Wildbedryf boer vooruit

buffels‘n Belegging in wildboerdery kan dié van eiendom en die Johannesburgse aandele-indeks oortref, sê wildboere.

Wildboerdery sal na verwagting in die nabye toekoms die plaaslike boerderybedryf oorheers.

‘n Ekonoom in die wildbedryf, Flippie Cloete, het by ‘n boerdedag op Klippan naby Mahikeng in Noordwes uitgewei oor die ekonomiese lewensvatbaarheid van dié soort boerdery.

Cloete sê met die prys van ‘n buffel wat op meer as R20 miljoen geraam word, dui die stygende wildpryse op groei in die wildbedryf.

Die jaarlikse omset het gegroei van R62 miljoen tot R864 miljoen oor die afgelope tien jaar, soos gemeet deur Vleissentraal se veilings, en daar is nog baie potensiaal het ontleders vroeër gesê.

Wiaan van der Linde, eienaar van Winterhoek, ‘n wildplaas buite Kimberley en Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) se direkteur, sê wildboerdery gee ‘n hoër opbrengs per hektaar as enige ander boerdery-aktiwiteit.

“Die meeste mense plaas in elk geval tussen 20-30% van hul beleggingsportefeuljes in riskante beleggings. Hulle kan ‘n opbrengs van 28-42% konserwatief gesproke verwag,” verduidelik hy.

Hoër kapitale belegging is nodig met al die seldsame wildsoorte, soos buffels, renosters, swart rooibokke, swartwitpense en Livingstone-elande.

Dit skep geleenthede vir beleggers wat nie boere is nie, mense soos Cyril Ramaphosa en Johann Rupert. “Die nuwe soort belegger sal ook sien dat ons die huidige hoë vlakke van opbrengs handhaaf,” sê Van der Linde .

Die grootste deel van die inkomste oor die afgelope tien jaar was uit skaars diersoorte ( R788 miljoen) , maar na verwagting sal die prys van koedoes, byvoorbeeld eksponensieel groei.

Eers is daar R7 000 vir ‘n koedoebul betaal, maar nou haal hulle tot R800 000. Dit gaan alles oor die lengte van die horings.

In 2012 het buffels die hoogste gemiddelde prys van enige dier gehaal met meer as R800 000 gemiddeld en 37% van die bedryf se omset.

Dieselfde dier het gemiddeld R610 550 in 2011 en R424 050 in 2010 gekos.

Die gemiddelde prys is egter steeds heelwat minder as die R40 miljoen wat Johann Rupert vir ‘n Kaapse buffelbul uitgehaal het.