Goddank Afrikanervroue is geen feministe nie!

roodt_dan_wiki

deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Eintlik vier ek glad nie ANC-vakansiedae nie en beskou dit net as ‘n rustige werksdag sonder verkeer of onderbrekings waartydens ‘n mens baie gedoen kan kry. Behalwe die polities korrekte banke, is omtrent al die winkels in elk geval oop, dus heers daar ‘n verfrissende gebrek aan toewyding aan “Wimmens day”.

Netnou het ek egter skrams die opskrif van een van Naspers se idiotiese rubriekskryfsters op News24 raakgesien; elke jaar dien “Wimmens day” as voorwendsel om verslete feministiese clichés aan ons op te dring. Daarom voel ek my genoop om, soos ‘n witmens wat ‘n papier op die vloer sien lê, dit op te tel en in die snippermandjie te gooi. Of om die stuk onkruid of kakiebos uit te trek, voordat dit vervuil.

Ek verbeel my ‘n week of twee gelede het die joernalistiekdosent op die Potch-kampus en eertydse Huisgenoot-joernalis, Hannelie Booyens, insgelyks ‘n tirade teen vroue wat kan kook en dalk mooi lyk op Rapport se webwerf gelewer.

Op die keper beskou, was dit ‘n tirade teen die Afrikanervrou as sodanig. Want die meeste Afrikanervroue kán kook en vele is beeldskoon. Naas die Bybel, is die legendariese Kook en geniet deur mev. S.J.A. de Villiers die gewildste boek in Afrikaans wat volgens die uitgewers in verkope al die halfmiljoenkerf verbygesteek het. Trouens, ons Boerekos en Afrikaanse kookkuns vergelyk enige dag met dié van die Franse en Italianers. Met dié verskil dat ons kookkuns nie deur professionele kokke soos die Franse s’n gerugsteun word nie, maar deur ons Afrikanervroue. In elke huis leef daar ‘n groot stuk Afrikanerkultuur in die vorm van al die heerlike disse wat die huisvrou gereeld aan haar gesin voorsit.

Resepte word van geslag tot geslag oorgedra. In my familie is daar ‘n sjokoladekoekresep wat my ouma gemaak het en waarmee ek grootgeword het omdat my oorlede ma dit van kindsbeen af by haar geleer het. My suster maak dit nou en vir seker sal my dogter dit ook aanleer, waarmee die tradisie ad infinitum sal voortduur.

As ‘n besondere sjokoladekoek tiperend van die Afrikanervrou se tradisie in die kombuis is, is ressentiment, domheid en selfs gebrek aan beskaafdheid en goeie maniere kenmerkend van feminisme. Destyds toe feminisme in Suid-Afrika eintlik nog onbekend was, het ek op ‘n keer in die geselskap van ‘n groepie feministe beland wat ‘n soort buitelugvergadering gehou het. Afgesien van die pretensieuse groet wat veronderstel was om ‘n verwysing na die vroulike geslagsdeel te wees, het die res van die vergadering ontspoor omdat daar ‘n hele debat losgebars het daaroor of ek “as man” en as lid van die vyandelike spesie vermoedelik, by die vergadering geduld kon word.

Afgesien van sielkundige afwykings, sadomasochisme en wat nog, is feminisme is vir my sinoniem met domheid, onbeskawing en ‘n soort Stalinistiese onverdraagsaamheid. Vrouens wat nie kan kook nie beskik gewoonlik oor geen smaak nie, ook op ander gebiede.

Die kreet om vrouens “van die kombuis te bevry” verteenwoordig die gromgeluid van barbarisme en ‘n terugkeer na ‘n dierlike toestand toe voedsel rou verorber is. Vir diegene wat nie weet nie, die wortel van die woord “kru” – wat uit Frans afkomstig is – is “rou” of “ongekook”.

Alle illusies wat ek eens oor die intellektuele inhoud van feminisme gekoester het, is vir my uit die weg geruim toe ek in Parys op ‘n stadium die seminaar van ‘n beroemde Franse feminis, Hélène Cixous, bygewoon het. Op ‘n dag sou ek op Frans ‘n referaat oor ‘n taamlik polities korrekte boek, die briewe van ‘n Nederlandse Jodin tydens die tweede wêreldoorlog, Etty Hillesum, lewer. Ek het taamlik moeite gedoen om die twee Franse vertalings van die boek te lees en selfs die oorspronklike van Amsterdam te bestel. Die boek staan nou nog hier op my rak vol boekmerke en papiertjies met my notas wat ek destyds gemaak het.

