praag.co.za

Hewige storms, hael tref Gauteng

Written by

in

,

haelHewige storms oor Gauteng het Donderdagmiddag verwoesting gesaai. Teen vieruur was dit pikdonker soos swaar reënwolke oor die provinsie saamgepak het.

Nooddienste in verskeie dele van Gauteng was deur die die nag op ‘n gereedheidsgrondslag.

Fratsvloede het huise en paaie oorstroom, sterk winde het dakke afgewaai en haelkorrels so groot soos gholfballe, het motorruite uitgeslaan, en huise se dakke en vensters beskadig.

Die volle omvang van die skade sal vandag bekend word wanneer opruimingswerk voortgesit word. In Johannesburg is motoriste na veiligheid gehelp toe paaie oorstroom het.

Berigte van bome wat omwaai het en paaie versper het, is ontvang. In Fourways, Johannesburg, was winkels onder water nadat die dak van Fourways Mall beskadig is.

In Pretoria is huise en paaie oorstroom en treindienste is erg ontwrig, en in Nelmapius, in die ooste van Pretoria, het fratsvloede mense vasgekeer.

Geen beserings is egter weens die storms aangemeld nie.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê die sterk storms het in die omtrek van Parys, Sasolburg en Bothaville in die Vrystaat ontstaan, waarna hulle na Gauteng deurbeweeg het en hael gebring het.

In Randfontein aan die Wes-Rand was die hael so groot soos tennisballe. Motoriste het onder bome probeer skuiling vind, maar groot haelskade is aan voertuie se bakwerk veroorsaak en motorruite is uitegslaan.

‘n Woordvoerder van die Tshwane-nooddienste het gesê hulle het oproepe ontvang van huisdakke wat afgewaai het. Die nooddienste het seile verskaf aan die huise waarvan die dakke afgewaai het.

Die Johannesburgse nooddienste, het gesê sterk winde het ook huisdakke afgewaai en huise is oorstroom. Oorstromings is ook in Roodepoort aangemeld.

‘n Deel van die Randfontein-pad na Vereeniging het ook oorspoel.

Comments

20 responses to “Hewige storms, hael tref Gauteng”

  1. Rooikop Avatar
    Rooikop

    My vrou was gister in die haelstorm hier in PTA se booste ooste – gelukkig net een klein duikie. Die hael was so 3cm in deursnee – mooi gholfbal grootte.

    1. JAVR Avatar
      JAVR

      Dit was verskriklik erg in Kemptonpark deur die nag Rooikop! Vanmore net om omgevalle bome en waterskades gery! Lyk soos ‘n oorlog zone.

      1. Rooikop Avatar
        Rooikop

        Hier lyk dit ook so – ons was net gelukkig. Daar is nie veel van die blomme in die tuin of enige van die bure se tuine oor nie. Takke het so 30cm diep op die grootpad gelê.

        1. Leana Avatar
          Leana

          By ons het die hael ook erg geval. My hele appelkoos oes daarmee heen natuurlik, my en die huis vol paddas. Het byna die dak laat lig toe ek op een trap gisteraand.

          1. gawie maritz Avatar
            gawie maritz

            Een baie gelukkige man in daardie huis.

          2. Leana Avatar
            Leana

            LOL Gawie ja omtrent gelukkig. Dit was sy takie om eers elke liewe paddatjie te vang en weer uit die huis uit te gooi. Ook geleer waar daar paddas is, is daar slange. Die ook een aand in my gang raakgeloop. Nadat die arme dingetjie toetetaal vermorsel is eers uitgevind dis ‘n onskadelike ou rooilippie 🙂

          3. gawie maritz Avatar
            gawie maritz

            As daardie slange begin parras vang is die hel los.

          4. JAVR Avatar
            JAVR

            Ek dink julle praat bymekaar verby?????

          5. JAVR Avatar
            JAVR

            Gee nie om wat se kleur sy donnerse lippie is nie……vrek met hom!

          6. Leana Avatar
            Leana

            Beslis, ek gril myself nou nog morsdood as ek dink daaraan.

          7. JAVR Avatar
            JAVR

            Ohhhhh hel hoe gril ek!!!

  2. JAVR Avatar
    JAVR

    Hierdie storms laat my terugdink seker so 20 jaar! Ons Finansiële bestuurder stop in ‘n hewige storm by die garage om skuiling te soek met sy kar. ‘n Ouuuuuuu boer omie knoop geselskap met hom aan en vra of ons dan nie bid in hierdie plek nie, die dat die weer so erg is! Elke keer as daar storms is dink ek daaraan!!!

  3. Leana Avatar
    Leana

    Wonder of die geleerdes hier rond dalk vir ons ‘n verduideliking kan gee oor hoekom hierdie onnatuurlike fratse, vloede, droogtes en hael nou al hoe meer voor kom.

    1. gawie maritz Avatar
      gawie maritz

      Aardverwarming ???????????

      1. Leana Avatar
        Leana

        So se hulle Gawie, ons sit op ‘n tydbom !

    2. JAVR Avatar
      JAVR

      O watter geleerdes??? Hulle is weg!!! Ons het nou net refleksies soos Tutu se foto hier in die koerant oor!

      1. Leana Avatar
        Leana

        Sal nie eers oorweeg om weer te se dis apartheid se skuld nie JAVR 🙂

  4. JAVR Avatar
    JAVR

    Aan al die mensies, hoop julle het ‘n goeie naweek voor sonder enige skade van wind, weer of flatties nie!

    1. Leana Avatar
      Leana

      Baie dankie en vir jou ook JAVR. Blessings !

  5. Tag Avatar
    Tag

    Was op snelweg by menlyn. Die snelweg se 5 bane het tot stilstand gekom. Het die groot haele gehoor maar hulle was min. By ons in wapadrand het ek vir 3 ure lank blare opgevee. Takkies met blare is v d wilde seringe afgeruk.

Leave a Reply