Slegs 57% van mense in Suid-Afrika werk

Die statistikus-generaal Pail Lohohla, het gister Suid-Afrika se droewige indiensnemingsyfers bekendgemaak. Nie net is werkloosheid hoog nie, maar vele mense is ook al baie lank sonder werk, wat van strukturele werkloosheid getuig.

“Die verhaal in Suid-Afrika is dat ons in ‘n hoëwerkloosheidstoestand verkeer, oor ‘n baie lang tydperk, vanaf 2008, maar dit strek tot 2001 terug,” het hy tydens die vrystelling van Statistiek Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingsopname in Pretoria gesê.

“Hierdie toestand duur reeds vir geruime tyd. Diegene wat in nie-permanente werke verkeer, is regtig kwesbaar… As jy nie werk nie, verloor jy jou vaardighede en jy verloor jou vermoë om te presteer, en dan raak jy minder diensbaar.”

Diegene wat nie werk nie bevind hulle in ‘n afwaartse siklus en as gevolg daarvan voel hulle die naderende uitwerking van armoede.

Lehohla sê dat langtermynwerkloosheid ‘n probleem is wat beleidmakers in die gesig staar as hulle sou poog om werkloosheid op te los.

“Ons sien dat 1,4 miljoen mense reeds langer as vyf jaar sonder werk sit. Die vraag is: kan sulke mense gerehabiliteer word?” het Lehohla tydens sy aanbieding gevra.

“Beleid behoort nou te fokus op diegene wat reeds langer as vyf jaar geen werk het nie. Is daar ‘n klein tree’tjie na redding of is jy (tot werkloosheid) gevonnis?”

‘n Totaal van 1,1m mense is reeds vir een tot drie jaar sonder werk, 1m vir drie tot vyf jaar, 739 000 vir ses maande tot ‘n jaar, en 737 000 vir minder as ses maande.

“Wat behoort ons te prioritiseer? Plaas ‘n mens die klem op diegene wat oor die kort termyn werkloos is of op diegene wat reeds oor die lang termyn geen werk het nie?” vra Lehohla.

Wat werklose swartmense betref, bevind 67,3% hulle in langtermynwerkloosheid, asook 64,8% van werklose Indiërs en Asiërs, 59,9% van werklose kleurlinge en 50,1% van werklose blankes.

Wat provinsies betref, beskik die Vrystaat oor die hoogste werkloosheidsyfer, op 34,6%, gevolg deur die Noord-Kaap (29,7), Oos-Kaap (29,5), Mpumalanga (29,3), Noordwes (26,8), Gauteng (24,6), Kwazulu-Natal (24,1), Wes-Kaap (23,6) en Limpopo (15,9).

Hoe lyk Suid-Afrika se arbeidsmag?

Die potensiële arbeidsmag van Suid-Afrika bestaan uit 35,5 miljoen mense wat tussen die ouderdom van 15 en 64 verkeer. ‘n Kleiner totaal van 20,3m maak egter volgens Statistiek Suid-Afrika die werklike arbeidsmag uit. In totaal het 15,1m mense tydens die derde kwartaal van 2014 oor werk in Suid-Afrika beskik, terwyl 5,2m werkloos was.

Uit die 15,1m wat in diens was, het 10,8m in die formele sektor gewerk en 2,4m in die informele sektor. ‘n Totaal van 670 000 was in die landbousektor in diens terwyl 1,29m in privaat huishoudings gewerk het.

Die arbeidsmagdeelnamekoers, wat uit die totale arbeidsmag gedeel deur die bevolking van werkende ouderdom bestaan, was 57,1%, wat ‘n daling van 0,2% vanaf die tweede kwartaal verteenwoordig.

Die opnamekoers, wat die aantal werkers gedeel deur die bevolking van werkende ouderdom verteenwoordig, was 42,6%, wat ‘n daling van 0,1% vanaf die tweede kwartaal verteenwoordig.

Nog indiensnemingstatistieke

Só lyk die persentasies werknemers in verskillende sektore:

Gemeenskaps- en maatskaplike dienste: 23,2%

Handel: 21,1%

Finansiële dienste: 13,4%

Vervaardiging: 11,5%

Boubedryf: 8,5%

Privaat huishoudings: 7,8%

Vervoer: 6,2%

Landbou: 4,5%

Mynbou: 2,9%

Nutsmaatskappye: 0,8%

Uit die bevolking op werkende ouderdom, was 27,8% van vroue amptelik werkloos, wat ‘n daling van 0,3% vanaf die tweede kwartaal verteenwoordig, terwyl 23,4% van mans werkloos was.

Die definisie van ‘n werklose is diegene tussen 15 en 64 jaar wat aktief na werk op soek is of wat gepoog het om ‘n onderneming in die weke voor Statistiek SA se opname te begin.

