‘n Voormalige polisiebeampte is in hegtenis geneem in verband met die ontvoering van ‘n negejarige seun van Lyttelton Manor in Pretoria.
Die man wat voorheen ‘n konstabel was by Lenasia se Speurtak vir handelsmisdaad, is in Johannesburg in hegtenis geneem nadat die seun Dinsdag by sy laerskool vermis geraak het.
Hy het ‘n losprys van R1,5 miljoen van die seun se ouers geëis wat hy later na R250.000 en ‘n motor, verminder het.
Die verdagte sal binnekort in die hof verskyn. – RSG
Die stad Kaapstad het gerugte dat die wal van die Steenbrasdam naby Gordonsbaai ‘n kraak in het, as onverantwoordelik beskryf.
Volgens Farouk Robertson van die stad se Water en Sanitasie-afdeling word die gerugte op sosiale netwerke versprei.
Hy sê die swaar reënval van die afgelope naweek het veroorsaak dat die laer-Steenbrasdam oorvol is, wat volgens hom normaal is.
Opruimingswerk sal vandag voortgaan in die Wes- en Oos-Kaap wat die naweek onder swaar reën en oorstromings deurgeloop het.
Talle paaie in die Bredasdorp en Hermanus-omgewing is weens oorstromings steeds vir verkeer gesluit en so ook Champans Peak.
‘n Woordvoerder vir Rampbestuur in Kaapstad, Wilfred-Solomons Johannes, sê hulle het gister vanuit die lug ‘n beraming van die skade gedoen.
Inwoners in informele nedersettings het die ergste deurgeloop en meer as 18.000 mense word geraak, met sowat 300 wat in die Sir Lowry’s pas omgewing verwyder moes word.
Mense op die Kaapse Vlakte, Somerset-Wes en die Strand moes ook hulle huise verlaat.
Tien verdrinkings is in kusprovinsies aangemeld waarvan agt weens oorstromings in die Oos- en Wes-Kaap was. – RSG
Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), kan dalk agter tralies eindig voor die verkiesing.
Juju se hofsaak sal vandag in die Rondgaande Hof in Polokwane begin. Streng veiligheidsmaatreëls sal geld.
Malema en sy vier mede-beskuldigdes word van bedrog, geldwassery en afpersing aangekla. Die voormalige leier van die ANC Jeugliga het na bewering miljoene rande uit korrupsie verdien.
Malema is in September verlede jaar in hegtenis geneem omdat sy Ratanang-familietrust na bewering R4 miljoen van ‘n R52 miljoen-tender gekry het wat die departement van paaie en vervoer in Limpopo in 2011 aan die maatskappy On Point Engineering betaal het.
Die party se provinsiale koördineerder, Josie Butane het saam met duisende Malema-ondersteuners ‘n nagwaak gehou.
Hulle het die ANC-leiers daarvan beskuldig dat hulle staatshulpbronne gebruik in ‘n poging om Malema te vernietig.
Butane sê niks sal egter Malema se leierskap keer nie. ‘n Senior lid van die Ekonomiese Vryheidsvegters, Floyd Shivhambu het gedreig dat hulle lede grond sal begin beset as deel van die party se grondhervormingstrategie.
Shivhambu het duisende EFF-lede toegespreek om die EFF se hoofbeleid om grond te onteien sonder vergoeding oor te dra.
Shivhambu het die trae pas van die regering se grondhervormingsprogram gekritiseer. Hy sê hulle sal grond identifiseer en dit wat aan die mense behoort, beset en later bekommer oor die wetlikheid daarvan.
Malema moet Maandagoggend glo eers eksamen skryf as deel van ‘n Unisa-graad voordat hy in die hof sal verskyn.
Die polisie het die strate rondom die hofgebou afgesper en polisielede sal ontplooi wees by verskeie moontlike brandpunte in die stad en in Seshego.
Malema het in Junie in die streekhof gesê die Nasionale Vervolgingsgesag is onbevoeg en die strafregtelike saak teen hom is ‘n politieke sameswering.
Daar is vroeër vanjaar reeds op Malema se luukse huis in Sandton en sy plaas buite Polokwane beslag gelê.
Die sewe maande oue baba wat na bewering in Diepsloot deur rotte opgevreet is, was nie ‘n slagoffer van ‘n knaagdierplaag of verwaarlosing nie, maar heksery.
PRAAG het van die bure van die ouerpaar verneem dat die baba nie dood is weens rotte wat hom gevreet het nie, maar van beserings wat hy opgedoen het in ‘n moetie-ritueel.
Sy ma het glo die baba se tong uitgesny asook ‘n arm verwyder. Buitelanders het aan PRAAG gesê hulle het verlede week vir hul lewens gevrees aangesien inwoners die gerug verspei het dat immigrante die baba laat opsny het vir moetie.
Buitelanders is ook verantwoordelik gehou vir die onlangse verkragtings in Diepsloot, sê hulle.
