Ses swart verdagtes het Woensdag in die hof verskyn ná die moorde op ’n bejaarde egpaar van Bethulie. Die saak sal waarskynlik later vanjaar na ’n hoër hof oorgeplaas word.
Skrywer: Dan Roodt
Vavi geskors as Cosatu-hoofsekretaris
Zwelinzima Vavi, wat nie self teenwoordig was toe die besluit deur die sentrale uitvoerende komitee geneem is nie, is geskors as hoofsekretaris van Cosatu.
Hy sal aangekla word daarvan dat hy die federasie se naam in oneer gebring het.
‘n Spesiale vergadering is belê in die raadsaal van Cosatu-huis in Johannesburg om die kwessie van Vavi se buite-egtelike verhouding wat op die lappe gekom het, te bespreek.
Die verdeeldheid onder die komiteelede was reeds voor die vergadering duidelik, en Vavi se vyande kon hom danksy ’n klein meerderheid uitknikker.
Bheki Ntshali-Ntshali, adjunk-hoofsekretaris, sal in die amp waarneem totdat Vavi tugverhoor afgehandel is.
Sdumo Dlamini, president van Cosatu en enigste woordvoerder, het nog geen verklaring oor die skorsing uitgereik nie.
Die metaalwerkersvakbond Numsa het intussen gedreig om uit Cosatu te tree as Vavi geskors word. Hulle sal vandag vergader om die skorsing van die sekretaris-generaal te bespreek.
Die vakbond is die grootste in die Cosatu-federasie en het vroeër probeer om Woensdag se Spesiale Sentrale Uitvoerende Komiteevergadering te keer waartydens Vavi geskors is.
Numsa se sekretaris-generaal Irvin Jim, het bevestig dat Vavi geskors is, hoewel Cosatu dit eers later glo amptelik sal bevestig.
Jim sê Numsa is steeds van mening dat die vergadering ongrondwetlik was.
Egipte: Sky-kameraman doodgeskiet in uitgebreide geweld
Oproer en gewelddadige skermutselinge is oornag en Donderdagoggend regoor Egipte aangemeld nadat ‘n noodtoestand in die land afgekondig is.
Mick Deane (61) het 15 jaar vir Sky gewerk. Hy was getroud met twee seuns. Deane – wat gebore is in Hannover, Duitsland – was deel van Sky News se span wat oor die opstande saam met die Midde-Ooste korrespondent Sam Kiley berig het. Nie een van die ander spanlede seergekry het, het die uitsaaier gesê.
Afrikaans kort Quebecse wette
deur Dan Roodt
[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]
Hou van Dan Roodt se Facebookblad
Vandag is 14 Augustus, oftewel GRA-dag. Elke jaar op dié datum probeer ek besin oor die stand van ons taal, ter herinnering aan die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op dié dag in 1875.
Van kleins af het ek grootgeword met die besef van die belangrikheid van dié dag. In ons huis was daar ‘n boek met swart en wit foto’s rondom die Eerste en Tweede Taalbewegings in Afrikaans, genaamd “Plate-atlas by die Afrikaanse letterkunde”. Dit bevat insgelyks faksimilees van die eerste uitgawe van Die Patriot en ander vroeë Afrikaanse publikasies. Hier en daar het ek al van die foto’s en afdrukke ingeskandeer en op die internet geplaas. Dis trouens iets wat ons behoort te doen: om ‘n omvattende aanlyngeskiedenis van Afrikaans en die Afrikanerbewegings op te bou.

Die funeste oorgawe van mnr. FW de Klerk in 1994, maar ook die verengelsing van die Afrikaner-elite, kan beskou word as een van die groot rampe wat ons getref het. Trouens, vanoggend toe ek opstaan en dink, “dis vandag GRA-dag”, dwaal my gedagtes ook onwillekeurig na “sir FW” wat aan Brittanje en aan Engels die grootste geskenk in hul koloniale geskiedenis besorg het: die vestiging van Engels as Suid-Afrika se enigste amptelike en openbare taal.
Die taalbepalings van die huidige grondwet, soos omtrent alles wat Roelf Meyer bewimpel het, is eintlik ‘n grap. Die maak voorsiening vir elf amptelike tale maar in die fynskrif staan dit die regering vry om self te bepaal wat die amptelike taal sal wees. Soos in ‘n akademiese artikel deur Theodorus du Plessis uitgewys is, is die “taalvoorskriftelikheid” van die 1910- en 1983-grondwette afgeskaf en is ons oorgelewer aan ‘n vaagheid en onbepaaldheid rondom taal wat “regsgronde skep… vir die vestiging van Engels as supra-ampstaal en van ’n nuwe vorm van taalhiërargie”.
