Die lyk van die man wat Saterdag gedurende die Midmar-myl in Howick, KwaZulu-Natal, vermis geraak het, is Donderdagmiddag gevind.
Geen sigbare besering was aan Thabo van Straten (43) se lyk wat dadelik ‘n leidraad kon verskaf tot die oorsaak van sy dood nie.
Van Straten is positief uitgeken aan die resies se registrasiebesonderhede op sy swemklere.
Die polisie se K9-soek-en-reddingspan het die laaste ses dae na Van Straten gesoek.
Kapt. Lolly Moodley, polisiewoordvoerder in Howick, het gesê Van Straten se lyk is Donderdag omstreeks 16:30 gekry. Een van die polisiehonde het hom opgespoor.
Volgens Moodley sal die oorsaak van sy dood eers ná ’n lykskouing bekend wees.
“Die lyk het omtrent 800 m van die beginpunt van die resies gedryf.
Die deel van die dam waar die lyk gevind is, is ongeveer 15,8 m diep.
Die Israelse media is in rep en roer nadat die president van die Europese parlement Israel se waterbeleid bespreek het.
Die president, Martin Schulz, het na die Jode se waterverbruik verwys wat vier keer meer water as die Palestyne kry.
“Hoe kan dit wees dat ‘n Israeliese persoon 70 liter water per dag kan gebruik, maar ‘n Palestynse inwoner net 17 liter?” het Schulz gevra.
Sy toespraak het groot ontevredenheid veroorsaak. Die regse Joodse Tuiste-party het uitgestorm uit die Knesset.
Die voorsitter Naftali Bennett, het gesê die toespraak was “smaaklose propaganda” en sy party eis ‘n verskoning van die president.
Premier Benjamin Netanyahu het Schulz daarvan beskuldig dat hy nie by “die feite” gehou het nie. ‘n Gratis koerant, die Israel HaYom, wat na aan die premier is, het Schultz van “valse laster teen Israel” beskuldig.
Schulz het ook die oprigting van Joodse vestings gekritiseer as ‘n struikelblok vir vrede. Hy het daarop gewys dat die Gasaversperring Israel se veiligheid ondermyn eerder as versterk.
Die meeste koerante het op hul voorblaaie skerp kommentaar gelewer oor die waterverbruiksyfers wat Schulz genoem het.
Verskeie organisasies gemoeid met die Palestynse kwessie, het Schulz egter gelyk gegee.
Volgens Friends of the Earth Middle East toon 2011-statistiek dat in Israel se watergebruik per kapita per dag 250 liter is, teenoor 70 liter in Palestina.
Die Israeliese regte-groep, B’Tselem, het ook gesê dat Joodse burgers baie meer water kry as die Palestynse inwoners in Gasa en aan die Wesoewer.
Volgens die Israeliese nasionale watermaatskappy Mekorot, is die gemiddelde huiswaterverbruik tussen 100 en 230 liter per persoon per dag.
Aan die Wesoewer is dit sowat 73 liter, indien hulle aan die hoofwatertoevoer verbind is. Anders is die inwoners afhanklik van rëenwater en water wat ten duurste by tenkwaens verkoop word.
Die Palestynse Bevrydingsorganisasie het gesê die gemiddelde daaglikse Palestynse huishoudelike verbruik is 70 liter per persoon , terwyl die Wêreldgesondheidsorganisasie ‘n minimum van 100 liter aanbeveel.
“In die suidelike deel van die Wesoewer is daar gemeenskappe wat minder as 15 tot 20 liter per persoon per dag kry,” het die PBO bygevoeg.
In ‘n onderhoud met die Duitse koerant Die Welt Donderdag, het Schulz gesê hy is uit die veld geslaan deur die tirades.
“Die woedende reaksie van sommige parlementslede in Jerusalem het my verras en bekommer,” het hy gesê en bygevoeg dat hy sy toespraak as “pro-Israel” beskou het.