Ewenwel, die feit dat ‘n manlike idioot soos ek, wat boonop van Suid-Afrika afkomstig was, Nederlands kon lees, was vir Hélène Cixous reeds ‘n bedreiging en daarom het haar gewone neerhalende opmerkings oor “mans” of “‘n man” of “die man” oorgegaan in ‘n onderliggende venyn en onbeskoftheid. Sy het my so te sê ten aanhoor van die hele lesingsaal verneder, verseg om my referaat aan te hoor en ‘n dom, vet Amerikanerin met ‘n dik bril wat haar oë so groot soos visdamme laat lyk het, in my plek ‘n stereotipe bydrae laat voorlees.

Cixous het ook ‘n kwasi-poëtiese roman wat Winnie Mandela verafgod, Manne, gepubliseer. “Manne” in Frans beteken “manna”. Die Mandelas – Winnie en Nelson – is manna uit die hemel. So iets. U verstaan reeds die strekking van die boek.

Elke Afrikanervrou wat ek teëkom en wat nog nie deur die aaklige feminisme vergiftig is nie, is vir my soos ‘n wonderwerk. Ons besef nie watse kleinood ons vroue verteenwoordig nie en die feit dat ons hulle tans nie genoegsaam teen die horde moordenaars en verkragters in ons land beskerm nie, is ‘n skandvlek op ons Afrikanermans.

In vele opsigte is die Afrikanervrou – in die kombuis en in die klaskamer – die draer van ons beskawing. Soos die geskiedkundige, Hermann Giliomee, al aangedui het, het ons Afrikaners van vroeg af aan ons vroue as gelykes behandel en mog hulle luidens Romeins-Hollandse reg eiendom besit het terwyl dit in die meeste Europese lande nie die geval was nie. Ons vroue kon stem lank voor die vroue van Brittanje en dié van vele Amerikaanse state. Terwyl die man buite op die land geboer het, het ons vroue dikwels die beursie gehou en die finansies van die huishouding behartig. Jaap Steyn het elders op dié webwerf ‘n wonderlike beskrywing van ‘n ou Kaapse plaas verskaf:

“Die gevestigde boer het soos ‘n outydse edelman sy groot huishouding ingerig en geregeer…

“Lichtenstein skryf dat so ‘n boerdery meer na ‘n klein, selfstandige en afgesonderde staat lyk, waarvan die lede mekaar bystaan en van mekaar afhanklik is. Uit die opbrengs van die lande en die veetroppe moet die mense onderhou word. Daar is geen handwerk waarin nie minstens een van die slawe bedrewe is nie. Die huisbaas wat van al die soorte werk iets af weet, hou toesig. ‘Ofskoon hy self geen hand aan die werk slaan nie, sou dit nogtans die hoogste onregverdigheid wees om hom van luiheid te beskuldig. Die Afrikaanse landman is inderdaad werksaam en bedrywig sonder dié uitwendige besigheidsgedoente en woelagtige bestellery, waarmee in Europa die luiheid en werkloosheid soms so mooi bemantel word.’

“Die huismoeder met haar dogters en slavinne het die groot huishouding van kos en klere voorsien, botter en seep gemaak, konfyt gekook en dergelike. By feesgeleenthede, soos ‘n bruilof, die verjaardag van die huisvader, ‘n vendusie of as daar kuiergaste is, het die boervrou uitgehaal en ‘n groot oorvloed van lekkernye aan haar gaste voorgesit: gebraaide speenvarkies, pluimvee, kerrievleis, sosaties, blatjang, ingemaakte vrugte.”

Die bedrywige Afrikanervrou wat haar geslagsrol al eeue lank met oorgawe uitleef, staan in skerp kontras met die mannetjiesagtige, venynige skepsel wat die feminisme as “bevryde vrou” aan ons voorhou.

Met hul skeefgetrekte renons in styl, smaak en beskawing, is daar inderdaad ‘n legio dinge waaraan feministe ‘n broertjie dood het en waaroor hulle luidkeels in die media en aan die universiteite beswaar maak, selfs heksejagte voer. Onder andere die mooi woord, “dame”. Dis nog ‘n Franse leenwoord in Afrikaans wat iets van die adellike swier van die Franse howe van die sestiende en sewentiende eeue met hom saamdra. Die Franse ekwivalent van “mevrou” is vandag nog: Madame, letterlik “my dame”.

Afrikaanse vrouens is inderdaad dames. Selfs al is hulle fietsryers of Olimpiese spiesgooiers soos Sunette Viljoen, herken ons in hul houding en grasie daardie adellike verfyndheid wat hulle so besonders maak. Soos Goethe dit in sy drama Faust gestel het:

Das Ewig-Weibliche Zieht uns hinan.

Oftewel: “Die ewig-vroulike verhef ons.”

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.