UKZN vrees nog geweld na koffiewinkel afbrand

‘n Koffiewinkel is Maandagaand by die Howards kollege-kampus van die Universiteit van Kwa Zulu-Natal aan die brand gesteek.

Die universiteit weier egter om oproerige studente die skuld te gee, vermoedelik uit vrees vir nog geweld en brandstigting.

Die woordvoerder sê nogtans indien dit die geval is dat studente betrokke is, sal hulle die gevolge van hul optrede moet dra.

Klasse het Maandag hervat nadat lesings op al vyf kampusse vir ‘n week en ‘n half opgeskort is. Swart studente eis dat klasgeld nie aanstaande jaar verhoog word nie.

Veiligheid is intussen op kampusse verskerp.

Die universiteit het ‘n beroep op studente gedoen om klasse by te woon en met voorbereidings vir die eksamen te begin.

Die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Blade Nzimande, het verlede week aan die parlement gesê hy sal binnekort aankondig hoeveel geld universiteite vir die 2017 akademiese jaar sal kry.

Die regering sal sowat R60 miljard moet opdok as die instellings nie hul fooie aanpas nie.