Die baba is dood gevind is in ‘n plakkershut in Diepsloot. Sapa het daarna berig dat “die baba se voet deur rotte afgeknaag is”.
Die sewe maande oue baba se verminkte liggaam is Sondag in die woning gekry.
Die ma en haar kêrel is in hegtenis geneem, het die Gautengse polisie Donderdag gesê.
“Die ma is Dinsdagaand in ‘n kroeg in Randburg vasgetrek en haar kêrel is verlede week in Diepsloot gearresteer,” het kapt. Tsekiso Mofokeng gesê.
Mofokeng het gesê die 23-jarige vrou word aangekla van kinderverwaarlosing en moord in die landdroshof in Pretoria.
Haar 30-jarige kêrel word deur ‘n aanklagte van moord in die gesig gestaar.
In ‘n ander voorval in Khutsong is sogenaamde bendelede lewendig verbrand na boendoehowe. Die “bendelede” of volgelinge van geneser, het volgens inwoners onder die invloed van heksery verkeer.
Inwoners het die wrede moorde op die sewe “bendelede” verwelkom en aan die Mail&Guardian gesê dit sal nou “rustig” wees in Khutsong.
Israel is besig met die koördinering van planne vir ‘n militêre aanval op Iran. Hulle werk saam met Saoedi-Arabië.
Riyadh sal taktiese ondersteuning bied aan Jerusalem, het ‘n Britse koerant berig vroeg Sondag.
Saterdag het Bibi Netanyahu aan die Franse dagblad Le Figaro oor die situasie verklaar dat Israel en die “voorste lande in die Arabiese wêreld ” saamstem wanneer dit kom by Teheran en sy kernvermoëns.
“Ons almal dink dat Iran nie toegelaat moet word om die kapasiteit te hê om kernwapens te maak nie,” het hy gesê. “Ons glo dat as Iran was kernwapens bekom, dit kan lei tot ‘n kernwedloop in die Midde-Ooste, en sal die die Midde-Ooste in ‘n kernkruitvat verander.”
Volgens die Sunday Times, het Riyadh ingestem om Israel toe te laat om sy lugruim in ‘n militêre aanval op Iran te gebruik en saam te werk oor die gebruik van reddingshelikopters, brandstofvliegtuie en onbemande tuie.
“Die Saudies is woedend en bereid om aan Israel al die hulp wat hulle nodig het te gee,” het ‘n anonieme diplomatieke bron aan die koerant gesê .
Die verslag kom te midde van Netanyahu se blitsbesoeke om steun te probeer werf teen ‘n internasionale alliansie wat sal toelaat dat Iran uraan sal verryk.
Iran het egter herhaaldelik gesê dat hulle nie belangstel in kernwapens nie.
As die eerste minister van Israel, het hy beklemtoon, moet hy sorg vir “die oorlewing van my land”.
CNN berig dat Netanyahu ook gesê het in die onderhoud dat hy sal doen wat dit nodig is om te doen om Israel te beskerm.
Indien ‘n ooreenkoms bereik word by gesprekke wat in Genève Woensdag hervat, volgens die Israeliese diplomatieke bron, is ‘n militêre opsie terug op die tafel.
Saoedi-Arabië se taktiese ondersteuning, in plaas van rugsteun van die Pentagon, sal deurslaggewend wees vir ‘n langafstand aanval op Iran se kernprogram .
Op 15 Maart het Wannie Carstens (gebore in 1952) ‘n artikel op LitNet gepubliseer. Daaroor het ek onder meer soos volg op Praag (17 Maart) geskryf: “Propaganda teen Afrikaans en die Afrikaner word deur Carstens eerder welwillend gesluk as manmoedig beveg. Die verdedigende en apologetiese modus waarin glad te baie Afrikaanssprekendes verval het, kon myns insiens ten beste opgehef word as Carstens liewer die anti-Afrikaanse elemente daadwerklik bestry het … Die ANC se propaganda het by die onkritiese Carstens in die spreekwoordelike lieflike plekke geval.”
Ook: “Alle mense in die nuwe Suid-Afrika is gelyk verklaar, gevolglik het die ATR [Afrikaanse Taalraad] alle variante van Afrikaans, dus ook dié wat uitermate met Engels (woorde, uitdrukkings, grammatika, uitspraak) besoedel is, gelykwaardig verklaar. Die ideaal is om alle soorte Afrikaanssprekendes (“die heterogene Afrikaanspraters”) en alle variante van Afrikaans (“‘n ruim Afrikaans”) in een gelukkige bondel saam te snoer. Dit is glo moontlik as almal hulle stories in die WVK- of Tutu-modus vertel. Mode-politiek dien by Carstens deurgaans as die aanbevole model vir taalkundige sake. Die amptelike erkenning en bevordering van allerhande taalvariante deur die ATR (“om die taal in sy … diversiteit uit te bou”) gaan Standaardafrikaans, as die enigste algemeen erkende en ontwikkelde vorm van Afrikaans, myns insiens verswak en die oorlewingskanse van hierdie taal beduiwel. As die nuwe Suid-Afrika ‘n normale samelewing wil wees, moet Afrikaans in sy standaardvorm erken en bevorder word, soos wat elders in die wêreld met alle erkende tale gedoen word.”