Die gemiddelde verbruik in Gasa is tussen 70 en 90 liter per persoon per dag, maar die kwaliteit van die water is besonder swak, met 90 persent daarvan wat ondrinkbaar is, volgens Wêreldgesondheidsorganisasiestandaarde.
President Jacob Zuma het in sy staatsrede sy kommer uitgespreek oor geweld by protesoptogte.
Die president het ook gesê dat meer gedoen moet word om te verseker dat munisipale werkers beter gekwalifiseer is. Hy het gesê werk behoort nie aan onbekwame mense gegee te word nie.
Alhoewel die reg om te betoog ‘n demokratiese een is, word dit ondermyn deur optrede wat lewens bedreig en eiendom beskadig, het hy gesê.
Zuma sê die groot aantal sogenaamde diensleweringsbetogings word nie alleen die mislukkings van die regering veroorsaak nie. Hy sê dit is juis as gevolg van die regering se sukses in dienslewering dat verwagtinge hoër as ooit is.
Hy het die versekering gegee dat ekonomiese groei die daling in die waarde van die rand en die inflasie-risiko sal teëwerk.
Die geld-eenheid het verlede jaar met meer as 17 persent teenoor die dollar gedaal. Die skerp daling in die waarde van die rand het ook bygedra tot die eerste verhoging in rentekoerse in meer as vyf jaar.
Zuma sê Suid-Afrika word soos ander ontluikende markte negatief geraak deur ekonomiese probleme in die VSA wat aanleiding gegee het tot die verswakking van die rand.
Zuma het in ‘n passievolle pleidooi aan mynbase en vakbonde gesê onnodige stakings lei tot werkverliese.
Hy het van sy geskrewe toespraak afgewyk om mynmaatskappye en werkers aan te moedig om die land se belange voor hul eie te plaas. Die mynbedryf dra R60 miljard aan belasting by.
Die president het die regering se verbintenis tot skaliegasontginning bevestig, tot die ontsteltenis van omgewingsaktiviste.
Zuma se aandrang op opleiding vir handgebaretolke het vir ‘n geskater uit die gehoor gesorg.
Die leier van die IVP, Mangosuthu Buthelezi sê Zuma mislei die land oor die uitgebreide openbare werke program wat ses miljoen werksgeleenthede kan skep. Hy sê dit is tydelike werk, terwyl die land volhoubare werksgeleenthede nodig het.
Die leier van die UDM, Bantu Holomisa, het in sy reaksie die president daarvan beskuldig dat hy nie die werklike uitdagings waarmee gewone mense te kampe het, aangespreek het nie.
Holomisa sê Zuma het geen aandag gegee aan korrupsie, misdaad en ander uitdagings waardeur Suid-Afrika bedreig word nie.
Die leier van die DA, Helen Zille het in haar kritiek ook gekla oor werksgeleenthede wat slegs tydelik van aard is.
Die party se parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko het gesê die land het nie onder president Zuma verbeter nie.
Die leier van COPE, Mosioua Lekota, sê president Zuma se Staatsrede het nie veel inhoud gehad nie. Zuma het in sy toespraak gesê die teenkorrupsiestrategie binne die Staatsektor is besig om vrugte af te werp met die meer as 1.500 amptenare wat afgedank is.
Hy het ook gesê die Nasionale Teenkorrupsie-blitslyn het ook gehelp om meer as R320 miljoen terug te kry. Lekota sê volgens hom misluk die regering in sy stryd teen korrupsie.
‘n Belegging in wildboerdery kan dié van eiendom en die Johannesburgse aandele-indeks oortref, sê wildboere.
Wildboerdery sal na verwagting in die nabye toekoms die plaaslike boerderybedryf oorheers.
‘n Ekonoom in die wildbedryf, Flippie Cloete, het by ‘n boerdedag op Klippan naby Mahikeng in Noordwes uitgewei oor die ekonomiese lewensvatbaarheid van dié soort boerdery.
Cloete sê met die prys van ‘n buffel wat op meer as R20 miljoen geraam word, dui die stygende wildpryse op groei in die wildbedryf.
