Die supermarkketting Pick n Pay en Land Rover bevind hulle tans midde-in die stryd rondom die sanger Steve Hofmeyr aangesien daar druk deur anti-Afrikaanse elemente op hulle toegepas word om hulle aan die “Afrikaans is groot”-fees te onttrek weens Steve se deelname daaraan.
Conrad Koch, die vloekende, linkse buikspreker met sy pop Chester Missing, het vandag ‘n rubriek in The Times met die titel “Dear white supremacists…” gepubliseer waarin hy Pick n Pay en Land Rover aanmaan om nie net Hofmeyr nie, maar sommer die hele Afrikaanse fees te boikot.
Koch se eerste “oorwinning” was toe hy die motorhandelaar Williams Hunt kon oorreed om Steve Hofmeyr se geborgde bakkie in Port Elizabeth te onttrek vanweë sy “apartheidtwiet” waarin hy gesê het dat swartmense die “argitekte (of mede-argitekte) van apartheid” was.
Nadat Conrad Koch die telefoonnommer van Williams Hunt op sy Twitter-rekening geplaas het, het die handelaar blykbaar verskeie onstoke oproepe van linkses ontvang wat eis dat hy sy borgskap van ‘n voertuig vir Hofmeyr moet onttrek. Omdat die handelaar “neutraal” wou bly, het hy Hofmeyr gevra om die voertuig ‘n dag vroeër terug te gee.
Pick n Pay het op Koch se oproep gereageer deur te sê:
“Pick n Pay se reputasie deur rassisme in die openbaar en sterk teen te staan, spreek vanself. Ons is ‘n gekontrakteerde borg van Afrikaans is Groot en ondersteun Afrikaanse musiek, maar nie individue nie. Ons is nie betrokke by die organisasie of die proses om kunstenaars te kies nie.”
Koch, wat as buikspreker bekend is met sy pop, “Chester Missing”, het geantwoord: “Het julle verbind met ‘n apartheidsontkenner. Dit gee sy sienings geloofwaardigheid.”
Land Rover het nog nie in die media gereageer nie.
