrika” gevoeg word. Dis vir my op dieselfde vlak as die geboue deur van ons grootste argitekte soos die Skotse Afrikaner, Gordon Leith, wat tans in Johannesburg met filistynse argeloosheid gesloop word.

Die enigste mense wat teen die sing van “Die Stem” in die openbaar beswaar maak, is ‘n klein groepie verloopte Afrikaners en professionele klaers wat dit op hulself neem om Afrikaners te “betig” telkens as hulle van die kwasi-Amerikaanse spoor afdwaal. Hoe lank moet ons nog met dié steriele en voorspelbare jeremiades saamleef?

Aangesien Schreiber Duits magtig is, mag hy iets van Nietzsche weet, wat ook die na-oorlogse denke op die Europese vasteland geweldig beïnvloed het. Ons moet ophou om ons bestaande kultuur te probeer ontken ten gunste van die soort internasionalisme wat tans wêreldwyd soveel krisisse veroorsaak. Eerder behoort ons ons eeue oue tale en tradisies te “beja” soos Nietzsche gesê het en nie te skroom om te sing, te dans en te skryf nie.

Utopiese samesyn, soos klasseloosheid, lei juis tot konflik omdat dit sowel die individu as die gemeenskap van sy keusevryheid ontneem en hom in ‘n reënbooggevangenis (of -kroeg) inkerker.

Die onlangse ryke was almal koloniaal en verdrukkend van aard. As Statebondsland poog Suid-Afrika steeds om hom as ‘n nuwe klein empaaier daar te stel, maar dit het reeds misluk, lank voordat Afrikaners weer openlik “Die Stem” begin sing het.

Vrae oor die nuwe Afrika-ekonomie

Hiermee ‘n multi-navraag vir diegene wat my sou kon help met raad en daad asb.

  1. Het iemand al die roete wat die Voortrekkers oorspronklik in hul vasberade gang  oor die Drakensberg gevolg het, nagevors en vandag, tersaaklik en ter bemoediging, op foto vasgelê? Dit was darem ‘n groot en merkwaardige struikelblok wat oorkom is, veral in daardie dae se perspektiewe!
  2. Kan iemand my asb. help met mnr. J. Malema se 24-uur-navraaglyn vir kitswerkskepping, gratis ten volle ontwikkelde besighede (dit neem gewoonlik van 3 tot 5 jaar om die hele besigheidsiklus onder die knie te kry, terwyl baie faal) en gratis plaag-, plunder- en siektevrye plase met toerusting, kennis, ondervinding, markte en winste in, om en vanuit SA. Vanoggend om 01:15 bel iemand my om werk te eis. (Nie vreemd nie – ek kry oproepe uit o.a. Malawi, Zambië, Zimbawe en die Kongo, en vonkposse van nog verder uit Afrika.) Ek noem toe geduldig dat SA nou reeds vir 20 jaar onder Afrikabeheer staan, wat spoedig ons SA ekonomie volhoubaar gaan herstel, saam met die nuwe Afrika-ekonomie. Die man (Mohammed) wil toe Malema se nommer ook nog by my vra.
  3. Laastens verneem ek graag wie die nuwe SA-Nigerië (Work in Nigeria) -migrasiekantoor vir die Eksodus na Nigerië se “grootste ekonomie in Afrika” hanteer. Mens kon moontlik die sowat 30 miljoen onwettige immigrante wat ons ekonomie plunder en verswelg wou aanmoedig om Mammon nou weer noordwaarts te volg, of hul sosio-ekonomiese verantwoordelikhede in rentmeesterskap in hul eie lande onder hul eie regerings op te neem.

Met dank en waardering vir u tyd en ons eie doelgerigde ekonomiese herontwikkelingsmomentum.

– Johan Meintjes, Pretoria

Malema op kommissie wat regters aanstel

Die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters, Julius Malema, is verkies tot die Geregtelike Dienskommissie in die parlement.

