ISIS onthoof Franse toeris

Die Algerynse regering het die moord deur ‘n jihadistegroep op ‘n Franse toeris veroordeel. Die 55-jarige Herve Gourdel is Sondag deur die Jund-al Khilifa-groep ontvoer.

Die groep, wat glo bande het met die ekstremistiese Islamitiese Staat-groep, het ‘n ultimatum van 24-uur aan die Franse regering gestel om lugaanvalle in Irak te staak.

Frankryk het die ultimatum verwerp.

‘n Video van Gourdel se onthoofding is Woensdag op die internet vrygestel. Die Algerynse regering sê hy het alles in sy vermoë gedoen om Gourdel vrygelaat te kry.

Ongeveer 1 500 Algerynse soldate het ‘n soektog geloods om die Franse gyselaar van die jihadiste op te spoor, het die amptelike Algerynse uitsaaier Chaine3 vroeër berig.

Die soektog na Gourdel het in die bergagtige gebied Tizi Ouzou, ongeveer 100 km oos van die hoofstad, Algiers, plaasgevind.

Die operasie het valskermsoldate van ’n teenterrorisme-eenheid ingesluit.

Die video waarin Gourdel verskyn, is Maandag deur die groep uitgereik. Hulle het gedreig om hom binne 24 uur dood te maak indien Frankryk nie “sy aanvalle op ISIS staak nie”.

Gourdel het ook in die video gepraat en gesê die groep het hom gevra om by die pres. François Hollande van Frankryk te pleit om aan die groep se eise te voldoen.

Frankryk het verlede week aangekondig dat hulle die Amerikaanse lugaanvalle op ISIS-teikens in Irak sal steun met hul eie lugbombardement.

Algerië sê hy gaan voort met die stryd teen terreur en waarborg die veiligheid van buitelanders in die land.

VSA begin lugaanvalle teen ISIS

Amerika en sy kliënte het Maandag begin met hul eerste gesamentlike lugaanvalle teen die Islamitiese Staat in Sirië terwyl gevegte tussen ISIS en die Koerdiese magte steeds bly voortwoed naby die grens aan Turkye.

Die Pentagon het bekend gemaak dat vegvliegtuie die Islamitiese staat aanval en dat Tomahawk-missiele vanaf skepe afgevuur word.

Die aanvalle is deel van pres. Barack Obama se uitgebreide militêre veldtog in Irak en Sirië wat hy byna twee weke gelede goedgekeur het.

Die doel is om die Islamitiese Staat te vernietig. Amerika alleen het al reeds 190 lugaanvalle op teikens van ISIS gedoen sedert die lugveldtog op 8 Augustus begin het.

Turkse gyselaars van ISIS bevry

Die Turkse owerheid het bekend gemaak 49 gyselaars is uit die kloue van een van die wêreld se mees gevreesde militante groepe bevry sonder dat ’n enkele skoot gevuur, losprys betaal of ruilooreenkoms aangegaan is.

Pres. Tayyip Erdogan van Turkye het die vrylating van die gyselaars as ’n geheime reddingsoperasie beskryf, berig AP.

Die gyselaars, insluitende diplomatieke personeel, soldate van die spesiale magte en kinders, is op 11 Junie by die Turkse konsulaat in Mosoel in Irak deur militante van die Islamitiese Staat as gyselaars geneem.

Ahmet Davutoglu, die eerste minister van Turkye, sê hulle is vrygelaat ná ’n “beplande operasie” deur die land se intelligensiediens.

“Ek bedank die eerste minister en sy kollegas vir die vooraf beplanning en goed berekende en geheime operasie wat deur die nag uitgevoer is,” het Erodgan gesê.

Kenners het egter die weergawe van die Turkse regering in twyfel getrek toe die goedgeklede mans en vroue, wat meer as drie maande gelede deur lede van die gevreesde Islamitiese Staat (ISIS) as gyselaars geneem is, Saterdag hul families by die lughawe in die Turkse hoofstad omhels het.

“Die amptelike verduideliking klink te goed om waar te wees,” het Sinan Ulgen, ’n voormalige Turkse diplomaat wat aan die hoof staan van die Sentrum vir Ekonomiese en Buitelandse Beleidstudies in Istanboel, gesê. “Daar is ’n paar baie geldige vrae oor hoe dit gebeur het, wat nog onbeantwoord is.”