“Die politieke kersie [word] op die taalkoek geplaas wanneer Carstens sy Damaskus-oomblik bely: ‘Ek was ná ‘n gesprek met [Christa] van Louw in November 2004 oortuig van my eie skroomlike onkunde oor die gevolge van apartheid, wat my beskaamd gelaat het oor die aandeel wat ek daaraan gehad het.'” Sedertdien het Carstens konsekwent in daardie transformasierat gebly, wat onder meer beteken dat hy hom nie verwerdig om op enige manier te kenne te gee dat hy kennis neem van wat op Praag gepubliseer word nie.
Op 1 Julie het Frik Lotz in Beeld geskryf: “In ‘n neutedop kan ‘n mens seker die Afrikaner beskryf as ‘n inheemse, wit Afrikaanssprekende volk van Suid-Afrika met sy eie unieke kultuur, tradisies, geskiedenis en natuurlik sy Gelofte. Nie almal wat Afrikaans praat, is Afrikaners nie en nie alle wit mense is Afrikaners nie. Die Afrikaner is van Afrika. Hy het ‘n reg om in Suid-Afrika te wees en het ook die reg op selfbeskikking.”
Die lyk vir my asof Lotz binne die geykte, hedendaagse, alledaagse betekenis van die woord “Afrikaner” bly. Wat taal betref, is daar die term “Afrikaanssprekende”, as ‘n mens die net etnies wyer wil gooi. Geografies is die Afrikaner van Afrika, maar hy is kultureel veel eerder ‘n Europeër of Westerling. Ek hou nogal van die Bybelse onderskeid en sê veral deesdae graag: Ek is in Afrika maar nie van Afrika nie. Lotz kwalifiseer die Afrikaner se selfbeskikking met “soos vervat in die Grondwet”. Dit is myns insiens te beperkend, om dit sag te stel.
Lotz se opmerkings het Wannie Carstens na die spreekwoordelike pen laat gryp (Maroela Media 10 Julie): “Hoe kan ons nog vandag in 2013 steeds Afrikanerskap net vir wit mense toe-eien? … Hoekom uitsluit en nie insluit nie? … ons moet eerder die term ‘Afrikaner’ herdefinieer as dat dit almal wat Afrikaans praat, insluit.” Soos in die HAT (2005): “Afrikaner: Persoon wat Afrikaans is deur geboorte of afstamming, veral iemand wat Afrikaans as moedertaal het.” Dit gaan vir Carstens om ‘n “inklusiewe Afrikaans”.
Maande later het Carstens nog ‘n eiertjie gelê: “dat … die tyd waarin Afrikaans haar [!] bevind, ongelukkig nie meer ruimte laat vir eksklusiwiteit nie … Dan stigmatiseer ons eie mense Afrikaans … Die geskiedenis wys uit dat hierdie woord [Afrikaner] in die vroeg 18de eeu al gebruik is vir mense wat hulself wil assosieer met die land van hul geboorte … As ons dus hier gebore is, maak dit ons mos almal Afrikaners?” (Maroela Media 2 Oktober).
Wat Carstens hier doelbewus buite rekening laat, is dat daar baie Afrikaners is wat hulle voor 1990/1994 graag met Suid-Afrika geassosieer het, maar dit deesdae nie meer kan of wil doen nie; ook nie met Afrika nie. Anders as wat Carstens te kenne gee, is geboorte in die konteks van taal en kultuur nie die alfa en omega nie. Iedere mens word in werklikheid sonder ‘n spesifieke taal en kultuur gebore. Daar is aanvanklik bloot ‘n taal- en kultuurvermoë aanwesig. Daarna word taal en kultuur aangeleer en word die blanke suigeling mettertyd bv ‘n Afrikaner.
Op 6 Mei 2013 het Wannie Carstens uit Leiden, Nederland, oor Afrikaans se “gedeelde verlede” in Die Burger (p 10) geskryf. Hy het studieverlof en werk tans aan ‘n nuwe boek oor die geskiedenis van Afrikaans in “die totale Afrikaanse gemeenskap”. Christo van Rensburg het heel onlangs so ‘n boek in opdrag van die ATR geskryf: So kry ons Afrikaans (Pretoria: LAPA Uitgewers, 2012, 159p), maar Carstens en sy geesgenote is blykbaar nie tevrede daarmee nie, gevolglik word daar weer probeer om nie-wittes se bydrae tot Afrikaans groter of belangriker voor te stel.
In die voorwoord van Van Rensburg se boek erken die huidige voorsitter van die ATR, Michael le Cordeur, dat die boek ‘n anti-wit politieke doel moet dien: “Met hierdie werk wil die ATR opnuut die veelfasettige afkoms van Afrikaans beklemtoon en die nou byna afgesaagde gesegde dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, finaal in die kiem smoor” (p 10). Let op die woord wat deur Le Cordeur gekursiveer is: witmanstaal; nie witmenstaal nie, want soos die ANC het Le Cordeur dit nie net teen die wittes nie, maar veral teen wit mans, daardie groep wat in die nuwe Suid-Afrika dubbel (etnies en geslagtelik) gediskrediteer word.
