Sielkundige impak van wêreld-ekonomiese krisis

Terwyl ‘n Amerikaanse paneel nog nie onomwonde kon bevestig dat die wêreld-ekonomiese krisis iets van die verlede is nie, is dit duidelik dat state, instansies en individue nie deur die krisis onaangeraak is nie.

In die VSA is daar selfs ‘n groep wat ‘n dubbele insinking, die sogenaamde “double dip” verwag.

Versigtigheid is nou die wagwoord. Die versigtigheid kleef nog duidelik na aanvanklike woede toe dit geblyk het inhalige magnate het so laag gedaal om staatshulp om hulle kop bo water te hou, te gebruik om opnuut banale bonusse aan hulself toe te ken.

Trouens, die woede was so erg dat daar in Nederland ‘n ernstige poging was om bankbase persoonlik aanspreeklik te hou vir verliese as gevolg van dom-onnosele besluite, terwyl sommiges selfs wetgewing gevra het wat tronkstraf moontlik sou maak.

Die Pew Research Center in die VSA het ‘n peiling gedoen oor hoe die krisis gesinne geraak het, en hoe dit mense se denke beïnvloed het. Meer as die helfte van die VSA se werksmag het werksverliese ervaar, moes instem tot salarisvermindering of moes verminderde ure werk.

Agt elemente is geïdentifiseer oor hoe dit Amerikaners geraak het:

  • 32 % van die volwasse werksmag het in die resessie tye van werkloosheid ervaar.
  • 28 % van die mense wat werk het, se werksure is verminder, 23 % se salarisse is verminder, en 11 % is van permanente na tydelike werkers omgeskakel.
  • 62 % volwassenes het aangedui hulle spandeer minder as voor die resessie, en 31 % beplan om na die resessie steeds minder te bly spandeer.
  • Ongeveer 6 uit tien mense wat ouer as 50 is, meen hulle sal dalk aftreeplanne moet uitstel omdat hulle nie seker is dat hulle genoeg voorsiening gemaak het nie. Die opname wys egter dat dit die sg “baby boomers” is wat die hardste getref is, en ongeveer 30 % van hierdie jong mense is nou onseker of hulle genoeg sal kan verdien om vir aftrede voorsiening te maak. (Dit is veelseggend in die VSA met sy Green Card-stelsel).
  • Ongeveer die helfte van die huiseienaars meen hul huise se waarde het afgeneem, en amper 40 % meen dit sal 6 jaar of langer neem om te herstel.
  • Altesaam 26 % van die Amerikaners meen hul kinders sal, wanneer hulle die ouers se huidige ouderdom bereik, ‘n laer lewenstandaard handhaaf.  ‘n Dekade tevore was slegs 10 % hierdie mening toegedaan.
  • 63 % meen dit sal die VSA tot drie jaar neem ekonomies heeltemal te herstel.
  • Die peiling toon dat meer republikeine positief is oor die ekonomie wanneer die land deur ‘n republikeinse president regeer word, terwyl meer Demokrate die mening toegedaan is wanneer ‘n Demokraat sy intrek in die Wit Huis geneem het.

In lande soos België is omvattende hoofstukke oor moraliteit in die ekonomiese herstelplanne ingeskryf.

Teen dié agtergrond is dit belangrik om die oog te hou op faktore hier te lande, soos Mangaung wat nou blykbaar van ‘n ontwikkelingsbegroting na ‘n welsynsbegroting oorgeslaan en die gans wat die goue eiers lê geslag het. Ministers wat peperduur vuurwaens aanskaf terwyl die nasionale begroting nie meer al die (slag)gate toestop nie. Korrupsie, die diefstal van ‘n land se toekoms, wil maar nie wyk nie. Hierdie swartgallige lysie is ongelooflik lank.

Die Fifa-toernooi is nog nie eens in die pylvlak nie, en die “double dip”-sindroom slaan wyd uit. Ekonomies gesproke is volslae swartgalligheid dalk oordadig, maar versigtigheid is aangewese, en belê in die toekoms onontbeerlik.

poteha-detyamФильчаков прокурор отзывы

Euforie het ‘n prys

Die bedrae wat tot dusver bekend gemaak is oor hoeveel Suid-Afrikaanse staatsdepartemente en staatsinstellings aan die aankoop van kaartjies vir die Wêreldsokkerbeker spandeer het, beloop reeds sowat R60 miljoen. Dit sluit nie die bedrae wat munisipaliteite, soos die R15 miljoen wat Mangaung spandeer het, in nie.

Dié skrikwekkende konteks word verder versteur deur die nuus dat die minister van Finansies ‘n direktief uitgereik het dat dit nie mag gebeur nie.

Dit is nie net staatsinstellings wat geld maak wat kaartjies aangekoop het nie. Eskom het self R12 miljoen se kaartjies aangeskaf wat stellig ‘n hele aantal gemoeds-kortsluitings tot gevolg gehad het.

Wat die uiteindelike totale bedrag gaan wees, is nie bekend nie, maar die skokkende syfer kan net erger skok.

Hierdie soort byvoordele op die belastingbetalersrekening is nie nuut nie. Met die vorige Wêreldbekertoernooi in Duitsland is omtrent almal wat iets was op die rekening van die belastingbetalers na Duitsland. Ook die toe spartelende SABC het ‘n groot span raadslede, senior amptenare en ander belangstellendes op ‘n ekskursie van die Olimpiese Spele in Beijing geneem. Uiteindelik moes die belastingbetaler opdok.

Soms is daar wel ‘n vyeblaar om die uitspattigheid te bedek, soos ‘n drie bladsye verslag van die Tswane-raad oor die hoëvlakse bywoning van die Wêreld-omgewingsberaad. Of die ampsdraers wat die beraad bygewoon het enige insette in die opstel van die verslag gelewer het, is onseker, aangesien die verslag slegs vaaghede bevat wat bykans enige lid van die publiek hier te lande reeds weet – sonder dat hulle die toer meegemaak het.

Die vyeblaar skakel regstegnies die titel, korrupsie, uit maar nie die morele aanklag hiervan nie.

Die koste van hierdie soort optrede is nie net die regstreekse, meetbare soos die rekening wat vereffen is nie, maar die persepsie wat die land se besluitneners by die buiteland skep waar korrupsie, veral na die rol wat inhaligheid met die wêreldekonomiese krisis gespeel het, nou erg negatief beskou word nie.

Wanneer die sokkereuforie verby is, is dit hierdie soort optredes en die afloop daarvan wat aanhou byt en byt.

Of minister Pravin Gordham die oortreders vasgevat gaan kry, is ‘n ander saak. In die lig van die omvang van hierdie praktyk kan sy bakleilus vinnig verdamp.

материал длятопкарго

G-8 gee min

Dat veral sommige lande van die G-8 erg agter skedule is met miljarde dollar beloofde ontwikkelingshulp aan ontwikkelde lande is ‘n feit, maar daar is ook ‘n ander sy aan dié dollarmunt.