Die gyselaars, onder wie twee jong kinders, is uit die Turkse konsulaat in die noord-Irakese stad Mosoel ontvoer toe die stad op 11 Junie oorgeneem is. Hoe hulle van Mosoel na Turkye gereis het en hoekom die IS so ’n waardevolle bedingingsvoordeel sonder meer prysgegee het, bly onduidelik.

“Ek dink dit is redelik om te sê die volle storie is ons nie vertel nie,” het Aaron Stein van die Instituut vir Verenigde Koninklike Dienste in Londen gesê.

Hy is ’n kenner van die Turkse veiligheidsbeleid.

Een van die bevryde gyselaars het aan die staatsbeheerde Anadolou-nuusagentskap gesê een van die militante het ’n vuurwapen teen die konsul-­generaal, Ozturk Yilmaz, se kop gehou en hom gedwing om ’n verklaring te maak.

Yilmaz het op sy beurt laat Saterdag aan NTV-televisie gesê hy en die ander gyselaars is gedwing om na video’s te kyk wat wys hoe ander ontvoerdes onthoof word.

“Hulle hou daarvan om hul gyselaars te demoraliseer,” het Yilmaz gesê en bygevoeg hoewel die groep met geweld gedreig is, die ISIS hulle nie fisieke skade aangedoen het nie.

Onthoofdings wat 22 koppe eis, nie deur ISIS nie

Die veroordeelde mag ‘n Disprin vra, sy einde word nie op televisie uitgesaai nie, en kom met die swiepende swaard van ‘n geskoolde laksman eerder as met ‘n kombuismes.

Anders is daar nie veel verskil tussen ‘n doodsvonnis van die jihadiste van ISIS oftewel die “Islamitiese staat” en in Saoedi-Arabië nie, behalwe dat ISIS ver agter is.

Die land word as ‘n belangrike Westerse bondgenoot in die stryd teen ISIS beskou. Daar is inderdaad voorts nie groot verskille tussen die twee entiteite wat sjaria, of Islamitiese wet, en openbare teregstellings betref nie.

Beide volg Hanbali-regspraak, die strengste van vier soorte tradisionele Sunnie-wette. Dit is alombekend in die Midde-Ooste. Egiptenare wat iemand van haarklowery beskuldig, gebruik tewens die uitdrukking “moenie so Hanbali wees nie”.

Andersdenkendes in Raqqa, die Siriese dorp wat ISIS se proto-hoofstad is, sê al 12 van die regters wat nou die hofstelsel bedryf – vanaf eiendomsgeskille tot geloofsmisdade – is Saoedi’s.

Die groep het ook ‘n Saoedi-styl godsdienspolisie, belas daarmee om gelowiges se daaglikse roetine te monitor.

Oral in ISIS-gebiede, is kerke en ander Moslemmoskees opgeblaas of word die geboue vir ander doeleindes gebruik. Saoedi-Arabië verbied nie-Moslem godsdienstige praktyk.

Op 5 September het die Saoedi-polisie ‘n klopjag op ‘n huis in Khafji, naby die Koeweitse grens, uitgevoer en 27 Asiatiese Christene aangekla omdat hulle ‘n kerkseremonie gehou het. Die Westerse media is stom daaroor.

In die afgelope maande is honderde, dalk duisende teregstellings, uitgevoer, en slagoffers dikwels onthoof sonder dat die Weste hoegenaamd ‘n vinger gelig of ‘n piepgeluid laat hoor het.

Tipies word die onthoofdings sonder ‘n verhoor van enige aard gehou. Saoedi-Arabië word met die swaard regeer. In die bestek van slegs 18 dae gedurende die enkele maand van Augustus, het die koninkryk sowat 22 mense onthoof volgens menseregte-aktiviste.

Die vlaag moorde is enersyds uitsonderlik aangesien ‘n totaal van 79 teregstellings verlede jaar plaasgevind het, maar ook omdat baie misdrywe relatief vir minder ernstige oortredings was, soos daggasmokkel en “toordery” vreemd genoeg.

