Karel Combrinck: Die reg van volke

Daar is dikwels bespiegeling oor die vraag of die internasionale reg of, soos dit in Afrikaans heet, die volkereg, ‘n toevlug kan bied vir ons as Afrikaners. Moontlik mag dit dus van nut wees om vlugtig ‘n paar gedagtes oor hierdie onderwerp te wissel.

Ons as Afrikaners het nie ‘n alte gelukkige ervaring van die volkereg nie. Eintlik gaan dit nie om die volkereg as sodanig nie, maar om die haatdraende houding jeens Suid-Afrika voor 1994 van die hooforgane van die moderne volkereg, naamlik die Veiligheidsraad en veral die Algemene Vergadering van die VVO, deesdae meer as die “VN” bekend. Oor die jare was die hantering van Suid-Afrikaanse aangeleenthede ‘n politieke gekonkel van die VN eerder as toepassing van die volkereg en daarmee het die organisasie ‘n betreurenswaardige bydrae gelewer, nie net ten opsigte van Suid-Afrika nie, maar ook wat betref die volkereg self. Enige regstelsel kan net gesond funksioneer as dit nougeset volgens regsbeginsels geskied. Sodra daar vir politieke oorwegings en eie belang met die beginsels gepeuter word, is die stelsel ook daarmee heen. Tog bestaan daar ‘n algemene behoefte onder volke en lande aan iets soos ‘n internasionale regsorde en die beginsels waarvolgens die Volkereg fungeer, wanneer dit korrek toegepas word, is wel regsbeginsels.

Die grondslae van die volkereg is gelê deur die groot Nederlandse juris van die sewentiende eeu, Hugo de Groot, soos uiteengesit in sy twee monumentale werke, De Jure Belli ac Pacis (Aangaande die reg van oorlog en vrede) en Mare Liberum (Die reg van die seevaart).

Die hoofdoel van die volkereg, (in teorie in elk geval), is om wêreldvrede te bevorder, geskille tussen lande te besleg, die swakkeres teen die magtiges te beskerm, asook die internasionale handelsverkeer te vergemaklik. Soos met alle menslike ondernemings is die volkereg ook onvolmaak en die toepassing daarvan, veral deur die VN, soms heeltemal verwronge. Daarby is die volkereg sg. “swak  reg” in die sin dat daar nie ‘n opperste gesag is wat dit kan afdwing nie. Dikwels is dit die magtige state wat hulle wil deurvoer, of ‘n gesamentlike poging van ‘n groep lande met ‘n gemeenskaplike ideologiese oogmerk.

Die volkereg behels dus betrekkinge tussen soewereine state en die hoofbron daarvan is internasionale verdrae. Die VVO is trouens self deur ‘n verdrag in die lewe geroep, nl. die “United Nations Charter”, oftewel VN-handves. Verdrae speel in die volkereg die rol van kontrakte in die privaatreg en beide berus op konsensus. Net soos met kontrakte het die partye tot verdrae meesal die bedoeling om deur hulle ooreenkoms gebonde te wees en so verloop verdrae dan ook meesal redelik ongestoord. Verdragspartye, soos ook kontraktuele partye, kom ooreen op ‘n bepaalde gedragspatroon en hou daarby. Dis slegs wanneer sake skeefloop dat hofgedinge ter sprake kom. Die verskil is weer dat kontrakte in die nasionale reg afdwingbaar is, terwyl verdrae moeilik afgedwing kan word. Verdragspartye kan ooreenkom om hulle in probleemsituasies te wend tot bv. onafhanklike arbitrasie of strafmaatreëls, boetes ens., soos in die verdrag bepaal, maar in die finale instansie kan ‘n staat in beginsel nie gedwing word om sy verdragsverpligtinge na te kom nie.

Hoewel verdrae nie afgedwing kan word nie, is die wêreldmening gekant teen die verbreking van verdrae. ‘n Eensydige verbreking van ‘n verdrag kan ook ‘n land se internasionale aansien en geloofwaardigheid ernstig skaad. ‘n Beroemde geval van verdragbreuk was toe Hitler in 1942 Rusland binnegeval het ten spyte van ‘n nie-aanvalsverdrag wat op 23 Augustus 1939 in die Kremlin deur verteenwoordigers van die twee lande onderteken is. Hiervoor het Duitsland ‘n verskrikike prys betaal naamlik dat hy die oorlog verloor het.