Die Europese Kommissie se voorwaardes vir ontwikkelingshulp maak dit baie duidelik aan watter vereistes lande moet voldoen om vir die ontwikkelingshulp te kwalifiseer. Onder die hoofvoorwaardes is die wyse waarop korrupsie en demokrasie bestuur word. Is die pogings om korrupsie hok te slaan nie sterk genoeg nie, en is daar te min neerslag van demokrasie, word die geld nie na die ontvangerlande se staatskas gekanaliseer nie, maar na nie-regeringsorganisasies en dus grootliks buite bereik van die grypsugtige regerings. Pres. Robert Mugabe se galbrakery teen NRO’s is welbekend.

Wanneer die VSA se minister van Buitelandse Sake, Hillary Clinton, in Nigerië die Nigeriese regering oor die uitroei van korrupsie aanspreek, dan spreek dit boekdele van erns.

Tog verwag die ontwikkelende lande steeds ‘n oop hand ten spyte van volgehoue nepokrasieë, kleptokrasieë en ander mismaaksels. Die G-8-lande is hard deur die wêreld-ekonomiese krisis getref. Hoe maklik sal hulle geld kanaliseer na ‘n land waar die munisipaliteite saam in een jaar R13 miljard wanaangewend en vermors het? Watter boodskap stuur die regering uit deur die hersirkulering van kaders wat reeds uitgevang is en selfs ontslaan is, in hoër of gelyke poste. Die lys word al langer, met die jongste Phil Mohlahlane wat as waarnemende hoof- uitvoerende beampte by die Landbank die trekpas gekry het en nou ‘n senior pos by die Limpopo Landbou-ontwikkelingskorporasie losgeslaan het.

Op munisipale vlak lyk dit al meer na “musical chairs” soos uitgevangde munisipale bestuurders elders weer munisipale bestuurders, waarnemende munisipale bestuurder soos op Ventersdorp, of administrateurs word soos wat met die afgedankte munisipale bestuurder van Mangaung gebeur het, en wat nou op aanklagte van onder meer korrupsie en rampokkery tereg staan.

Suid-Afrika, en Afrika, se hantering van pres. Robert Mugabe en ander Afrikaleiers, onder andere een vir wie die Internasionale Strafhof ‘n lasbrief uitgereik het, sal beslis ook nie die lus vir geld-uitdelery aanwakker nie.

Dit moet ook in gedagte gehou word dat verskeie Europese regerings beduidende hoofstukke in hul eie ekonomiese herstelplanne ingeskryf het.

In skrille teenstelling hiermee wil pres. Jacob Zuma ‘n openbare debat voer om moraliteit te herdefinieer sodat sekere praktyke aanvaarbaar sal wees.

Clinton het pas haar vorige monduitspoelery oor die korrupsie op die kontinent opgevolg met ‘n duidelike streep in die sand te trek dat Afrika self sy voetwerk vir bevatlikheid vir hulp in orde moet kry.

Uiteindelik, in ‘n globale ekonomie, maak dit sin om te belê waar hulpbronne is. Die kwessie van relatiewe prysvoordeel is nog ver van behoorlik ontwikkel oor die natuurlike ingesteldheid tot proteksionisme. Die bietjie uitvoer-vervaardiging van Ethiopië is enkele jare gelede deur elektrisiteitstekorte nek omgedraai. Toe die kragkrisis oorkom is – tydelik blyk dit nou – kon die eertydse vervaardigers nie hul buitelandse marke herwin nie. Doeltreffender mededingers het die geleenthede opgeslurp. Dis taai, en Kersvader kom net eenkeer per jaar.

roulette games noлобановский александр дети

Die byenes van plaaslike regering

Terwyl die byenes om die kop van Kenny Leluma, waarnemende munisipale bestuurder van Ventersdorp aan die oplaai is, moet ernstige vrae gevra word aan die minister van Sicelo Shiceka, minister van koöperatiewe regering en tradisionele sake, oor sy erns om plaaslike regering reg te ruk.

Pas het dit aan die lig gekom dat slegs twee persent van die land se munisipaliteite in die mees onlangse rondte skoon oudits van die Ouditeur-generaal verkry het. Die beste beskikbare mense is nodig om sake reg te ruk.

Leluma is nou in die nuus oor hy deur die minister self na Ventersdorp gestuur is om ake reg te ruk. Nou blyk dit dat hy verskeie senior amptenare van die Bitou-munisipaliteit by Plettenbergbaai inspan as ‘n sogenaamde ministeriële taakspan. Ventersdorp en Plettenbergbaai, en nie die ministerie nie, betaal skynbaar onregmatig die rekening van reuse konsultasiefooie aan mense wat reeds reuse salarisse verdien. Nou moes Ventersdorp boonop hoor, die onthullings ten spyt, gaan hulle tot die munisipale verkiesings volgende jaar met Leluma sit.

Leluma is geen gewone openbare administrateur nie. Hy het in 1993 reeds die nuus gehaal toe hy as lid van die sogenaamde Breë demokratiese Beweging in Qwaqwa geëis het dat die Qwaqwa-ontwikkelingskorporasie gedemokratiseer word. In 2003 is hy weens beweerde wangedrag as munisipale bestuurder in Qwaqwa geskors. Sedertdien is daar min tekens van die deursigtigheid wat hy eens bepleit het.

Leluma het sedertdien by Bithou ‘n politieke adviseur geword. Bithou sal weer onthou word vir die omstrede munisipale bestuurder, George Seitisho, wat met ‘n span hoogsbetaalde personeel van Bronkhortspruit gekom het, onder andere ‘n sekretaresse wat toe glo die hoogsbetaalde sekretaresse in die land geword het.

Sy aanstelling self was egter al ‘n kopkrapper, nadat sy dienstyd in Bronkhorstspruit goed met dorings besaai was. Terwyl OG-verslae aan die lig gekom het waarvoor hy uiteindelik geskors en verhoor is, het die destydse Wes-Kaapse ANC-regering hom boonop administrateur in ander sukkelende munisipaliteite gemaak, waaronder die Kannaland-munisipaliteit wat toe behoorlik om al die verkeerde redes in die nuus was.

Dit kom dan ook as geen verassing nie dat Seitisho se naam weer opduik in die Leluma-debakel by Ventersdorp, en dié keer is Seitsho in die media aangehaal as provinsiale koördineerder van die ministerie.

Seitisho se spoor deur elektroniese argiewe is nie altyd vir ‘n joernalis maklik om te volg nie omdat sy van deur die jare nie altyd dieselfde gespel is nie. Vir die minister behoort dit egter kinderspeletjies te wees om ‘n behoorlike agtergrondondersoek te laat doen.

Presies hóé droog moet ‘n kader maak voor hy sodanig in onguns verval dat hy nie met elke teenspoed in ‘n nog hoër amp beland nie?