Die jaarlikse omset het gegroei van R62 miljoen tot R864 miljoen oor die afgelope tien jaar, soos gemeet deur Vleissentraal se veilings, en daar is nog baie potensiaal het ontleders vroeër gesê.
Wiaan van der Linde, eienaar van Winterhoek, ‘n wildplaas buite Kimberley en Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) se direkteur, sê wildboerdery gee ‘n hoër opbrengs per hektaar as enige ander boerdery-aktiwiteit.
“Die meeste mense plaas in elk geval tussen 20-30% van hul beleggingsportefeuljes in riskante beleggings. Hulle kan ‘n opbrengs van 28-42% konserwatief gesproke verwag,” verduidelik hy.
Hoër kapitale belegging is nodig met al die seldsame wildsoorte, soos buffels, renosters, swart rooibokke, swartwitpense en Livingstone-elande.
Dit skep geleenthede vir beleggers wat nie boere is nie, mense soos Cyril Ramaphosa en Johann Rupert. “Die nuwe soort belegger sal ook sien dat ons die huidige hoë vlakke van opbrengs handhaaf,” sê Van der Linde .
Die grootste deel van die inkomste oor die afgelope tien jaar was uit skaars diersoorte ( R788 miljoen) , maar na verwagting sal die prys van koedoes, byvoorbeeld eksponensieel groei.
Eers is daar R7 000 vir ‘n koedoebul betaal, maar nou haal hulle tot R800 000. Dit gaan alles oor die lengte van die horings.
In 2012 het buffels die hoogste gemiddelde prys van enige dier gehaal met meer as R800 000 gemiddeld en 37% van die bedryf se omset.
Dieselfde dier het gemiddeld R610 550 in 2011 en R424 050 in 2010 gekos.
Die gemiddelde prys is egter steeds heelwat minder as die R40 miljoen wat Johann Rupert vir ‘n Kaapse buffelbul uitgehaal het.
Die geroemde en begaafde Afrikanerpianis Ben Schoeman, wenner verskeie internasionale klavierkompetisies, moes van sy konserte afstel nadat sy regterhand beseer is toe hy beroof is.
Schoeman moes sy konserte wat in Februarie en Maart in Durban, Stellenbosch en Johannesburg gehou sou word, uitstel, asook konsertverpligtinge in die buiteland.
Hy is op 31 Januarie in die Britse hoofstad, waar hy tans woon, by ’n ATM beroof en sy hand is beseer.
Hy sou op 27 Februarie met die tjellis Anzél Gerber in die Durbanse stadsaal optree vir die première van die Suid-Afrikaanse komponis Stefans Grové se Concerto vir tjello, klavier en orkes. Gerber sal steeds as solis optree.
Schoeman voltooi tans sy doktorale tesis oor die klaviermusiek van Stefans Grové. Hy is steeds vol vertroue dat hy einde April reeds sy verpligtinge in twee konserte in Kaapstad sal kan nakom.
OR Tambo Internasionale Lughawe is Dinsdagaand in chaos gedompel toe die aanloopbaanligte die gees gegee het.
Talle vliegtuie was gestrand en ander is desnoods toestemming geweier om te land.
Die stukkende ligte sal ondersoek word deur die Lughawensmaatskappy SA .
Acsa se woordvoerder, Unathi Batyashe-Fillis het gesê die ligte van beide die lughawe se aanloopbane het omstreeks 19:00 uitgedoof.
“Die kragtoevoer het weens tegniese probleme afgegaan, wat binne 35 minute opgelos is. Normale bedrywighede het sedertdien hervat,” het sy gesê.
‘n Amptenaar van die lughawe se noodpersoneel het gesê die ligte word deur ‘n rekenaar beheer.
“Ondersoekbeamptes bekyk tans die stelsel om te sien wat verkeerd geloop het,” het hy gesê.
‘n Passasier op die vlug BA6236 van Port Elizabeth het gesê passasiers was “doodstil” toe die vlieënier aankondig dat daar ‘n probleem is en hy nie op OR Tambo kan land nie.