Hy sal op dié kommissie dien wat regters aanstel, saam met die ANC se voormalige sweep Mathole Motshekga en die voormalige kabinetsminister Thoko Didiza.

Die ander drie lede wat tot die kommissie verkies is, is die DA se Hendrik Schmidt, Narend Singh van die Inkatha Vryheidsparty en die ANC se Dikeledi Magadzi.

Die lede van die Nasionale Raad van Provinsies wat ook op dié liggaam sal dien, is die ANC se Thandi Modise, Tsapane Mampuru, Dikgang Stock en Dumisane Ximbi.

Malema-klug gaan voort

Die Ekonomiese Vryheidsvegters is in die parlement om ‘n rewolusie te ontketen, nie om reëls te volg nie, sê die leier van die party, Julius Malema.

Hy het gesê hulle sal nie duld dat die rewolusie ondermyn word deur konvensies wat deur kolonialiste en imperialiste geskep is nie.

Sy ondersteuners het Vrydagmiddag ‘n betoging buite die parlementsgebou gehou.

Malema het die media toegespreek nadat EFF-parlementslede Donderdagaand uit die parlement gestap het.

Malema gaan glo ‘n regsmening inwin nadat hy gevra is om die nasionale vergadering te verlaat weens onparlementêre gedrag.

Die waarnemende speaker, Thandi Modise het Malema gewaarsku dat tugstappe kan volg nadat hy gesê het die ANC het die slagting by Marikana veroorsaak.

Daar is 34 Amcu-mynwerkers by Marikana in 2012 deur die polisie doodgeskiet.

Volgens die getuienis van Meneer X wat tans voor die Farlam-kommissie dien, het die Amcu-myners onder die invloed van moetie ‘n massamoord beplan.

Meneer X getuig oor mensvleis-ritueel by Marikana

’n Oudmynwerker, wat om veiligheidsredes slegs as Meneer X bekend staan, het Donderdag oor afskuwekkende moetierituele voor die Marikana-insident getuig.

Meneer X, ’n rotsboor-operateur, tree op as die polisie se sleutelgetuie waarin die gru-besonderhede oor mensvleis wat deur Amcu-lede vir moetie gebruik is, na vore gekom het.

Hy is deel van ‘n getuiebeskermingsprogram en getuig deur middel van ’n elektroniese beeldskakel vanaf ’n ongeïdentifiseerde plek.

Die Amcu-myners het veiligheidswagte vermoor om liggaamsdele van die menselyke vir tradisionele genesers te bekom sodat hulle daarmee teen koeëls beskerm sou word.

Die ANC het Amcu reeds daarvan beskuldig dat hulle ook deur buitelandse agente geïnfiltreer is.

Die oudmyner getuig in Centurion voor die Farlam-kommissie oor die omstandighede rondom die dood van 44 mense in Augustus 2012 by Marikana.

Tien mense, onder wie polisiebeamptes en sekuriteitswagte, sowel as ses ander mynwerkers is in die week voor die Marikana-slagting tydens gewelddadige stakings vermoor.

Julius Malema, EFF-leier, en sy partylede het intussen Donderdag uit die Nasionale Vergadering van die parlement gestap omdat Malema volgehou het om die ANC en die polisie vir die moorde by Marikana verantwoordelik gehou het.

Malema het geweier om opmerkings terug te trek wat hy tydens die debat oor die Staatsrede gemaak het. Hy het toe gesê die ANC het massamoord by Marikana gepleeg.

Die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Thandi Modise, het beslis dat sulke bewerings onparlementêr is en dat hy dit moet terugtrek.

Die Kantoor van die ANC se Hoofsweep het die gedrag van lede van die Ekonomiese Vryheidsvegters in die Nasionale Vergadering as skokkend bestempel.

Die ANC se Parlementêre woordvoerder, Moloto Mothapo, sê die kantoor verwelkom aanduidings dat die Parlement die voorval gaan ondersoek

Nar in rooi oorpak verander parlement in totale sirkus

Julius Malema, die oorgewig EFF-leier, het die parlement Woensdag in ‘n totale sirkus verander met ‘n noupassende rooi oorpak, vuis in die lug en tierende persoonlike aanvalle.