Nog ‘n bron van die volkereg is die opinies en beslissings van die hoofregsorgaan van die VVO nl. die Wêreldhof, met setel in Den Haag. Die primêre funksie van die Wêreldhof is om internasionale dispute tussen soeweine state te skik en om adviserende menings te verskaf oor regsvrae wat deur die VN aan hom voorgelê word. Sommige lesers onthou miskien nog die groot gedinge van die vyftiger- en sestigerjare waarin die Wêreldhof versoek is om ‘n opinie rakende Suid-Afrika se administrasie van Suidwes-Afrka te verstrek. ‘n Sleutelelement, ooreenkomstig die beginsels van die volkereg, in die Suidwesgeskil was dat dit van ‘n internasionale aard moes wees, d.w.s. dat minstens twee soewereine state in die geding betrokke moes wees, in hierdie geval dus Suid-Afrika en Suidwes-Afrika. Suidwes-Afrika was egter geen soewereine staat nie, maar was volkeregtelik ingevolge ‘n mandaat van die Volkerebond onder Suid-Afrikaanse beheer. Oor hierdie punt is eindeloos geredekawel. Daarbenewens is die geding nie deur enigeen van die hoofpartye aanhangig gemaak nie, maar deur Ethiopië en Liberië.

Die beslissing van die hof was tereg dat die partye wat die geding aanhangig gemaak het, nie ‘n direkte belang by die aangeleentheid gehad het nie en het hulle aansoek verwerp. Die Hof het dus die vraag of Suid-Afrika se administrasie van Suidwes regmatig was, gesystap en so die deur oopgelaat vir die VN om voort te gaan met sy program van strafmaatreëls en sanksies teen Suid-Afrika. Hier was dus ‘n duidelike geval van gebrekkige regstoepassng en die reg moes uiteindelik swig voor politiekery, die Achilleshiel van die internasionale reg.

Die inmenging van die VVO in die huishoudelike sake van ‘n soewereine staat, Suid-Afrika, was sekerlik anti-volkeregtelik. Maar daar is ander voorbeelde : Die inval in Irak deur die VSA was een van die blatantste gevalle en insgelyks die moord op Moeammar Ghaddafi. Ook die verklaring deur Amerika van Israeliese “soewereiniteit”  oor die Golanhoogland, wat deel is van die soewereine staat, Sirië en die eensydige uittrede van die VSA uit die multilaterale internasionale kernsperverdrag met Iran. Die VSA se onttrekking aan die internasionale verdrag oor klimaatsverandering wat in 2016 in Parys onderteken is deur so te sê alle lande van die wêreld onde rmeer die VSA, was tegnies wel regmatig (‘n klousule in die verdrag het hiervoor voorsiening gemaak), maar die onttrekking word wêreldwyd as strydig met die gees van die verdrag ervaar.

Om verskeie redes is dit hoogs te betwyfel of die jongste aanval deur die VSA teen Iranese militêre teikens in Irak ooreenkomstig die volkereg geskied het. In reaksie daarop het Iran onmiddellik aangekondig dat hy sy kernwapenprogram in hoogste rat hervat en het die Irakese regering Amerika versoek om sy militêre personeel uit Irak te onttrek, iets wat die VSA weier om te doen. Enkele dae ná die aanval op hulle generaal skiet die Iranese weermag ‘n burgerlike vliegtuig neer met 176 passasiers aan boord. Dis hoe dit gaan wanneer die reg van die oerwoud in internasionale betrekkinge oorneem.

‘n Betreklik onlangse verwikkeling in die Volkereg is die erkenning deur die VN van volksmoord (genocide) as ‘n misdaad . Hierdie vertakking het sy oorsprong in die vervolging van Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Volksmoord is streng gesproke nie ‘n volkeregtelike aangeleentheid nie, want konflik tussen soewereine state is selde ter sprake. Nietemin, word volksmoord soos bv die uitroeiïng van Armeniërs deur die Turke, of die massamoord teen die Kambodjaanse bevolking deur die monsteragtige Pol Pot of die volksmoord teen die Toetsi’s deur die Hoetoes in Rwanda of die massamoorde deur die Sowjetunie en Mao Tsetoeng se Rooi Sjina algemeen deur die beskaafde wêreld veroordeel. Of die VN wel bereid of in staat is om iets omtrent sulke gevalle te doen, is ‘n ander vraag, maar ervaring tot dusver dui eerder op die teendeel.