Trouens, dis by my ‘n ope vraag wie se minagting vir Afrikaans die grootste is, dié van die tradisionele Afrikaanshaters onder die Britse kolonialiste – waaronder ook die “rooi kolonialiste” van die afgelope aantal dekades – of dié van sir FW de Klerk, lord Koos Bekker en die res van die ryksmeelopers.
Gister op Twitter het ek genoem dat ons in die huidige stryd sal oorwin om die volgende redes:
- Ons vyande se propaganda word deur die werklikheid ontken.
- Hul enigste ID is haat vir ons, niks van hul eie. (Met ander woorde, die huidige soort kwasi-Engelse identiteit in Suid-Afrika berus op ‘n anti-Afrikaner-gevoel en bevat geen eie inhoud of positiewe selfdefinisie nie.)
Ons kan dus uitsien na ‘n tyd wanneer dié dwingelandy met sy geweld en taaldiskriminasie net ‘n aaklige herinnering sal wees. Die vraag is egter hoe Afrikaans dan as openbare en amptelike taal herstel sal word?
Die taalwette van Quebec, wat insgelyks die Franse taal in Noord-Amerika teen die omliggende oorheersing van Engels moet beskerm, bied aan ons ‘n nuttige studie-onderwerp. Daar bestaan ‘n sogenaamde “Handves van die Franse taal” (Charte de la langue française) wat van Frans die amptelike taal van die Quebec-provinsie maak. Omdat die Kanadese grondwet verhoed dat Frans die enigste amptelike taal van die provinsie mag wees, is enkele toegewings aan Engels gemaak:
- Wette word in ‘n Engelse en Franse weergawe gepubliseer, met albei tekste wat as amptelik erken word;
- Mense mag die howe in Engels aanspreek;
- Die uitsprake van howe is in die amptelike taal (dus Frans) beskikbaar of in Engels indien een van die partye daarom sou vra.
- Die handves van die Franse taal is nie op die Indianereservate van toepassing nie.
Verder staan die handves vyf grondliggende taalregte aan alle Quebecane toe:
- Die reg van alke persoon om in Frans met allle vertakkings van die regering, professionele verenigings, werknemersverenigings, en sake-ondernemings wat in Quebec gevestig is, te kommunikeer.
- Die reg van elke persoon om Frans in vergaderings te praat;
- Die reg van werkers om hul werk in Frans te verrig;
- Die reg van verbruikers om in Frans ingelig en bedien te word;
- Die reg van elkeen wat vir onderwys in Quebec kwalifiseer, om hul onderrig in Frans te ontvang.
Wat die aanbring van openbare tekens, reklame en dergelike betref, word die taalhandves deur die Kanadese howe só geïnterpreteer dat meertalige openbare tekens vertoon mag word, met dien verstande dat die Frans oorheers. In die praktyk beteken dit dat enige Engelse boodskap altyd vergesel moet word deur ‘n Franse boodskap wat aansienlik groter is. Iewers het ek gelees dat die Engelse letters net 30% so groot soos die Franse letters mag wees. Dit klink heel billik, hoewel die Engelse letters na my smaak nog ‘n bietjie te groot is.
Groot dele van Suid-Afrika waar Afrikaans die meerderheidstaal of die lingua franca is, kan met sulke wetgewing weer verontengels word. Afrikaners kan egter een stap verder gaan en die gebruik van Engelse tekens geheel en al in sulke gebiede verbied.
Selfs in hierdie Engelse Suid-Afrika met sy uitheemse kultuur, verskyn daar steeds Afrikaanse inligting op een bepaalde gebied: op medisinale verpakkings. Dit is omdat die wet wat onder die ou regering ingestel is nog nooit deur die ANC herroep is nie. Selfs Afrikaansvyandige maatskappye volg hierdie wet slaafs na, wat aantoon in welke mate taalwetgewing ‘n maklike en doeltreffende manier is om ‘n bepaalde taal te bevorder.
Ek het min vertroue in die taalpatriotisme van Afrikaners. In elk geval is dit moeilik om aanmekaar op openbare plekke, in restaurante en elders, op Afrikaans aan te dring wanneer ‘n groot aantal Afrikaners reeds gekondisioneer is om die huidige taalhiërargie (Engels bo) te aanvaar.
Die toekoms van Afrikaans sal bepaal word deur die huidige Afrikanerbeweging wat hom veral teen geweld in die vorm van volksmoord en etniese suiwering verset. Die uitwissing van Afrikaans maak deel van daardie volksmoord uit. Dit beteken ook dat mense soos me. Barbara Creecy van die Gautengse onderwysdepartement, wat besig is om Afrikaanse skole in die provinsie te probeer verengels, reguit van volksmoord aangekla behoort te word.
Afrikaners sal moet leer om soos die Quebecane, die Vlaminge en ander hul taalregte op te eis. Dis immers waarvoor die G.R.A. in 1875 gestig is. Dis onbegryplik dat Afrikaners onder die invloed van sir FW, die media en akademici, hul grootse tradisie van taalstryd grotendeels laat vaar het.
