Ope brief aan Tim du Plessis: Huidige ‘argitektuur’ ís defektief

Deel op

viktimokrasie

deur JH du Toit

In u Rapport-rubriek van verlede Sondag uiter u die volgende gewigtige stelling: “Anders as onder apartheid is die argitektuur van die huidige politieke bedeling nie defektief nie.”

Geen mate van ontkenning kan meer die hoë geweldsmisdaad teen die minderheid, gedwonge verengelsing, ekonomiese diskriminasie, toenemende haatspraak, ens. verdoesel nie.

Hierdie situasie is simptomaties van die onwerkbaarheid van die huidige grondwetlike model in ‘n hoogs verdeelde samelewing. Die liberale demokratiese sisteem binne ‘n eenheidstaat is besig om liederlik in Suid-Afrika te misluk. Vir so ‘n sisteem om vreedsame naasbestaan moontlik te maak moet daar ‘n hoë graad van sosiale kohesie tussen onderskeie groepe bestaan. Daar moet ‘n mate van konsensus tussen almal wees oor wat in die gemeenskaplike belang is. In SA bestaan daar nie ‘n begrip van gemeenskaplike belang nie en dis te verstane, gegewe ons verlede.

In samelewings waar daar histories erge verdeling tussen groepe bestaan, ontbreek hierdie soort konsensus. Lande soos die VSA het wel tot ‘n groot mate daardie konsensus bereik, maar Suid-Afrika beskik oor ‘n heel ander samestelling en sal dit baie onwaarskynlik ooit bereik. In die VSA was die meerderheid altyd bemagtig, in SA streef die meerderheid konstant na bemagtiging ten koste van die minderheid. Dit is ‘n onuitputbare bron van spanning en konflik.

Die De Klerk-regering het glad nie hierdie hoogs verdeelde aard van SA in berekening gebring by die finale skikking nie. Eintlik is dit uiters ironies as mens in ag neem dat Kodesa die einste produk van ‘n samelewing in konflik was. Dit is ‘n gegewe dat sonder beskerming aan die minderhede die “onderdrukte” meerderheid geensins in die beste belang van hul voormalige “onderdrukker” sou regeer nie.

Te midde van hierdie risiko sou verantwoordelike risikobestuur vereis dat ‘n nuwe bedeling hierdie bedreiging vir die minderheid in ag neem. Blote grondwetlike “waghond”-instellings sou dit nie kon verseker nie omdat sulke instellings nie deur die minderheid beheer word nie. Nee, die nuwe bedeling sou die minderheid met ‘n sekere beheer oor hul eie lot moes laat. Daar bestaan verskeie modelle wat wissel van die konsosiatiewe tot die streekskonfederale. Selfs in lande met hoë sosiale kohesie, soos Nieu-Seeland, geniet die minderheid bepaalde konsosiatiewe beskerming.

Magsdeling was in elk geval FW De Klerk se mandaat, dus kan daar nie nou gepleit word dat die NP-regering nie sou kon voorsien dat blankes die onderspit sou delf in die nuwe bedeling nie. Ek dink dit is tyd dat Rapport en ander Nasperspublikasies begin erken dat die “argitektuur” van die huidige bedeling nie na die minderheid kan omsien nie en dat die Afrikaner en ander etniese minderhede toenemend die onderspit delf.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.