Terwyl ‘n Amerikaanse paneel nog nie onomwonde kon bevestig dat die wêreld-ekonomiese krisis iets van die verlede is nie, is dit duidelik dat state, instansies en individue nie deur die krisis onaangeraak is nie.
In die VSA is daar selfs ‘n groep wat ‘n dubbele insinking, die sogenaamde “double dip” verwag.
Versigtigheid is nou die wagwoord. Die versigtigheid kleef nog duidelik na aanvanklike woede toe dit geblyk het inhalige magnate het so laag gedaal om staatshulp om hulle kop bo water te hou, te gebruik om opnuut banale bonusse aan hulself toe te ken.
Trouens, die woede was so erg dat daar in Nederland ‘n ernstige poging was om bankbase persoonlik aanspreeklik te hou vir verliese as gevolg van dom-onnosele besluite, terwyl sommiges selfs wetgewing gevra het wat tronkstraf moontlik sou maak.
Die Pew Research Center in die VSA het ‘n peiling gedoen oor hoe die krisis gesinne geraak het, en hoe dit mense se denke beïnvloed het. Meer as die helfte van die VSA se werksmag het werksverliese ervaar, moes instem tot salarisvermindering of moes verminderde ure werk.
Agt elemente is geïdentifiseer oor hoe dit Amerikaners geraak het:
- 32 % van die volwasse werksmag het in die resessie tye van werkloosheid ervaar.
- 28 % van die mense wat werk het, se werksure is verminder, 23 % se salarisse is verminder, en 11 % is van permanente na tydelike werkers omgeskakel.
- 62 % volwassenes het aangedui hulle spandeer minder as voor die resessie, en 31 % beplan om na die resessie steeds minder te bly spandeer.
- Ongeveer 6 uit tien mense wat ouer as 50 is, meen hulle sal dalk aftreeplanne moet uitstel omdat hulle nie seker is dat hulle genoeg voorsiening gemaak het nie. Die opname wys egter dat dit die sg “baby boomers” is wat die hardste getref is, en ongeveer 30 % van hierdie jong mense is nou onseker of hulle genoeg sal kan verdien om vir aftrede voorsiening te maak. (Dit is veelseggend in die VSA met sy Green Card-stelsel).
- Ongeveer die helfte van die huiseienaars meen hul huise se waarde het afgeneem, en amper 40 % meen dit sal 6 jaar of langer neem om te herstel.
- Altesaam 26 % van die Amerikaners meen hul kinders sal, wanneer hulle die ouers se huidige ouderdom bereik, ‘n laer lewenstandaard handhaaf. ‘n Dekade tevore was slegs 10 % hierdie mening toegedaan.
- 63 % meen dit sal die VSA tot drie jaar neem ekonomies heeltemal te herstel.
- Die peiling toon dat meer republikeine positief is oor die ekonomie wanneer die land deur ‘n republikeinse president regeer word, terwyl meer Demokrate die mening toegedaan is wanneer ‘n Demokraat sy intrek in die Wit Huis geneem het.
In lande soos België is omvattende hoofstukke oor moraliteit in die ekonomiese herstelplanne ingeskryf.
Teen dié agtergrond is dit belangrik om die oog te hou op faktore hier te lande, soos Mangaung wat nou blykbaar van ‘n ontwikkelingsbegroting na ‘n welsynsbegroting oorgeslaan en die gans wat die goue eiers lê geslag het. Ministers wat peperduur vuurwaens aanskaf terwyl die nasionale begroting nie meer al die (slag)gate toestop nie. Korrupsie, die diefstal van ‘n land se toekoms, wil maar nie wyk nie. Hierdie swartgallige lysie is ongelooflik lank.
Die Fifa-toernooi is nog nie eens in die pylvlak nie, en die “double dip”-sindroom slaan wyd uit. Ekonomies gesproke is volslae swartgalligheid dalk oordadig, maar versigtigheid is aangewese, en belê in die toekoms onontbeerlik.