[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]
Die bleekvel-Atlasse
deur Manfred Delport
[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]
Volg Manfred op Facebook.
Die ANC-bewind het glad ‘n ministerie wat bekend staan as die Ministerie van Swart Lesbiërs in Rolstoele. Goed, nie heeltemal nie, dis bekend as die Ministerie van Vrouens, Kinders en Mense met Gestremdhede. Laasgenoemde groep, diegene met gestremdhede, is uiteraard ‘n pragtige versamelnaam vir al wat ‘n ANC-kieser is, en veral vir die linkse hoenderhok se malletjies wat nie kan wag om die ANC-bewind se deuntjie te sing nie. Dié ministerie kon eintlik ook die “Ministerie vir Almal behalwe Blanke Mans” geheet het.
Die groot teiken van regstellende aksie is natuurlik ook blanke mans, omdat blanke vrouens in die teorie ook kwalifiseer as voorheen benadeeldes, alhoewel dit ook maar moeilik in die praktyk gaan vir ‘n “pale female” om ‘n werk te kry, wanneer sy moet meeding met anderskleuriges. Dinge raak deesdae so absurd met RA en SEB, dat die grootliks blanke belastingbetaler skoon ‘n astronomiese bedrag van R35 miljoen moes opdok as ‘n lening aan die alreeds skatryke Khanyi Dhlomo-Mkhize (en hoekom, o hoekom, irriteer sulke pretensieuse dubbelvanne sewe soorte stront uit my uit?), sodat me Mkhize weer eens bemagtig kon word met ‘n boetiek in Hydepark. Laat dit vir die bleekvel-belastingbetaler ‘n les wees, was die boodskap vanaf die ANC-bewind – ons sal onsself oor en oor bemagtig want ons is swart en ons kán.
Ek het daarom bietjie gewonder of daar nie iewers ‘n oplossing vir die bleekmanvraagstuk moet wees nie. Ons is duidelik onwelkom in die Guptatopiese samelewing, asook in ander multikul-samelewings soos die VSA s’n, en ons word boonop van allerhande misdrywe beskuldig: Ons is glo patriaargaal omdat ons lelik is met onaantreklike feministe (is daar ‘n ander soort?), ons ontneem anderskleuriges van hul regmatige poste agv ons kwalifikasies en bekwaamhede, ons is glo rassisties omdat ons vrae vra oor die relatiewe misdaadkoerse tussen blankes en anderskleuriges, en so gaat die klagstaat teen ons aan en aan. Ek voel my al skoon skaam om in die openbaar te verskyn. Netnou onderdruk ek nóg mense agv my blote bestaan, al is dit nie moedswillig nie.
Enige oplossing vir die bleekmanvraagstuk sal moet sorg dat ons as bleek mans nie meer mense onderdruk deur die waarheid oor misdaad te moet praat nie, dat ons nie die RA-aanstellings minderwaardig kan laat voel agv ons vaardighede nie en dat ons nie meer die feministe met hul plat skoene so moet ontstig omdat ons die bybelse instruksie om die priesters in ons huise te moet wees, wil gehoorsaam nie.
Ek dink persoonlik Ayn Rand het reeds in 1957 die oplossing hiervoor aangebied in haar roman, Atlas Shrugged. Die titel verwys na wat sou gebeur as ‘n reus in die Griekse mitologie, Atlas, sou ophou om die aarde op sy skouers te dra. Atlas synde natuurlik ‘n metafoor vir die einste bleek mans wat die ekonomie aan die gang hou – die meerderheid van die derduisende Afrikaner-entrepreneurs en nyweraars, asook mense soos Mark Shuttleworth, Steve Jobs, Bill Gates, Hendrik van der Bijl en andere is of was bleek mans. In Atlas Shrugged spekuleer Rand wat sou gebeur as sulke mense hul vaardighede onttrek en ophou om miljoene parasiete, asook ‘n parasitiese staat, te ondersteun. Rand maak die punt dat die parasiete en hul parasitiese staat op die Atlasse in die ekonomie se vrywillige samewerking staatmaak om ons te kan benadeel, en dat as sodanige samewerking onttrek word deur die Atlasse, die ganse sosialistiese kaartehuis in duie sou stort, en dat selfs die VSA gevolglik in Noord-Korea sou verander. Laasgenoemde sosialistiese hel is egter presies waarna linkse akademici, hoenderhokbewoners, ANC-lede, aanhangers van Julius Malema, asook die meeste feministe, smag, dus is dit inderdaad ‘n spreekwoordelike wen-wen-oplossing, sou Atlas wel nie meer wou nie.
