Wit pa in sy huis doodgeskiet

‘n Wit pa van Durban, Gary Mackay (foto), is dood toe hy probeer het om sy vrou en twee kinders by hul huis Duncanweg, Westville, Saterdag teen swart aanvallers te beskerm.

Drie swart indringers het hom in sy maag geskiet, en daarna die huis besteel voordat hulle gevlug het met die buit.

Die 35-jarige webbestuurder het geluide in sy huis gehoor omstreeks 04:00. Hy het gaan kyk wat aangaan onder. Hy is gekonfronteer deur die drie gewapende aanvallers en ná ‘n stryd, is hy geskiet.

Sy vrou en sy twee kinders, tussen die ouderdomme 19 maande en vier jaar, was wakker en op die boonste verdieping van die huis.

Na hulle Mackay doodgeskiet het, het die misdadigers op hul gemak voortgegaan om goedere te steel uit die huis.

Sy skoonpa, Orlando Pereira, het gesê almal is geskok, ook deur die aanvallers se koelbloedigheid.

“Mense is nie veilig in hul huise nie. Die mans wat dit gedoen het, het nie eens enige berou nie en het doodluiters [na hulle Gary doodgeskiet het] by die trappe opgegaan om besittings van my dogter te neem,” het hy gesê.

Hy sê die woonsbuurt het baie onveilig geword. Verlede jaar is twee huisaanvalle geregistreer, terwyl daar reeds nege aanvalle hierdie jaar was.

Gewone naweek eis agt op SA se paaie

Die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het opnuut ‘n ernstige versoek aan motoriste gerig om padreëls na te kom en veilig te bestuur.

Dit kom nadat agt mense die naweek op die land se paaie dood is. Twee mans is Saterdagmiddag op die R57 in Sasolburg in die Vrystaat dood toe die bakkie waarin hulle gery het, in ‘n brug vasgery het. Die mans is uit die motor geslinger en is op die toneel dood verklaar.

Woordvoerder Simon Zwane sê drie mense is op die R617 naby die Underberg in KwaZulu-Natal dood toe hul motor Saterdag in ‘n botsing reg van voor met ‘n bus betrokke was. Hy sê 60 mense het beserings opgedoen. Daarmee saam is drie mense dood en sewe ander beseer toe ‘n bestuurder van ‘n bakkie in die baan vir aankomende verkeer gery het. Dié bakkie het met ‘n motor reg van voor gebots. Twee ander motors kon nie die ongeluk vermy nie.

Té veel onskuldige mense sterf op Suid-Afrika se paaie weens nalatige bestuurders. Hy sê nalatige bestuurders gaan vasgevat word en daar sal streng teen hulle opgetree word.

Intussen is ‘n 19-jarige man in ‘n kritieke toestand nadat hy vermoedelik beheer oor sy motor sowat 90km vanaf Kimberley op die Koffiefonteinpad verloor het. Zwane sê motorbotsings neem toe op paaie omdat mense onverskillig bestuur en nie die padreëls nakom nie. Hy sê spoed is ook ‘n probleem en mense vermy paaie waar owerhede diens doen en volg ander roetes waar hulle onverskillig kan bestuur.

Bron: OFM

ANC slaan Gordhan- en bankvure dood

Die ANC-vroueliga het die “skielike belangstelling” uit verskeie oorde bevraagteken om die minister van Finansies, Pravin Gordhan te beskerm.

“As jy ‘n lid van die ANC is en tot verantwoording geroep word, moet jy net gaan en rekenskap gee, soos die kwessie van die minister van Finansies. Ons is baie bekommerd oor die skielike belangstelling van almal, jou NRO’s en die burgerlike samelewing om die minister van Finansies te beskerm,” het die vroueliga se sekretaris-generaal Meokgo Matuba Sondag gesê.

Die Vroueliga het hul steun aan president Jacob Zuma herbevestig, gevra dat ‘n vrouepresident hom opvolg en dat dissipline binne die party gehandhaaf word.

Matuba het gepraat ná die Vroueliga sy nasionale uitvoerende komitee (NUK) se vergadering hierdie naweek gehou het.

Sy het gesê Gordhan “moet rekenskap gee” aan die relevante strukture.

Matuba het Gordhan gevra om gehoor te gee aan die Valke se versoek om voor hulle te verskyn en vrae oor ‘n beweerde spioenasie-eenheid binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te beantwoord.