As die uitgebreide definisie van werkloosheid gebruik word, is 39,9% van vroue en 32,3% van mans werkloos.

Twee stropers doodgeskiet

Twee renosterstropers is doodgeskiet en ses is in hegtenis geneem, het RSG berig.

SanParke sê in die eerste voorval het veldwagters van Krokodilbrug op drie vermeende renosterstropers afgekom.

Hulle is agterna gesit en twee is noodlottig gewond, terwyl die derde oor die grens na Mosambiek gevlug het.

‘n Jaggeweer, ammunisie en ander toerusting is gekry.

In die tweede operasie is ses verdagtes buite die westelike grens van die Nasionale Krugerwildtuin deur SanParke se Omgewingsmisdaad-ondersoekeenheid in hegtenis geneem.

Daar is beslag gelê op ‘n jaggeweer, ammunisie en twee motors.

Die inhegtenisnemings is die jongste in twee weke van suksesvolle operasies, waartydens 35 vermeende renosterstropers aangekeer is.

Louis Trichardt: Hoes en betaal is die wet van Transvaal

Die voorsitter van die Louis Trichardt-voorsittersvereniging (VV), André Naudé het die skikking verwelkom om die dorp se naam in ere te herstel.

Hy sê inwoners sal nou daarop fokus om die erfenis van die dorp te bewaar.

Volgens die skikking sal Makhado in Limpopo weer as Louis Trichardt bekendstaan.

Die minister van kuns en kultuur en die Geografiese Pleknaamraad het gister buite die hof met die vereniging geskik.

Die Hooggeregshof in Pretoria het daarna die besluit om die dorp se naam na Makhado te verander, ter syde gestel.

Die skikking volg nadat die Pleknaamkomitee nie ‘n rekord van voldoende konsultasie oor die naamsverandering kon verskaf nie.

Naudé sê die komitee het dit nie in ag geneem dat die dorpsnaam reeds meer as 110 jaar oud is nie.

Die minister (eerste respondent), die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad (tweede respondent) en die Makhado Munisipaliteit (derde respondent) het die stryd om Louis Trichardt se naam na Makhado te verander, Donderdagoggend gewonne gegee.

Die naam Louis Trichardt is in die Staatskoerant van 14 Oktober 2011 (Staatskoerant 34670, Kennisgewing 851) as Makhado gepubliseer.

Ná aanleiding hiervan het die Voorsittersvereniging (VV) ‘n hersieningsaansoek gebring om dié publikasie tersyde te stel.

Ná maande se gespook om dokumentasie uit die respondente te kry oor die Minister van Kuns en Kultuur se besluit om die naam te verander, het die VV ‘n aansoek gebring om die drie respondente te verplig om op 30 Oktober 2014 die nodige dokumentasie te verskaf.

“Ons het hulle verplig om die dokumentasie beskikbaar te stel waarvolgens die Minister se besluit geneem het om die naam te verander. Hulle kon dit nie beskikbaar stel nie. Hulle het geweet ons gaan die bevel kry en het besluit om die handdoek in te gooi. Hulle het besef hulle kan nie met die saak voortgaan nie, want hulle het nie die dokumentasie gehad waarop die minister se besluit gebaseer was nie,” het Naudé gesê.

Die drie respondente het by wyse van ‘n ooreenkoms die handdoek ingegooi en die publikasie van die naam Makhado in die Staatskoerant is deur regter Da Silva tersyde gestel.

Die drie respondente het ook aangebied om al die verspilde koste van die applikante (VV) te betaal. Dit is ook deel gemaak van die hofbevel.

 

Die vark in die Woolworths-verhaal

‘n Varkkop in Woolworths het tot ‘n herrie gelei.

Die studenteliggaam, Cosas, het ‘n lid geskors wat verlede week ‘n varkkop in die Kosher-afdeling van die winkelketting gelaat het.

Die student het die varkkop in ‘n Woolworths-winkel in Kaapstad gesit waar die Joodse gemeenskap graag koop.

Die optrede het gelei tot talle klagtes van Jode sowel as Moslems.

‘n Lid van die Joodse Raad vir Afgevaardigdes het gesê dit is erger as die die vervolging van Jode deur Nazi’s. Woolworths verkoop varkvleis in byna al hul ander winkels.

Cosas se adjunk-president, Tshepo Louw sê die voorval is betreurenswaardig.

Hy sê dit was nie op spesifieke gemeenskappe gerig nie, maar is deel van hulle boikot-veldtog teen Woolworths, om die kleinhandelaar te dwing om bande met Israelse verskaffers te verbreek.

Cosas is gekant teen Israel se hardhandige optrede teen Palestyne in Gasa.