Malema het klaarblyklik vir vermaak gesorg, maar kon niks van substansie lewer nie. Hy het die gewone kwessies teen Zuma herhaal wat sy linkse wit poppemeesters aan hom voorsê.

“Niemand gaan onthou wat jy gesê het (in die staatsrede) nie behalwe dat jy gesê het mense moet skoonmaak op Mandela-dag. Dit is dalk omdat dit die maklikste ding was om oor te praat in jou toespraak.”

Malema het die president oor en oor aangeval. “Jy het nie wat nodig is om die stryd te kan lei vir ekonomiese transformasie wat ekonomiese bevryding vir die swart meerderheid moet bring nie”.

“Jy praat van radikale ekonomiese verandering, maar daar was niks radikaals aan wat jy gesê het nie – dit was net ’n herhaling van wat reeds gesê is.

“Jy en jou party vermy die belangrike kwessies, veral ten opsigte van radikale ekonomiese verandering, want julle is nie dapper genoeg nie en het die revolusie versaak.”

“Jy is baie bang vir wittes, veral wit monopolistiese kapitaal. Jy het die afgelope 20 jaar die bevoorregting van die wit minderheid verdedig en die uitbuiting en uitsluiting van die verdrukte swart meerderheid voortgesit.”

“Die bewys van die ooreenkoms [met die wit monopolie] is die standbeeld van Mandela wat agter die standbeeld van Louis Botha moet wegkruip.

“Die standbeeld moet weg, want dit verteenwoordig niks in die demokratiese Suid-Afrika nie.”

Malema het daarna sy wit linkse meesters se gunstelingmantra herhaal: “Die ANC-regering het die Marikana-slagting veroorsaak. Die polisie het die ANC-regering verteenwoordig.”

 

 

Malema prys privaatskole

Ondersteuners van privaatskole Shivambu en Malema
Ondersteuners van privaatskole Shivambu en Malema

Die EFF-leier Julius Malema, sal voortgaan om sy seun na ‘n privaatskool te stuur, selfs al het hy gesê openbare verteenwoordigers moet openbare dienste gebruik.

Malema het gesê sy seun sal nie “disfunksionele en arm” openbare skole bywoon nie, en hy sal ook sy mediese fonds handhaaf, wat hom toegang tot private gesondheidsorg gee, het The Star berig.

Sondag het Malema egter aan verslaggewers gesê by ‘n mediakonferensie in Kaapstad dat dit geen sin maak vir die regering om dienste te lewer wat sy leiers, van LP’s tot ministers, nie bereid is om te gebruik nie.

“Ons wil skole en hospitale opgegradeer hê… hulle sal nooit van [goeie] gehalte wees as LP’s dit nie gebruik nie,” het hy gesê.

Maandag, het Malema gesê sy agt-jaar-oue seun, Ratanang, sal bly by die privaatskool, tensy ‘n wet aangeneem word wat verkose verteenwoordigers dwing om openbare geriewe te gebruik, het die koerant berig.

“Hoekom moet ek my kind aan swak onderwys onderwerp wanneer mense in magsposisies dit nie wil doen nie?” het hy gesê.

Malema vra SAID om verskoning

malema4Malema het om verskoning gevra nadat die SAID Maandag sy voorlopige sekwestrasie in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria verleng het.

Malema het erken dat hy sy plig versuim het ten opsigte van belasting. Hy is tot 25 Augustus gegun om sy uitstaande belasting ten bedrae van R16 miljoen plus rente te betaal.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het ná Malema se verskoning gesê dit is nie in SAID se belang om met regstappe teen Julius Malema voort te gaan nie.

Die leier van die EFF het ook om verskoning gevra het vir sy uitlatings dat SAID bevooroordeeld en oneerlik is.

Volgens hofstukke skuld Malema die SAID R16 miljoen in belasting sedert 2010.