Die volgende president van die ANC moet ‘n vrou wees, het die Vroueliga ook Sondag verklaar.

Die voorsitter van die Afrika-Unie se Kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma, word glo tans voorberei om oor te neem van haar voormalige man Jacob Zuma.

Hulle het voorgestel dat die top ses van die ANC 50/50 verteenwoordig word deur beide mans en vroue: “Vroue moet die 50/50 verteenwoordigingsbeleid van die ANC afdwing in al ons strukture.”

Die Vroueliga het ook hul kommer uitgespreek oor politieke moorde.

In die Oos-Kaap ondersoek die polisie tans ‘n saak van brandstigting nadat die huis van die ANC-burgemeester van die Enoch Mgitjima-munisipaliteit in Tarkastad aan die brand gesteek is.

Die burgmeester, Lindiwe Gunuza-Nkwentsha, haar man en vier kinders was tydens die voorval in die huis.

Intussen het die organiseerders van die veldtog “Beset Luthuli-huis” gesê senior leiers van die ANC het die jeug in die steek gelaat.

Hulle sê in ‘n verklaring die groep wil red wat nog van die bevrydingsorganisasie oorgebly het.

Senior ANC-lui stel net belang in wie watter posisies binne die party moet beklee, sê hulle. Die groep beplan om vandag ‘n optog te hou na die ANC se hoofkwartier, Luthuli-huis.

Hulle sê hulle voer ‘n stryd teen teen gebrekkige intellek en morele waardes.

Die voormalige studenteleier van Wits, Mcebo Dlamini, ‘n ANC-lid van Johannesburg, Sasa Mananye en ‘n voormalige lid van die uitvoerende komitee van die ANC-Jeugliga, Ntibi Modise, is deel van die organiseerders.

Die organiseerders van die optog het ook die hotelbestuur in Pretoria om verskoning gevra waar hulle nuuskonfrensie Vrydag deur streekleiers van die ANC-Jeugliga ontwrig is.

Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe het ook ‘n beroep op ANC-lede gedoen om hulle te weerhou van kommentaar in die media oor die opskudding rondom die minister van Minerale Hulpbronne, Mosebenzi Zwane.

Die presidensie en die ANC het hul gedistansieer van Zwane se verklaring dat ‘n interministeriële komitee aanbeveel het dat ‘n regterlike ondersoek na banke gedoen moet word oor hul besluit om bande met die Gupta-maatskappy, Oakbay Investments, te verbreek.

Mantashe sê dié soort verklarings benadeel die party. Hy het in Bloemfontein gepraat ná ‘n vergadering met ANC takke in die Vrystaat. Mantashe het beklemtoon dat dit nie ‘n verklaring van die kabinet was nie.

Suid-Afrika, die land van moord en doodslag

Moorde in Suid-Afrika het die afgelope finansiële jaar met bykans vyf persent toegeneem.

Die minister van Polisie, Nathi Nhleko sê daar is ‘n geringe afname in ander misdaad, maar moes erken dat geweldsmisdaad nie afgeneem het nie. Hy sê dit is ‘n aanklag teen die innerlike krag van die gemeenskap.

Die misdaadsyfers vir die tydperk tussen 1 April verlede jaar en die einde van Maart vanjaar is Vrydag in die parlement bekendgemaak.

Volgens die statistiek het poging tot moord met sowat drie en ‘n half persent toegeneem, terwyl aanranding met die doel om ernstig te beseer ‘n effense toename getoon het.

Generaal-majoor Norman Sekhukune sê dit is duidelik dat kontakmisdaad die grootste uitdaging vir die polisie is.

Die publiek het die afgelope boekjaar een komma sewe miljoen aanklagte by die polisie gelê.

Misdade soos moord, poging tot moord en roof het effens in drie van die nege provinsies afgeneem, maar nie in die ander ses nie.

In Gauteng, Limpopo, Mpumalnga, Noordwes, die Noord-Kaap en die Wes-Kaap het geweld toegeneem.

Sekhukune het daarop gewys dat alkoholmisbruik by die meeste misdade betrokke is.

Sekhukhune sê voorts betogings is besig om toenemend gewelddadig te raak. ‘n Yslike 3542 betogings is die afgelope jaar aangemeld.