Swede het intussen dié week die eerste Europese land geword wat ‘n Palestynse staat ondersteun.

Oudtshoorn in waterkrisis gedompel

Die Oudtshoorn-munisipaliteit in die Klein Karoo, sê hulle het die nodige stappe gedoen met om kritiese watertekorte die hoof te bied nadat vandale boorgatstasies beskadig het.

Die dorp is afhanklik van boorgatwater om sy huidige waterbehoeftes aan te vul.

Die optrede deur vandale het nou die watersituasie in dorpe soos Dysselsdorp en De Rust vererger.

Munisipale vragmotors vervoer water na inwoners wat geraak word.

Waterbesparingsmaatreëls moet intussen in hierdie gebiede geïmplementeer word.

Die munisipaliteit se waarnemende direkteur van tegniese dienste, Paul Muller sê: “Die watertekortsituasie in Dysselsdorp, De Rust en die Klein Karoo se landelike tydelike area-aanbodskema  het kritiek geword.”

“Waterbesparingsmaatreëls moet in hierdie gebiede geïmplementeer word. Dit is te danke aan vandalisme van munisipale eiendom, verkwisting en uiters hoë gebruik van water sowel as die skade aan toerusting,” het Muller gesê.

Hy het nie die sondebokke uitgewys nie.

Nuwe wangedragklag teen EFF-hoofsweep

Die hoofsweep van die EFF, Floyd Shivhambu, staar ‘n nuwe klag van wangedrag in die gesig.

Die klagte is na die parlementêre bevoegdhede en voorregte-komitee verwys.

Die speaker van die parlement, Baleka Mbete het die klagte na die komitee verwys nadat Shivhambu ‘n vuil vingerteken gegee het.

Shivhambu het sy middelvinger vir adjunk-president Cyril Ramaphosa op 17 Setember gewys toe dié vrae in die parlement beantwoord het.

Hy het ook tydens die geleentheid vir Ramaphosa as ‘n moordenaar uitgeskel.

Die komitee sê die klagte sal gevoeg word by die een waarop hy en 19 ander lede teregstaan nadat hulle ‘n ‘n antwoordsessie van president Zuma ontwrig het.

Opposisie se Nkandla-veldtog stort in duie

Die parlementêre adhoc-komitee oor Nkandla het president Jacob Zuma in sy voorlopige verslag kwytgeskel van enige ongerymdhede met die opgraderings by sy privaat woning.

Mathole Motshega sê die “pay-back-veldtog” deur opposisie partye het in duie gestort.

Opposisiepartye het daarop aangedring dat die president ‘n gedeelte van die geld wat op Nkandla se opgraderings spandeer is, terugbetaal.

Maar Woensdag het die ANC die Wes-Kaapse hooggeregshof se beslissing tussen die DA en die SABC-voorsitter in die opposisie se neuse gevryf oor Nkandla.

Luidens die beslissing strek die magte van die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, nie so ver as wat die DA beweer tov Nkandla nie.

Die hof het bevind dat die remedieerende optrede deur die Openbare Beskermer nie bindend is nie.

Die ANC-lid van die komitee, Motshega is van mening dat die hofuitspraak die komitee se bevindinge regverdig.

“Die uitspraak sê as die Grondwet in die vooruitsig gestel het dat die remedieerende optrede van die Openbare Beskermer bindend moet wees, sou dit so gesê het. Dit sê nie so nie en die Wet op die Openbare Beskermer sê ook nie so nie.”

“Die terugbetaalveldtog het dus in duie gestort as gevolg van die hofbevel en die briewe wat geskryf is [deur Madonsela], het hul geldigheid verloor. So ek is bly dat die regbank van hierdie land ons regtig behoorlik gelei het. Ons sal in staat wees om vorentoe te beweeg met spoed sonder enige verwarring van enigiemand se kant.”

Die komitee wat slegs uit ANC-lede bestaan nadat die opposisie uit die komitee gestap het, het weer begin om sy voorlopige verslag te bespreek.

‘n Komiteelid, Mamoloko Kubayi, sê president Zuma was nie deel van ongerymdhede nie, maar dat die argitek van die projek, Minenhle Makhanya, onreëlmatig aangestel is.

Hy sê dit is duidelik dat die president nie die opgraderings versoek het nie.

Berigte oor ebola-slagoffer in Durban misleidend

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes sê berigte dat ‘n ebola-slagoffer in Durban aangemeld is, is misleidend.

Volgens die Instituut is die man se simptome nié dié van ebola nie, hy is voorts nooit daarvoor getoets nie en is ook nie opgeneem nie.

Luidens verskeie berigte is ‘n man vir toetse vir die ebola-virus in Durban se Addington-hospitaal opgeneem.