In een geval was die verweerder beslis geestelik ongesond, maar sy kop het in elk geval gerol.

Sommige Saoedi-kritici vrees dat die skielike oplewing in onthoofdings ‘n reaksie verteenwoordig weens die uitdaging van ISIS.

Marteling: Australië in greep van nasionale veiligheidswetgewing

Die Australiese regering het onder openbare druk geswig en ingestem dat spesifieke marteling van verdagte terroriste deur lede van die geheimediens verbied moet word.

Die regering was van plan om die Australiese intelligensie-organisasie kwyt te skeld van enige kriminele oortredings wat hulle begaan het, wat nie moord, ernstige aanranding, seksuele aanranding en ernstige beskadiging van eiendom insluit nie.

George Brandis, prokureur-generaal, het Maandag bekend gemaak dat marteling by die lys gevoeg sal word. Marteling is teen die Australiese wet.

Maar Brandis het bevestig dat ‘n nuwe aanpassing wel gemaak is om terreur te bekamp wat vermeende buitelandse terroriste sal teiken. Die staatsaanklaer sal voortaan bloot hoef te bewys dat ‘n persoon binne aangewese “no-go areas” gereis of gebly het.

Dit sal lande soos Sirië en Irak insluit.

Die liberaal-demokratiese senator, David Leyonhjelm, het verlede week sy kommer uitgespreek dat die voorgestelde raamwerk vir nuwe “spesiale intelligensie-operasies” marteling kan toelaat.

Australië verkeer in ‘n greep van nasionale veiligheidswetgewing nadat Tony Abbott Australië se verbintenis tot militêre optrede in Irak openbaar gemaak het.

Australië het vroeër ‘n klopjag teen jihadiste onder uiterste geheimhouding onderneem. Geen name en besonderhede van die vermeende terroriste is bekend gemaak nie.

Leyonhjelm het gedreig om die maatreëls te kelder indien Asio (Australian Security Intelligence Organisation), toegelaat word om aangehoudenes te martel.

Reuse terro-klopjag in Australië voor G20

Intelligensieverslae toon dat ISIS-militante van plan was om ‘n lid van die publiek in Australië te onthoof, het premier Tony Abbott Dinsdag gesê.

Honderde lede van die polisie het ‘n klopjag op huise gedoen in ‘n radikale teen-terrorisme operasie.

Abbott het gesê daar is ‘n “ernstige risiko van ‘n terroriste-aanval” enkele dae nadat Australië sy nasionale terreurbedreigingsvlak vir die eerste keer na “hoog” opgeskuif het. Die verhoogde waarskuwing kom glo weens die waarskynlikheid van aanvalle deur radikale Australiërs in Irak of Sirië.

Australië, wat die G20-leiersberaad in Brisbane in die middel van November aanbied, is bekommerd oor die getal van sy burgers in die buiteland wat by Islamitiese militante groepe aangesluit het.

Tesourier Joe Hockey het daarop aangedring dat die nodige voorsorgmaatreëls in plek gestel is vir die G20-leiersberaad. Hy het gesê die klopjagte sal nie die nwaweek se G20-vergadering in Cairns raak nie.

Meer as 800 Australiese polisiebeamptes het deelgeneem en 15 mense in hegtenis geneem nadat talle eiendomme in Sydney en Brisbane deursoek is.

Reuters het Donderdag berig dat militante verbonde aan die Islamitiese Staat (ISIS) beplan het om iemand op straat in Sydney te gryp en in die openbaar te onthoof, en ISIS se vlag oor die persoon te drapeer.

Ernstige aanklagte van terrorisme is teen een van die 15 verdagtes gebring. Hy sal binnekort in die hof verskyn.

Australië verwag terreur

Die Australiese regering het Vrydag sy terreur-waarskynlikheidsvlak na “hoog” opgeskuif, het premier Tony Abbott in ‘n verklaring bekend gemaak.

Die rede vir die besluit is die toenemende aantal Australiërs wat bande het met of geïnspireer word deur terreurgroepe, waaronder die Islamitiese Staat.