In die jongste tyd was daar ook vervolgings deur die Wêreldhof teen bewindhebbers, staatshoofde ens. op aanklagte van “misdade teen die mensdom” en “oorlogsmisdade” in hul eie lande. Die geval van die voormalige Serwiese president, Slobodan Milosevic in 2006 is ‘n voorbeeld hiervan.

Is dergelike vervolgings egter van volkeregtelike aard ? Waarskynlik nie.

Van watter betekenis is dit alles vir ons as Afrikaners? Soos beklemtoon, is die volkereg in beginsel gemoeid met betrekkinge, vriendelik of vyandig, tussen soewereine state. Die volkereg bemoei hom in beginsel nie met die lotgevalle van indiwidue nie, behalwe waar dit gaan om politiekery en die enkele situasies wat hier bo geskets is. Weliswaar is daar in die jongste tye tekens van volkeregtelike erkenning van indiwidue, “vryheidsbewegings” ens., maar of die VN enige beskerming van hierdie aard aan blanke Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners sal verleen, kan elkeen maar vir homself uitmaak. Dr Roodt maak in sy artikel oor die Finne melding van talle klein volke wat oor eeue vir hulle vryheid en onafhanklikheid moes veg. Die sleutelwoord is veg, m.a.w. stry. En verder hulle hoop vestig op die gelukskoot. ‘n Interessante geval van ‘n gelukskoot is dié van Skotland wat die Brexit-verwikkeling gaan aangryp om onafhanklik van die  “Verenigde” Koninkryk te raak.

Onder dié wat moes stry vir hulle vryheid was ons miskien die uitsondering wat sy vryheid sonder stamp of stoot prysgegee het. Die groot Franse dramaturg van die sewentiende eeu, Corneille, praat van die skande van te sterwe sonder om te veg. Maar hierdie is ‘n onaangename waarheid waarvan ons seker maar moet probeer vergeet.

Ten spyte van alles kry ‘n mens steeds die gevoel dat dit in die internasionale verkeer ten slotte tog maar die magtiges is wie se wil deurslaggewend is. Gedurende al die jare waarin die Sowjetunie tientalle kleiner volke oorheers, onderdruk en uitgemergel het, het die Verenigde Nasies weinig of niks uitgevoer om hulle lot te verlig nie. Ook in hierdie geval was dit maar net weer ‘n gelukskoot wat hierdie volke van die kommunistiese juk bevry het in die vorm van die byna onverwagse ineenstorting van die Sowjetgedrog.

Ten einde ‘n subjek van die volkereg te kan wees, m.a.w die houer van volkeregtelike regte en verpligtinge, sal ons op die een of ander manier aanspraak moet kan maak op ‘n vorm van soewereiniteit, dit wil sê ‘n gemeenskap van mense met ‘n eie identiteit wat homself regeer of minstens die potensiaal moet hê om dit te kan doen, op ‘n bepaalde grondgebied en met die vermoë om internasionale betrekkinge te kan aanknoop en onderhou. Is dit op die oomblik die geval? Dit sal ons volgehoue strewe moet wees en ook sal ons hierdie oogmerk daadwerklik moet bereik voordat daar enigsins ‘n kans sal wees op volkeregtelike erkenning. Vir ons voortbestaan as ‘n volk is hierdie die hoogste prioriteit.

 

Globaliste dreig Kenia oor ‘internasionale regskendings’

Kenia skend internasionale reg deur inwoners van die wêreld se grootste vlugtelingkamp te dwing om na Somalië terug te keer, het ‘n hulporganisasie gister gesê.

Kenia hou vol dat die ontruiming van die Dadaab-kamp, die tuiste van honderdduisende meestal Somaliese vlugtelinge, in pas met internasionale wetgewing uitgevoer word, het AFP berig.

Die Noorweegse raad vir vlugtelinge (NRC) sê die “vrywillige terugkeerproses” voldoen nie aan internasionale standaarde nie. Dit beteken dat Kenia hom aan die gedwonge terugkeer van vlugtelinge en asielsoekers skuldig maak.

“Druk om meer as 280 000 geregistreerde vlugtelinge uit die Dadaab-kamp te dwing, het tot chaotiese en ongeorganiseerde terugkeer gelei,” het die sekretaris-generaal van die NRC, Jan Egeland, gesê.

“Van wat ons gesien het, is die proses nie meer vrywillig, waardig of veilig nie,” het hy gesê.

Kenia se regering het in Mei aangekondig dat die kamp in die noordooste van Kenia gesluit word en het kommer oor veiligheid as rede aangevoer.