Dit is ongelukkig gereeld Noordwes se spartelende munisipaliteite wat die spit moet afbyt. Die verhoor van ‘n geskorste munisipale bestuurder van Moqhaka-munisipaliteit by Kroonstad word gestaak toe hy as munisipale bestuurder by Klerksdorp aangestel is. By Klerksdorp verweer die munisipale regering hom dat daar geen beletseling op die aanstelling was nie omdat al die klagtes teruggetrek is.

Ook ‘n voormalige munisipale bestuurder van Mangaung, wat Bloemfontein insluit, word as administrateur van ‘n munisipaliteit in Noordwes gehersirkuleer – terwyl hy saam met ‘n oud-burgemeester tereg staan op aanklagte van onder meer korrupsie en rampokkery.

how to build instagram followersтопкарго развод

As howe die regering tot verantwoording moet roep

Twee parallelle gebeurtenisse speel hulle nou af. In die Vrystaat is ‘n skikking tussen Vrystaat Landbou en die regering verkry wat daarop neerkom dat die regering nou sy grondwetlike plig teenoor Vrystaatse grensboere met Lesotho gaan nakom. Die staat – oftewel – die belastingbetalers – gaan die regskoste betaal.

Die staat het na drie jaar kopgegee en uiteindelik besluit om sy verweerskrif te onttrek, en nou uiteindelik ‘n probleemgrens te beveilig.

Terselfdertyd spreek Afriforum sy regspan, nadat die Suid-Afrikaanse regering weer versuim het om Suid-Afrikaanse boere in Zimbabwe te beskerm wat deur grondbesetters bedreig word. Die regering het teen die spertyd nie op Afriforum se kommunikasie hieroor reageer nie. Die aanloop is ook dat die regering op die laaste nippertjie geskik het toe hy van plan was om boere uit ‘n bilaterale ooreenkoms met Zimbabwe te sluit. Nou staar die regering waarskynlik weer regsoptrede in die gesig.

Terwyl die regering met die mond kliphard nasiebou predik, faal dit en sy tentakels as dit by die daad kom. Veral sommige lede van die nasie is skynbaar bestem om tweedeklas-lede te wees, en volgens huidige uitsprake, onbepaald so te bly. Die strategie van voetskietery maak nie sin gegewe die bekpraatjies nie.

Die tweede aspek wat onder die loep kom, is dat die howe nie net ‘n waghondfunksie oor die regering moet vervul nie, maar gereeld regeringsfunksies moet oorneem. Ook in die Vrystaat moes die hof byvoorbeeld ingryp en nie net tenders tersyde stel nie, maar hertoeken.

Terwyl dit goed is dat die howe hierdie soort funksies kan vervul, en bereid is om dit te vervul, sleep dit ook die howe by die politiek in, wat al hoe meer grondwetkenners maan die howe se aansien kan benadeel. Veral as dit tot die partypolitieke vlak begin daal, soos waar die howe by herhaling in die Cope-sage moes ingryp.

Die howe moes terselfdertyd ingryp in die Julius Malema-sage. In lande soos Australië is ‘n debat aan die gang oor hoe ver die oppergesag van die grondwet, en daardeur die howe, moet strek. Uiteindelik, so word geargumenteer, word die kiesers hul demokratiese reg om hulself te regeer deur ‘n onverkose liggaam ontneem.

Die debat neem trek egter ‘n geheel ander baadjie aan as dit om ‘n heterogene land handel met ‘n grondwet wat vir ‘n homogene land ontwerp is. Dan kan daar geen twyfel wees dat die howe se rol onontbeerlik sal wees nie, soos nou in Suid-Afrika by herhaling bewys word. Om nou die howe se sogenaamde inmengery te bevraagteken is ‘n erkenning dat die grondwet nie aan sy demokratiese aard voldoen nie, en ook nie kan voldoen nie.

Dit word vererger deur die disfunksionele en / of partydige grondwetlike beskermingsliggame, soos die Menseregtekommissie en Openbare Beskermer. So lank die howe soos onafhanklike howe handel, so lank verdien hul bereidheid om reg te maak waar sake skeefloop, nie om onder verdenking geplaas te word nie.

So lank die regering ook nie leer om self sy burgers ewehandig te hanteer nie, moet hy ook nie verbaas wees as die wat hy minder gelyk as ander behandel, hulle tot die howe wend nie. En solank dit gebeur is nasiebou deur euforie soos om Tik teen armoede in te span. So lank moet die bou van die land se beeld deur die prisma van ‘n patetiese regering geskied.

Terwyl die Nederlandse regering se energie deur koalisiegesprekke opgeneem word, sorg daardie regering nog vir sy oranje rokdraende burgers. Hierdie regering moet deur die howe tot orde geroep word om dieselfde te doen.

проектирование внутреннего освещенияtopcargo развод

Fifa in die spervuur

Kort voor die aanbreek van die Fifa-toernooi in Suid-Afrika, en te midde van die euforie wat heers, speel ‘n heel ander wêreld hom ook af.

Al hoe meer berigte en briewe sien die lig waarin Fifa as ‘n soort hartelose skurk uitgebeeld word wat met wavragte vol geld uit Suid-Afrika gaan verkas terwyl die land met yslike rekenings gaan sit om te vereffen. Van die berigte het selfs gelui dat Griekeland se ekonomiese ineenstorting deels toegeskryf kan word aan die aanbieding van die Olimpiese Spele.

Van vandag af deel Afriforum Jeug honderde DVD’s by die OR Tambo-lughawe uit waarin ‘n heel ander sy van Peter Mokaba voorgehou word as die man wat deur die regering, en nou ook deur Fifa op sy webblad, as held vereer word. Hierin word hy as die voorsanger van Kill the Boer, Kill the farmer, en die werklikhede van plaasmoorde, uitgebeeld.

Afriforum het Fifa eers ordentlik versoek om dié heldeverering van sy webblad te verwyder, maar het geweier.

Afriforum het ook versoek om ‘n vreedsame optog in Potchefstroom te hou waar die vermeende moordenaars van ‘n boer weer in die hof gaan verskyn. Dié vermoorde boer is onder meer lewend agter sy bakkie aangesleep. Toestemming is geweier, so lui die brief, onder meer omdat Fifa ‘n moratorium op die hou van optogte geplaas het. Die grondwet gee egter so ‘n reg aan Suid-Afrikaners.

Op die vooraand van die toernooi word berig dat twee tradisioneel wit woongebiede in Peter Mokaba se tuisstad, Pietersburg wat na Polokwane verander is, nou ook gaan verander. Nie net word beoog om dit te verander nie, maar te vernoem na iemand wat deur baie van die einste inwoners as ‘n voormalige terroris beskou word. Heel moontlik het sommige inwoners kinders aan die dood afgestaan in aanvalle deur die einste persoon en sy mense.