“Die besluit is nie gegrond op kennis van ‘n spesifieke aanvalsplan nie, maar eerder op ‘n klomp bewyse wat daarop dui dat Australië wel deur terroriste-aanvalle bedreig kan word,” lui die verklaring.​

VSA stuur troepe na Oekraïne, Irak, Somalië

President Barack Obama van Amerika gaan troepe na die westelike grens van die Oekraïne stuur vir ‘n gesamentlike militêre oefening hierdie maand met meer as 1000 troepe van die Verenigde State en sy bondgenote.

Die besluit om voort te gaan met die Rapid Trident-oefening vanaf 16 tot 26 September word beskou as ‘n teken van die toewyding van NAVO om die Oekraïne te ondersteun sonder openlike militêre ingryping in die konflik.

Die jaarlikse oefening sal plaasvind naby die Oekraïne se grens met Pole, en was aanvanklik geskeduleer vir Julie, maar is afgestel omdat vroeë beplanning deur die krisis in die oostelike deel van die land ontwrig is.

Die VSA het reeds $5 miljard bewillig vir ‘n regeringsverandering in die land. Daar word ná die NAVO-beraad in Wallis hierdie week ‘n nuwe vinnige reaksiemag van ‘n paar duisend troepe verwag.

Bykomend tot die lugmagoefeninge, sal die Verenigde State van Amerika tenks en 600 troepe na Pole en die Baltiese state Estland, Letland en Litaue stuur vir gesamentlike maneuvers in Oktober om valskermsoldate te steun.

Rapid Trident sal die eerste beduidende ontplooiing van Amerikaanse en ander personeel behels na die Oekraïne sedert die krisis uitgebreek het.

Onder ‘n breë program getiteld “Operation Atlantic Resolve” beoog die VSA om sy verbintenis tot die Europese wapenwedloop tesame met NAVO te bevestig.

Obama het ook aangekondig dat nog 350 troepe na Bagdad gestuur sal word om “hoofsaaklik Amerikaanse diplomate en sy ambassade in die Irakse hoofstad te beskerm”.

Dit sal die aantal Amerikaanse weermagpersoneel in Irak, wat hoofsaaklik vir sekerheid ontplooi is, op sowat ‘n duisend te staan bring.

Die Withuis en Pentagon het dit bekend gemaak nadat nog ‘n gru-video deur die Islamitiese Staat op die internet uitgereik is waar ‘n gemaskerde ekstremis met ‘n Britse aksent nog ‘n klaarblyklike onthoofding op ‘n Amerikaner uitvoer.

Ten spyte daarvan dat hulle nie egtheid van die twee videos kan bevestig nie, sal die VSA nog soldate stuur.

Die joernalis, Steven Sotloff wat verlede jaar in Sirië ontvoer is, was deel van die video wat die onthoofding van sy landgenoot, James Foley gewys het.

In die video dreig ‘n gemaskerde persoon ‘n derde gyselaar en waarsku regerings om hulle alliansies teen die Islamitiese Staat te staak.

Senator McCain het voorheen die leierskap van ISIS ontmoet en na hulle verwys as “gematigdes” wat veg teen die “diktatuur” in Sirië.

Berigte dat die VSA en Brittanje ISIS befonds is vollop op die internet.

In Afrika is Ugandese soldate wat deel vorm van die Afrika-unie se sending in Somalië, besig om voor te berei om na Kurtunwaarey in die Laer Shabelle-streek van Somalië te beweeg.

Dit is deel van Operasie Indiese Oseaan, wat daarop gemik is om die oorblywende dorpe in die gebied wat steeds deur die Moslemterroristegroep, Al Sjabaab beset word, te bevry.

Die VSA het ‘n lugaanval deur ‘n onbemande tuig gedoen oor ‘n gebied waar die leiers van Somalië se Al-Kaida-militante vergader het, het intelligensie bronne Dinsdag gesê, maar dit is onduidelik of enige bevelvoerders gedood is.

Die aanval het volgens Somaliese regeringsamptenare die al Sjabaab-leier Ahmed Abdi Godane en ander leiers geteiken wat glo byeen was by die plek, maar daar was geen bevestiging dat hulle getref is nie.

Minstens 300 Amerikaners veg vir ISIS

Die Verenigde State regering is bewus van soveel as 300 Amerikaners wat vermoedelik aan die kant van die Islamitiese Kalifaat veg, die jihadistiese groep met ‘n groot teenwoordigheid in dele van Sirië en Irak, het senior Amerikaanse amptenare gesê.