Die owerheid het herhaaldelik beweer die kamp is ’n teelaarde vir Islamitiese terroriste, maar kon geen bewyse ter stawing hiervan voorlê nie.

Volgens menseregte-organisasies word vlugtelinge teruggestuur na ’n land waar meer as ’n miljoen mense haweloos is, vyf miljoen nie genoeg kos het om te eet nie, en waar magte van die Afrika-unie en Somalië steeds teen die Al-Kaïda-geallieerde Al-Sjabaab­-militante veg.

Die NRC sê benewens die nie-vrywillige aard van die terugstuur van vlugtelinge, bring die onveilige omstandighede in Somalië mee dat die terugkerendes se veiligheid nie gewaarborg kan word nie en dat basiese dienste in die land onvoldoende is.

Die Verenigde Nasies se agentskap vir vlugtelinge (UNHCR) is deur menseregte-organisasies gekritiseer vir hul ondersteuning van die nie-vrywillige repatriasies van Somaliese vlugtelinge. Verlede maand het die organisasie Human Rights Watch gesê die repatriasie word deur “vrees en wan­inligting” aangedryf.

Poetin lewer ‘n grondverskuiwende toespraak

Wladimir Poetin het Vrydag die enkele mees belangrike toespraak oor buitelandse beleid gelewer sedert hy president van Rusland in 2000 geword het.

Mikhail Gorbatsjof, die voormalige Russiese president, het gesê hy het gedink dit was die beste, en mees betekenisvolle toespraak wat hy ooit gemaak het.

Die reaksie van Westerse politieke ontleders en hul media-elite was daarenteen jammerlik ontoereikend. Die grondverskuiwende toespraak  in Sochi, by die Valdaiklub, het verbasend min aandag ontlok.

Westerse ontleders wat die moeite gedoen het, het dit voorgehou as ‘n uitdagende reaksie op die Amerikaanse beleid van sanksies wat Rusland weens die Oekraïense krisis opgelê is, terwyl die Russiese president byna skaars daarna verwys het.

Hulle het Poetin se uiters samehangende intellektuele raamwerk totaal geïgnoreer.

Dit was ‘n heel ander persoon aan die woord as die aggressiewe, ekspansionistiese en nasionalistiese demagoog wat die Weste graag wil skilder.

Enigiemand wat op soek was na ‘n Poetin om die groot kruistog teen die VSA te lei, moet waarlik ná hierdie toespraak teleurgesteld voel.

Rusland vra nederig samewerking – en nie konflik nie – van die VSA en Poetin se visie van die internasionale stelsel kan slegs na dese as ‘n eng konserwatiewe een beskryf word.

Dit loop soos ‘n goue draad deur die toespraak. Sy hunkering is ‘n tipiese konserwatiewe hunkering na stabiliteit asook wantroue teenoor verandering.

Dit is ‘n wens vir ‘n voorspelbare, organiese, reëls-gegronde stelsel waarin die soewereine regte van volke eerbiedig word. Verandering, wanneer dit gebeur, moet bestuur en nooit aangemoedig word nie .

‘n Groot gedeelte van sy toespraak het gehandel oor die verlies aan balans in die internasionale stelsel wat deur die ineenstorting van die Sowjetunie veroorsaak is.

In plaas daarvan om die wanbalans te herstel, is die VSA besig om die chaos wat daaruit voortvloei aan te moedig, het hy gesê. Die Russiese president het die vrees uitgespreek dat daar aanstons nie meer hefbome sal wees om sulke uitgebreide chaos te tem nie.

Poetin het die lysie herhaal: Kosovo, Irak, Afghanistan, Libië, Sirië en nou Oekraïne. Hy het sy gehoor daarop gewys dat nie een van hierdie plekke tans vooruitgang gemaak het of beter daaraan toe is nie.

Hiermee het Poetin die VSA vergelyk  met ‘n pasryk verkwister wat sy meevaller wegdobbel.

Die Russiese leier het ‘n diep verbintenis tot die internasionale reg bevestig, vertolk op die mees konserwatiewe manier waar regsdokumente, hofbeslissings en verdragstekste moet geld.

Met verwysing na die VN en die Internasionale Geregshof se Raadgewende Mening oor Kosovo, het hy die Krim se posisie helder uiteengesit.

Poetin se opleiding as ‘n regsgeleerde kry nooit media-aandag nie, terwyl sy diens in die KGB al is wat lesers ooit vertel word.

