MIV-Vigslyers kry van vandag dadelik behandeling

Suid-Afrikaners met MIV begin van vandag af met behandeling sodra hulle gediagnoseer is.

Die behandeling hang nie meer af van hul CD-4 telling nie.

Dit is in ooreenstemming met die Wêreldgesondheidsorganisasie se nuwe MIV-riglyne wat bepaal dat pasiënte dadelik behandeling moet kry sodra daar vasgestel is dat hulle die siekte het.

Vroeër is pasiënte eers behandel nadat hul CD-4 telling laer as 500 gedaal het. Suid-Afrika het die wêreld se grootste program vir die behandeling van MIV met meer as drie miljoen mense.

Die adjunk-direkteur vir MIV/Vigs by die Departement van Gesondheid, dokter Yogan Pillay sê die land kan nie bekostig om pasiënte nié te behandel nié.

Hy sê een van die stappe wat geneem word, is om stabiele pasiënte na ondersteunersgroepe oor te dra waar hul medikasie by hulle afgelewer sal word.

Dokters sal nie meer kan werk waar hulle kies nie

doktersPresident Jacob Zuma het reeds onderafdelings van die Wet op Nasionale Gesondheid onderteken wat kan verhoed dat dokters en ander gesondheidswerkers private praktyke open waar hulle wil.

Alle gesondheidswerkers – soos tandartse, dieetkundiges en fisioterapeute – wat ‘n private praktyk wil oopmaak, sal moet aansoek doen by die Departement van Gesondheid om hulle toestemming te kry vir ‘n sertifikaat van behoefte.

Die sertifikaat sal verpligtend wees vanaf April 2016 .

Artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheid bestaan reeds 10 jaar​​, maar is nie in die wet onderteken tot die einde van verlede jaar nie.

Dit sal in April in werking tree, maar gesondheidswerkers het twee jaar om die sertifikaat van behoefte te bekom .

Die doel van die sertifikaat is om ‘n “billike verspreiding” van dokters en ander gesondheidswerkers regoor die land te verseker.

Gesondheidswerkers kan tot vyf jaar tronkstraf of ‘n boete ontvang as hulle ‘n private praktyk bedryf sonder ‘n sertifikaat na April 2016.