Vreedsame betogings het met byna 56% verminder, terwyl onluste tydens betogings met meer as 10% vermeerder het.

In Pongola het die minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula gesê die weermag se grensbeheervermoë is onder druk weens begrotingstekorte.

Sy het op besoek in die noorde van KwaZulu-Natal gesê daar is tans vyftien militêre eenhede wat die grense beheer teenoor 22 eenhede wat verkieslik is.

Minstens agtien staatsvoertuie is vanjaar slegs in die noorde van KwaZulu-Natal gekaap en vermoedelik in buurlande verkoop.

Geweldmisdaad het waarskynlik weer toegeneem

Daar is min hoop dat misdaad afgeneem het tot in Maart vanjaar, want verlede jaar het sestien van die 26 misdaadkategorieë stygings getoon. Dit sluit moord, kaping en huisroof in.

Die minister van Polisie, Nathi Nhleko maak vandag die jongste misdaadsyfers bekend vir die tydperk tussen April 2015 en die einde van Maart vanjaar.

Nhleko sal die syfers bekendmaak aan die polisie se oorsigkomitee in die parlement.

Roof met verswarende omstandighede het die skerpste gestyg en ‘n toename van meer as tienduisend huisrooftogte is aangeteken verlede jaar.

Die moontlikheid dat die misdaadsyfers in die jongste verslagperiode gedaal het, is daarom onwaarskynlik.

Voorvalle van moord het met 4.6% tussen 2014 en 2015 gestyg, terwyl roof met verswarende omstandighede met meer as 8% toegeneem het.

Die misdaadstatistieke word nooit in perspektief gestel nie en die etniese komponent word doelbewus verberg om die ware gesig van misdaad teen blankes wat slagoffers is, weg te steek.

Bob ontplooi onlus-polisie

Organiseerders van onlangse betogings in Zimbabwe het Woensdag aangekondig dat alle ondernemings gesluit sal wees, maar winkels en kantore was wel oop.

Vragmotors met onlustepolisie gelaai was aan diens en die verkeer was vir die tweede agtereenvolgende dag lig in Bulawayo, waar anti-regeringsbetogings vir later die dag beplan is.

“Min mense het hul ware op die sypaadjies verkoop en min sake is gedoen,” het Zivanai Muzorodzi, ’n aktivis in die suidoostelike dorp Masvingo gesê.

“Ek dink daar is vrees onder die mense en hulle voel veiliger om die situasie van ’n afstand dop te hou.”

Saterdag het Mugabe onderneem om ’n einde aan die betogings te maak wat die afgelope maande aan die orde van die dag was terwyl Zimbabwe se ekonomiese krisis vererger het en die regering gesukkel het om staatsamp­tenare en die weermag se salarisse te betaal.

Verlede week het die polisie minstens 70 mense in hegtenis geneem, insluitende Promise Mkwananzi, die leier van die Tajamuka-protesveldtog, toe straatbetogings in Harare gehou is om hervormings voor die 2018-­verkiesings te eis.

Mugabe (92), wat sedert 1980 aan bewind is, het reeds aangedui dat hy weer as presidentskandidaat sal staan.

Hy het voorheen enige dislojaliteit teenoor sy outoritêre bewind onderdruk. Bespiegelinge oor wie hom sal opvolg, midde toenemende tekens van swak gesondheid, is aan die orde van die dag.

Mkwananzi is Maandag borgtog geweier.

MIV-Vigslyers kry van vandag dadelik behandeling

Suid-Afrikaners met MIV begin van vandag af met behandeling sodra hulle gediagnoseer is.

Die behandeling hang nie meer af van hul CD-4 telling nie.

Dit is in ooreenstemming met die Wêreldgesondheidsorganisasie se nuwe MIV-riglyne wat bepaal dat pasiënte dadelik behandeling moet kry sodra daar vasgestel is dat hulle die siekte het.

Vroeër is pasiënte eers behandel nadat hul CD-4 telling laer as 500 gedaal het. Suid-Afrika het die wêreld se grootste program vir die behandeling van MIV met meer as drie miljoen mense.

Die adjunk-direkteur vir MIV/Vigs by die Departement van Gesondheid, dokter Yogan Pillay sê die land kan nie bekostig om pasiënte nié te behandel nié.

Hy sê een van die stappe wat geneem word, is om stabiele pasiënte na ondersteunersgroepe oor te dra waar hul medikasie by hulle afgelewer sal word.