Dit is ‘n visie van Rusland wat geanker is in die internasionale stelsel,  en wat poog om die VSA saam met bondgenote soos China en ander BRICS-lande, waar moontlik in toom te hou, van dwaasheid te weerhou binne die raamwerk van internasionale reg, en om die heersende wêreldorde en stabiliteit te waarborg.

Dit is ‘n tipies Europese visie in die tradisie van die negentiende eeu se groot staatsmanne.

Dit is ‘n visie wat uiteraard baie gewild is in Rusland, ‘n land met ‘n lang en bloedige geskiedenis.

Vir ‘n ekonomie wat groei, het Rusland ‘n bestendige en ordelike internasionale omgewing nodig, het die president benadruk.

Poetin het dit duidelik gemaak deur herhaaldelik te fokus op die belangrikheid van ekonomiese ontwikkeling vir Rusland as oorheersende prioriteit vir sy regering, en daarmee sy afkeur vir vergeldingaksies herbevestig.

Wie kan daarvan verskil?

SA roep Israelse ambassadeur in na aanvalle op Gasa

Suid-Afrika het Israel se ambassadeur na die departement van Internasionale Betrekkinge ontbied om sy land se aanvalle op die Gasastrook te verklaar.

Dié aanvalle is ‘n growwe skending van die internasionale reg.

Die jongste diplomatieke wrywing kom nadat sowat 200 Palestyne, waaronder meestal burgerlikes en kinders, reeds in lugaanvalle deur die Israelse weermag gedood is.

Israel probeer voorgee dat die Palestyne “oorlogsmisdade” pleeg in weerwil van die feit dat daar geen Israeli-slagoffers is nie.

Die minister van Internasionale Betrekkinge, Maite Nkoana Mashabane het by die BRICS-beraad in Brasilië gesê dat Ambassadeur Arthur Lenk ingeroep sal word.

Israel sê die doel van die lugaanvalle is om ‘n einde te bring aan Hamas se vuurpylaanvalle uit Gasa.

President Jacob Zuma het by die BRICS-beraad gesê Suid-Afrika is bekommerd oor die jongste geweld en lewensverlies in Palestina en Israel.

Volgens Zuma moet BRICS-lande ‘n dringende inisiatief steun om die twee lande terug te bring na vreedsame onderhandelinge met die doel om ‘n tweestaat-oplossing te verkry.

Israel het sy lugaanvalle op Gasa vir ‘n negende dag voortgesit.

Die Israelse weermag het ‘n waarskuwing uitgereik aan inwoners in die ooste en noorde van Gasa, en hulle aangeraai om hul huise te verlaat.

Met vorige waarskuwings is die Palestyne slegs enkele sekondes gegun om hul huise te verlaat.

Israel het Dinsdag sy lugaanvalle hervat nadat internasionale pogings om ‘n skietstilstand te bereik, skipbreuk gely het.

Selfbeskikking of selfbedrog?

wingard_johanndeur Johann Wingard

In sy onlangse Praag-artikel oor Selfbeskikking en die Internasionale Reg skryf Dr Christo Landman onder meer dat Afrikaners hulself nie deur oppervlakkige vertolkings van die internasionale reg moet laat mislei nie.

Hy word toe op kenmerkende wyse deur Cor Ehlers van Oase tereggewys. Laasgenoemde beweer dat ‘n volk se reg op selfbeskikking nie onderhewig is aan ‘n land se grondwet nie, maar slegs aan die internasionale reg.

Dit is so dat die reg op selfbeskikking ‘n universele mensereg is. Maar dit is waar dit ongelukkig eindig. Dit is by die uitoefening van daardie reg waar probleme ontstaan en waar die geloofwaardigheid van die internasionale reg self in gedrang kom.

Geskiedenis leer dat erkenning van ‘n minderheidsvolk se onafhanklikheidstrewe nie voldoende is om sy selfbeskikking te verkry nie, maar dat dit slegs die regsbasis vorm waarop verdere aksies geloods kan word.
Daardie aksies is polities, ekonomies en militêr van aard. Dit word in die strate van die betrokke gebied besleg en nie in die howe van Europa nie. Die nuutste voorbeelde daarvan speel hom tans in Oekraïne af.