Daar is berig dat die man tyd in Sierra Leone deurgebring het, een van die state in Wes-Afrika waar die pandemie uitgebreek het.

Dié nuus het konsternasie by die hospitaal veroorsaak.

Die man werk as ‘n vlootbestuurder vir ‘n maatskappy in Sierra Leone en daar is volgens die Instituut geen risiko dat hy aan die virus blootgestel is nie.

Pick n Pay, Land Rover oorweeg boikot van Afrikaanse fees oor Steve

Die supermarkketting Pick n Pay en Land Rover bevind hulle tans midde-in die stryd rondom die sanger Steve Hofmeyr aangesien daar druk deur anti-Afrikaanse elemente op hulle toegepas word om hulle aan die “Afrikaans is groot”-fees te onttrek weens Steve se deelname daaraan.

Conrad Koch, die vloekende, linkse buikspreker met sy pop Chester Missing, het vandag ‘n rubriek in The Times met die titel “Dear white supremacists…” gepubliseer waarin hy Pick n Pay en Land Rover aanmaan om nie net Hofmeyr nie, maar sommer die hele Afrikaanse fees te boikot.

Koch se eerste “oorwinning” was toe hy die motorhandelaar Williams Hunt kon oorreed om Steve Hofmeyr se geborgde bakkie in Port Elizabeth te onttrek vanweë sy “apartheidtwiet” waarin hy gesê het dat swartmense die “argitekte (of mede-argitekte) van apartheid” was.

Nadat Conrad Koch die telefoonnommer van Williams Hunt op sy Twitter-rekening geplaas het, het die handelaar blykbaar verskeie onstoke oproepe van linkses ontvang wat eis dat hy sy borgskap van ‘n voertuig vir Hofmeyr moet onttrek. Omdat die handelaar “neutraal” wou bly, het hy Hofmeyr gevra om die voertuig ‘n dag vroeër terug te gee.
Pick n Pay het op Koch se oproep gereageer deur te sê:

“Pick n Pay se reputasie deur rassisme in die openbaar en sterk teen te staan, spreek vanself. Ons is ‘n gekontrakteerde borg van Afrikaans is Groot en ondersteun Afrikaanse musiek, maar nie individue nie. Ons is nie betrokke by die organisasie of die proses om kunstenaars te kies nie.”

Koch, wat as buikspreker bekend is met sy pop, “Chester Missing”, het geantwoord: “Het julle verbind met ‘n apartheidsontkenner. Dit gee sy sienings geloofwaardigheid.”

Land Rover het nog nie in die media gereageer nie.

Louis Trichardt kry sy naam terug na hofstryd van 10 jaar!

Die vreugdevure brand vandag hoog in die dorpie Louis Trichardt waar die 10 jaar lange hofstryd teen die ANC-munisipaliteit se naamsverandering vandag op ‘n oorwinning uitgeloop het: die dorp kry sy ou, vertroude Voortrekkernaam weer terug!

Die hooggeregshof van Gauteng in Pretoria het vandag uitspraak in die guns van die dorp se voorsittersvereniging gegee en die munisipaliteit beveel om die dorp se naam te herstel.

'n Naambord van Louis Trichardt wat in 2007 na 'n uitspraak van die Appèlhof herstel is, maar intussen weer verander is
‘n Naambord van Louis Trichardt wat in 2007 na ‘n uitspraak van die Appèlhof herstel is, maar intussen weer verander is

Die ANC, maar ook die polities korrekte media in Suid-Afrika, het begin om in 2003 die naam “Makhado” vir die dorp te gebruik. In dié jaar is daar ook ‘n summiere naamsverandering in die Staatskoerant gepubliseer, sonder dat die dorp se inwoners daaroor geraadpleeg is.

Louis Trichardt is na die Voortrekkerleier met dié naam vernoem, wat ook dagboek van sy trek gehou het en daarom ook ‘n groot bydrae tot die Afrikanergeskiedskrywing gelewer het.

Louis Trichardt se voorsittersvereniging, wat ‘n petisie met 87 500 name opgestel het, het namens die inwoners die stad van die sogenaamde “Makhado” gedagvaar.

Onder andere het die voorsittersvereniging in die hof aangevoer dat die inwoners nie geraadpleeg is nie en dat die Pleknaamraad geen aanbeveling teenoor die destydse minister van kuns en kultuur gemaak het alvorens die naam van die borde verwyder is nie.

As deel van die protesaksies, is ‘n standbeeld van “hoofman Makhado” op die dorp destyds oranje, wit en blou geverf en ook “ontvoer” sodat die stadsraad dit op ‘n veilige plek moes aanhou en konstant moes bewaak. Op ‘n stadium is die weermag en die nasionale intelligensiediens “ontplooi” om die verwers vas te trek, dog sonder sukses.