Terwyl baie instansies na plaasmoorde as volksmoord verwys, en op erkende volkeregtelike definisies wys om dit te staaf, sien baie van die regeringstentakels skynbaar kans om ongehinderd met kulturele moord teen die Afrikaner voort te gaan. Die jeugdige pleknamekomitee van Limpopo word immers as ‘n verlengstuk van die ANC-Jeugliga beskou.

Nog ‘n gasheerstad, Durban, het in die hof die groen lig gekry oor straat- en gebouename wat ‘n erg verdelende invloed uitoefen. Dié hofuitspraak gaan op appèl geneem word.

Met die oë van die wêreld nou soos selde op Suid-Afrika gerig en ‘n bykans ongekende stroom negatiewe beriggewing oorsee, verweer een van die hoofbronne vir die negatiewe publisiteit, pres. Jacob Zuma hom dat hy nie weer op die aanklagte van onder meer bedrog tereg kan staan nie omdat dit sy aandag van sy regeerpligte gaan aflei. Dit stuur nie ‘n besonder positiewe beeld uit van ‘n ingesteldheid oor reg en verkeerd nie.

Fifa kon veel bygedra het om daar waar dit die toernooi aangaan, rug styf te maak in keuses tussen reg en verkeerd. Om Peter Mokaba as held voor te hou verseker dat baie van die land se inwoners nie die toernooi met dieselfde euforie beleef nie. Dit is nie net die naasbestaandes en simpatiseerders van plaasmoord-slagoffers nie, maar ook die slagoffers van die Vigspandemie, waar Mokaba self ‘n bedenklike ontkenningsrol gespeel het. Fifa skop net te veel mense in die tande – presies hoeveel sal eers na die toernooi blyk wanneer die kasregisters ophou klingel en die rekenings kom.

скважина на песок отзывыФильчаков прокурор

Impak van Vavi se opmerkings

Die storm wat opmerkings van Cosatu se algemene sekretaris, Zwelinzima Vavi, oor beweerde korrupsie van twee ministers ontketen het, dui op meer as wat dit oppervlakkig lyk.

Vavi se opmerkings was gerig aan die adres van die minister van Kommunikasie, Sipiwe Nyanda en die minister van samewerkende regering, Sicelo Shiceka. Nyanda word geroskam oor ‘n besonder hoë hotelrekening, terwyl Sicika onder die loep kom oor ‘n aanspraak op sy CV dat hy oor ‘n meestersgraad beskik wat geblyk het vals was.

Dit is nie die eerste keer dat inligting in die openbare domein beland wat ongunstig op dié ministers reflekteer nie. Nyanda is onder meer geïmpliseer by besonder gunstige, maar verdagte veiligheidskontrakte met ‘n Transnet-filiaal, en daarna sy openbare ywer dat die hoof van hierdie filiaal Maria Ramos as Transnet-hoof moes opvolg. Die einste transaksies het egter Nyanda se witbroodjie se sy Transnet-loopbaan gekos.

Shiceka, die minister verantwoordelik vir die land se spartelende munisipaliteite, se eie munisipale rekening in Midrand was met ‘n astronomiese bedrag in die rooi.

Die twee ministers was ook nie die enigstes wat by skewe praktyke geïmpliseer is nie. Die minister in die Kantoor van die Presidensie verantwoordelik om ‘n ogie oor korrupsie te hou, het self geblyk sy amptelike kredietkaart vir eie gebruik in te gespan het. Minister Tina Joemat-Pettersson se naam word weer genoem in verband met verdagte wilds-invoere uit ‘n bek-en-klouseer-gebied. Sy het weliswaar gister hierop in dieselfde pers gereageer as waarin sy onlangs foutiewe grondhervormingsyfers gebruik het.

Die minister van Polisie en sy gevolg het self ‘n monster-hotelrekening in Durban opgedoen met amptelike anker dat hy in daardie tyd ‘n paar polisiestasies besoek het.

Trouens, daar is ‘n regsproses om te probeer verseker dat pres. Jacob Zuma self sy dag in die hof kry. Zuma se verklaarde troonopvolger, Julius Malema, is weer by tenderpreneurskap en onwaarhede betrek.

Hoekom dan die groot ontsteltenis oor Vavi se uitlatings? Pres. Zuma sê immers gereeld self dat daar verskerpte optrede teen korrupsie sal wees.

Die eerste implikasie is dat, sou daar wel erns met die stryd teen korrupsie wees, dit in werklikheid beteken dat sekere begunstigdes teen die optrede geïnsuleer moet wees.

Ten tweede dui dit op nog minder harmonie in die ANC as wat graag voorgegee word. ‘n Breukspul tussen ZANU-PF en sy vakbondarm het juis tot die totstandkoming van die MDC in Zimbabwe gelei. Verskeie politieke en ekonomiese kenners beskou die sg sosialistiese verteenwoordigers in die ANC, waaronder Vavi, as minder radikaal as die nasionalistiese arm wat Malema insluit, wat op nog ‘n ooreenkoms met Zimbabwe dui.

Of dit, eerder as Cope, op die finale skeuring van die ANC dui, is nog hopeloos te vroeg om te sê. Boonop was daar ook bewerings oor Vavi se vrou wat besonder mildelik sou oes deur polisse aan Cosatu-lede te fasiliteer.

Minstens is daar nou ‘n sprankie hoop dat die ANC nie – soos Zuma dit stel – tot die Wederkoms sal regeer nie, en dat Zuma daad by sy bekpraatjies oor korrupsie sal moet voeg om sy party se eenheid te bewaar.

Blykbaar het korrupsie nou so endemies geword dat iets meer as bekpraatjies ook nie meer eenheid sal bewaar nie.

Korrupsie is nie nuut nie. Uit die vorige bedeling is een minister tronk toe, en ‘n ander se aspirasies vir eersteministerskap is oor beweerde besproeiingstransaksies nek omgedraai.

Die ANC het nie korrupsie uitgevind nie, net vervolmaak.

game casino slotsлобановский александр дети

Dop en produktiwiteit

Navorsing wat pas bekend gemaak is toon dat werkers wat by die werk skelm dop of ‘n ietsie snuif, die land byna R10 miljard per jaar  aan produktiwiteit kos.

Dit is maar die oortjies van die seekoei van die land wat nie optimaal produseer nie weens ‘n spektrum van moraliteitskwessies.

Tenderpreneurskap, waar die land duur betaal vir minderwaardige werk, is nog siekte wat die land se mededingendheid knou. Die stropermentaliteit van so veel as moontlik vir so min werk as moontlik in te palm strek wyd oor die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Geen land is ‘n eiland nie. Gister het koerantopskrifte nog gelui dat Suid-Afrika grootliks die skade op aandelebeurse weens die Griekse krisis vrygespring het danksy die vakansiedag. Vandag berig die koerante oor hoe die einste probleem die aandelepryse geknou het.