Hoewel dit volgens internasionale reg vertolk word dat die bevolking van die Krimskiereiland die inherente reg besit om sy selfbeskikking op te eis, word dit deur die internasionale gemeenskap as onwettig beskou om op eie versoek aansluiting by Rusland te vind. Die groot moondhede erken die internasionale reg dus slegs wanneer dit hul geopolitieke belange pas.

Rusland was waarskynlik agter die Krim se hele selfbeskikkingstrategie, want hy wou die Krimskiereiland, wat sy strategiese vlootbasis huisves, terugkry. Klaar.

Dieselfde geld vir die res van Oos-Ooskraïne waar referendums tans gehou word om volgens die “internasionale reg” hul selfbeskikking te verkry. Maar sou Rusland daardie reg van sy kultuurgenote probeer afdwing, word hy met sanksies gedreig.

Selfs vir ‘n leek is dit duidelik dat die internasionale reg slegs ‘n handige rasionalisering geword het waarmee moondhede hul selfbelang kan bevorder. Kyk na die VSA se gruwelike skendings van menseregte in die Midde-Ooste en Oos-Europa.

Dit is dus nie selfbeskikking nie, maar selfbedrog om mede-Afrikaners te mislei deur ‘n grondgebied op kultuurhistoriese begronding as ‘n Afrikanervolkstaat te omlyn en dan op die internasionale reg staat te maak om politieke onafhanklikheid te verkry.

Die internasionale reg is tandeloos en skep slegs ‘n morele grondslag vir die selfbeskikkingsgedagte. Selfbeskikking kan slegs deur die mense van ‘n gebied afgedwing word.

Vir langdurige vrede moet selfbeskikking op ‘n meer fundamentele grondslag berus, naamlik die werklikheid van praktiese politiek. Sou dit in belang van ‘n gebied wees om groter selfseggenskap oor eie sake vir sy inwoners te verkry, sal dit logieserwyse kan gebeur.

Dit is waarby die NBR se kantongedagte aansluiting vind. Langdurige stabiliteit en vooruitgang kan nie slegs op die wankelrige beginsel van kultuuridentiteit geskoei word nie, maar moet ook die beginsel van ekonomiese oorlewing en vooruitgang van al die inwoners van ‘n gebied tot gevolg kan hê.

Die kantongedagte kan op ‘n praktiese wyse vrede en voorspoed vir Afrikaners as mede-inwoners van kleiner gebiede op federale gondslag verseker. Dit sal egter nooit ‘n onafhanklike staat vir Afrikaners kan wees nie.

Dit is selfbedrog om selfbeskikking slegs op die teoretiese grondslag van die internasionale reg op te eis.
Daar sal niks van kom nie.

Selfbeskikking en die Internasionale reg

Dr Christo Landman
Dr Christo Landman

Deur Christo Landman

Die onlangse “bitsige” korrespondensie van sekere rolspelers in sake die belang van selfbeskikking in die internasionale reg en betekenis daarvan vir Afrikaner selfbeskikking, noop my om die pen op te neem.

Die beledigings wat my toegesnou is, het my weer onder die indruk gebring dat ons (die Afrikaners) nie ons selfbeskikking moet probeer regverdig op oppervlakkige (lees: onwetenskaplike) interpretasies van die internasionale regsposisie nie.

Die reaksie deur een of twee mense was verbasend venynig en onbroederlik.

My standpunt was dat die “people’s”-begrip nie as kultuurgemeenskappe vertaal moet word nie, maar eerder as nasies (die polities-staatkundige begrip).

Intussen het ek met drie staatsregsgeleerdes gesprek gevoer. Die drie stem saam, maar omdat ek skriftelike terugvoer van prof. Marinus Wiechers gekry het, gee ek graag sy standpunt weer.

Intussen het Paul Kruger in rustige korrespondensie daarop gewys dat raadgewende uitspraak van die Internasionale Hof betreffende Kosovo wel ‘n president geskep het, wat die selfbeskikkingsbegrip breër sanksie gee.

Hier was my argument dat ons onself mislei deur die “people’s”-begrip as volk/kultuurgemeenskap in die Afrikaans oor te sit en dat nasie (die staatkundige begrip) korrek is.

Verder was my argument dat selfbeskikking in die internasionale regsdokumente verwys na die reg van nasies om uit koloniale kontekste uit te tree en hulle soewereiniteit te vestig.

