Met die jongste rasseherrie rondom haarreëls by Pretoria Girls High wat teen swartes sou diskrimineer, het Suid-Afrika se departement van wetenskap en tegnologie gister ‘n hele konferensie oor Afrikahare en sogenaamde “haarverslappers” aangebied. Dit is middels waarmee swart vroue hul hare behandel om dit reguit soos Westerse hare te maak.
Ander middels wat by die konferensie in die Sheratonhotel in Pretoria bespreek is, was velbleikmiddels waarmee swart vroue hul velle probeer ligter maak.
‘n Swart aktrise, Florence Masebe, het gesê: “Ek behoort met rus gelaat te word om die pragtige persoon te wees wat ek wil wees.”
Volgens Masebe het sy as aktrise “probleme in die vermaaklikheidsbedryf ervaar”, vanweë haar donker vel en tipiese Afrikakroes.
“As jy in die grimeerkamer beland, laat hulle jou voel asof daar iets fout is met die vel wat God jou gegee het,” sê sy. Dieselfde “paniekerige kyk” kan waargeneem word wanneer haar “natuurlike hare” in ‘n kapsel gevorm moet word.
Masebe beweer ook dat “die werklikheid in die vermaaklikheidsbedryf” is dat swart vroue met ligte velle vir rolle verkies word omdat ‘n donker vel nie by die “skoonheidsbomvoorkoms” pas nie.
Toe Masebe ‘n fotosessie vir een van haar televisieprogramme bywoon, is sy gevra om ‘n pruik te dra aangesien dit ‘n “glansfotosessie” was- met die implikasie dat haar swart kroes nie “glansryk” was nie.
Ander sprekers by die konferensie het dokters en wetenskaplikes ingesluit wat al navorsing oor die verskynsels van velbleikmiddels en haarverslappers gedoen het.
Professor Ncoza Dlova, hoof van die die departement dermatologie aan die Universiteit van Kwazulu-Natal, beweer dat swart vroue al bleikmiddels gebruik sedert die 1960’s.
“Deesdae gebruik hulle dié rome oral op hul lywe, anders as vantevore, toe dit slegs op die gesig en die nek gebruik is,” het Dlova gesê.
Een van die uitwerkings van die rome is okronose (skade aan die vel), wat onherroepelik is.Professor Nonhlanhla Khumalo van die Universiteit van Kaapstad het gevallestudies en kliniese navorsing oor die risiko’s van haarverslappers onderneem.Volgens haar is haarverslappers in die vroeë 1900’s deur ‘n swart Amerikaner, Garrett Augustus Morgan, uitgevind. Die produk het natriumhidroksied bevat, en tans bevat verslappers steeds dié middel.
Khumalo het gesê: “Natriumhidroksied verhoog die pH-vlakke van jou vel. ‘n Gesonde pH is 6, of laer as 7, maar die verslappers (wat natriumhidroksied bevat) verhoog jou pH-vlakke na 14.
“‘n pH-vlak van 14 word as verwerend beskou. Dan sit jy ‘n neutraliseerder (gewoonlik in sjampoevorm) in om die pH-vlak af te bring en jy kry jou hare permanent reguit.
“Maar alopesie (haarverlies) verhoog met 30 persent as ‘n vrou haarverslappers gebruik.”
Khumalo het ook gewaarsku dat verslappers vir kinders presies dieselfde uitwerking as dié vir volwassenes het.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.