Malema het SAID voorheen van ‘n politieke agenda teen hom beskuldig en ‘n “doelbewuste poging” om hom te diskrediteer.

Maar Maandag het hy sy deuntjie verander . “Ek kon dinge in die openbaar gesê het wat ‘n negatiewe beeld van die reputasie van die SAID en ‘n paar van sy amptenare skep,” het die EFF-leier gesê.

SARS se prokureur, Nick Maritz, het aan die hof gesê dat die Inkomstediens ‘n kompromie-aanbod aanvaar het dat Malema sy belastingskuld vereffen.

Die ooreenkoms is onderhewig aan sekere voorwaardes. Een hiervan is dat hy ‘n volle bekendmaking van sy bates, laste en bronne van inkomste voorlê, en dat sy belastingsake op datum gebring word.

Die saak sal weer voor die hof wees in Augustus om te verseker dat die voorwaardes nagekom word. As dit nie gebeur nie, kan die voorlopige bevel nog finaal gemaak word.

Tot dan sal Malema sy setel in die parlement te behou.

 

Sal belasting Malema uit parlement hou?

'Kill a Boer'
‘Kill a Boer’

Die Ekonomiese Vryheidsvegters wou nie kommentaar lewer oor hul partyleier, Julius Malema se belastingstatus nie.

Malema skuld die Ontvanger R16 miljoen.

Die EFF se woordvoerder het egter die versekering gegee dat hul leier wel parlement toe sal gaan.

Mbuyiseni Ndlozi, die EFF se woordvoerder het gesê dat hy nie inligting oor die belastingaangeleentheid het nie.

‘n Trustfonds genaamd die JSM Trust, is in April in die lewe geroep om geld vir Malema in te samel.

In terme van Artikel 47 (c) van die Grondwet kan ‘n gesekwestreerde persoon nie in die parlement dien nie.

Die Inkomstediens wou ook nie oor Malema se belastingsake uitwei nie.

Die EFF het 25 setels in die Parlement nadat meer as een miljoen stemmers in die algemene verkiesing verlede week vir die party gestem het

Die voorsitter van die trustfonds, Mandisa Mashego het gesê sy is nie in ‘n posisie om te openbaar hoeveel geld tot dusver ingesamel is nie.

“Dit is vertroulike inligting,” het sy gesê.

Sy het gesê die fondsinsameling sal binnekort begin nadat die nuwe regering ingesweer is.

Malema moet weer op 26 Mei in die hof wees om ‘n voorlopige sekwestrasie bevel teen te staan.

Malema uit saal gejaag deur skare in Durban

MalemaDie leier van die EFF, Julius Malema het Donderdag aan eie bas ervaar hoe dit voel om uitgejou te word. Voorheen was hyself die uitjouer.

Malema moes by die Howard Kollege-kampus praat as deel van sy eerste stemwerwingsbesoek aan die provinsie in aanloop tot die verkiesing.

Dit is egter die tweede keer dat die Ekonomiese Vryheidsvegters ‘n kil ontvangs in die provinsie kry.

Met Malema se besoek aan President Jacob Zuma se dorpie Nxamalala in Januarie is moes die polisie ingryp toe ANC-ondersteuners gebots het met Malema se volgelinge.

Die EFF-leier moes noodgedwonge ‘n lesingsaal by die universiteit van KwaZulu-Natal in Durban Donderdag self verlaat toe ANC-ondersteuners sy toespraak ontwrig het.

‘n Woedende Malema het buite gewag in ‘n wit Mercedes-Benz. Sy duur smaak word glo gefinansier deur ‘n Nigeriese weldoener.

Die polisie en personeellede het tevergeefs ingegryp om die situasie te kalmeer, en Malema moes noodgedwonge sy ondersteuners buite die saal toespreek.

Die polisie en die EFF-beamptes het ‘n menslike muur om Malema gevorm om verdere ontwrigting te voorkom.

Malema het ‘n man met ‘n ANC-T-hemp opgemerk en herhaaldelik vingerwysend vir hom geskree “Voertsek!”

