Hewige storms, hael tref Gauteng

haelHewige storms oor Gauteng het Donderdagmiddag verwoesting gesaai. Teen vieruur was dit pikdonker soos swaar reënwolke oor die provinsie saamgepak het.

Nooddienste in verskeie dele van Gauteng was deur die die nag op ‘n gereedheidsgrondslag.

Fratsvloede het huise en paaie oorstroom, sterk winde het dakke afgewaai en haelkorrels so groot soos gholfballe, het motorruite uitgeslaan, en huise se dakke en vensters beskadig.

Die volle omvang van die skade sal vandag bekend word wanneer opruimingswerk voortgesit word. In Johannesburg is motoriste na veiligheid gehelp toe paaie oorstroom het.

Berigte van bome wat omwaai het en paaie versper het, is ontvang. In Fourways, Johannesburg, was winkels onder water nadat die dak van Fourways Mall beskadig is.

In Pretoria is huise en paaie oorstroom en treindienste is erg ontwrig, en in Nelmapius, in die ooste van Pretoria, het fratsvloede mense vasgekeer.

Geen beserings is egter weens die storms aangemeld nie.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê die sterk storms het in die omtrek van Parys, Sasolburg en Bothaville in die Vrystaat ontstaan, waarna hulle na Gauteng deurbeweeg het en hael gebring het.

In Randfontein aan die Wes-Rand was die hael so groot soos tennisballe. Motoriste het onder bome probeer skuiling vind, maar groot haelskade is aan voertuie se bakwerk veroorsaak en motorruite is uitegslaan.

‘n Woordvoerder van die Tshwane-nooddienste het gesê hulle het oproepe ontvang van huisdakke wat afgewaai het. Die nooddienste het seile verskaf aan die huise waarvan die dakke afgewaai het.

Die Johannesburgse nooddienste, het gesê sterk winde het ook huisdakke afgewaai en huise is oorstroom. Oorstromings is ook in Roodepoort aangemeld.

‘n Deel van die Randfontein-pad na Vereeniging het ook oorspoel.

Bibberweer vir Gauteng die naweek

warmGauteng  kan die naweek snerpende koue verwag.

Saterdag, die laaste amptelike wintersdag voor lente aanbreek, gaan ‘n behoorlike wintersdag wees en Sondag, wat lentedag is, gaan dit oor groot dele van die land steeds bitter koud wees.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het gesê ’n bielie van kouefront wat die laaste twee dae swaar reëns in die Wes-Kaap gebring het, sal Vrydagaand in Gauteng arriveer en sal Saterdag 11ºC kouer as Vrydag wees.

In dele van Johannesburg sal die kwik Vrydagnag en Saterdag-aand tot -2ºC daal. Drie mense is reeds dood weend die koue in die Kaap.

Die verwagte minimum- en maksimumtemperature vir Vrydag en Saterdag is -2ºC/13ºC en -2ºC/15ºC in Johannesburg en 2ºC/15ºC en 0ºC/18ºC in Pretoria.

Reën word nie vir die noordelike dele van die land voorspel by die bibberweer nie.