Terwyl die byenes om die kop van Kenny Leluma, waarnemende munisipale bestuurder van Ventersdorp aan die oplaai is, moet ernstige vrae gevra word aan die minister van Sicelo Shiceka, minister van koöperatiewe regering en tradisionele sake, oor sy erns om plaaslike regering reg te ruk.
Pas het dit aan die lig gekom dat slegs twee persent van die land se munisipaliteite in die mees onlangse rondte skoon oudits van die Ouditeur-generaal verkry het. Die beste beskikbare mense is nodig om sake reg te ruk.
Leluma is nou in die nuus oor hy deur die minister self na Ventersdorp gestuur is om ake reg te ruk. Nou blyk dit dat hy verskeie senior amptenare van die Bitou-munisipaliteit by Plettenbergbaai inspan as ‘n sogenaamde ministeriële taakspan. Ventersdorp en Plettenbergbaai, en nie die ministerie nie, betaal skynbaar onregmatig die rekening van reuse konsultasiefooie aan mense wat reeds reuse salarisse verdien. Nou moes Ventersdorp boonop hoor, die onthullings ten spyt, gaan hulle tot die munisipale verkiesings volgende jaar met Leluma sit.
Leluma is geen gewone openbare administrateur nie. Hy het in 1993 reeds die nuus gehaal toe hy as lid van die sogenaamde Breë demokratiese Beweging in Qwaqwa geëis het dat die Qwaqwa-ontwikkelingskorporasie gedemokratiseer word. In 2003 is hy weens beweerde wangedrag as munisipale bestuurder in Qwaqwa geskors. Sedertdien is daar min tekens van die deursigtigheid wat hy eens bepleit het.
Leluma het sedertdien by Bithou ‘n politieke adviseur geword. Bithou sal weer onthou word vir die omstrede munisipale bestuurder, George Seitisho, wat met ‘n span hoogsbetaalde personeel van Bronkhortspruit gekom het, onder andere ‘n sekretaresse wat toe glo die hoogsbetaalde sekretaresse in die land geword het.
Sy aanstelling self was egter al ‘n kopkrapper, nadat sy dienstyd in Bronkhorstspruit goed met dorings besaai was. Terwyl OG-verslae aan die lig gekom het waarvoor hy uiteindelik geskors en verhoor is, het die destydse Wes-Kaapse ANC-regering hom boonop administrateur in ander sukkelende munisipaliteite gemaak, waaronder die Kannaland-munisipaliteit wat toe behoorlik om al die verkeerde redes in die nuus was.
Dit kom dan ook as geen verassing nie dat Seitisho se naam weer opduik in die Leluma-debakel by Ventersdorp, en dié keer is Seitsho in die media aangehaal as provinsiale koördineerder van die ministerie.
Seitisho se spoor deur elektroniese argiewe is nie altyd vir ‘n joernalis maklik om te volg nie omdat sy van deur die jare nie altyd dieselfde gespel is nie. Vir die minister behoort dit egter kinderspeletjies te wees om ‘n behoorlike agtergrondondersoek te laat doen.
Presies hóé droog moet ‘n kader maak voor hy sodanig in onguns verval dat hy nie met elke teenspoed in ‘n nog hoër amp beland nie?
Dit is ongelukkig gereeld Noordwes se spartelende munisipaliteite wat die spit moet afbyt. Die verhoor van ‘n geskorste munisipale bestuurder van Moqhaka-munisipaliteit by Kroonstad word gestaak toe hy as munisipale bestuurder by Klerksdorp aangestel is. By Klerksdorp verweer die munisipale regering hom dat daar geen beletseling op die aanstelling was nie omdat al die klagtes teruggetrek is.
Ook ‘n voormalige munisipale bestuurder van Mangaung, wat Bloemfontein insluit, word as administrateur van ‘n munisipaliteit in Noordwes gehersirkuleer – terwyl hy saam met ‘n oud-burgemeester tereg staan op aanklagte van onder meer korrupsie en rampokkery.

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Sicelo Shiceka, het gister gesê dat blanke belastingbetalersunies die vermoëns van munisipaliteite om dienste te lewer, ondermyn.