Washington het intussen hul kommer uitgespreek oor “Russe” of “mans in groen” uit Rusland wat in die Oekraïene veg.

Washington is bekommerd radikale elemente wat ‘n risiko vir die Verenigde State inhou word as hulle terugkeer met militêre vaardighede het anonieme mmptenare gesê aan die Washington Times.

“Ons weet daar is ‘n paar honderd Amerikaanse paspoorthouers wat rondhardloop saam met ISIS in Sirië of Irak,” het ‘n senior Amerikaanse amptenaar gesê. “Dit is moeilik om te sê of hulle in Sirië is of verskuif het na Irak.”

Vorige verslae dui daarop dat Amerikaners wat vir die fundamentalistiese ekstremistiese groep die Islamitiese staat (IS, ook bekend as ISIS en Isil) veg ongeveer 100 is, maar die getal is onderskat.

Die State Department het nie reageer op die Washington Times se versoek om kommentaar te lewer op die Amerikaners wat veg in Irak of Sirië nie.

Die VN Veiligheidsraad het Woensdag eenparig ‘n resolusie aanvaar waarin ‘n onmiddellike skietstaking in Libië geëis word.

Lidlande het met verdere sanksies gedreig indien daar nie aan die resolusie gehoor gegee word nie.

Die Veiligheidsraad sê hy is bekommerd oor die gevegte wat tussen rebelle en weermagfaksies woed, veral in Tripoli en Benghazi.

VSA al nader aan lugaanvalle op Sirië

Die Amerikaanse weermag sê vegvliegtuie van Egipte en die Verenigde Arabiese Emirate het ‘n reeks lugaanvalle op ISIS-groepe in Libië uitgevoer.

‘n Woordvoerder van die Pentagon, John Kirby, wou nie nadere besonderhede gee oor hoekom dié twee lande die aanvalle uitgevoer het nie.

Dié aanvalle kom nadat ‘n video vrygestel is waarin ‘n Amerikaner glo onthoof word. Die opname is intussen deur spesialiste as ‘n foefie afgemaak.

Nadat die VSA Moemmar Ghaddafi laat vermoor het sonder verhoor om Libië sogenaamd te “bevry”, is die land besig om al dieper in chaos te versink.

Faksies in verskeie stede wat deur die VSA bewapen is om die naburige Sirië te destabiliseer, asook twee strydende Parlemente veg om die mag te behou.

Amerika het reeds begin met vlugte oor Sirië, het Amerikaanse amptenare gesê. Washington beoog lugaanvalle teen die Islamitiese Kalifaat, maar daar is geen plan om die anti-terreur-aanvalle met die Siriese regering te koördineer nie.

Dit laat die vermoede ontstaan dat die VSA ‘n nuwe verskoning gekry het om Sirië aan te val soos hulle voorheen beplan het om te doen na hulle ‘n giftige gasaanval deur Amerikaans-gesteunde rebelle op die regering van Bashar al-Assad probeer blameer het.

Een Amerikaanse amptenaar, het op voorwaarde van anonimiteit aan AP gesê dat die administrasie betroubare intelligensie op die grond in Sirië insamel voordat enige lugaanvalle gedoen word.

Intussen is ‘n langtermyn skietstaking in die Gasastrook bereik. Israel en die Palestynse groep Hamas het in Kairo ‘n ooreenkoms bereik tydens samesprekings waarin Egipte as bemiddelaar opgetree het.

Die Sekretaris-Generaal van die Verenigde Nasies, Ban Ki Moon en die VSA is optimisties dat dit sal hou, maar nogtans ‘n beroep op albei partye gedoen om die ooreenkoms na te kom.

Meer as tweeduisend Palestyne en sowat 70 Israeli’s is in die 50 dae van geweld dood.

Die vreemde ontmoeting van Senator McCain met ISIS

Amerika het hernieude lugaanvalle teen vestings van die Islamitiese Kalifaat in Irak uitgevoer, na dreigemente van die militante om ‘n tweede Amerikaanse joernalis te onthoof.