Uit Van Rensburg se boek blyk dit egter dat Afrikaans as ‘n aanpassing van hoofsaaklik Nederlands ontstaan het. Ook dat Afrikaans ten minste aanvanklik eerder ‘n Nederlandse dialek as ‘n taal uit eie reg was: “Die Nederlandse aandeel aan Afrikaans kon nog altyd herken word, soos vandag ook” (p 66). Ek vind dit ironies dat Carstens, wat Afrikaans blykbaar op ‘n oordrewe manier wil ver-Khoi, ver-Maleier-Kaaps en ver-Afrika, in die Lae Lande gaan sit om ‘n boek oor Afrikaans te skryf. Is die bakermat van Afrikaans, volgens pro-Afrika-entoesiaste, dan nie die eertydse Kaapse kombuis waar mishandelde slawe naas die voorbereiding van kos ook Afrikaans soos ‘n haas uit ‘n hoed getrek het nie? Carstens toon moontlik met sy huidige Europese verblyf dat sy politiek gemotiveerde siening van die oorsprong van Afrikaans grootliks ongeldig is.
Van Rensburg tref ‘n onderskeid tussen Moesliemafrikaans (of Bo-Kaaps, p 86) en ander sprekers van Kaaps (p 87). Daar word verskeie kere verwys na die dislojaliteit wat baie bruines teenoor Afrikaans openbaar. Achmat Effendi het bv verkies om sy verkiesingsveldstog vir ‘n setel in die Kaapse parlement in Engels te voer (p 87). Nadat die Kaap ‘n Engelse kolonie geword het, het die sprekers van Kaaps verengels. “Kaaps het nou ook ‘n duidelike invloed getoon van die Engels wat die hooftaal van Kaapstad geword het” (p 88). “Engelse invloed [was] al van vroeg af deel van Kaaps” (p 115-116).
Waarom Carstens nie tevrede is met Van Rensburg se uiteensetting nie en besig is om die geskiedenis van Afrikaans te herskryf, blyk ook uit die volgende geldige opmerkings van Van Rensburg: “Standaardafrikaans [is] eintlik ‘n dialek wat bokant Afrikaans se dialekte staan” (p 117). “‘n Bodialektiese standaardtaal … dwing dialekte … na die standaardtaal” (p 125). Om Standaardafrikaans hoër as bv Kaaps te ag, is heiligskennis in ATR-geledere en vloek teen die gelyke status wat Carstens en sy meelopers aan alle mense en al hulle taalvariante toeken.
Carstens verwys in sy skrywe van 6 Mei na “verontregte mense” wat van hulle “menswaardigheid beroof is.” Hier wys hy die vinger na blankes, al sê hy dit nie uitdruklik nie. Waarom het die wittes die nie-wittes so sleg behandel? “Gewoon omdat hul velkleur verskil het.” By Carstens is daar (soos hierbo reeds geblyk het) skynbaar geen bewustheid van kultuur- en ontwikkelings- of beskawingsverskille nie. Dit laat ‘n mens hoop dat hy tydens sy huidige oorsese verblyf sodanige verskille tussen mense van bv Afrika en Europa sal opmerk.
Dat daar by Carstens ‘n sterk neiging tot vereenvoudiging en wanvoorstelling van die verlede is, blyk ook uit die volgende versugting: “Gee geld vir beurse vir diegene wat vroeër nie kon leer nie.” Klaarblyklik gaan dit hier nie om studiebeurse vir wittes nie, maar om aalmoese vir wat deesdae “voorheen benadeeldes” genoem word. Van “tans benadeeldes”, naamlik wittes, en “tans bevoordeeldes”, naamlik nie-wittes en veral swartes, hoor ‘n mens (feitlik) nooit nie. Is dit naasteby waar dat nie-wittes voorheen plaaslik “nie kon leer nie”?
Word dit deesdae nie al hoe meer erken dat die Nasionale Party-regering se Bantoe-onderwys beter was as die huidige skoolonderrig van die ANC-regering nie? Sedert 1960 was daar meerdere universiteite vir swartes (Fort Hare, Noorde, Zoeloeland) en een elk vir bruines (Wes-Kaapland) en Asiate (Durban-Westville). Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se onderrig was deurgaans vir alle etniese groepe toeganklik. Ek was een van dié wat toe “nie kon leer nie” en jare lank noodgedwonge en met vrug die Unisa-opsie benut het. Niemand het nog gesê dat ek veronreg of benadeel en van my menswaardigheid beroof is nie.