Talle faktore soos minerale rykdomme en ‘n gunstige landbouklimaat dra by tot ‘n land se internasionale mededingendheid en welvaart. Dit verskaf aan ‘n land ‘n relatiewe voordeel bo ander lande.

Uiteindelik is dit egter werksetiek en produktiwiteit wat dikwels die deurslag gee en bepaal watter lande gaan ploeter, en watter lande gaan kop optel.

Dit is nie maar ‘n ligtelike saak nie.

Etiese waardes moet van jongs af vasgelê word. Dit vereis dat die land se leiers die regte voorbeeld moet stel.

 

holidaysОлександр Фільчаков прокурор

Skrik vir die waarheid

Gister reik ‘n klein politieke party ‘n nuusverklaring uit waarin ontsteltenis uitgespreek word oor die meer as 700 mense wat sedert Eugene Terre’Blanche se moord, reeds in Suid-Afrika vermoor is, en skaars ‘n rimpeling veroorsaak het.

Die verklaring was skaars uit, of ‘n groot nuusverspreidingsinstansie bel die partyleier verbaas om te verneem waar dié syfer bekom is.

Die antwoord is doodgewoon dat die polisie se statistieke gebruik is om die berekening te doen. Daar was g’n sensasionele bedoeling of opgeblase feite nie.

Die hartseer is dat die syfer moontlik hoër kan wees, aangesien verskeie instansies, soos die Mediese Navorsingsraad, meen die polisie se syfers is laer as die werklikheid.

Die verdere hartseer is dat selfs mense wat daagliks met moordsyfers werk, geskok is as die daaglikse moordsyfer van bietjie meer as vyftig per dag vir ‘n paar weke bymekaar getel word.

Op dieselfde dag het ANC in die parlement die skuld vir plaasaanvalle op die boere geplaas. Hier is egter wild met syfers omgegaan. Soos een dit uitgedruk het – die boere – eintlik ‘n groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking – maak ‘n groot bohaai as ‘n boer of sy gesinslede vermoor of aangerand word, maar daar is geen ophef as ‘n werker vir leeus gevoer word nie.

Hoe lyk die werklikheid? Volgens Agri SA se statistieke wat tot die jongste ANC-reaksie gelei het is 1 804 boere die afgelope 18 jaar in 11 785 plaasaanvalle vermoor. Ander instansies skat die syfer nader aan 3 000 sedert 1994. Nie almal wat tydens plaasaanvalle vermoor is, was immers die boer nie. Verskeie gevalle het voorgekom waar dit die boervrou was, of kinders, of soms meer lede van dieselfde gesin.

Hoeveel plaaswerkers is in dieselfde tyd vir leeus gevoer? Die geval waarna verwys word is vermoedelik die geval waar na appèl bevind is die plaaswerker was reeds dood toe die blanke – ‘n deeltydse boer – gehelp het om die lyk vir leeus te voer. Daar is geen aanduiding dat die man teenwoordig was toe die oorledene dood is nie. Tydens die aanvanklike verhoor was daar daagliks groot betogings, en reuse mediadekking deur die SABC. Om te sê daar was geen ophef nie, is gewoon ‘n leuen.

Dit neem nie weg dat daar wel boere is wie se optrede skietgoed verskaf aan politici wat die boere as die skurke van die verhaal wil maak nie. Die enkele verhore wat voortspruit word wel deeglik deur georkestreerde betogings goed onder die aandag gebring.

Al die landbou-unies is gevoelig hieroor, en almal wend pogings aan om dit te probeer voorkom. Agri Wes-Kaap, wat weens uitvoere baie afhanklik van buitelandse menings is, het met die Wes-Kaapse Landboudepartement, toe nog deur die ANC beheer, saamgewerk om die gevalle op te spoor en behoorlik te ondersoek. In ses maande is meer as 80 beweerde gevalle ondersoek, drie het in die hof beland, en selfs die gevalle wat hof toe gegaan het is as mites uitgewys. Die werklike probleem is dat ‘n rits Nie-regeringsorganisasies bestaan wat geld ontvang, onder meer van Cosatu, maar ook uit die buiteland, om sulke gevalle te soek, en dan om te kan bestaan, blykbaar dikwels fabriseer. ‘n Bekende geval was dié waarop die destydse minister, Lulu Xinwana, haar mond so op Kerkplein uitgespoel is. Toe dit blyk die Onafhanklike Klagtedirektoraat het dit as ‘n gekookte spulletjie uitgewys, het dit boonop aan die lig gekom dié verslag is ses maande tevore reeds aan die regering oorhandig.

Ook ‘n vorige Vrystaatse premier, Winkie Direko, het ‘n peperduur ondersoek laat doen, met groot fanfare in die Bloemfonteinse stadsaal waarheen mense op staatskoste van heinde en verre aangery is. Toe dié ondersoek dadels oplewer, is die verslag nooit bekend gemaak nie.

Hierdie ondersoek was moontlik ‘n aksie om haar politieke lewe te red na sy by die bekendstelling van die laaste sensus wêreldwyd die nuus gehaal het, toe sy na ‘n besoek aan die toneel van ‘n plaasaanval by Senekal gesê het die polisie moet plaasmoordenaars skiet voor hulle toegesluit word. Sy het dit later ontken.

(Die uwe was teenwoordig en kan bevestig dat sy dit wel gesê het).

Hoe erg is plaasmoorde werklik?

Die Suid-Afrikaanse moordkoers wat die ontsteltenis veroorsaak het van meer as 700 moorde sedert die moord op Eugene Terre’Blanche, is volgens die polisie se statistieke ‘n koers van ongeveer 40 per 100 000 per jaar. Die wêreldkoers is 5 per 100 000 per jaar. Die moordkoers van bruin mans in die Wes-Kaap, 90 per 100 000 per jaar, is amptelik die hoogste koers vir ‘n identifiseerbare groep in die wêreld. Dit word grootliks aan bendebedrywighede toegeskryf.

Interpol bereken egter die moordkoers onder boere in Suid-Afrika in die orde van 300 per jaar. Dat daar skynbaar minder boere vermoor word, is te danke daaraan dat daar nie naastenby ‘n 100 000 kommersiële boere in Suid-Afrika is nie. Dit neem egter niks weg van die feit dat dit geen roem vir Suid-Afrika is om met die onderskeiding spog dat dit die titel van die wêreld se moord-hoofsetel by sy bestaande titel van die wêreld se verkragtinghoofsetel gevoeg het nie. Boonop staan die hoogste en tweede hoogste syfers vir identifiseerbare groepe ook agter Suid-Afrika se naam.

En die ANC blameer die boere.

Waarskynlik moet die mense wat in veiligheidskomplekse vermoor, en hul gesinslede verkrag word, ook die rede by hulself soek.