Dagga-party se aansoek uitgestel

Die Dagga-party se aansoek om die verbod op dagga ongrondwetlik te verklaar is Woensdag in die Wes-Kaap se Hooggeregshof tot Desember uitgestel.

Die uitstel is aangevra om die Staat tyd te gun om ‘n verslag oor die huidige daggabeleid in Suid-Afrika te bestudeer.

Daggaroker Garreth Prince (foto) sê die party bevraagteken die grondwetlikheid van die Wet op Narkotika. Prince het reeds ‘n vorige Grondwethofaansoek verloor.

Hy sê die aansoek handel nie daaroor of die dwelm skadelik is of nie, maar oor vryheid van keuse.

Prince sê alkohol en tabak is ook skadelik, maar word nie gekriminaliseer nie.

Die saak sal die 13de Desember hervat.

‘n Miljard se vrugtelose uitgawes in Noordwes

Die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge in Noordwes is bekommerd oor die stand van die provinsie se finansiële sake.

Dit, volgens komiteevoorsitter, Mahlakeng Mahlakeng. Dit blyk uit die jongste verslag van die ouditeur-generaal dat daar R2 miljard se onreëlmatige uitgawes in die 2014/15-boekjaar was.

Noordwes is, na wat berig word, die provinsie met die meeste onreëlmatige uitgawes in die land.

Volgens Mahlakeng is daar reeds aanduidings dat daar ’n verdere R1 miljard se vrugtelose uitgawes vir die 2015/16-boekjaar gaan wees.

Mahlakeng sê alle plaaslike regeringsdepartemente sal eersdaags voor die komitee verskyn om rekenskap van hul finansies te gee.

Die swempet-haartoets is ook ‘rassisme’

Saint Michael’s School for Girls (SMS) in Bloemfontein kon nie ‘n erger week gekies het vir ‘n netheidtoets van swart leerlinge se wolklosse nie.

Leerlinge by Pretoria Girls High School is in opstand oor die “polisiëring” van kroeshare en die bohaai het nou oorgespoel na die Engelse meisiesskool in Bloemfontein.

Aangehits deur die ophef op sosiale media en rasbyters, het die meisies per SMS Woensdagoggend afgespreek om ‘n protes van hul eie te hou en buite die skool te betoog.

Hul weiering om klasse by te woon, en hul krygskrete buite die skoolhekke met ondersteuning van swart ouers, het glo die ingryping deur die Vrystaatse Onderwysdepartement genoop.

Dit kom nadat die skool een van sy netheidtoetse gehou het wat behels dat ‘n swempet oor die koppe van swart leerlinge getrek word om te sien of dit pas.

Swart meisies word nie toegelaat om hul wolle in die natuurlike toestand te dra nie, omdat dit slordig lyk.

Wit meisies word ook nie toegelaat om hul hare los en slordig te dra nie.

Tradisionele “swart” haarstyle soos kopvelvlegsels of “dreadlocks” [koekhaarstringe] word ook nie toegelaat by sekere skole nie.

Dit beteken dat swartes se enigste ander opsie chemiese haarbehandelings is as hulle nie hul wolle kort wil dra nie.

Volgens die departement se Howard Ndaba, is hierdie reëls reeds deel van dissiplinêre kode van die skool vir die afgelope 20 jaar. Maar volgens swart leerlinge by die skool word die swempettoets net op swartes toegepas.

“Hulle sit die swempet op hul hare, en indien die swempet jou kop nie pas nie, beteken dit dat jou hare nie voldoen aan die vereiste standaarde van die skool nie. Jy word dan gevra word om jou hare te sny of iets te doen met jou hare,” het Ndaba gesê.

Ndaba sê die departement ondersoek bewerings dat slegs swart leerlinge getoets word.

Die voorsitter van Saint Michael se beheerliggaam, Brian Sweetlove, ontken dat ras ‘n rol speel in die toets of regulasies.

“Die toets is, of die hare in ‘n swempet pas en of die hare ‘n “Basher” (strooihoed) toelaat. Dit maak nie saak hoe lank dit is nie. Dit maak nie saak hoe dik dit is nie en dit maak nie saak oor die styl nie. Dit is nie ‘n wit of swart kwessie nie. Dit gaan oor die hoeveelheid hare wat kan inpas in ‘n swempet,” het hy gesê.

