Die Algerynse regering het die moord deur ‘n jihadistegroep op ‘n Franse toeris veroordeel. Die 55-jarige Herve Gourdel is Sondag deur die Jund-al Khilifa-groep ontvoer.
Die groep, wat glo bande het met die ekstremistiese Islamitiese Staat-groep, het ‘n ultimatum van 24-uur aan die Franse regering gestel om lugaanvalle in Irak te staak.
Frankryk het die ultimatum verwerp.
‘n Video van Gourdel se onthoofding is Woensdag op die internet vrygestel. Die Algerynse regering sê hy het alles in sy vermoë gedoen om Gourdel vrygelaat te kry.
Ongeveer 1 500 Algerynse soldate het ‘n soektog geloods om die Franse gyselaar van die jihadiste op te spoor, het die amptelike Algerynse uitsaaier Chaine3 vroeër berig.
Die soektog na Gourdel het in die bergagtige gebied Tizi Ouzou, ongeveer 100 km oos van die hoofstad, Algiers, plaasgevind.
Die operasie het valskermsoldate van ’n teenterrorisme-eenheid ingesluit.
Die video waarin Gourdel verskyn, is Maandag deur die groep uitgereik. Hulle het gedreig om hom binne 24 uur dood te maak indien Frankryk nie “sy aanvalle op ISIS staak nie”.
Gourdel het ook in die video gepraat en gesê die groep het hom gevra om by die pres. François Hollande van Frankryk te pleit om aan die groep se eise te voldoen.
Frankryk het verlede week aangekondig dat hulle die Amerikaanse lugaanvalle op ISIS-teikens in Irak sal steun met hul eie lugbombardement.
Algerië sê hy gaan voort met die stryd teen terreur en waarborg die veiligheid van buitelanders in die land.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.