“Toe hy sê die ligte is uit en ons het net ‘n beperkte hoeveelheid brandstof oor, het mense begin bid,” sê die passasier, wat gevra het om anoniem te bly.
Hy het gesê die vliegtuig moes vir ongeveer 10 minute oor die lughawe sirkel voor die vlieënier aangekondig het dat hulle gaan land, het The Times berig.
“Jy kon die spanning voel, jy kon die bekommernis sien op mense se gesigte, veral toe ons die ligte van noodvoertuie langs die aanloopbaan sien.”
In amptelike verklarings is die insident egter onderspeel.
Op die vooraand van president Zuma se staatsrede, wanneer hy die parlement in Kaapstad open, het die Ipsos-prestasiebarometer wat die regering, senior ampsdraers elke ses maande gedoen peil, bevind dat steun die die president lou is.
Zuma sal waarskynlik is sy staatsrede klem lê op die koers wat die regering na die verkiesing wil neem.
Dit sal ook die eerste keer wees dat die president se staatsrede in al die amptelike landstale gehoor kan word.
Parlementslede en gaste sal op die taal van hul keuse kan inskakel nadat nuwe tegnologie in die groot raadsaal aangebring is.
Marknavorsing toon dat in die vyf jaar na die vorige verkiesing minder Suid-Afrikaners voel dat die regering steeds op die regte pad is.
Dié navorsing is in November verlede jaar deur Ipsos gedoen.
Die helfte van Suid-Afrikaanse volwassenes glo dat president Jacob Zuma en sy regering nie hul werk na behore doen nie, terwyl 29 persent glo die Zuma-regering vaar redelik goed, en 17 persent glo dat die president baie goed presteer.
Die direkteur van openbare aangeleenthede van Ipsos, Mari Harris sê die afname was veral die afgelope drie jaar.
Die navorsing is bekendgemaak op die vooraand van president Zuma se staatsrede.
Verskeie strate in en om die parlement sal voor Donderdagaand afgesper word vir die opening om sewe-uur.
Die ANC in die Nelson Mandelabaai Metro het homself gedistansieer van brandstigting by huise wat aan lede van die Kommunisteparty in die KwaLanga-township in Uitenhage behoort.
Dit volg nadat die huis van ‘n optogorganiseerder met petrolbomme bestook is, het RSG berig
Dit word beskou as ‘n weerwraak-aanval omdat die SAKP onlangse betogings oor grond gelei het.
Vroeër is twee huise wat aan ANC-raadslede behoort, afgebrand.
‘n ANC-raadslid en voorsitter van die Portefeuljekomitee oor Huisvesting, Vuyisele Mkavu, sê gerugte dat hulle die weerwraak-aanvalle op leiers van die SAKP uitgevoer het, is blote bespiegelings.
Hy sê getuies moet vorendag kom sodat dit deur die hof ondersoek kan word.
Daar was ‘n skerp styging in die aantal sterftes tydens oproerige diensleweringprotes in Suid-Afrika ná 2009.
Die opstande word ooglopend deur politieke opportunisme van die veral die DA en EFF gedryf, wat ontevrede voel dat hulle nie al die voordele van mag geniet nie.
Die duidelike toename in geweld kom ná president Zuma in 2009 as president aangewys is en sy gewildheid as leier ten spyte van skandale en fel kritiek verbasend bestendig gebly het.
Ontevredenheid in gemeenskappe oor sogenaamde dienslewering word dus deur politieke faksies aangevuur om die regering te probeer destabiliseer.
‘n Totaal van 43 betogers is na bewering deur die polisie gedood tussen 2004 en 2014.
Dit sluit nie die 37 mynwerkers wat by Marikana in 2012 omgekom het nie, maar sluit wel die sewe mense in wat hierdie jaar gedood is.
‘n Databasis van gemeenskapprotes sedert 2004, saamgestel uit van berigte in die media en ander bronne, deur die Universiteit van Johannesburg toon die styging.
Die aantal sogenaamde diensleweringsbetogings word jaarliks in Suid-Afrika sedert 2004 meer en sedert 2009 meer gewelddadig, het die Eenheid vir Sosiale Verandering gesê.