Dit is skandalig.

play games online free without downloading nowtopcargo кидалы

Suid-Afrika selfsodomiseer sy reputasie

Die sirkus sedert verlede Saterdag toe die gedrukte media in Suid-Afrika met hul sodomie-gerugte rondom Eugene Terre’Blanche begin het, blyk nou gedeeltelik deur die land se inligtingsdiens georkestreer te word, luidens ‘n verklaring wat die AWB gister aan Sapa uitgereik het.

In kommentaar gister op die Mail % Guardian se webwerf skryf ‘n Engelssprekende blanke, ene Mao Brac:

These previously disadvantaged cops, previously disadvantaged journos, and previously disadvantaged lawyers and their corrupt masters are busy sodomising the SA justice system, at levels which make the Boere’s machinations in the 80’s look like child’s play. I’ve already told people abroad that I’m ashamed to be South African. I’m no AWB sympathizer, by the way. Have always despised them anyway. Mao Brac on April 12, 2010, 7:32 pm

Dis asof die landsregering en die mediahuise deur ‘n bende dertienjariges vanuit ‘n seunskoshuis oorgeneem is. Die infantiele aantygings en sommer opgemaakte stories oor sodomie en kondome wat klakkeloos deur polisie-offisiere, ondersoekbeamptes en die koerante herhaal word, is nie net kinderagtig nie, dis infantiel verby.

Suid-Afrika is vinnig besig om die teater van die absurde wat hom in Afrikalande soos Uganda onder Idi Amin en Zimbabwe onder Robert Mugabe afgespeel het, tot nuwe hoogtes te voer.

Die staat, die land en sy media selfsodomiseer sy eie reputasie!

Saam met die anonieme Engelssprekende hierbo wat “skaam is om ‘n Suid-Afrikaner te wees”, moet elke regdenkende Afrikaner vandag besef dat ons finaal afstand van die Suid-Afrikaanse identiteit, die onderbroekvlag, Nkosi Sikelel’i Afrika en alles wat daarmee saamhang, moet doen.

Ons voorouers wat, op enkele weke na, ‘n eeu gelede hierdie staat opgerig en tot die suksesvolste in Afrika opgebou het, sou nooit kon voorsien dat dit eendag as ‘n korrupte, gewelddadige sirkus onder temmers soos Julius Malema sou eindig nie.

Die Afrikaner moet so gou moontlik ‘n eie republiek, ‘n volkstaat verkry waarin ons ons eie kultuur kan beoefen en ons eie doelwitte kan nastreef, sonder om in die modder afgetrek te word deur kinderagtige grootmenere met blink swart motors, sakke vol geld uit die staatskas en wat boonop sodomiepraatjies as “slim politieke propgaganda” voorhou.

Kom ons ontstrengel ons uit dié platvloerse gemors.

Laat die oranje, blanje, blou weer wapper oor ons eie land. En sommer gou!excalibur casino gamesДанильченео

Medialema: die walglike NSA-pers

Die voorbladberigte wat daar gister in koerante van die Independent-groep (Saturday Star en Pretoria News), asook Naspers se webwerwe (Beeld, Volksblad, Die Burger) oor ‘n “gebruikte kondoom” langs wyle Eugene Terre’Blanche se bed verskyn het, verteenwoordig die absolute laagtepunt in die Suid-Afrikaanse joernalistiek. Die hoogheilige dooieboomverslaggewers wat vroeër vandeesweek ontstoke was omdat Julius Malema ‘n BBC-joernalis uit Luthuli-huis laat smyt het, skroom self nie om baie diep in die modder in te duik met hul sensasionele smeerstories nie.

Respek vir die vermoorde man en sy gesin in rou het geen snars getel by die publikasie – in vet letters op voorblaaie – van ‘n vuige brousel oor Terre’Blanche nie. Enige mens by sy gesonde verstand sou kon dink dat so ‘n uiters vreemde bewering van homoseksuele verkragting deur ‘n redelik bejaarde man wat twee weke vantevore ‘n hartoperasie ondergaan het op sy minste vergesog is. Maar nee, ‘n nuushond met ‘n lae IK wat ‘n skandaal ruik, is so onstuitbaar soos ‘n kwylende aasdier op pad na ‘n verrote karkas. Natuurlik is gister se smeertaktiek teen iemand waarvoor 30 000 Afrikaners Vrydag na Ventersdorp opgeruk het deels deur hul Afrikanerhaat gemotiveer.

Dis ironies dat “die media” so dikwels teen Julius Malema van die ANC-jeugliga uitvaar, aangesien hulle presies dieselfde taktiek gebruik en deur dieselfde gemene, onetiese motiewe aangespoor word.

Voortaan behoort ons te praat van die Medialema. Gister het die land se gedrukte koerante en die groot mediamonopolieë wat daagliks hul produkte in supermarkte en kafees aan ons afsmeer feitlik alle geloofwaardigheid verloor.

As dit nie vir die onafhanklike nuwe media van die internet soos praag.co.za was nie, het ons voorwaar gister saam soos malles in ‘n gestig gejubel oor die liederlike swartsmeerdery van ‘n dooie man wat homself nie kan verdedig nie.

Die moord op Eugene Terre’Blanche het op die vooraand van die Wêreldsokkerbeker geskied en het ‘n enorme verleentheid – nee, skande – vir die ANC-bewind geskep. Dat daar moontlik ook duistere magte agter hierdie soort veldtog sit, wat tans poog om die skande in teenpropaganda om te keer, is ‘n moontlikheid.

Malema se liedjie praat egter van “die Boere wat verkragters is”. Met Afrikalogika word die liedjie nou vertaal in ‘n versinsel oor Terre’Blanche wat ‘n kondoom sou gebruik het om sy jong moordenaar te verkrag. “Die verkragter, die Boer, is dus doodgemaak.” Dit gaan nie meer om politiek nie, maar om volkekunde.

Geweld en die toenemende terugkeer na die logika van oer-Afrika, het die land tot waansin gedryf. Laat ons, anders as die Medialema, Julius se tweelingbroer, nie op loop gaan nie. Elke bewering en stukkie getuienis in hierdie saak behoort voortaan met die uiterste skeptisisme bejeën te word en oor en oor onder die vergrootglas bekyk te word alvorens ons tot enige gevolgtrekking kom. Dat die moordenaars se regsverteenwoordigers insgelyks tot op hierdie vlak daal, met verklarings aan die Medialema in ‘n skynbare poging om hul kliënt(e) te verontskuldig, is ewe laakbaar.

Die Afrikaner wil nie langer deur die nuwe Suid-Afrika se absurditeit en liederlikheid besmet word nie.

Ons behoort ook uit beginsel geen gedrukte koerant meer te koop nie. Nie net word bome daarvoor afgekap en goeie petrol uitgery om die gemors na verkooppunte te vervoer nie, maar geen regdenkende ouer sal sulke drek in sy huis wil inbring nie.