Siende dat ons as Atlasse so onwelkom is, sou die antwoord dus wees dat ons as onwelkome bleek mans uit al wat ‘n multikulti-samelewing is, verwyder moet word. Hou ons, Ayn Rand se Atlasse, om hemelsnaam dus net weg van ons “slagoffers”. Skep dus vir die Amerikaanse Atlasse ‘n reservaat iewers soos Montana, nes die Amerikaanse Indiane reservate het, sodat hulle kan ophou om so lelik met die anderskleuriges, verveelde akademici en feministe te wees deur aanhoudend die ongerieflike waarheid te wil praat. Gee vir Afrikaner-Atlasse ons eie reservaat hier in Suider-Afrika, vyf persent of so van die land se oppervlakte. As daar dan wel nie-feministiese bleek vrouens is, wat hou daarvan dat die mans tog die priesters is in hul huishoudings, sou sulke vrouens uiteraard natuurlik baie welkom wees om die 0.000001% feministe aan hul eie lot oor te laat en te laat krepeer in die sosialistiese hel wat sou volg, en saam met sulke mans na hul reservate te trek.
Ek is oortuig daarvan dat al wat ‘n linkse hoenderhokbewonertjie, al wat ‘n ANC-lid is, en al wat ‘n linkse akademikus is, hierdie gedagte met oorgawe sou ondersteun. Gee vir die Atlasse ons reservate of volkstate, en siedaar! Probleem opgelos! Die sosialistiese hemel op aarde sal dan vir al die res aanbreek; vanaf die RA-voordeeltrekkers, verby al die ANC-lede, deur die linkse hoenderhokkie en tot by platskoen-feministe. Wanneer die Atlasse se reservate dan onvermydelik ‘n sukses word, sal ons as Atlasse wel net moet sorg dat ons weermag die miljoene parasiete kan uithou wanneer hulle van die hongersnood wil ontkom as die sosialistiese hel sy onvermydelike verskyning gemaak het.
Ons kan ons Atlas-weermag egter maklik regverdig, nes die Oos-Duitse regering dit met die Berlynmuur gemaak het. Ons bemark dit soos volg: Die weermag sal nie daar wees om die vlugtelinge uit die sosialistiese hel buite te hou nie, maar eintlik daar wees om die Atlasse binne te hou, om te keer dat ons nie die res kan onderdruk nie.
[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]
Volg Manfred op Facebook.
Word ‘n PRAAG-vrywilliger!
PRAAG is op soek na vrywilligers om op verskeie van ons komitees te dien:
- Menseregte: ons kom al hoe meer menseregtevergrype teen Afrikaners/blankes teë wat aandag verg.
- Ekonomie: ons ondersoek tans verskeie ekonomiese geleenthede en projekte wat werk en welvaart vir Afrikaners kan skep.
- Onderwys: daar heers steeds verskeie bedreigings vir Afrikaanse onderwys en ons moet enkele teenstrategieë in werking stel.
- Vertalers: As u Afrikaans goed is, beskik ons altyd oor vertaalwerk wat gedoen moet word, gewoonlik vanuit Engels na Afrikaans, maar vreemde tale soos Frans en Duits kan ook handig te pas kom.
Ons kommunikeer sover moontlik virtueel en dus sal dit weinig tyd en moeite verg. Ons vergader een keer per maand via die internet om vordering te bespreek.
Almal kla, maar doen niks om ons situasie te verander nie. Raak betrokke!
Boendoegeregtigheid: beweerde inbreker in KZN gedood

Vier mense is in hegtenis geneem vir die beweerde moord vanoggend op ‘n vermoedelike inbreker in Panorama-tuine, Pietermaritzburg, sê die polisie van Kwazulu-Natal.
‘n 27-jarige man is met veelvuldige beserings is in ‘n afloop gevind waar hy blykbaar gepoog het om by ‘n huis in die buurt in te breek, sê kolonel Jay Naicker.
“Ons doen ‘n beroep op lede van die publiek om enige misdaadbedrywigheid aan die polisie te rapporteer en die gereg toe te laat om sy gang te gaan.”
Die vier sal binnekort in die Pietermaritzburgse Landdroshof verskyn. – Sapa
Koos Bekker, die Kaapse ‘Keiser Nero’

Die hoof van Naspers, Koos Bekker, besit volgens dié onderneming se jaarverslag 16,4 miljoen aandele in die maatskappy, wat ongeveer R17 miljard werd is. Dit maak van hom die derde rykste Afrikaner ná Johann Rupert (R50 miljard) en Christo Wiese (R37 miljard). Bekker is ook die agste rykste mens in Suid-Afrika, ryker as mev. Wendy Ackerman van die Pick ‘n Pay-familie wat op R14,6 miljard staan.