Hieroor skryf Wiechers soos volg:

“Selfbeskikking in die internasionale reg moet — soos Landman tereg aanwys — teen die dekolonisasie tendense en ontwikkeling beoordeel word. Hierdie aandrang op selfbeskikking van ‘peoples’ het impetus na die Eerste Wêreldoorlog verkry en word daar stukrag agter die dekolonisasie van voorheen afhanklike gebiede gegee.”

Internasionale selfbeskikkingsreg afgeweeg teen nasionale grondwette

Hieroor het ek beweer dat die SA-grondwet territoriale selfbeskikking bemoeilik. Daar is tans beterweters wat argumenteer dat “’n volk se reg op selfbeskikking nie onderhewig is aan die RSA of enige ander staat se Grondwet nie”.

Hieroor skryf Wiechers soos volg:

“Die internasionale reg sanksioneer ‘n grondwet van die hele land, algemene burgerskap en selfbeskikking van die bevolking as geheel. Hierdie sterk beginsel is ‘n direkte uitvloeisel van die opkoms van die nasionale staat en vorm trouens die grondslag van state-erkenning in die internasionale reg.”

In die geval van die RSA-grondwet lees die grondleggende beginsel van die grondwet in die Aanhef dat die RSA aan al sy inwoners behoort. In artikel 2 word die RSA as een grondgebied  getipeer en op ‘n ander plek as ‘n land met een burgerskap vir almal. In a.235 word die reg op selfbeskiiking van ‘n taal-, godsdiens-, en kultuurgemeenskap onderhewig gemaak aan die reg van die RSA-bevolking in die geheel.

Kosovo as presedent?

In ‘n netjiese brief het Paul Kruger tot die gesprek toegetreë met die argument dat die raadgewende uitspraak betreffende Kosovo van die Internasionale Hof alles verander het en ‘n presedent vir sesessie skep. Alhoewel ‘n raadgewende uitspraak van die Internasionale Hof nie ‘n beslissende uitspraak [legal case adjudicate] is nie, is die VN daardeur nogtans van advies bedien oor die grondwetlikheid van die Kosovo-sesessie.  Die Internasionale Hof word in hoofstuk VI van die statute met gesag bekleë om regsadvies aan die VN of sy organisasies te gee.

Hieroor skryf Wiechers dat dit onseker is of die Kosovo-advies ‘n presedent skep. Die US State Department het op 19 Februarie 2008 verklaar dat “every territorial conflict unique” is en dat die Kosovo-advies nie deur ander separatistiese groepe gevolg kan word nie. Die VN se sekretaris-generaal Ban Ki-Moon het verklaar dat die Kosovo-geval “highly distinctive” is.

Aan die anderkant van die munt het separatistiese bewegings, soos die Parti Quebecois van Kanada, onder meer voorbeelde, onmiddelik Kosovo aangegryp as sou dit sesessie kondoneer.

Die vraag is nou wat Kosovo uniek maak:  Kosovo was vroeër ‘n deelstaat van Jugoslawië met sy eie wetgewer, administrasie, regsinstellinge en selfs met ‘n vetoreg in die Federale Parlement van Jugoslawië. Die Serbiër, Milosevic, het gepoog om met die interne soewereiniteit van deelstate soos Kosovo, Kroasië, Slovenië, Bosnia en Herzegovina weg te doen.  Dit het ‘n oorlog ontketen en vandag is hierdie eens Jugoslawiese deelstate vry en onafhanklik.

In kort: om die Kosovo-uitspraak nolens volens op die selfbeskikkingsreg van Afrikaners van toepassing te maak, is juridies gewaagd. Alvorens die Afrikaners nie ‘n deelstaat beset met ‘n eie administrasie en wetgewer nie, kan ons nie op die Kosovo-uitspraak steun nie.

Ek wil dit daarom duidelik stel dat ek ten gunste van ‘n Volkstaat en selfbeskikking is, maar waarsku dat regsargumente wat op valse gronde gebaseer is, tot mislukkig gedoem is.

Beeld-peiling en die volkstaat

Soos verwag sou kon word ontlok die uitslag van ‘n Beeld-peiling dat die meerderheid respondente aandui dat hulle gunstig voel daaroor om in ‘n volkstaat te gaan woon, baie reaksie – van beide voorstanders en teenstanders.

Al was dit geen wetenskaplike peiling nie, is daar enkele faktore wat nie uit die oog verloor kan word nie.

