Die storm wat opmerkings van Cosatu se algemene sekretaris, Zwelinzima Vavi, oor beweerde korrupsie van twee ministers ontketen het, dui op meer as wat dit oppervlakkig lyk.
Vavi se opmerkings was gerig aan die adres van die minister van Kommunikasie, Sipiwe Nyanda en die minister van samewerkende regering, Sicelo Shiceka. Nyanda word geroskam oor ‘n besonder hoë hotelrekening, terwyl Sicika onder die loep kom oor ‘n aanspraak op sy CV dat hy oor ‘n meestersgraad beskik wat geblyk het vals was.
Dit is nie die eerste keer dat inligting in die openbare domein beland wat ongunstig op dié ministers reflekteer nie. Nyanda is onder meer geïmpliseer by besonder gunstige, maar verdagte veiligheidskontrakte met ‘n Transnet-filiaal, en daarna sy openbare ywer dat die hoof van hierdie filiaal Maria Ramos as Transnet-hoof moes opvolg. Die einste transaksies het egter Nyanda se witbroodjie se sy Transnet-loopbaan gekos.
Shiceka, die minister verantwoordelik vir die land se spartelende munisipaliteite, se eie munisipale rekening in Midrand was met ‘n astronomiese bedrag in die rooi.
Die twee ministers was ook nie die enigstes wat by skewe praktyke geïmpliseer is nie. Die minister in die Kantoor van die Presidensie verantwoordelik om ‘n ogie oor korrupsie te hou, het self geblyk sy amptelike kredietkaart vir eie gebruik in te gespan het. Minister Tina Joemat-Pettersson se naam word weer genoem in verband met verdagte wilds-invoere uit ‘n bek-en-klouseer-gebied. Sy het weliswaar gister hierop in dieselfde pers gereageer as waarin sy onlangs foutiewe grondhervormingsyfers gebruik het.
Die minister van Polisie en sy gevolg het self ‘n monster-hotelrekening in Durban opgedoen met amptelike anker dat hy in daardie tyd ‘n paar polisiestasies besoek het.
Trouens, daar is ‘n regsproses om te probeer verseker dat pres. Jacob Zuma self sy dag in die hof kry. Zuma se verklaarde troonopvolger, Julius Malema, is weer by tenderpreneurskap en onwaarhede betrek.
Hoekom dan die groot ontsteltenis oor Vavi se uitlatings? Pres. Zuma sê immers gereeld self dat daar verskerpte optrede teen korrupsie sal wees.
Die eerste implikasie is dat, sou daar wel erns met die stryd teen korrupsie wees, dit in werklikheid beteken dat sekere begunstigdes teen die optrede geïnsuleer moet wees.
Ten tweede dui dit op nog minder harmonie in die ANC as wat graag voorgegee word. ‘n Breukspul tussen ZANU-PF en sy vakbondarm het juis tot die totstandkoming van die MDC in Zimbabwe gelei. Verskeie politieke en ekonomiese kenners beskou die sg sosialistiese verteenwoordigers in die ANC, waaronder Vavi, as minder radikaal as die nasionalistiese arm wat Malema insluit, wat op nog ‘n ooreenkoms met Zimbabwe dui.
Of dit, eerder as Cope, op die finale skeuring van die ANC dui, is nog hopeloos te vroeg om te sê. Boonop was daar ook bewerings oor Vavi se vrou wat besonder mildelik sou oes deur polisse aan Cosatu-lede te fasiliteer.
Minstens is daar nou ‘n sprankie hoop dat die ANC nie – soos Zuma dit stel – tot die Wederkoms sal regeer nie, en dat Zuma daad by sy bekpraatjies oor korrupsie sal moet voeg om sy party se eenheid te bewaar.
Blykbaar het korrupsie nou so endemies geword dat iets meer as bekpraatjies ook nie meer eenheid sal bewaar nie.
Korrupsie is nie nuut nie. Uit die vorige bedeling is een minister tronk toe, en ‘n ander se aspirasies vir eersteministerskap is oor beweerde besproeiingstransaksies nek omgedraai.