Pres. Barack Obama het bevestig dat die joernalis James Foley wel onthoof is en dat die video van Foley se dood eg is.

Die video wat vermoedelik in die Irakse of Siriese woestyn verfilm is, toon ook ‘n tweede Amerikaanse joernalis, Steven Sotloff, wat deur die groep aangehou word.

Die Kalifaat sê Foley is vermoor nadat Obama opdrag gegee het vir die lugaanvalle teen hul vestings in die noorde van Irak.

In Mei 2013 het Senator John McCain ‘n oënskynlike onwettige besoek gebring naby Idleb in Sirië via Turkye om te ontmoet met die leiers van die “gewapende opposisie” van Sirië. Sy reis is nie bekend gemaak nie, tot ná sy terugkeer na Washington.

Hierdie reis is moontlik gemaak deur die Syrian Emergency Task Force, ‘n Sionistiese organisasie gelei deur ‘n Palestynse werknemer van AIPAC, het The Passionate Attachment onthul. Mouaz Moustafa is glo ‘n navorser by die Washington Institute for Near East Policy.

In foto’s wat vrygestel is tydens McCain se besoek is die teenwoordigheid van Mohammad Nour, ‘n woordvoerder vir die Al-Nosra Front – dit wil sê, al-Kaida in Sirië – opgemerk waar hy saam met die Amerikaanse senator verskyn.

Nour het 11 Libanese Sjiïtiese pelgrims in Asas ontvoer. Toe McCain gevra word oor sy verskyning saam met die ontvoerder, het die senator beweer Nour het homself in die foto ingenooi sonder dat hy geweet het wie dit is.

Die saak het ‘n groot opskudding in Libanon veroorsaak en die gesinne van die ontvoerdes het ‘n klag voor die Libanese regbank teen Senator McCain vir medepligtigheid in die ontvoering gelê. Uiteindelik is ‘n ooreenkoms bereik en die pelgrims is vrygelaat.

Kom ons veronderstel dat Senator McCain die waarheid gepraat het en dat hy misbruik is deur Mohammad Nour.

Die doel van sy onwettige reis na Sirië was om die hoofde van die personeel van die Vrye Siriese leër te ontmoet. Volgens hom is die organisasie “uitsluitlik Siriërs” wat veg vir “hul vryheid” teen die “diktatorskap”.

Nog ‘n foto van John McCain en die hoofde van die Vrye Siriese leër het egter sy weg na die internet gevind. In die linker voorgrond sit Ibrahim al-Badri, waarmee die Senator praat, en neffens hom brigadier-generaal Salim Idris.

Terug van sy onwettige reis, het John McCain verklaar dat almal wat verantwoordelik vir die Vrye Siriese leër “gematigdes is wat vertrou kan word”.mccainisis

Maar sedert 4 Oktober 2011, is Ibrahim al-Badri (ook bekend as Abu Du’a) op die lys van die vyf mees gesoekte terroriste deur die Verenigde State van Amerika. Vandaar dus die onwettigheid van McCain se ontmoeting.

‘n Losprys van tot $10 miljoen word trouens aangebied vir enigiemand wat met sy inhegtenisname help.

Die volgende dag, 5 Oktober 2011, is Ibrahim al-Badri selfs ingesluit op die lys van die VN-sanksieskomitee as ‘n lid van Al-Kaida.

Daarbenewens het Ibrahim al-Badri, bekend onder sy nom de guerre as Abu Bakr al-Bagdadi, ‘n maand voor die ontvangs van Senator McCain, die Islamitiese Staat in Irak en die Levant (ISIL/ISIS) op die been gebring terwyl hy nog deel uitmaak van die personeel van die “baie gematigde” Vrye Siriese Leër.

Hy spog dat hy op sy eie die aanval op die Taj en Abu Ghraib tronke in Irak gereël het waar hy gehelp het om tussen 500 en 1000 jihadiste te laat ontsnap wat dan by sy organisasie aangesluit het. Hierdie aanval is gekoördineer met ander gelyktydige tronkontsettings in agt ander lande!

Hierdie saak is so vreemd dat Interpol op 3 Augustus 2013 ‘n nota uitgereik het daaroor en die hulp van die 190 lidlande versoek het.