Malema het aan die skare gesê dat sommige van die oproeriges deur die ANC gehuur is en moontlik nie eens aan die universiteit verbonde is nie.

Malema het die ANC-ondersteuners afgemaak as “Zuma se beeste wat van uit die duur kraal ontsnap het” en het gesê hulle ontwrig sy byeenkoms want hulle was bang vir die EFF .

Hy het bygevoeg dat Cyril Ramaphosa, die ANC se adjunk-president erger as Zuma is want hy het R18 miljoen vir ‘n buffel betaal.

Malema het kritiek op die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema gelewer, en gesê studente moet dit verwerp want dit skep groot skuld vir hulle.

Hy sê die EFF sal die land se minerale hulpbronne nasionaliseer om gratis onderrig te befonds.

Hy het ook gevra vir rasseverdraagsaamheid. “Wit mense is ons vriende. […] Ons beleid is om nie wit mense uit te dryf uit die land nie.”

Malema is daarna na die landelike Tafelkop buite Pinetown, waar ANC-ondersteuners hom ook ingewag en beledig het.

Hy het gesê die ontwrigting in KwaZulu-Natal sal by die polisie en die Onafhanklike Verkiesingskommissie gerapporteer word.

EFF dien klag in by OKOSA oor geweierde advertensie

IcasaDie Onafhanklike Uitsaai-owerheid, OKOSA, het ‘n klag van die
Ekonomiese Vryheidsvegters ontvang nadat die EFF se
verkiesingsadvertensie afgekeur is.

Die SAUK sê die advertensie is nie verbied nie, maar wel afgekeur
weens aanhitsende inhoud.

OKOSA sê hulle stel ondersoek in na die saak. Die openbare uitsaaier
het die advertensie van die lug afgehaal omdat dit geweld sou
aanblaas.

In die advertensie moedig die EFF kiesers aan om e-tolhekke “fisies te
vernietig” indien hy die verkiesing wen.

Die leier van die EFF, Julius Malema het die aanhitsing verdedig en
gesê kykers moet toegelaat word om vir hulle self te besluit.

Vroeër die maand het die SAUK ook ‘n advertensie van die DA op
dieselfde gronde afgehaal.

Na ‘n verhoor deur dieselfde komitee van OKOSA, is beslis dat die
advertensie weer uitgesaai mag word.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het intussen ook by OKOSA oor die DA
se advertensie gekla.

In die advertensie rig polisiebeamptes vuurwapens op lede van die publiek.

Malema het berigte dat die EFF ‘n koalisie-regering met die DA in
Gauteng oorweeg, verwerp.

Malema het gesê die party se doelwit is om die verkiesing te wen en is
daarom nie ingestel op koalisievorming nie.

Die EFF het nouer samewerking met die vakbond NACTU in die vooruitsig
gestel. Malema sê NACTU onderskryf die EFF se verkiesingsbeleid.

Die DA het verlede week daarin geslaag om sy advertensies terug op die
lug te kry nadat die party hom op die Onafhanklike
Kommunikasie-owerheid beroep het.

Die EFF gaan poog om dieselfde te doen.

Die SAUK bied gratis advertensieruimte oor radio en op TV aan
politieke partye in aanloop tot die verkiesing van 7 Mei.

Die EFF het die advertensie ingedien vir sy gratis advertensiegleuf.
Dit sou verlede Saterdag uitgesaai word.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SAUK, het gesê dit kan nie in sy
huidige vorm uitgesaai word nie.

“Dit is ’n duidelike aanhitsing tot geweld en misdadigheid wat deur
Okosa-regulasies verbied word, en daarbenewens is dit ’n oortreding
van die gedragskode van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK).
Ons kan nie advertensies toelaat wat geweld aanhits nie,” het hy gesê.

Okosa het gesê die klag is dié week ingedien.

“Aangesien dit met die verkiesing verband hou, sal dit op ’n dringende
basis gehanteer word,” het Paseka Maleka, woordvoerder van Okosa,
gesê.