Protes word in UJ se navorsing deels aan politieke faksievorming gekoppel, maar die hoë voorkoms van etniese geweld en gevalle waar Boedoegereg oorneem en moetiemoorde tot geweld lei, is nie deur die Eenheid ondersoek nie.
Daar blyk ook ‘n duidelike verhouding tussen verkiesings en betogings te wees.
Gemeenskapsprotes het van 162 gevalle in 2008 skielik tot 314 in 2009 die hoogte ingeskiet na die April verkiesings. Dit dui op opposisiepartye se frustrasie om die politiek in hulle guns te probeer beïnvloed.
Die aantal betogings het ‘n hoogepunt bereik met 470 in 2012. Dit beteken meer as ‘n protes per dag, maar het gedaal tot 287 verlede jaar.
Die hoë vlak van werkloosheid onder jong mense is ‘n groot faktor wat deur opposisiefaksies uitgebuit word.
In teenstelling met werkers wat staak, maar deur streng wetgewing begrens word, kan die werklose opportunis maklik amok maak, klippe gooi, bande brand, die naaste winkel plunder en regeringsgeboue in ligte laaie laat, sonder veel risiko.
Indien hierdie misdadigheid en vandalisme boonop as polities geregverdig voorgehou word deur “navorsers” met ‘n agenda, sal die konflikpotensiaal bly styg.
Die redes wat aanleiding gee tot geweld is legio, wat die opportunistiese aard daarvan verder beklemtoon.
Volgens UJ se navorsing, is politieke verteenwoordiging onder die top vyf griewe wat mense aanspoor om die strate in te vaar. Onder die meeste swart Suid-Afrikaners is politiek ‘n uiters gewilde loopbaankeuse, en dikwels die enigste.
Dié eensydige beskouing is selfs onlangs deur ‘n minister in die presidensie, Trevor Manuel gekritiseer.
‘n Nuwe dam wat gebou word op die Tokwerivier in die Masvingo-gebied van Zimbabwe is besig om te verkrummel weens swaar reën.
Water stroom deur die gapings in die onvoltooide damwal.
Die Tokwe Mukorsidam moes aan die einde van verlede jaar voltooi word, maar die sperdatum is verby en die konstruksie is nog nie klaar nie.
Foto’s van die gebied toon water wat deurbreek deur die muur en ‘n groot opbou van water in die reservoir agter die wal.
Sowat 4000 mense word bedreig deur die verkrummeldende damwal.
Volgens die Daily News, is die Zimbabwe-lugmag besig om mense te help ontruim.
Die Minister van die Masvingo-provinsie sê die regering is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag geplaas.
‘n Hulporganisasie het tente en komberse beskikbaar gestel.
Namibië het op sy beurt drie helikopters beskikbaar gestel. Zimbabwe het vroeër hulpverlening van 20 miljoen Amerikaanse dollar gevra om duisende mense te verwyder uit die gebied waar damwal dreig om mee te gee.
Zimbabwiese owerhede het tot dusver sowat 36 families uit die gebied verwyder, maar meer as 2000 verkeer in onmiddellike gevaar.
Derduisende mense wat rivieraf woon se lewens word ook bedreig. ‘n Regeringsamptenaar sê 20.000 woon naby die dam en nog 40.000 stroomaf.
Die Zimbabwiese regering sou die kwessie vanmiddag by ‘n kabinetsvergadering in Harare bespreek.
Die DA twiet lustig en onophoudelik oor die party se “suksesse” in die Wes-Kaapse regering.
Net so leuenagtig soos die party se plakkate wat lui “Registreer en wen!” asof die verkiesing ‘n lotto is en die party ‘n kans staan om te wen, is die DA se bewerings oor werkskepping.