Ten eerste kan daar nie ongekwalifiseerd gesê word die kiesers – ook Afrikanerkiesers – stem vir partye wat nie ten gunste van ‘n volkstaat is nie. Dieselfde kan gesê word van kwessie waar wetenskaplike peilings wel ‘n meerderheidskeuse aandui, soos die doodstraf waar die meerderheid daarvoor is, en aborsies op aanvraag waar die meerderheid daarteen is. Dit word egter nie in verkiesingsuitslae weerspieël nie.

Hierdie peiling, en die stemkeuses wat studente aan sommige universiteite met studenteraadsverkiesings maak, dui daarop dat hier ‘n tendens is wat nie gevolgloos onder die tafel gevee kan word nie. Om diegene wat nou ‘n pro-volksdtaatsentiment uitspreek as agterlik te probeer uitbeeld, dra bloot bly tot die polarisasie wat peilings aandui sterk teenwoordig is.

Aan beide kante van die spektrum word foute gemaak. Onder die teenstanders is daar ‘n duidelike, en moontlik moedswillige onkunde wat in oorvereenvoudigde retoriek neerslag vind. Die politieke wetenskaplike en staatsregtelike waarnemers sal minstens geïrriteerd wees oor ignorering van die stapels werk oor komplekse opsies wat deur die gewese Staatkundige Komitee van die Presidentsraad en later die Volkstaatraad gedoen is. Die opsies is legio, en vir bykans elkeen is lewensvatbaarheidstudies gedoen. Baie Suid-Afrikaners sal moontlik onthou hoe terminologie soos regionale selfbeskikking, konsosiatiewe en korporatiewe selfbeskikking, kiesstelselverskansing, sesessiereg en vele meer in omloop was.

Die kritici, by wyse van spreke, maak hulle skuldig aan die Namakwalandse spreekwoord wat lui: “As ‘n donkie sy bek oopmaak val daar kaf uit.”

Hierdie opsies is volkeregtelik veranker en vind neerslag in grondwette soos dié van die Europese Unie, Indië, Nieu-Seeland, Kanada en die VSA. Indië het juis aan die einde van verlede jaar besluit om nog ‘n etniese deelstaat by sy huidige, meer as dertig, te skep.

Onder die voorstanders word ook lelik kleigetrap. Terwyl die oorhoofse denkers doodseker maak dat dit wat op die tafel kom volkeregtelik versoenbaar is, word op ander vlakke luidrugtig gepredik vir opsies wat nié hierdie toets sal weerstaan nie. ‘n Skeptiese waarnemer kan byvoorbeeld gerus die Vryheidsfront Plus se webwerf en beleid gaan deurkruis om te kyk of daar verwysings na ras is. (Daar is wel enkeles, hoofsaaklik in nuusverklarings van die VF+ Jeug en dan hoofsaaklik oor kampusingrasie).

Die konsep, volk, is die bousteen van die verskillende outonomie- en soewereiniteitsvlakke wat volkstaat- en selfregerende gebiede onderlê. Gesaghebbende woordeboekdefinisies en die Volkereg maak nie voorsiening vir ras as norm om die begrip “volk” te omskryf nie. Tog is die literatuur gesaai van inskrywings wat daarop dui dat ras as een van die hoekstene beskou word, en sommiges verwys selfs na die blanke volk. Dit ruk die mat van aansprake op volkeregtelike sanksie onder die aanspraakmakers uit.

Maar selfs al sou die volkstaatgedagte nie volkeregtelik veranker of lewensvatbaar wees nie, kan geen teenstander objektief verbaas wees dat dié sentimente teenwoordig, en dalk selfs uitbrei nie. Soos een Praag-besoeker geskryf het: Elke keer wat Julius Malema sy mond oopmaak, bekeer hy duisende nuwe mense tot die volkstaatgedagte. Die rits voorbeelde is oneindig lank – ‘n president wat teen die godsdiens- en kultuuropvattings van baie vrou op vrou vat met wie hy eers buitehuwelikse seks gehad het, die impak van regstellende aksie, ‘n volgehoue reeks aanvalle en moorde op boere en ‘n gewoonlik dawerende swye van die regering …..

Die vuur van middelpuntvliedende kragte kan nie gevolgloos gestook word, en die middelpuntsoekende kragte afgeskeep word, en dan verbaas waargeneem word dat polarisasie wél plaasvind nie.

Om die dinamika te verstaan, kan Piet Retief se manifes in die Grahamstown Journal gerus op die internet gelees word. Die leser kan sommer ook op die fatsoenlikheid van woordkeuses let.

 

компрессор для гаража ценаАлександр Фильчаков Васильевич