Bekker is egter ‘n kortkop agter Wendy Appelbaum, erfgename van die Gordon-familietrust wat met die Liberty-versekeringsgroep verbind word. Haar fortuin staan op R20 miljard. Die ander Suid-Afrikaners wat ryker as Bekker is, is Ivan Glasenberg (R100 miljard), Nicky Oppenheimer (R68 miljard), Patrice Motsepe (R26 miljard) en Elon Musk, die medestigter van PayPal en Tesla Motors, wat die skaal op R20 miljard trek.
Bekker eet gereeld in van die wêreld se duurste restaurante en besit saam met sy vrou, Karen Roos, die luukse “plaashotel en spa” genaamd Babylonstoren. Die plaas is in die Drakensteinvallei tussen Franschhoek en die Paarl geleë en word soos volg beskryf:
“Babylonstoren is ‘n Kaaps-Hollandse plaas met wingerde en vrugteboorde, omring deur die dramatiese berge van die Drakensteinvallei. Die plaas het ‘n besonder goed-bewaarde werf wat dateer uit 1690. Die vrugte- en groentetuin van botaniese diversiteit voorsien produkte aan ‘n besondere restaurant. Gaste wat by die eksklusiewe plaashotel tuisgaan geniet toegang tot die hele plaas, asook geriewe soos die spa en gim. Die doelwit is om gaste meer ontspanne te laat voel, te verkwik omring deur die warm glimlagte en eenvoudige daaglikse ritme van die plaas.”

Ook op die plaas is die eksklusiewe restaurant “Babel” wat blykbaar vanaf die plaas en vanuit die omgewing van proviand voorsien word. Bekker se vrou, Karen Roos, is ‘n voormalige redaktrise van binneversieringstydskrifte soos Elle Decoration en Red en beskryf haar as ‘n Epikureër en hedonis.
Koos Bekker, die suksesvolle globale kapitalis, koester egter ook ‘n sagte plekkie vir Bram Fischer, die voormalige leier van die ondergrondse Suid-Afrikaanse Kommunisteparty. Tydens die omstredenheid rondom die toekenning van ‘n eredoktorsgraad aan Fischer deur die Universiteit van Stellenbosch in 2004, het Bekker oor Fischer gesê: “Mens moet ‘n harde hart hê as iets in sy storie jou nie aangryp nie.”

Bekker het in ‘n toespraak veral uitgevaar teen die regsgeleerde en lid van die DA, dr. Tertius Delport, wat die toekenning van ‘n eredoktorsgraad deur Stellenbosch met ‘n teenmosie wou verhoed: In sy afwysing daarvan het Bekker gesê: “Die Delporters onderskat miskien die intellek van die Stellenbosse alumni. Dit is nie die gewone stemvee nie. Hoe op aarde stel mens Fischer se nalatenskap as bloeddorstig voor, waar Afrikaners soos hy en Beyers Naudé so ‘n groot rol gespeel het om Nelson Mandela en ander van die essensiële goedheid van die mens te oortuig? Hierdie aanname lê vandag ten grondslag van ons demokrasie.
“Verstaan hulle nie die masjinerie van die geskiedenis nie, of is die mosie maar iets irrasioneels, ‘n opwelling uit die put van skaam-kwaad?”

Tydens Koos Bekker se bestuur van Naspers, het die maatskappy besluit om die term “Afrikaanse” in te voer om die woord “Afrikaner” te vervang wat volgens die voorsitter, Ton Vosloo, “aanstoot gee”. Joernaliste van Die Burger en ander Nasperspublikasies het omsendbriewe ontvang waarin hulle verbied is om die woord “Afrikaner” te gebruik, tensy dit in ‘n aanhaling deur iemand anders verskyn.
Met die aanvang van die Afrikaanse taalstryd in die vroeë 2000s het Bekker volgens ‘n voormalige kunsredakteur van Die Burger ‘n klompie van sy Afrikaanse joernaliste byeengeroep en oor die “gevoel ten gunste van die Afrikaanse taal” uitgevra. Blykbaar was Bekker verbaas daaroor dat mense hoegenaamd sterk gevoelens oor Afrikaans koester en het hy ook aan die joernaliste beklemtoon dat Afrikaanse media op daardie stadium slegs 12% van Naspers se omset uitgemaak het.
DIé syfer is vandag waarskynlik veel minder.
Hospitaal moet opdok ná ‘rassisme’-klag
‘n Federale jurie het die Ogden Regional Medical Center daaraan skuldig bevind dat hy wederregtelik opgetree het teen ‘n werknemer wat ‘n rassisme-klag aanhangig gemaak het.
Hofrekords toon dat die Amerikaanse distrikshofjurie in Salt Lake City, Utah, op 2 Augustus 2013 bevind het dat Raymond Zisumbo op $7 500 (ongeveer R75 000) aan vergoeding geregtig is.