Dit blyk dus dat daar getuienis bestaan dat die Vrye Siriese Leër, die Al-Nosra Front en ISIS saamgestel is uit dieselfde individue wat voortdurend tussen die verskillende organisasies migreer.

Wanneer dié mense dus sê hulle verteenwoordig die Islamitiese Kalifaat wat die ongelowiges uitroei, bly hul tegnieke ongelukkig presies dieselfde. Hulle gaan hulle voort met dieselfde soort terreur van die ander twee organisasies: Verkragting, marteling, onthoofding en kruisigings.

Senator McCain en sy metgeselle het nie die inligting in hul besit oor Ibrahim al-Badri aan die State Department oorhandig nie en ook nie gevra vir die beloning nie. Hulle het ook nie die anti-terrorisme komitee van die VN ingelig oor hul ontmoeting met die terroris nie.

In geen land in die wêreld, ongeag hul politieke stelsel, sou ‘n mens aanvaar dat die leier van die opposisie in direkte kontak, en in die openbaar vriendelik, met ‘n baie gevaarlike terroris verkeer nie.

Withuis probeer vasstel of Amerikaner onthoof is

Die Amerikaanse Withuis sê intellegensie dienste probeer vasstel of beeldmateriaal wat na bewering wys hoe ‘n Amerikaanse joernalis deur militante van die Islamitiese Kalifaat (ISIS) onthoof word, geloofwaardig is.

Die joernalis in die video is na bewering James Foley. Foley het twee jaar gelede in Sirië vermis geraak nadat hy deur gewapende mans ontvoer is oppad na die grens met Turkye, het RSG berig.

Nog ‘n Amerikaanse joernalis wat verlede jaar in Sirië vermis geraak het word in die video gewys, met ‘n boodskap dat sy lewe afhang van Amerika se optrede in Irak.

Amerika het die afgelope twee weke ‘n aantal lugaanvalle teen teikens van die Islamitiese Kalifaat uitgevoer, maar het tot dusver nie verder by die konflik betrokke geraak nie.

Foley se ma Diane het in ‘n boodskap op Facebook ‘n beroep op die militante gedoen om die lewens van die oorblywende gyselaars te spaar.

Pous, Hezbollah waarsku teen ISIS

Pous Franciskus sowel as die sekretaris-generaal van Hezbollah, Hassan Nasrallah, het hul kommer oor die lot Christengroepe in Irak uitgespreek.

Die Pous het aangedui dat hy bereid is om na Irak te reis om ondersteuning te gee aan vlugtelinge en Christengroepe in Koerdistan indien nodig.

Alhoewel hy meen dat ingryping deur die internasionale gemeenskap wenslik is om Islamitiese militante in Irak te stuit, moet die besluit nie van ‘n “enkele land” afhang oor hoe om in die konflik in te gryp nie.

Die Pous se oproep het wenkbroue laat lig aangesien hy homself tot dusver vir vrede uitgespreek het.

Nasrallah het Vrydag gesê lande soos Libanon moet nie glo dat die VN-resolusie 1701 hulle sal beskerm nie. Die kwessie is nie meer ‘n bron van gevaar vir ‘n enkele groep soos die Sjia, Soennies, Christene of Druze nie, maar ‘n gevaar vir almal, het hy gemaan.

Hy het gesê ISIS is besig met ‘n veldtog van totale vernietiging van alle godsdiensgroepe se kulturele erfenis van duisende jare. Die pluralistiese erfenis van Irak, Libanon, Sirië en Iran waar verdraagsaamheid eers geheers het, word deur ISIS bedreig. Hy het gesê Moslems kan hulself nie daarmee vereenselwig nie.

Die krisis vir Christene in die Levant is egter baie kleiner as die etniese uitwissing wat Westers-gesteunde faksies van die junta in die Oekraïene teen Russiese Christene voer.

Kiëf het doelbewus in Lugansk gedoen wat hulle reeds gedoen het in Slaviansk: Hulle het die stad se watertoevoer vernietig. In die tussentyd, het Kiëf se magte ‘n kolom van vlugtelinge uit die gevegsgebied aangeval met vuurpyle.

Meer as 2000 mense het reeds in die konflik omgekom wat deur NAVO en die VSA gedryf word.