Carstens sit steeds in Europa en het niks nuuts te sê nie. Al verskil sedert Mei is dat hy nou nie meer in Nederland nie maar in Antwerpen, België, aan sy boek skryf. Hoe kry ‘n mens ‘n koerant sover om nog ‘n skrywe van jou oor dieselfde onderwerp te publiseer? Jy haal die heuningkwas uit: “Omdat ek die afgelope naweek so van ver af gou gekyk het wat in my gunsteling Afrikaanse Sondagkoerant berig word.” Dié heuning raak nie op nie. Oor sy baas, Theuns Eloff, die rektor van die Universiteit Noordwes, skryf Carstens: “Omdat ek Eloff goed ken, weet ek sy bydrae is altyd skitterend en beslis rapportering werd. Wat oor sy bydrae gerapporteer is, kan ek ook 100% mee saamstem.” Hierdie twee loftuitings is in Rapport (10 deser) gepubliseer. Die elementêre deursigtigheid van Carstens se naïwiteit moet enige kritiese leser dadelik opval.
Pleks van in wetenskaplike navorsing na die grootste moontlike mate van objektiwiteit te strewe, wil Carstens in werklikheid sy emosionele benadering vertroetel: “Juis omdat ek aan hierdie boek werk is ek dalk meer sensitief as andersins oor hoe ons die Afrikaanse gemeenskap voorstel … Kyk na ons koerante en tydskrifte hoe skitter ons in ons witheid daar! So asof ons bruin (en swart) broers en susters [ANC-Afrikaterminologie] nie melding verdien nie.”
Carstens is hier besig met wat ek in my omgangstaal ‘n strontstorie noem. Die opskrif van sy skrywe het my reeds bedag hierop gemaak: “Media moet Afrikaans se leliewit rok afgooi.” Sodra ‘n groep mense uit net wittes bestaan, bv ‘n sportspan of ‘n klas studente, is daar oorverligtes wat die groep as “leliewit” etiketteer. Waarvoor ek ‘n verduideliking wil hê, is waarom ‘n groep swart mense deur hierdie selfde oorverligtes nie steenkoolswart, of iets soortgelyk, genoem word nie. Is ewewig nie hier ook ter sake nie?
Wat Carstens blykbaar met sy navorsing beoog, is polities gemotiveerde “regstelling”. Voorheen het hy die frase “getransformeerde Afrikaans” gebruik. Wat Afrikaans ingevolge Carstens se voorkeur nié is nie, is die Standaardafrikaans wat oor geslagte heen deur (feitlik) uitsluitlik blanke sprekers en skrywers, insluitende taalkundiges (bv woordeboeksamestellers) en letterkundiges (bv literatuurgeskiedenisskrywers) ontwikkel, gestandaardiseer, gerekordeer, gepubliseer en uitgebou is. Polities korrek moet dinge nou (oordrewe) anders voorgestel word sodat nie-wittes nie aanstoot gegee word as hulle bydrae deur die prestasie van wittes oordonder word nie. Taalkundige wanvoorstellings word aangemoedig om Carstens se politieke ideaal van versoening te verwesenlik.
In al die Afrikaanse taal- en literatuurgeskiedenisse waarmee ek bekend is, word geredelik erkenning aan die bydraes van nie-wittes gegee; nie net sedert “ons jong demokrasie” tot stand gekom het nie, maar ook tydens die “donkerjare” van apartheid. In 1975, tydens die hoogbloei van apartheid, is die Afrikaanse Taalmonument opgerig. Ook daar word openlik en afdoende erkenning aan die verskillende etniese groepe se aandeel aan Afrikaans gegee. Nadat Daniel Hugo in Halala Afrikaans (2009) oortuigend aangetoon het dat Afrikaans nie ‘n kreoolse taal is nie, het die Afrikaanse Taalmuseum en Taalmonument in sy pamflette presies die teenoorgestelde beweer, naamlik dat Afrikaans ‘n baster- of mengeltaal is. Teen hierdie polities gemotiveerde oneerlikheid word nie opgetree nie, want twee van die raadslede is die eerste voorsitter van die ATR, Carstens, en die huidige ATR-voorsitter, Michael le Cordeur. Albei wek die indruk dat politieke korrektheid, gekamoefleer as bv versoening, belangriker as taalkundige en historiese korrektheid is.
Volgens Carstens werk hy hard daaraan om aan te toon dat Afrikaans nie (net) ‘n witmenstaal is nie. Anders as Carstens dink ek dat as Afrikaans, bv Standaardafrikaans, (hoofsaaklik) met wittes geassosieer word, dit geen skande is nie. Dit is een van baie prestasies waarop Afrikaanssprekende wittes kan roem. Carstens voer ‘n suiwer kwantitatiewe rede aan waarom hy die aandeel van nie-wittes groter of belangriker wil voorstel: “Die 2011-sensus dui duidelik aan dat die meeste van die moedertaalsprekers van Afrikaans nie wit is nie.” “My navorsing was … dat Afrikaans die somtotaal is van wit, bruin en swart wat dit praat.”