The Star het meer as ‘n eeu gelede die Johannesburgse uitlanders tot oorlog teen die vredeliewende Boere opgesweep. Toe ds. William Nicol in 1917 die aansoek vir die eerste Afrikaanse hoërskool in Johannesburg, Helpmekaar, by die onderwysdepartement ingedien het, het The Star dit bekla en smalend in ‘n hoofartikel gekryf: “An Afrikaans high school in Johannesburg? There is something rotten in the state of Denmark.” The Star se huidige haatveldtog is nie net teen Eugene Terre’Blanche en sy treurende gesin gemik nie, maar teen elke Afrikaner.

In enige ander land sou so ‘n koerant se kantore lankal afgebrand of deur ‘n bom verwoes gewees het. Die ordentlike, fatsoenlike, beskaafde en wetsgehoorsame Afrikaner is egter die ideale vyand omdat ons alles lydsaam verduur en eenvoudig deur die gemeenheid en vuigheid van ons eeue oue vyande stomgeslaan word.

Daar is egter perke aan die verdraagsaamheid en wetsgehoorsaamheid van selfs die Afrikaner. Dit sal ons vyande nog uitvind.

пескоструйный компрессорАлександр Фильчаков Васильевич

Staatsmanskap en politieke opportunisme

Wanneer die vet in die vuur is, word die onderskeid tussen staatsmanskap en opportunistiese politiekery duidelik.

Met die moord op die AWB-leier het die vet skouspelagtig in die Suid-Afrikaanse vuur geval. Dit het soos ‘n onverwagse hersieningstoets voor ‘n belangrike eksamen vir Suid-Afrika gekom, en die uitslag van hierdie toets gaan wys wie is staatsmanne en wie is opportuniste.

Bykans alles wat kon saamspeel om hiervan ‘n omvattende toets te maak, het saamgespeel.

Plaasmoorde, wat teen ‘n hoë koers voorkom, het ‘n eskalasie getoon sedert die ANC se heethoofdige jeugleier, Julius Malema begin sing het die Boere moet geskiet word. Die ANC het bont gepraat oor die nasionalisering van landbougrond. Peilings toon nie net ‘n hoë vlak van polarisasie nie, maar kom te midde van hoë werkloosheid, en terwyl meer en meer mense begin kennis neem dat Suid-Afrika die boonste sport van lande bereik het waar inkomstegapings gemeet word.

Die naderende wêreldbeker-sokkertoernooi verseker boonop dat die oë van die wêreld op die land gerig is. In Suid-Afrika kan breedweg onderskei word tussen diegene wat bloot begerig is dat die toernooi ‘n reuse sukses moet wees, en diegene wat bekommerd is dat sake soos slegte paaie, misdaad en politieke blapse die geleentheid in ‘n verleentheid kan omskep – wat ‘n langtermyn sleureffek op almal sal hê.

Die land het die moord op Terre’Blanche so nodig gehad soos dwelmverwante bendebedrywighede. Dit is egter ‘n gegewe, en die land word skielik met ‘n hersieningstoets in die vorm van ‘n karaktertoets gekonfronteer.

Voorlopige aanduidings oor hoe die land se politici vaar is gemengd.

Op 6 April, meer as 350 jaar na Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het, was dit nodig dat die polisie ‘n rol doringdraad tussen wit en swart mense voor die hof uitrol toe Terre’Blanche se moordverdagtes verskyn het. Hierdie doringdraad kon kwalik ‘n groter verdeling van persepsies en sentimente simboliseer.

Op dieselfde dag het die polisie ‘n betoger tydens onluste oor munisipale dienslewering doodgeskiet, net om te herinner dat die land se probleme op meer vlakke lê as net wit / swart.

Die feit dat dit Terre’Blanche is wat vermoor is, het boonop die buitelandse media in hul argiewe laat blaai, en as Afrikaners gedink het die kwessie sal net vir die regering ‘n verleentheid wees, is die bal ver misgeslaan. Ook die Afrikaner is uit die inkpotte van die argiewe weer ‘n slag met die teerkwas bygedam.

Niemand was wenners nie – die ganse land was verloorders.

Daar was vlugge tekens van staatsmanskap. Staatsmanskap met voete van klei, het dit geblyk toe die Malema-fenomeen nie beslis en deeglik vasgevat is nie.

Jare gelede het die destydse president van die RGN, dr. Tjaart van der Walt, die stelling gemaak dat geen grondwet, nie eens die beste in die wêreld, sal werk as die land se mense mekaar nie ken en vertrou nie.

Hierdie sentiment is juis ook nou ge-eggo toe die regter wat ‘n tussentydse interdik teen die sing van “Skiet die Boere” gesê het die polarisasie kan nie met ‘n hofbevel besweer word nie, net in die harte van mense.

Dit is waar staatsmanskap van politieke opportunisme onderskei word. Die staatsman tree strategies in belang van die land op, van al die land se mense, al is dit nie oral gewild nie. Die staatsman lei met visie, en nie op grond van politieke impulse wat by die uur verander nie.

Die staatsman is ‘n bouer, nie ‘n sloper nie. Daarom duld hy ook nie slopers in eie geledere nie.

Die staatsman betrek adviseurs wat met kundigheid adviseer, nie met dit wat die staatsman graag wil hoor nie.

Die staatsman se brandstof is respek, nie populariteit nie. Populariteit is bloot ‘n bonus. Malema verteenwoordig die anti-pool hiervan, en dit is ‘n tragedie dat hy ‘n breë persepsie van ‘n groot deel van die land se jeug verwoord.

‘n Staatsman stel die voorbeeld met integriteit en ‘n sin vir geregtigheid, al moet hy ongewilde keuses maak. Ideologiese verknogtheid staan nie bo realiteite nie.

Wanneer die plofbare situasie in die land deur staatsmanskap oor die spektrum, maar veral in die regerende party gestabiliseer het, sal die klimaat vir gewone politieke aktiwiteite – dit wil sê aktiwiteite akkommodeerbaar binne die ruim grondwet en vry van bloedvergieting, funksioneer soos ‘n demokrasie veronderstel is om te funksioneer.

As die hersieningstoets aan die lig bring dat die grondwet volgens moderne vereistes soos dié van die Europese grondwet aangepas moet word, dan moet dit ernstig opgeneem word en nie net ideologies van die tafel gevee word nie.

Die eksamen vir die land durf nie dieselfde debakel as die land se matriekeksamens oplewer nie.

casino freeалександр лобановский харьков класс

Die kuns om die ANC te interpreteer

Suid-Afrika het gister met verstomming waargeneem hoe eers berig is dat die ANC sy singende jeugleier die swye oplê om verder die liedjie, “Skiet die Boere”, te sing, om kort hierna te verneem dit word ontken, en later te hoor dit het wel gebeur.

Steeds is daar verwarring, met die ANC se jeugliga wat ontken dat so ‘n opdrag ontvang is, en boonop rammetjie uitnek vooraf kennis gee so ‘n opdrag, sou dit ontvang word, sal geïgnoreer word.