Hoewel dié bedrag nie buitensporig is nie, het Zisumbo se prokureur, April Hollingsworth aan die koerant, die Standard-Examiner, gesê dat sy aansoek gaan doen om $200 000 (R2 miljoen) van haar kliënt se teruggedateerde salaris.
Jurielede het bevind dat die hospitaal die voormalige rekenaartopografietegnikus uit weerwraak ontslaan het, maar dat die hospitaal nie aan diskriminasie skuldig was nie.
Zisumbo is ‘n Spaanssprekende kleurling (“Hispanic”). Hy het oor ‘n graad en vyf jaar se werkservaring beskik toe hy in 2004 vir die hospitaal begin werk het.
Hy het as tussentydse departementshoof gedien alvorens hy die diskriminasieklag aanhangig gemaak het omdat hy nie bevorder is nie. Tydens die daaropvolgende maand is hy afgedank. – AP
Tim du Plessis en Anton van Niekerk se foutlose politieke argitektuur
JH du Toit haal Tim du Plessis soos volg aan: “Anders as onder apartheid is die argitektuur van die huidige politieke bedeling nie defektief nie” (Praag 4 deser). Wat Du Plessis blykbaar hiermee sê, is dat hy tevrede met FW de Klerk se politieke skikking en met die grondwet is; dus dat ‘n gesonde grondslag vir ‘n suksesvolle, vooruitstrewende en voorspoedige land bestaan.
Van Du Plessis se kant af is daar klaarblyklik geen beswaar dat De Klerk se beloofde magsdeling algehele oorgawe aan swart mag geword het nie; ook nie dat De Klerk geen mandaat hiervoor gehad het en die huidige politieke opset dus streng gesproke onwettig of ten minste ongemagtig is nie. Die blatante verraad wat teen die blanke kiesers gepleeg is, het volgens Du Plessis dus nie aanleiding tot wesenlike tekortkominge gegee nie. Kortom, laat ons juig en bly wees, want dit is blykbaar net in die toepassing van die voortreflikhede waar daar soms dinge is wat ‘n bietjie haper. In werklikheid is die wittes in 1990/94 ernstig tekort gedoen terwyl die swartes buitensporige oorvergoeding ontvang het.
Ten spyte van sy verlede word Nelson Mandela as ‘n ikoniese held voorgestel wat wêreldwyd vereer word. Tydens sy verhoor het hy homself soos volg gekomplimenteer: “I have fought against white domination, and I have fought against black domination” (Nelson Mandela, Long Walk to Freedom, London: Abacus, 1995, p 438). Wat Mandela hier gesê het, is dat nóg die wittes nóg die swartes toegelaat moet word om die landspolitiek te oorheers. Dit kan vertolk word as in ooreenstemming met die beloofde magsdeling waaroor De Klerk so hoog opgegee het, maar waarvan daar geen teken is nie.
Waarmee ons vandag sit, is algemene stemreg in ‘n eenheidstaat. Geen kwalitatiewe vereistes vir stemreg, behalwe burgerskap en ouderdom, word gestel nie. Dit is ‘n geval van een mens, een stem. Iedere stem het dieselfde gewig of waarde. In die praktyk beteken dit kolossale en toenemende swart dominansie, waarteen Mandela sedert 1990 geen beswaar geopper het nie. Hoewel elke stem dieselfde waarde het, het elke kieser egter nie naasteby dieselfde waarde vir die land nie, bv die boer is baie meer werd as die plaasarbeider. Die sakeman met ‘n besigheid en eiendom het groot belang by wat plaaslik en in die land gebeur. Tog het sy stem dieselfde waarde as dié van die armlastige en selfs misdadige nie-betaler wat op aalmoese leef.
Deel van die politieke “argitektuur” waarmee ons opgesaal sit, is die oordrewe klem op menseregte wat meebring dat misdadigers hulle stemreg in die tronk behou. Diesulkes wat dade teen die belange van die samelewing gepleeg het, word dus toegelaat om inspraak in die voortgang van die land te hê. In baie Amerikaanse state word die stemreg van gevangenes egter opgeskort en in die geval van ernstige misdade kan stemreg in 14 state permanent ontbeer word (“Disenfranchised for life,” The Economist, 24.10.1998, p 60). As hierdie gesonde beginsel in die nuwe Suid-Afrika ingevoer word, sou van die dikste spykers in ons jong demokrasie nie kon stem nie. Booswigte het dit immers as ‘n prestigesaak beskou om misdade tydens die “apartheidsregime” te pleeg.
Suid-Afrika het onder blanke leiding die ontwikkeldste land in Afrika geword. As die land in Noord-Afrika was, kon dit aan die nabyheid van Europa toegeskryf word. Dat die suksesvolste Afrikaland op die verste punt van Europese beskawing geskep is, dui op ‘n byna ongelooflike prestasie. Hierdie voorspoed kan hoofsaaklik aan die teenwoordigheid van ‘n substansiële getal blankes oor ‘n tydperk van eeue toegeskryf word. Hierdie lofwaardig ontwikkelde en gesofistikeerde land is eensklaps aan ‘n polities en administratief grootliks onervare en onkundige “bevrydingsbeweging” oorgedra. Dit was rewolusionêre dwaasheid.
