Bomdreigement ruk Gautengse winkelsentrum

Teen ongeveer 10:00 Maandagoggend het ‘n groot winkelsentrum in Gauteng, naby Johannesburg ‘n oproep ontvang van ‘n man te sê dat hy vier bomme op die eiendom geplant het.

Die winkeleienaars en klante het dadelik op Twitter die dreigement rugbaar gemaak. Hulle het mekaar vertrap om uit die sentrum te vlug en die verkeer was druk soos motors die parkeerarea verlaat het.

Clearwater Mall se bemarkingsbestuurder Cecile Braun het die bomdreigement bevestig.

“Ons het dadelik die Honeydew-polisie gekontak,” het sy gesê.

“Dit is ‘n standaardprosedure om die gebou tydens so ‘n bedreiging te ontruim en ons het so gemaak.”

Braun sê dat die SAPD se plofstofdeskundiges Maandag op die toneel was.

Die man wat geskakel het, het R100 000 geëis en die sentrum tien minute gegee om die losprys te betaal.

Die polisie se K-9-eenheid kon egter geen ploftoestelle opspoor nie.

Voormalige polisieman ontvoer kind, eis R1,5 miljoen losprys

saps5‘n Voormalige polisiebeampte is in hegtenis geneem in verband met die ontvoering van ‘n negejarige seun van Lyttelton Manor in Pretoria.

Die man wat voorheen ‘n konstabel was by Lenasia se Speurtak vir handelsmisdaad, is in Johannesburg in hegtenis geneem nadat die seun Dinsdag by sy laerskool vermis geraak het.

Hy het ‘n losprys van R1,5 miljoen van die seun se ouers geëis wat hy later na R250.000 en ‘n motor, verminder het.

Die verdagte sal binnekort in die hof verskyn. – RSG