Hewige storms, hael tref Gauteng

haelHewige storms oor Gauteng het Donderdagmiddag verwoesting gesaai. Teen vieruur was dit pikdonker soos swaar reënwolke oor die provinsie saamgepak het.

Nooddienste in verskeie dele van Gauteng was deur die die nag op ‘n gereedheidsgrondslag.

Fratsvloede het huise en paaie oorstroom, sterk winde het dakke afgewaai en haelkorrels so groot soos gholfballe, het motorruite uitgeslaan, en huise se dakke en vensters beskadig.

Die volle omvang van die skade sal vandag bekend word wanneer opruimingswerk voortgesit word. In Johannesburg is motoriste na veiligheid gehelp toe paaie oorstroom het.

Berigte van bome wat omwaai het en paaie versper het, is ontvang. In Fourways, Johannesburg, was winkels onder water nadat die dak van Fourways Mall beskadig is.

In Pretoria is huise en paaie oorstroom en treindienste is erg ontwrig, en in Nelmapius, in die ooste van Pretoria, het fratsvloede mense vasgekeer.

Geen beserings is egter weens die storms aangemeld nie.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê die sterk storms het in die omtrek van Parys, Sasolburg en Bothaville in die Vrystaat ontstaan, waarna hulle na Gauteng deurbeweeg het en hael gebring het.

In Randfontein aan die Wes-Rand was die hael so groot soos tennisballe. Motoriste het onder bome probeer skuiling vind, maar groot haelskade is aan voertuie se bakwerk veroorsaak en motorruite is uitegslaan.

‘n Woordvoerder van die Tshwane-nooddienste het gesê hulle het oproepe ontvang van huisdakke wat afgewaai het. Die nooddienste het seile verskaf aan die huise waarvan die dakke afgewaai het.

Die Johannesburgse nooddienste, het gesê sterk winde het ook huisdakke afgewaai en huise is oorstroom. Oorstromings is ook in Roodepoort aangemeld.

‘n Deel van die Randfontein-pad na Vereeniging het ook oorspoel.

Kaapstad maak reg vir stormweer

stormsDie stad Kaapstad se rampbestuursentrum staal hom vir moontlike fratsvloede oor die volgende paar dae.

Wilfred Solomons-Johannes, woordvoerder, het gesê die sentrum is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag geplaas.

Hy het gesê die weerdiens het gewaarsku van reënval van tot 50mm en ‘n kouefront wat verskeie dele van die Wes-Kaap, vanaf Vrydagmiddag tot Saterdag sal tref.

Swaar reënval kan fratsvloede in die Kaapse metropool, suidelike dele van die Weskus-distrik, westelike dele van die sentrale Karoo, die Overberg, Kaapse Wynlanddistrik en die Eden-distrik veroorsaak.

“Stormsterk winde van 65 tot 70km/h word Vrydagmiddag en Saterdag vanaf Tafelbaai tot Kaap Agulhas en aan die Suidkus verwag,” het Solomons-Johannes gesê. – Sapa