Verklarings oor 60.000 “arbeidsgeleenthede” wat in die tweede helfte van 2012/13 deur die party moontlik gemaak is en 31.000 “werksgeleenthede” die afgelope jaar word op Twitter gemaak. (Wat op aarde is die verskil tussen ‘n arbeidsgeleentheid en ‘n werksgeleentheid?); dat 99,1% van alle huishoudings in die Wes-Kaap toegang tot lopende water het; dat 93,4% het toegang tot elektrisiteit het; dat 96,9% toegang tot toiletgeriewe het; dat die Stad van Kaapstad – die provinsiale hoofstad – meer vir arm inwoners as enige ander stad in die land doen om die gaping tussen ryk en arm uit te wis en dat R11 miljard van die R18 miljard bestee aan dienslewering in Kaapstad aan die armes gaan.
Dit lyk alles heel indrukwekkend. By navraag, jammerlik genoeg, kon die party egter nie ‘n enkele bron verskaf vir enige van hul bewerings nie.
Partyleier Helen Zille se woordvoerder, Zak Mbhele het twee maande na die eerste oproep eers reageer op ‘n navraag van ‘n NRO, en daarna konsekwent versuim om enige van sy selfopgelegde sperdatums na te kom ter verskaffing van die bronmateriaal.
In een e-pos, het Mbhele probeer om die vertragings as volg weg te verduidelik: “Die rede vir die ongelukkige vertraging is dat dit tegnies nie ‘DA inligting’ is nie. Dit is aangevra… Ek probeer om die bronne te kry om inligting saam te stel van die Stad Kaapstad en betrokke provinsiale regeringsdepartemente.”
Beide die Stad Kaapstad en die provinsiale regeringsdepartemente word tans deur die DA beheer.
Mbhele moes desnoods uiteindelik toevlug tot sy eie terugwerkende navorsing neem.
Met verwysing na die 60.000 “arbeidsgeleenthede” wat geskep is deur die Wes-Kaapse provinsiale regering in die 2012/13 finansiële jaar, skryf hy as volg: “Niemand so ver kan my iets in beton gee nie … In my eie aanlynsoekpogings het ek afgekom op die Uitgebreide Openbare Werke-program se verslae vir die eerste helfte van 2012/13 … maar nie die tweede helfte waarna die twiet verwys nie.”
Daarna het hy ‘n skermskoot van die DA se omstrede Twitter-verklarings ter sprake van die Internet geneem as bewys dat dié syfer vir “arbeidsgeleenthede” min of meer korrek is.
Mbhele het daarna ‘n stortvloed Internetskakels wat hy in die loop van sy navorsing ontdek het, aan die NRO gestuur, waarskynlik in die hoop dat ‘n massa inligting, alhoewel nie ter sake nie, die knoop sal deurhaak.
Sensusdokumente wat hy ook aangestuur het, toon weliswaar dat die Wes-Kaap se basiese dienste die beste in Suid-Afrika is, maar dit is natuurlik geërf van voor 1994, toe daar min swart aankomelinge vanuit die Oos-Kaap was.
Hierdie beweringe weerspieël nie die reeds hoë vlak van dienslewering wat die DA oorgeërf het van die Apartheidsregering nie. Die DA dekontekstualiseer die inligting met opset vir eie gewin.
Benewens die kwaadwillige verdraaiings van Afrikanersuksesse, is die DA se algehele gebrek aan betroubare data kommerwekkend.
Dat iemand uit die enjinkamer van die DA-provinsiale regering, met die gesag van die Premier se kantoor agter hom, nie in staat is om die bron van inligting en oorspronklike data te gee nie, spreek boekdele.
Die wisselwerking tussen die navorsing- en kommunikasie-afdelings in die DA parlementêre kantoor bestaan klaarblyklik nie.
Mbhele self gee toe dat dit by die DA soos met die spreekwoordelike gebreekte telefoon gaan.
Die DA het die witvlag gehys nadat geweld uitgebreek het in Rissikstraat in die middestad van Johannesburg.
DA-ondersteuners moes inderhaas teruggelei word na die Westgate-vertrekpunt.
Oproermakers wat by die optog wou aansluit is in Rissikstraat met skokgranate afgekeer.