Wit EFF-leidster vry na Afrikanersteun

Kim Heller, die EFF se mediastrateeg
Kim Heller, die EFF se mediastrateeg

Kim Heller (48), die EFF se wit Joodse kommunikasie- en mediastrateeg,
en voormalige lid van die ANC, sit glo agter die plan om ‘n
aanhitsende advertensie vir die SAUK in te dien.

Die SAUK het pas die EFF-advertensie wat vir die “fisiese
vernietiging” van e-tolhekke vra, afgewys.

Keller hoop dat die opsetlike en openlike aanhitsing vir die EFF
waardevolle publisiteit sal skep.

Die EFF het sy advertensie wat deur die SAUK afgewys is, ook op
YouTube geplaas, maar tot dusver baie min aftrek gekry.

Intussen het meer as ’n halfmiljoen mense reeds na die ANC Ayisafani
op YouTube gekyk.

Die EFF beplan om ’n protesoptog op 29 April na die kantore van die
SAUK te hou as die advertensie nie uitgesaai word nie, het Malema
gesê.

Heller het glo na die skietery by Marikana besluit om nie meer ANC te
stem nie en het onlangs by die EFF aangesluit.

Sy het in Johannesburg aan die Universiteit van Witwatersrand (Wits)
gestudeer, waar sy Dali Mpofu, toe president van die Black Students
Association, ontmoet het.

Heller, wie se naam op die EFF se Gautengse en ­nasionale kandidatelys
verskyn, is “beïndruk” dat Afrikaners, waaronder ook boere, by die EFF
aangesluit het.

Sy meen wit steun vir die EFF “groei”. Heller sit duidelik agter
Malema se jongste poging om witvoetjie te soek by Afrikaners en boere.

Malema het glo gesê die EFF sal vir meer wit mense grond gee.

Hy het tydens ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê wit mense met
landbougrond in die land is “nie eens meer as 7% nie”.

“Die grond word deur vyf families beheer. As dit verdeel word, kan
meer wit mense daardeur bevoordeel word.”

Ná ’n opmerking van ’n joernalis dat hy hom dikwels teen wit mense
uitlaat, het Malema gesê hy kan Suid-Afrika nie sonder sy wit mense
voorstel nie.

“Ons knoop onderling verhoudings aan en trou en sommige wit en swart
mense het gesins- en familiebande.

“As jy teen wit mense wil baklei en hulle see toe dryf, gaan dié
families ook begin kla en gaan ons steun verloor. Ons is nie so dom
soos die apartheidsregering nie.”

Hy het gesê veral Afrikaners het een paspoort. Hulle is burgers, is
lojaal, patrioties en lief vir Suid-Afrika.

Dit is nie duidelik waarom Heller skielik so naarstiglik na Afrikaners
en boere vry of namens hulle probeer praat nie. Sy het voorheen geen
belangstelling in Afrikaners of landbou getoon nie.

Kommunisteparty sê opposisiepartye moet ‘les geleer word’

Blade Nzimande, sekretaris-generaal van die SA Kommunisteparty
Blade Nzimande, sekretaris-generaal van die SA Kommunisteparty

Komende kort op die hakke van die minister van sport, Fikile Mbalula, se uitspraak dat die opposisie in Suid-Afrika Hitleriaanse “fasciste” sou wees, het die kommunistiese leier Blade Nzimanda Saterdag gesê dat die opposisie ‘n “harde les geleer moet word”.

“Gebruik 7 Mei om die Demokratiese Alliansie ‘n harde les te leer. Hulle sê dat hulle ten gunste van werksgeleenthede is maar was teen die plaaswerkers in die Wes-Kaap,” het hy aan die Nasionale Unie van Mynwerkers se nasionale fabrieksvloerverteenwoordigersraad in Boksburg gesê.

Hy het ook na die DA as “‘n party van arbeidsmakelaars” verwys. “As die DA na Cosatu- of Luthuli-huis ‘n optog hou, is die party swart, maar in die parlement is hulle wit.”