Sy verklarings het reeds op dowe swart ore geval. Die Vrystaatse departement van onderwys het die haarbeleid reeds opgehef terwyl die ondersoek duur.

Rasbyters het die skool ook van verdere “rassisme” beskuldig nadat `n onderwyser na bewering gesê het dat swart kinders soos ape optree.

Die departement van onderwys het bevestig dat die haarbeleid wel deel van die skool se gedragskode is, maar ondersoek nou aantygings dat net swart meisies daaraan onderwerp is.

UKZN vrees nog geweld na koffiewinkel afbrand

‘n Koffiewinkel is Maandagaand by die Howards kollege-kampus van die Universiteit van Kwa Zulu-Natal aan die brand gesteek.

Die universiteit weier egter om oproerige studente die skuld te gee, vermoedelik uit vrees vir nog geweld en brandstigting.

Die woordvoerder sê nogtans indien dit die geval is dat studente betrokke is, sal hulle die gevolge van hul optrede moet dra.

Klasse het Maandag hervat nadat lesings op al vyf kampusse vir ‘n week en ‘n half opgeskort is. Swart studente eis dat klasgeld nie aanstaande jaar verhoog word nie.

Veiligheid is intussen op kampusse verskerp.

Die universiteit het ‘n beroep op studente gedoen om klasse by te woon en met voorbereidings vir die eksamen te begin.

Die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Blade Nzimande, het verlede week aan die parlement gesê hy sal binnekort aankondig hoeveel geld universiteite vir die 2017 akademiese jaar sal kry.

Die regering sal sowat R60 miljard moet opdok as die instellings nie hul fooie aanpas nie.

Tien vas oor hondegeveg

Tien mense is in Dobsonville in Soweto in hegtenis geneem nadat hulle by ‘n hondegeveg betrokke was, het Netwerk24 berig.

Volgens die DBV se Spesiale Ondersoekeenheid is nege beseerde Amerikaanse veghonde tydens die klopjag gered.

Die diere se eienaars het van die toneel van die hondegeveg gevlug, maar is later deur polisie in hegtenis geneem.

Die DBV moes dadelik noodbehandeling op die beseerde diere toepas.

Kriminele aanklagte kragtens die Dierebeskermingswet is teen al die betrokkenes gelê. Daar word vermoed dat sommige van die honde gesteel is.

Moordsaak teen ANC-kandidaat uitgestel

Die saak teen die ANC-wykskandidaat wat teregstaan op die moorde op DA-raadslid Johannes Baaitjies van die Kgatelopele Munisipaliteit en sy kollega, is Maandag in die Postmasburg landdroshof tot 22 September uitgestel.

Die Valke se Philani Nkwalase, sê Zoniselo Magawu sal dan in die Daniëlskuil-landdroshof amptelik om borgtog aansoek doen.

Baaitjies en sy sakevennoot, Shuping Nosi, is sowat twee weke gelede op die hoofpad tussen Postmasburg en Daniëlskuil in die Noordkaap aangeval.

Baaitjies is op die toneel dood, terwyl Nosi verlede Dinsdag in ‘n Kimberley-hospitaal beswyk het.

Magawu bly in aanhouding.

Volgens die Mercury-koerant, was die totale aantal politieke sluipmoorde net in KwaZulu-Natal voor die munisipale verkiesing in Augustus reeds 12, met vier in Pietermaritzburg, twee in Newcastle en die res uit ander dele van die provinsie.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sê 18 gevalle van polities-verwante moorde is aangemeld tussen 1 Februarie en 5 Augustus 2016.

Die oortreding wat die meeste aangemeld is, is intimidasie, maar het slegs gelei tot 29 formele klagtes. ‘n Yslike 110 gevalle van opsetlike saakbeskadiging aangemeld.

Onder die slagoffers van politieke geweld was Thembi Mbongo, 35, ‘n kandidaat vir Wyk 6, buite Osizweni naby Newcastle. Sy is voor haar man en kinders doodgeskiet op 2 Julie.

Haar moordenaars het aan die deur van haar huis geklop en gevra om met haar te praat. Hulle verkeer steeds op vrye voet.

Politieke moorde is nie nuut in Suid-Afrika nie, maar met die aandag wat iemand soos Janusz Walus geniet, bly die openbare mening onder die indruk dat dit seldsaam is en slegs deur wittes gepleeg word wat gekant is teen die nuwe swart regering.