Carstens verswyg hier doelbewus drie sake:
* Eerstens, die gepubliseerde 2011-sensusgegewens berus op hoogs onbetroubare en onvolledige inligting wat “reg” geplooi is.
* Tweedens, as taalkundige weet Carstens dat hy naas kwantitatiewe ook kwalitatiewe oorwegings in ag moet neem. Die gehalte van Afrikaans is van deurslaggende belang. Van Rensburg stel dit soos volg: “Die beeld van ‘n taal verander positief as prestasies van gehalte daaraan gekoppel word” (p 111). “Kwaliteitswerk in Afrikaans het gehelp om Afrikaans sy sprekers se voorkeurtaal te maak” (p 112). Desnieteenstaande verseg die ATR sedert sy stigting in 2008 om hom teen vrot Afrikaans, bv ‘n mengeltaal soos Kaaps, uit te spreek. Die teenoorgestelde is veel eerder die geval. Die huidige voorsitter van die ATR, Le Cordeur, is om etniese en politieke redes ‘n kampvegter vir Kaaps en verseg weens dieselfde redes om Standaardafrikaans openlik te steun.
* Derdens is gesproke taal net deel van die taalwerklikheid. Gerekordeerde (bv geskrewe) taal moet sekerlik ook in ag geneem word.
Die ideologiese bagasie waaraan Carstens verslaaf is, word met etikette soos nie-rassigheid, inklusiwiteit en diversiteit bemark. Omdat sy gedagtes oorheers word deur wat tans polities in die mode is, is dit eintlik noodsaaklik dat hy navorsingstyd aan besinning hieroor afstaan. Baie (heel moontlik die meeste) van die politieke begrippe en idees wat plaaslik in mode-terme en -frases uitgedruk word, is van die VSA afkomstig. Maar daar vind deesdae al hoe meer fundamentele besinning hieroor plaas, moontlik veral in Amerika. Waaraan Carstens ly, is die sug om gelykmaking, oftewel eendersverklaring. Nie-wittes se aandeel aan Afrikaans moet dus minstens net so groot of belangrik soos dié van wittes voorgestel word, of verkieslik as groter of belangriker, want nie-wittes is mos in die meerderheid.
Die boek wat ek met vertroue as leesstof by Carstens aanbeveel, is James Kalb se Against inclusiveness: How the diversity regime is flattening America and the West and what to do about it (Tacoma: Angelico Press, 2013, 218p). Die Kindle-uitgawe is teen $6.99 by Amazon beskikbaar. Dit is ‘n uitstekend beredeneerde werk wat die geestelike higiëne van enige onbevooroordeelde leser ‘n hupstoot behoort te gee. Dan sal Carstens nie meer so maklik “treur oor die foute van die verlede” nie, maar homself eers afvra: Wat van die foute van die nie-wittes? Het die swartes nie mede-swartes gevang en as slawe verkoop nie? Het swartes nie op groot skaal mede-swartes uitgeroei nie? Waarom word wittes hulle foute, bv as slawe-eienaars, verwyt, maar nie swartes nie, terwyl swartes (en Arabiere) in werklikheid ook slawe-eienaars was? Waar kom hierdie mode van selektiewe moraliteit vandaan? Net dwase blankes sal verkies om skuldgevoelens te vertroetel pleks van krities hieroor te besin. Mode-gebonde verkies Carstens egter “om hande te vat”: “Dit is harde werk en dit verg ‘n opregtheid om dit te laat slaag.”
Wat het as aanleiding vir Carstens se jongste skrywe gedien? Daar was ‘n byeenkoms waar ses sprekers opgetree het. Polities korrek was drie van hulle bruin. Die doodsonde wat Rapport begaan het, is om net te rapporteer oor wat twee wittes gesê het. Erger: daardie twee was wit mans, dus van daardie etnisiteit én geslag wat verantwoordelik gehou word vir “euwels” soos slawerny, kolonialisme, segregasie, apartheid en imperialisme. Oor die volgende drie bruin sprekers se uitlatings is nie berig nie:
* Eerstens, Danny Titus, die hoof van kultuursake van die ATKV en direksielid van die ATR, wat myns insiens geen aanvoeling of waardering vir die Afrikaner se kultuur het nie. Onlangs het hy in ‘n rubriek in Die Burger dit sinvol geag om te vra: Is daar “‘n ding” soos Afrikaanse kultuur? Titus is veronderstel om ampshalwe veral die heil van die Afrikaners se kultuur te bevorder. Kan hy met so ‘n gesindheid naasteby aan die vereistes van sy pos voldoen?
* Tweedens, Michael le Cordeur, Carstens se geesgenoot en ATR-kollega, ‘n opvoedkundige wat vier klasmaats bewonder wat die Hoërskool Bergrivier in Wellington in 1976 afgebrand het. Le Cordeur het ook valslik die indruk probeer wek dat die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland, toe hy in 1977 daar as student aangekom het, uit tydelike geboue bestaan het. Toe studente wat aan steelsug ly ‘n technikon-kafeteria geplunder het, het Le Cordeur beweer dat hierdie arme mense honger was. Op LitNet het hy Standaardafrikaans onlangs as “maar net een” van die variëteite van Afrikaans bestempel. Hy maak voorbrand vir ongestandaardiseerde Kaaps as skoolonderrigtaal en sien blykbaar nie in dat hierdie mengeltaal ‘n bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaans inhou nie.
