Amerikaanse dollars ter waarde van meer as R100 miljoen waarop daar beslag gelê is by Lanseria-lughawe, is bevries nadat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ingegryp het.
Die stapels banknote van 90 blokke ter waarde van $100 000 elk was in twee swart tasse op ’n vlug wat op 5 September 2014 van Nigerië by die Lanseria-lughawe geland het, het Beeld berig.
Dit is ver bo die voorgeskrewe wettige hoeveelheid kontant wat land ingebring mag word.
Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het intussen ’n bevel ten gunste van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid gemaak dat die geld bevries word.
Dié geld is glo gebruik om ‘n misdaad te pleeg, vermoedelik om wapentuig en helikopters aan te koop.
Luidens ’n verklaring van die NVG het elke tas ’n kombinasie-slot gehad wat net bekend was aan ’n ene Eyal Mesika, ’n Israeliese burger. Mesika het ook drie soortgelyke stapels note in sy handbagasie gehad.
Tier One Services, het glo ‘n faktuur aan ’n Sipriese maatskappy, ESD International Group Ltd, gestuur vir die aankope van wapentuig en helikopters wat glo in Nigerië gebruik sou word.
Die NVG het in hofdokumente aangevoer dat Tier One nie by die Nasionale Konvensionele Wapenbeheerkomitee geregistreer is nie en nie gemagtig is om enige ooreenkoms rakende die verkoop of verhuring van militêre toerusting aan te gaan nie.
Die geld word nou deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank bewaar.