Walus het Chris Hani, terroris en Kommunisteleier om die lewe gebring, maar ten spyte daarvan dat Walus parool moet ontvang, weier die ANC om hom tegemoet te kom.

In KwaZulu-Natal alleen is daar reeds 450 politieke moorde aangeteken tussen 1994 en 2013. Minder as een uit tien van hierdie moordondersoeke het gelei tot suksesvolle veroordelings.

Die polisie het 56 gebiede in Limpopo, 40 in KwaZulu-Natal, 36 in Gauteng, 30 in Noordwes, 25 in die Wes-Kaap, 23 in die Oos-Kaap, 12 in Mpumalanga, sewe in die Noord-Kaap en drie in die Vrystaat geïdentifiseer waar sulke politieke moorde voorkom.

Dept. van wetenskap en tegnologie bekyk Afrikahare en ‘verslappers’

Met die jongste rasseherrie rondom haarreëls by Pretoria Girls High wat teen swartes sou diskrimineer, het Suid-Afrika se departement van wetenskap en tegnologie gister ‘n hele konferensie oor Afrikahare en sogenaamde “haarverslappers” aangebied. Dit is middels waarmee swart vroue hul hare behandel om dit reguit soos Westerse hare te maak.

Ander middels wat by die konferensie in die Sheratonhotel in Pretoria bespreek is, was velbleikmiddels waarmee swart vroue hul velle probeer ligter maak.

‘n Swart aktrise, Florence Masebe, het gesê: “Ek behoort met rus gelaat te word om die pragtige persoon te wees wat ek wil wees.”

Volgens Masebe het sy as aktrise “probleme in die vermaaklikheidsbedryf ervaar”, vanweë haar donker vel en tipiese Afrikakroes.

“As jy in die grimeerkamer beland, laat hulle jou voel asof daar iets fout is met die vel wat God jou gegee het,” sê sy. Dieselfde “paniekerige kyk” kan waargeneem word wanneer haar “natuurlike hare” in ‘n kapsel gevorm moet word.

Masebe beweer ook dat “die werklikheid in die vermaaklikheidsbedryf” is dat swart vroue met ligte velle vir rolle verkies word omdat ‘n donker vel nie by die “skoonheidsbomvoorkoms” pas nie.

Toe Masebe ‘n fotosessie vir een van haar televisieprogramme bywoon, is sy gevra om ‘n pruik te dra aangesien dit ‘n “glansfotosessie” was- met die implikasie dat haar swart kroes nie “glansryk” was nie.

Ander sprekers by die konferensie het dokters en wetenskaplikes ingesluit wat al navorsing oor die verskynsels van velbleikmiddels en haarverslappers gedoen het.

Professor Ncoza Dlova, hoof van die die departement dermatologie aan die Universiteit van Kwazulu-Natal, beweer dat swart vroue al bleikmiddels gebruik sedert die 1960’s.

“Deesdae gebruik hulle dié rome oral op hul lywe, anders as vantevore, toe dit slegs op die gesig en die nek gebruik is,” het Dlova gesê.

Een van die uitwerkings van die rome is okronose (skade aan die vel), wat onherroepelik is.Professor Nonhlanhla Khumalo van die Universiteit van Kaapstad het gevallestudies en kliniese navorsing oor die risiko’s van haarverslappers onderneem.Volgens haar is haarverslappers in die vroeë 1900’s deur ‘n swart Amerikaner, Garrett Augustus Morgan, uitgevind. Die produk het natriumhidroksied bevat, en tans bevat verslappers steeds dié middel.

Khumalo het gesê: “Natriumhidroksied verhoog die pH-vlakke van jou vel. ‘n Gesonde pH is 6, of laer as 7, maar die verslappers (wat natriumhidroksied bevat) verhoog jou pH-vlakke na 14.

“‘n pH-vlak van 14 word as verwerend beskou. Dan sit jy ‘n neutraliseerder (gewoonlik in sjampoevorm) in om die pH-vlak af te bring en jy kry jou hare permanent reguit.

“Maar alopesie (haarverlies) verhoog met 30 persent as ‘n vrou haarverslappers gebruik.”

Khumalo het ook gewaarsku dat verslappers vir kinders presies dieselfde uitwerking as dié vir volwassenes het.