Terwyl die land se ontleders, selfs vanuit ‘n volkekundige hoek, sin uit die gebeure probeer maak, moet die land hom op die internasionale politieke terrein handhaaf. Ekonomies is die land immers nie ‘n eiland nie.

Kan die Wêreldbank werklik waag om miljarde rande aan ‘n land te leen, al is dit vir die opwekking van broodnodige krag, terwyl die regering klaarblyklik die polarisasie in so ‘n land help aanblaas?

En wanneer die regering wel op ‘n manier reageer, te reageer op ‘n manier wat vir die beskaafde wêreldnorme vreemd is, om dit sagkens te stel?

Die Wêreldbank het reeds aangedui dat geen transaksie waarby die instansie Chancellor House geaffilieer is, ‘n sent van die geld gaan kry nie. Chancellor House is die ANC se sake-arm, en hierdie transaksie sou die ANC ‘n meevaller van ‘n miljard rand besorg het en uiteraard die hele basis waarop die grondwetlike bestel gebou is waarskynlik blywend verder skeeftrek. Ten spyte van die Wêreldbank se versekerings is dit moeilik om in te dink hoe die projekte gefinansier kan word sonder dat Chancellor House deur ‘n komplekse stelsel van kontrakte en subkontrakte nie tog maar die vingers in die koekieblik gesteek kry nie.

Sterk stemme uit Suid-Afrika gaan dus op dat die leningsaansoek afgekeur moet word, en dat ‘n heel nuwe, en skoon kontrak herbeding word. Soos te wagte, gaan die teenstemme op asof dit die laaste kans is om ‘n lening te kry, en dat Suid-Afrika in ‘n liederlike penarie sal wees as die lening afgekeur word.

In die proses kyk die ANC die punt mis dat die kontroversie nooit sou gegeld het as internasionaal aanvaarde norme vanaf die staanspoor gevolg is nie.

Trouens, die ANC tree al hoe meer op asof Suid-Afrika ‘n norme-eiland is. Pres. Jacob Zuma het selfs ‘n debat aangevra met die doel om etiese norme so te definieer dat praktyke wat internasionaal as afskuwelik beskou word, in Suid-Afrika moontlik aanvaarbaar sal wees.

Die huidige Eskom – Wêreldbank-koppestamp kan vir die voorgenome wettiging van allerlei korrupte, nepotistiese, ondemokratiese praktyke en belangebotsingpolitiek ‘n groot toets word.

Robert Mugabe het die paadjie van eie norme probeer loop, en hoewel dit deur ‘n deel van Suid-Afrika en dele van Afrika geloof word, het dit die eens welvarende buurland in ‘n ekonomiese moeras gedompel. Ten spyte van Suid-Afrika se voortydige pogings om Zimbabwe weer in die internasionale arena te verwelkom, bly Zimbabwe internasionaal ‘n muishondland.

Die vinnigste manier om Suid-Afrika in daardie geledere te laat opgaan, en die land te laat ondergaan, is om Julius Malema se Zimbabwe-ekskursies te loof, om kort-kort strelende geluide oor Zimbabwe se grondroof te maak, en vol te hou om geldende internasionale norme as Westerse imperialisme swart te smeer.

Om die ANC, en dus Suid-Afrika, se manier van agteruit regeer te verstaan en te interpreteer, verg nie net ‘n deeglike volkekundige kennis nie. Dit wil al lyk of politieke ontleders ook ‘n studie van die Mafia onder die knie moet hê.

как можно обмануть детектор лжиtopcargo отзывы

Landbou en regering binne ‘n regering

Tydens die provinsiale grondberaad in die Vrystaat, na afloop waarvan Vrystaat Landbou ‘n klag van haatspraak teen die destydse hoof van Veiligheid en Sekuriteit in die Vrystaat, Jack Klaas gelê het, het ‘n spreker sydelings opgemerk dat Robert Mugabe gekry moet word om Suid-Afrika se grondhervormingsprogram te lei.

Hy is toegejuig.

Dieselfde het by verskeie ander forums gebeur.

Hierdie onverkwiklikheid het gekom kort na die regering, onder leiding van die destydse president Thabo Mbeki, ‘n landbou-ontwikkelingsplan met Agri SA onderteken het. Kort hierna, lynreg in stryd met die ondertekende dokument, ruk die minister van Landbou, Toko Didiza, ‘n dokument uit. Na groot ontsteltenis uit lanbdbougeledere het hierdie dokument ‘n besprekingsdokument geword.

Sedertdien is dit duidelik dat daar twee denkrigtings binne die regering is – ‘n populistiese sonder voete in die praktyk, en ‘n kleiner praktykgerigte benadering.

Die populiste beskou skynbaar die praktykgerigte insette as irrelevant, al is dit formeel deur die regering onderteken, of hoogstens as ‘n tydrowende lastigheidsfaktor.

Die dualisme is in ‘n mate vererger deur die departemente van landbou en van grondsake op Kabinetsvlak te skei.

Intussen wil die landbou standvastigheid in ‘n erg veranderende omgewing vind, sodat hul eie bestaan, asook dié van hul werkers, bestendig kan word en die land ‘n mate van voedselsekuriteit kan beleef.

Die jongste bontpratery oor eiendomsreg in die landbou is die jongste manifestasie van dié teenstrydighede.

Ongelukkig strek die ideologiese dwalinge oor ‘n wye front, soos die vrye teuels wat aan Julius Malema gegee is om “Skiet die Boere” te sing, herhaalde onkunde aan selfs die kant van die president wat skynbaar glo klein lappies grond kan so lewensvatbaar wees dat dit landelike armoede kan teenwerk, en vele meer.

Landbou en grondsake is gans te gespesialiseerde velde om salarisse aan gefrustreerde ideoloë te betaal, en dan dié ideoloë se indienshouding te regverdig deur van hul produkte as iets voor te hou wat nie maar bloot in die snippermandjie hoort nie.

Dit is goed en wel die Departemente van Landbou en van Grondsake trek van tyd tot tyd akademici in om te help met beleidsformulerings. Van hierdie mense word selfs oortuig dat dit die werklike hartklop van die departemente verteenwoordig, en is dan in besprekingsforums minder alarmisties.

Die ideologiese politieke kommissarisse is egter dié met die politieke invloed, en loop gereeld die tegnokrate uit ontkantposisies plat. .

Die gevolg is dat Suid-Afrika nou erg begin neig in die rigting van ‘n dupliserende regering.

Nie, soos die minister van Samewerkende Regering meen op munisipale vlak gebeur waar belastingbetalersverengings as noodmaatreël instaan vir onkapabel munisipale owerhede nie, maar op alle vlakke waar die land tegelyk uit die parlement en Lethuli-huis regeer word.  In die proses is daar te veel teenstrydige belange wat gekoester word, en rig hierdie twee regerings saam minder uit as wat een regering behoort te doen. En al hoe meer sake beland in die howe.

free games bonusФильчаков прокуратура харьков