Nzimande het ook teen Julius Malema en sy belastingwanbetaling uitgevaar. “As jy die SA Inkomstediens R16 miljoen skuld, hoeveel miljoene het jy nie opgevreet nie? Hulle het meer as R100 miljoen opgevreet,” meen hy.

“Sommige mense dra duur horlosies en klere maar het nog nooit vir ‘n dag in hul lewens gewerk nie.”

Na hofdokumente skuld die EVV-leier Julius Malema R16 miljoen plus rente nadat hy in gebreke gebly het om tussen 2006 en 2010 opgawes in te dien.

In 2010 het die SAID Malema oor sy versuim om belastingopgawes in te dien gekontak.

Dit het Malema 18 maande geneem om na verskeie pogings van die SAID sy agterstallige opgawes in te dien.

Malema het ook in gebreke gebly om die Ratanang-trust vir belastingdoeleindes te registreer en die SAID het dit namens hom gedoen.

Sy regspan het die Hoë Hof te Pretoria in Februarie versoek om sy sekwestrasiesaak uit te stel. Die SAID het dit teengestaan.

EFF-kiesers kom van DA-aanhitsing oor dienslewering

Teuns Botha, deurmekaar
Teuns Botha, sukkel om te konsentreer op die deurmekaar DA

Die Wes-Kaapse onderleier van die DA, het Dinsdag aan sakelui in Bell­ville gesê die EFF se kiesers kom van die DA.

“Weet julle die EFF het die meeste van sy kiesers van die DA getrek?” het Teuns Botha gesê en daarmee erken dat die steunbasis van sy party ver-links is.

Hy wou egter nie in die teenwoordigheid van die media die kwessie grondig verder bespreek nie.

Die DA se navorsing dui daarop dat baie swart mense wat die DA begin steun het nou eerder vir die EFF gaan stem, volgens Botha.

Dié uitlating bevestig wat Praag reeds lank oor berig het, naamlik dat die DA linkser as die ANC is en agter die huidige vlaag swart opstande en geweld in Noordwes sit waar miljoene rande se skade reeds aangerig is oor “gebrekkige dienslewering”.

Uiteindelik gaan die geweld oor werksgeleenthede in die staatsdiens, iets wat swart inwoners as hul enigste kaartjie na rykdom beskou, terwyl die DA voorgee dat dit oor “beter dienslewering” gaan.

Teuns Botha het gesprek gevoer met onder meer prof. Willie Esterhuyse, filosoof en voorsitter van Barimor, en dr. Musa Shezi, voorsitter van die Groter Tygerberg-vennootskap.

“Ek dink nie die regerende party was al ooit in so ’n dilemma soos nou nie,” het Botha in ontkenning aan sy bewonderende en werklikheidsgestremde gehoor vertel.

Die eintlike dilemma is die van die DA wat ekstremsime aanwakker en uiteindelik net wit bates het om te oorhandig vir die verwagtinge wat hulle skep

Van ver-links is die EFF en DA teen die ANC, en van links is die vakbonde om die ANC op ekstremistiese fronte te troef.

Die tragedie is egter dat die ANC al hoe meer na ‘n “gematigde” en stabiele party lyk in vergelyking met die DA en EFF wat geweld en opstand aanmoedig.

Botha het dit indirek erken en gesê die DA sal na die “middelgrond” van die ANC moet beweeg.

Dié ontstellende werklikheid het oudergewoonte by die vergadering se aanwesiges verbygegaan wat reeds hul blindheid vir die gevolge van hul politieke besluite die afgelope 20 jaar gedemonstreer het.

Botha het nietemin gesê hy is besorg daaroor dat die EFF met die “radikaalste, onverantwoordelikste politikus”, Julius Malema, as sy leier, die verkiesingsuitslag in Gauteng kan bepaal.

Hy het gesê dat die DA en die ANC na mekaar sal moet omsien.

Botha het nie kommentaar gelewer oor die DA se radikale en onverantwoordelike aanhitsing nie.