Presidensie bestudeer regters se versoek

Die presidensie sal nie onmiddellik reageer op Hoofregter Mogoeng Mogoeng se besware oor bewerings dat die regbank beïnvloed word nie.

Die SABC berig Mogoeng het ‘n mandaat gegee dat ‘n vergadering met die president aangevra word om die bedreiging van die regstelsel te bespreek.

Dit volg nadat die land se top-regters vir die eerste keer in die geskiedenis van ‘n demokratiese Suid-Afrika, ‘n versoek gerig het vir ‘n vergadering met President Zuma.

Regters sê hulle wil die herhaaldelike en ongegronde kritiek teen die regterlike gesag bespreek en sê dit het die potensiaal om die howe se gesag te ondermyn.

Die presidensiële woordvoerder, Harold Maloka, sê president Jacob Zuma sal aandag aan die saak gee sodra hy van die BRICS-beraad teruggekeer het.

Volgens die SABC is dit die eerste keer in die geskiedenis van ‘n demokratiese Suid-Afrika dat die land se topregters ‘n vergadering met die president aanvra.

Hoofregter Mogoeng het vroeër gesê hy is optimisties dat President Jacob Zuma die regte ding sal doen

Senior ANC-lede het die howe onlangs skerp gekritiseer, veral oor die Omar al-Bashir-kwessie.

Minister van Justisie wil regsberoep verswart

Die minister van Justisie, Mike Masutha, wil ’n prokureur-generaal aanstel om transformasie in die regsberoep te dryf.

Hy het dié aankondiging vandag tydens ‘n mediasessie by die Parlement gedoen en gesê die prokureur-generaal se statuur, magte en salaris sal gelykstaande wees aan dié van ’n regter.

Masutha het al dikwels in die verlede kritiek gelewer oor die gebrek aan transformasie in die regsprofessie.

Hy het ook die staat en die privaatsektor gekritiseer weens hul voorkeur vir wit manlike advokate en regslui, en die gebrek aan voorheen benadeelde groepe wat as regsverteenwoordigers optree.

Hy sê die verswarting van die regsberoep beweeg te stadig, want daar is nie genoeg swart regters nie. Swart advokate kry glo nie genoeg ervaring om as regters aangestel te word nie.

Masutha meen verswarting sal die stand van die beroep verbeter en “professionalsime” aanmoedig.

Staatsamptenare kry verhoging

‘n Verhoging vir staatsamptenare is goedgekeur en sal beteken dat President Jacob Zuma se salaris nou meer as R2.7 miljoen jaarliks sal wees.

Die Onafhanklike Kommissie vir die Vergoeding van Staatsmptenare het gister sy aanbeveling rakende salarisse in die openbare sektor gemaak.

Staatsamptenare wat meer as R1 miljoen verdien, sal ‘n vyf persent verhoging ontvang en amptenare wat minder as R1 miljoen ontvang sal ‘n ses persent verhoging kry.

Die verhoging sal terugwerkend vanaf 1 April 2014 geld.

Adjunk-president Cyril Ramaphosa se salaris sal verhoog vanaf R2.47 miljoen na R2.6 miljoen rand. Regters in die Grondwethof en Appèlhofregters se salarisse sal vanaf net minder as R2 miljoen na R2.08 miljoen verhoog, terwyl ‘n regter in die Hooggeregshof nou R1.69 miljoen sal verdien.

Malema op kommissie wat regters aanstel

Die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters, Julius Malema, is verkies tot die Geregtelike Dienskommissie in die parlement.

Hy sal op dié kommissie dien wat regters aanstel, saam met die ANC se voormalige sweep Mathole Motshekga en die voormalige kabinetsminister Thoko Didiza.

Die ander drie lede wat tot die kommissie verkies is, is die DA se Hendrik Schmidt, Narend Singh van die Inkatha Vryheidsparty en die ANC se Dikeledi Magadzi.

Die lede van die Nasionale Raad van Provinsies wat ook op dié liggaam sal dien, is die ANC se Thandi Modise, Tsapane Mampuru, Dikgang Stock en Dumisane Ximbi.