Die polisie het ook met rubberkoeëls op ANC-ondersteuners gevuur by Luthulihuis.
Duisende DA-lede is Woensdagoggend ingebus vir die opmars teen die ANC.
Jesse Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het vroeër gesê die sowat 6 000 DA-lede is daarop uit om kwaad te stook en hulle “hoop vir drama.”
“Ons sal die ANC-ondersteuners so goed as wat ons kan in toom hou. Ons verwag uitlokking. Dis al wat ons nou kan doen,” het Duarte bygevoeg.
Duarte het gesê die DA moes die optog na die parlement of die Unigebou gelei het.
Sy het ook gesê Zille weet nie hoe om vreedsaam te betoog as sy deur veiligheidwagte vergesel moet word nie.
Die DA het sowat 500 private veiligheidsbeamptes vir die optog gehuur. Dit is nie bekend of die beamptes betrokke was in die geweld nie.
Daar is steeds ‘n groot polisie-teenwoordigheid rondom Luthulihuis en toegangsroetes daarheen.
“Ons maak vandag ‘n statement,” het Marcel Maritz, DA-raadslid van Mokopane in Limpopo aan Beeld gesê.
Helen Zille het gesê die DA moet wys “hoe gewelddadig die ANC geword het”. Sy het nie kommentaar gelewer oor die DA se uitlokking nie.
Adv. Antony Stein SC, vir die DA, het ontken dat die DA met uitlokking besig is. Hy het gesê die DA het “geen intensie om tot by Luthuli-huis te beweeg” nie.
Die DA is egter voor hulle opmars telkens ook deur hul wit ondersteuners gewaarsku dat dié optog tot geweld sal lei.
Zille het aan DA-lede gesê ANC het nie toestemming om te betoog nie, en die ANC-teenwoordigheid in die strate is onwettig.
Die polisie is Woensdag glo in die middestad van Johannesburg ook met petrolbomme bestook.
Die DA-ondersteuners het ‘n uur laat met hul optog begin. Helen Zille het intussen verklaar dat die optog verby is.
ANC- en EFF-lede is steeds in die middestad uitgekamp en KFC-wegneemhoender en gaskoeldrank word tans vir middagete bedien.
Die finale betonbasis, nommer 64, vir die MeerKAT-teleskoopantennaplan is by die SKA-terrein buite Carnarvon in die Karoo gelê.
Byna 5.000 kubieke meter beton en meer as 570 ton staal is gebruik om die fondamente te giet, ‘n projek wat nege maande geneem het om te bou.
MeerKAT is die Suid-Afrikaanse voorloper tot die SKA-plan, die wêreld se grootste radioteleskoop, wat in Afrika en Australië gebou word.
Selfs met windvlae van tot 69km/h moet wetenskaplikes in staat wees om die skottels te rig op die verre hemelse voorwerpe met groot presisie, en die antennas moet in staat wees om windspoed van tot 144 km/h te weerstaan,” het die SKA gesê.
Alle ander MeerKAT-infrastruktuur moet voltooi wees teen die einde van Maart. Afrondingswerk is tans volstoom aan die gang.
Die verwerkinginstallasie is ‘n gespesialiseerde ondergrondse bunker wat beskerm word teen radiofrekwensieinterferensie en sal die verwerking van data, kragtoevoer en rugsteuntoerusting wat benodig word vir MeerKAT, huisves.
Die Britse optiese vesel-kontrakteur, Plessey, sal die kabelverbinding behartig.
Elke MeerKAT antenna sal 19,5m hoog wees, en elke volledige antenna (basis, voetstuk en bak) sal 42 ton weeg.
Sodra al 64 antennas van dié sensitiewe radioteleskoop operasioneel is, sal die instrument sensitief genoeg wees om ‘n selfoonsein van Saturnus op te vang.
Groot vraag na data van die Meerkat-teleskope bestaan glo reeds.
Tydens die tweede deel van BRICS se ministeriële vergadering oor wetenskap op die Karoo-dorp, is die wetenskaplike waarde van die SKA beklemtoon.