Niemand is in ’n vroegoggend klopjag in Rotterdam aangekeer nadat ’n gebou deur lede van die Nederlandse spesiale polisie deursoek is nie.
Die aanklaerskantoor het op Twitter gesê geen wapens of plofstof is gevind nie, het AFP berig.
Die klopjag volg nadat ’n 32-jarige Franse man láát Sondag in die westelike distrik van Rotterdam saam met drie ander mense aangekeer is nadat ’n wenk van die Franse owerhede ontvang is.
Die Nederlandse nuusagentskap ANP sê mense is gevra om naburige huise in die Kralingen-distrik te ontruim en ’n span om bomme onskadelik te stel, was in die omgewing, sou hul dienste benodig word.
Die Fransman, wat net as Anis B. geïdentifiseer is, het Dinsdag in ’n hof in Amsterdam verskyn en staan ’n versoek teen om aan Frankryk uitgelewer te word.
Die ander drie wat Sondagnag aangekeer is, is van Algerynse oorsprong.
Anis B. word in Frankryk gesoek vir “betrokkenheid in ’n kriminele organisasie met bande aan terroriste-ondernemings” het die aanklaerskantoor gesê.
Swaar gewapende polisie het Sondag ook beslag op ’n groot hoeveelheid ammunisie, SIM-kaarte, rekenaar-hardeskywe, kontant en dwelms gelê.
Nederland se howe het 90 dae om te besluit of die Fransman aan Frankryk uitgelewer sal word.
Die Nederlandse minister van justisie, Ard van der Steur, het die parlement Dinsdag egter meegedeel dat hy verwag dat Anis B. “binnekort aan Frankryk uitgelewer sal word.”
