Die Australiese regering het onder openbare druk geswig en ingestem dat spesifieke marteling van verdagte terroriste deur lede van die geheimediens verbied moet word.
Die regering was van plan om die Australiese intelligensie-organisasie kwyt te skeld van enige kriminele oortredings wat hulle begaan het, wat nie moord, ernstige aanranding, seksuele aanranding en ernstige beskadiging van eiendom insluit nie.
George Brandis, prokureur-generaal, het Maandag bekend gemaak dat marteling by die lys gevoeg sal word. Marteling is teen die Australiese wet.
Maar Brandis het bevestig dat ‘n nuwe aanpassing wel gemaak is om terreur te bekamp wat vermeende buitelandse terroriste sal teiken. Die staatsaanklaer sal voortaan bloot hoef te bewys dat ‘n persoon binne aangewese “no-go areas” gereis of gebly het.
Dit sal lande soos Sirië en Irak insluit.
Die liberaal-demokratiese senator, David Leyonhjelm, het verlede week sy kommer uitgespreek dat die voorgestelde raamwerk vir nuwe “spesiale intelligensie-operasies” marteling kan toelaat.
Australië verkeer in ‘n greep van nasionale veiligheidswetgewing nadat Tony Abbott Australië se verbintenis tot militêre optrede in Irak openbaar gemaak het.
Australië het vroeër ‘n klopjag teen jihadiste onder uiterste geheimhouding onderneem. Geen name en besonderhede van die vermeende terroriste is bekend gemaak nie.
Leyonhjelm het gedreig om die maatreëls te kelder indien Asio (Australian Security Intelligence Organisation), toegelaat word om aangehoudenes te martel.