Leon Wessels noem dit “‘n onderhandelde revolusie” (Vereeniging, die Onvoltooide Vrede, Kaapstad: Umuzi, 2010, p 57). Wessels, wat oorloop van ons “bewonderingswaardige Grondwet” (p 60), beweer dat “elkeen gelyke regte, behandeling en geleenthede [in die nuwe Suid-Afrika] sou geniet” (p 56). In werklikheid is die argitektuur van die nuwe politieke bedeling sodanig dat die uitkoms ongelyke regte is.
Om suksesvol te wees, moet die lot van ‘n land nie deur die meeste mense bepaal word nie, maar deur die beste (bv ontwikkeldste, beskaafdste, bekwaamste, toegewydste, hardwerkendste) mense. Dit impliseer dat stemreg aan kwalitatiewe standaarde moet voldoen. Vanselfsprekende vereistes is funksionele geletterdheid en ingeligtheid; vermoëns wat tans nie van kiesers of politici vereis word nie. As “geregtigheid” deesdae beteken dat iedereen in ‘n demokrasie moet kan stem, kan ‘n stem met die minimum gewig aan dese en gene toegeken word. Hoe meer ‘n indiwidu vir ‘n land werd is, hoe swaarder behoort die gewig van sy stem egter te wees.
Blankes het eeue lank opgeoffer om plaaslik baie tot stand te bring. Die swartes, wat hulle tans so graag met hulle Amerikaanse broers en susters vereenselwig, was nooit slawe nie en is nie verplig om te werk nie. Daar word deesdae graag beweer dat Suid-Afrika se ontwikkeling aan die “sweet, bloed en trane” van die swartes te danke is. In die res van Afrika is daar baie sodanige sweet, bloed en trane, maar ontwikkeling het agterweë gebly omdat arbeid nie danksy bekwame leiding beheer en gerig is nie.
“Na die [Anglo-Boere-]oorlog was daar ‘n opeenhoping van hawelose swartes op die boereplase en in die groot nywerheidstede en tog was daar ‘n gebrek aan arbeiders op sowel die plase as in die nywerhede, en die reservate was reeds oorbevolk” (Louis Changuion, Omstrede Land, Pretoria: Protea Boekhuis, 2011, p 120). Dit herinner aan die invoer van slawe in die 17de eeu omdat die Khoisan grootliks onbruikbaar as arbeidsbron was. Dit laat ‘n mens ook dink aan die invoer van Indiërs as tydelike werkers op die suikerplantasies gedurende die laaste veertig jaar van die 19de eeu, asook die werwing van swartes in veral die buurlande as trekarbeiders vir die myne. Daar was baie swartes in Suid-Afrika maar baie van hulle was ongeskik of ongeneë om bevredigend as arbeiders te funksioneer. Omdat hierdie swartes nooit slawe was nie, is daar by baie van hulle nie ‘n werkkultuur geskep soos by bv sommige Kaapse Maleiers nie.
Wat in die land opgebou is, het oornag in die skoot geval van mense wat dit nie naasteby verdien nie. Voor 1990 het die ANC en soortgelyke “bevryders” doelbewus probeer om die land sover moontlik af te breek. Sedertdien word die vernietiging in baie opsigte weens bv onbevoegdheid voortgesit. Dit is gewoon nie in die openbare belang nie. Daar kan geredeneer word dat swartes op grond van die mate van arbeid wat hulle gedoen het, op ‘n aandeel in politieke mag aanspraak kan maak. Maar dit behoort nie meer as die helfte van daardie mag te wees nie. Die ander helfte kom die blankes (desnoods saam met die bruines en Asiate) toe. As laasgenoemde groep (of desnoods albei groepe) daarbenewens ‘n vetoreg gehad het, sou die politieke “argitektuur” minder defektief gewees het.
Anders as in bv die VSA, sit ons met ‘n grondwet wat geen minderheidsregte erken nie. Iemand soos Willie Esterhuyse (in Eindstryd, 2012) verbly hom daaroor dat daar in die nuwe Suid-Afrika net indiwiduele en geen groepregte is nie. In werklikheid is dit net die wittes wat van hulle groepregte gestroop is. Die bruines, Asiate en veral swartes het groepregte. Ingevolge sogenaamde regstellende aksie word indiwidue in daardie groepe bevoordeel; nie noodwendig omdat diesulkes oor die nodige bevoegdheid beskik nie, maar omdat hulle op grond van geboorte lidmaatskap van daardie groepe het.