* Derdens, Basil Kivedo, eertydse dosent in sosiologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland, wat ‘n MK-soldaat was en as burgemeester van die Breedevallei (Worcester) herontplooi is; nie deur die ANC nie, maar deur die ANC lite, dus die DA. Kivedo se rol in versoening word deur Carstens opgehaal. Die bekendste voorbeeld hiervan is die jaarlikse versoeningsbyeenkoms wat op Worcester gehou word ter herinnering aan bomme wat blankes in 1996 daar laat ontplof het. Die leviete word dan aan (veral) die wittes voorgelees, terwyl talle sabotasiedade van nie-wit bomplanters en die gruwelmisdade van MK-soldate verswyg word (Praag 4 Februarie).
Ten slotte kom Carstens met hierdie oproep: “Kom ons stel ons dus oop vir die insette en sienings van die volle Afrikaanse gemeenskap.” Dit klink na ‘n versoek om ewewig. Kom ons wag en kyk of Carstens se boek aan hierdie vereiste voldoen. Ek het eerlikwaar min hoop hierop. Die wetenskaplike metode vereis dat ‘n mens nie vooraf moet besluit wat die uitkoms van jou navorsing moet wees nie. Carstens se probleemstelling moes soos volg gelui het: In hoeverre en in watter opsigte het nie-wittes ‘n bydrae tot Afrikaans gelewer en hoe vergelyk dit met wat blankes gedoen het? Pleks daarvan is sy uitgangspunt blykbaar: Stel vas hoe enorm groot nie-wittes se bydrae tot Afrikaans was en toon aan dat wittes nie na behore erkenning hieraan gee nie en dat (sommige) wittes versoening steeds doelbewus beduiwel.
‘n Sobere slotgedagte van my kant af. Adam Small het ‘n bydrae tot Afrikaans gelewer. Dalk kwalifiseer sy werk selfs vir bekroning met die Hertzog-prys. Suiwer literêr is sy werk, bv dramas, egter nie in dieselfde liga as dié van bv Shakespeare en Vondel nie. Myns insiens word Small nie deur wittes benadeel omdat die Nobel-prys vir letterkunde nog nie aan hom toegeken is nie.
Slovo het gedetaillerde planne van die hele kernaanleg by Koeberg gehad
‘n Onlangse insident by die kernverrykingsaanleg by Pelindaba, wes van Pretoria, waar radioaktiewe gas in die atmosfeer gelek het, het ’n potensiële bestralingsgevaar geskep vir honderde duisende mense in Gauteng.
Dit is die gebied in Suid-Afrika waar die meeste Afrikaners ook saamgetrek is.
Dis die derde ongeluk die afgelope 17 jaar by die aanleg en kenners is bekommerd dat die internasionale klimaat verder besoedel kan word deur die nuus aangesien Suid-Afrika vroeër moes deurloop onder kernsabotasie.
Dié radio-aktiewe lekkasie kom te midde van sensitiewe samesprekinge tussen die P5 + 1 om Iran se kerntoekoms te bepaal, asook die kernramp in Japan waar die reaktor by Foekoesjima radio-aktiewe stof in die see lek. Die P5 + 1 is die vyf permanente lede van die Veiligheidsraad plus Duitsland.
In die tagtigerjare is ‘n terreuraanval op die Koeberg-kernkragsentrale beplan deur Joe Slovo wat die ANC vandag nog beskryf as een van die suksesse van sy gewapende stryd. Slovo is ook intussen deur Media24 gerehabiliteer as ‘n “held” vir sy aandeel in die dood van talle onskuldige burgerlikes.
Mac Maharaj, woordvoerder vir president Zuma, was destyds ‘n hegte kameraad van Slovo. Maharaj het Slovo in die jare vyftig ontmoet. Van 1977 het hulle nou saamgewerk in die ANC se revolusionêre raad en ook in die SA Kommunistiese Party.
Hy het vroeër aan die media vertel hoe Slovo die aanval op die kernkragaanleg beplan en bestuur het.
Kort voor die ANC se aanval op Koeberg het Slovo, toe stafhoof van Umkhonto we Sizwe, met top-kernwetenskaplikes beraadslaag oor hoe om plofstof by die kragsentrale te gaan plaas.
Maharaj sê Slovo was altyd ten nouste gemoeid met die beplanning van alle militêre projekte van die ANC wat onder sy bevel uitgevoer is.
Slovo was ook direk verantwoordelik vir die nuwe Opod-hoof, Robert McBride, se bomaanval in Durban waarin twee wit vroue dood is.
