Steeds is daar verwarring, met die ANC se jeugliga wat ontken dat so ‘n opdrag ontvang is, en boonop rammetjie uitnek vooraf kennis gee so ‘n opdrag, sou dit ontvang word, sal geïgnoreer word.
Terwyl die land se ontleders, selfs vanuit ‘n volkekundige hoek, sin uit die gebeure probeer maak, moet die land hom op die internasionale politieke terrein handhaaf. Ekonomies is die land immers nie ‘n eiland nie.
Kan die Wêreldbank werklik waag om miljarde rande aan ‘n land te leen, al is dit vir die opwekking van broodnodige krag, terwyl die regering klaarblyklik die polarisasie in so ‘n land help aanblaas?
En wanneer die regering wel op ‘n manier reageer, te reageer op ‘n manier wat vir die beskaafde wêreldnorme vreemd is, om dit sagkens te stel?
Die Wêreldbank het reeds aangedui dat geen transaksie waarby die instansie Chancellor House geaffilieer is, ‘n sent van die geld gaan kry nie. Chancellor House is die ANC se sake-arm, en hierdie transaksie sou die ANC ‘n meevaller van ‘n miljard rand besorg het en uiteraard die hele basis waarop die grondwetlike bestel gebou is waarskynlik blywend verder skeeftrek. Ten spyte van die Wêreldbank se versekerings is dit moeilik om in te dink hoe die projekte gefinansier kan word sonder dat Chancellor House deur ‘n komplekse stelsel van kontrakte en subkontrakte nie tog maar die vingers in die koekieblik gesteek kry nie.
Sterk stemme uit Suid-Afrika gaan dus op dat die leningsaansoek afgekeur moet word, en dat ‘n heel nuwe, en skoon kontrak herbeding word. Soos te wagte, gaan die teenstemme op asof dit die laaste kans is om ‘n lening te kry, en dat Suid-Afrika in ‘n liederlike penarie sal wees as die lening afgekeur word.
In die proses kyk die ANC die punt mis dat die kontroversie nooit sou gegeld het as internasionaal aanvaarde norme vanaf die staanspoor gevolg is nie.
Trouens, die ANC tree al hoe meer op asof Suid-Afrika ‘n norme-eiland is. Pres. Jacob Zuma het selfs ‘n debat aangevra met die doel om etiese norme so te definieer dat praktyke wat internasionaal as afskuwelik beskou word, in Suid-Afrika moontlik aanvaarbaar sal wees.
Die huidige Eskom – Wêreldbank-koppestamp kan vir die voorgenome wettiging van allerlei korrupte, nepotistiese, ondemokratiese praktyke en belangebotsingpolitiek ‘n groot toets word.
Robert Mugabe het die paadjie van eie norme probeer loop, en hoewel dit deur ‘n deel van Suid-Afrika en dele van Afrika geloof word, het dit die eens welvarende buurland in ‘n ekonomiese moeras gedompel. Ten spyte van Suid-Afrika se voortydige pogings om Zimbabwe weer in die internasionale arena te verwelkom, bly Zimbabwe internasionaal ‘n muishondland.
Die vinnigste manier om Suid-Afrika in daardie geledere te laat opgaan, en die land te laat ondergaan, is om Julius Malema se Zimbabwe-ekskursies te loof, om kort-kort strelende geluide oor Zimbabwe se grondroof te maak, en vol te hou om geldende internasionale norme as Westerse imperialisme swart te smeer.
Om die ANC, en dus Suid-Afrika, se manier van agteruit regeer te verstaan en te interpreteer, verg nie net ‘n deeglike volkekundige kennis nie. Dit wil al lyk of politieke ontleders ook ‘n studie van die Mafia onder die knie moet hê.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.