Daar word dikwels beweer dat die grootste tekortkoming van die vorige politieke bedeling rassediskriminasie was, dus die bevoordeling van een etniese groep bo ander. ‘n Mens sou dink dat enige poging om ‘n beter politieke bedeling daar te stel vanselfsprekend sou uitgaan van die onwrikbare standpunt dat alle rassediskriminasie verbied word. Pleks daarvan word rassediskriminasie teen blankes (en net blankes) deur die grondwet toegelaat en eintlik vereis. Daar kan geredeneer word dat dit gedoen is om vir die beweerde historiese benadeling van ander groepe te vergoed.
Die ooglopende fout met hierdie argitektuur is dat geen keerdatum vir die beëindiging van gewettigde rassediskriminasie teen blankes gestel is nie. Die progressief groter wordende swart dominansie het die grondwetlike reg om hieroor te besluit en kan die neo-rassediskriminasie teen blankes tot in die oneindige laat voortbestaan. Dit is onwaarskynlik dat die blankes in die huidige politieke opset ooit van die juk van rassediskriminasie bevry sal word, omdat dit moontlik eers sou gebeur wanneer swartes nie meer vrees om op gelyke voet met blankes om bv poste mee te ding nie.
Waarop die argitektuur van die huidige politieke bedeling neerkom, is dat blankes nie hulle regmatige plek in die samelewing gegun word nie. Op grond van hulle bewese prestasie verdien blankes eintlik beter behandeling en meer agting as ander groepe. In werklikheid sit wittes tans met minderwaardige burgerskap in hulle geboorteland en word hulle daagliks verguis pleks van vereer vir wat hulle tot stand gebring het.
‘n Rubriekskrywer soos Tim du Plessis moet elke week iets kry om oor te skryf. Dit is nie altyd maklik om ‘n onderwerp te vind wat sinvol is nie. In sy eie belang moet hy liefs sê dat hy te besig of te siek is om sy rubriek te skryf as om die dwaasheid te verkondig dat ons politieke argitektuur nie defektief is nie. Hy verhoog nie sy aansien met sulke uitlatings nie. Hy bevorder sekerlik ook nie die belange van sy mense nie.
Anton van Niekerk van die Universiteit Stellenbosch (US) het die afgelope week weer op sy regop gekeerde lessenaar geskryf en te kenne gegee dat daar nie skadelike rassediskriminasie teen blankes gepleeg word nie; dat die ongelyke behandeling wat wittes te beurt val inderdaad heilsame gevolge het. Van Niekerk het met hierdie vergesogtheid vorendag gekom: “Die US toon dat transformasie en gehalte nie teenoor mekaar staan nie, maar mekaar juis ondersteun” (Die Burger, 7 deser, p 9).
Wat Van Niekerk beweer, is dat hoewel (1) al hoe meer nie-wit kandidate met bewese akademiese onderprestasie ten koste van akademies sterker blanke kandidate as studente tot die US toegelaat word en (2) al hoe meer nie-wit kandidate met mindere akademiese kwalifikasies en ondervinding ten koste van akademies sterker blanke kandidate as dosente aan die US aangestel en bevorder word, die akademiese gehalte van hierdie universiteit deurlopend verbeter.
Van Niekerk het enkele dekstoele geselekteer wat hy as aanduidend van akademiese uitnemendheid vertolk, bv “die volgehoue verbetering in die deurvloeikoers,” wat egter heel moontlik aan die verlaging van akademiese standaarde toegeskryf kan word. Hy verwys na die navorsingsuitsette, maar analiseer hulle nie. Sodanige ontleding toon dat dit hoofsaaklik wit akademici is wat navorsingsgewys presteer. Van Niekerk beweer egter dat sodanige akademiese prestasie aan transformasie te danke is. In werklikheid dui die mate van gesonde akademie wat steeds op die kampus bestaan, op reste van die US van weleer wat oorleef het.
Die groter prentjie is: Transformasie hou nie, soos Van Niekerk beweer, die akademiese skip van die Botman-US vlot nie, maar verseker veel eerder die ondergang daarvan. Dit is ooglopend dat die US deesdae eerder politiek-korrek as akademies-korrek wil wees. Van Niekerk bring die blye tyding dat deur die politieke here te dien, die US op ‘n voortreflike manier daarin slaag om ook die akademiese here dien. Dus, hoe meer die US hom op die breë weg van ANC-politiek begeef, des te beter word die smal weg van die akademie bewandel.
Wat Van Niekerk by implikasie beweer, is dat hoe meer die US verswart, dus hoe minder die blanke teenwoordigheid op die kampus, des te uitnemender word die US as akademiese inrigting. Wêreldwyd weerspreek vergelykende swart-wit akademiese en ander prestasie egter hierdie Van Niekerk-stommiteit. Wat Van Niekerk beweer, is onverdunde twak.