Dit is ook noodsaaklik om te verstaan ​​dat aanvalle op burgerlikes deel vorm van NAVO se aanvaarde aanvalsdoktrine waar lande na die “Steentydperk” teruggeneem word.

Die Amerikaanse Sekretaris Baker het in 1991 reeds aan Tarek Aziz van Irak belowe: “Ons sal jou land verwoes en dit na die Steentydperk terugneem.” Sedertdien het die VSA met die hulp van NAVO streng by die doktrine gehou.

Die “skok en verwondering” is in werklikheid ‘n manier om die burgerlike bevolking te teiken en te terroriseer. Dit is waarmee die VSA se militêre magte hulself besig hou en steun ook ver-linkse groepe om hul doelwitte te bereik.

Pous Franciskus het nie aangedui watter land hy bedoel by die “enkele land” nie. Hy sal glo Amerika aanstaande jaar besoek.

Hy het voorts gesê hy is gereed om enige tyd na China te reis.

Die groot verloorders in Irak: Britte, Turke, Chinese

Die moontlike verdeling van Irak in drie dele sal oliekaarte herskommel.

Met die deurbraak van ISIS, het al die oliemaatskappye hul personeel verminder.

Sommige meer as ander: Die verloorders is BP, Shell, Türkiye Petrolleri Anonim Ortaklığı (TPAO) en Chinese maatskappye (Petro, Sinopec en CNOOC).

Die verloorders is die Britte, die Turke, en veral die Chinese, wat by verre Irak se grootste kliënt was. Die wenners is die VSA, Israel en Saoedi-Arabië.

Die spel is dus nie ‘n stryd om die “ware Islam” nie, maar ‘n volskaalse olie-oorlog in Irak.

Met die hulp van Israel, is Sirië se olietoevoer afgesny en die pomp van olie uit Kirkuk deur die plaaslike regering van Koerdistan in volle swang.

Die verkope word deur Aramco verseker wat uitvoere as verhoogde “Saoedi-produksie” sal verbloem.

Binne dae het olie gestyg tot $115, dit wil sê die vlak van September 2013.

Die markte was glo “bekommerd” oor die stryd vir die Baiji-raffinadery naby Tikrit. In werklikheid, produseer hierdie raffinadery net vir plaaslike verbruik.

Stygende oliepryse is dus nie as gevolg van moontlike onderbrekings van die Irakse produksie nie, maar die ontwrigting van aflewerings.

Saudi Arabië het aangekondig dat hulle aansienlik produksie sal verhoog om te vergoed vir die verminderde toevoer.

Maar kenners is skepties en wys daarop dat die koninkryk nog nooit meer as 10 miljoen vate per dag geproduseer het nie.

Hulle probeer agteraf eintlik om olieputte in Irak te monopoliseer.

Die vraag wat eintlik gevra moet word: Hoe is dit moontlik dat ISIS-terroriste olie op die internasionale markte verkoop wat gemonitor word deur Washington?

In Maart, het die Libiese Benghazi-groep olie wat hulle gesteel het probeer verkoop. Die Amerikaanse vloot se Morning Glory het dadelik die tenker onderskep.

Exxon Mobil, die Rockefeller-maatskappy in Katar, verkoop olie van Sirië, terwyl Aramco (VSA / Saoedi-Arabië) ISIS se olie verkoop.

Tydens die Libiese konflik, het NAVO Katar gemagtig om Exxon Mobil-olie te verkoop van die “gebiede bevry deur al-Qaeda”.

Die feit dat die ISIS gefinansier word deur Aramco is genoeg om te verduidelik waarom Saoedi-Arabië skielik in staat is om te vergoed vir die afname in Irak se produksie: Die koninkryk sit sy stempel op die vate afkomstig van gebiede onder ISIS-beheer.

Die deurbraak van ISIS beteken dat die twee hoofpypleidings na Sirië en die Turkse hawe van Ceyhan onder Amerikaanse beheer is.

Die Al-Maliki-regering, wat nog nie deur Washington omvergewerp is nie, het hierdie toedrag van sake ontbloot.

Die 300 Amerikaanse militêre raadgewers is dus waarskynlik gestuur om al-Maliki tot ander insigte te bring.