Vir die aanval op die Koebergkernsentrale het die ANC planne gehad van die hele uitleg van die sentrale en van al die toerusting en masjinerie daarin. Kenners sê Slovo se beplande aanval sou maklik ‘n kernongeluk gelykstaande aan die kernramp in Japan by Foekoesjima kon veroorsaak indien hy daarin geslaag het om dit suksesvol uit te voer.
Maharaj sê die ANC het destyds simpatiseerders gehad wat vir Koeberg gewerk het. Maharaj sê dié man leef nog, maar is nog nooit aangekla nie. Die beplande aanval het vroeër plaasgevind as wat oorspronklik beplan is omdat die man wat die bom moes plant, gehoor het hy gaan afgedank word.
“Joe se bevel oor MK-lede was nie te streng nie. Hy het dit baie saggeaard gedoen. Dit is deel van sy styl,” het die president se woordvoerder gesê. Slovo het glo eindelose probleme met dissipline onder lede van sy terreurbende gehad.
Intussen het die sluiting van die Nasionale Kernnavorsingsentrum by Pelindaba ‘n uiters negatiewe impak op die behandeling van duisende kankerpasiënte. Omdat radioaktiewe medisyne na vyf dae verval, het die land se voorraad verlede Donderdag opgeraak.
NTP Radioisotopes, ’n filiaal van die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie (Necsa) wat deur die sluiting geraak word, is die wêreld se tweede grootste vervaardiger van radiochemiese mediese produkte en die sluiting het internasionaal geregistreer.
Die radioaktiewe isotope molibdeen-99 (Mo-99) en jodium-131 word plaaslik deur meer as 400 kankerpasiënte per dag gebruik.
Mo-99 word gebruik om te bepaal hoe ver kanker deur die liggaam versprei het. Dit word ook gebruik in die identifisering van siektes van die hart, longe, lewer, niere en brein. Dis is die radiofarmaseutiese middel wat die meeste ter wêreld gebruik word.
Die Wes-Kaapse rampbestuur is op hoë bystand nadat nog reën wat vir Sondag voorspel word in gebiede soos George en Hermanus.
Een persoon het verdrink en ‘n tweede word vermis nadat hulle motor deur stygende vloedwater op Stellenbosch meegesleur is.
Die reën het ook daartoe gelei dat verskeie hoofroetes in die Kaapse Skiereiland gesluit is.
Gebiede wat die meeste beïnvloed sal word, is die Suidelike kusgebiede, George, Riversdal, Hermanus en Oudtshoorn, het ‘n weervoorspeller gesê.
‘n Rampreaksiespan doen ‘n deurlopende assessering en neem ekstra maatreëls om elektrisiteit te herstel en te verseker dat die dreinering van waterstelsels was funksioneer.
Aanhoudende reën het veroorsaak dat die Lourensford-rivier sy walle oorstroom het.
Sewentig inwoners van Kays Caravan Park is by die Garden Village Hall gehuisves en 129 pasiënte is ontruim by die Vergelegen Medi-Clinic in Somerset-Wes Vrydagnag en na omliggende hospitale geneem.
‘n Voorstel deur Afrikalande om die verhoor teen die Keniaanse president op te skort is byna aanvaar by die VN se Veiligheidsraad.
Die Raad het net-net die voorstel van Afrikalande verwerp om die verhoor van die Internasionale Strafhof teen president Uhuru Kenyatta vir eers te laat vaar.
Afrikalande is ongelukkig dat net swart leiers van die kontinent voor die Hof gedaag word.
Die doel van die voorstel is om die aanklagte van misdade teen die mensdom teen Kenyatta en sy adjunk, William Ruto, ‘n jaar lank uit te stel.
Agt lede van die Veiligheidsraad se 15 lede het buite stemming gebly en sewe het dit gesteun. ‘n Minimum van nege stemme sou nodig gewees het om dit goed te keur.
Die VSA, en sewe lede van die Internasionale Strafhof, Frankryk, Brittanje, Guatemala, Argentinië, Suid-Korea, Australië en Luxemburg het nie gestem nie.
Sjina, Rusland, Togo, Azenbaijan, Rwanda, Morokko en Pakistan was ten gunste van die uitstel.
Die stad Kaapstad se rampbestuursentrum staal hom vir moontlike fratsvloede oor die volgende paar dae.
Wilfred Solomons-Johannes, woordvoerder, het gesê die sentrum is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag geplaas.
Hy het gesê die weerdiens het gewaarsku van reënval van tot 50mm en ‘n kouefront wat verskeie dele van die Wes-Kaap, vanaf Vrydagmiddag tot Saterdag sal tref.
Swaar reënval kan fratsvloede in die Kaapse metropool, suidelike dele van die Weskus-distrik, westelike dele van die sentrale Karoo, die Overberg, Kaapse Wynlanddistrik en die Eden-distrik veroorsaak.
“Stormsterk winde van 65 tot 70km/h word Vrydagmiddag en Saterdag vanaf Tafelbaai tot Kaap Agulhas en aan die Suidkus verwag,” het Solomons-Johannes gesê. – Sapa