Karel Combrinck: Die reg van volke

Daar is dikwels bespiegeling oor die vraag of die internasionale reg of, soos dit in Afrikaans heet, die volkereg, ‘n toevlug kan bied vir ons as Afrikaners. Moontlik mag dit dus van nut wees om vlugtig ‘n paar gedagtes oor hierdie onderwerp te wissel.

Ons as Afrikaners het nie ‘n alte gelukkige ervaring van die volkereg nie. Eintlik gaan dit nie om die volkereg as sodanig nie, maar om die haatdraende houding jeens Suid-Afrika voor 1994 van die hooforgane van die moderne volkereg, naamlik die Veiligheidsraad en veral die Algemene Vergadering van die VVO, deesdae meer as die “VN” bekend. Oor die jare was die hantering van Suid-Afrikaanse aangeleenthede ‘n politieke gekonkel van die VN eerder as toepassing van die volkereg en daarmee het die organisasie ‘n betreurenswaardige bydrae gelewer, nie net ten opsigte van Suid-Afrika nie, maar ook wat betref die volkereg self. Enige regstelsel kan net gesond funksioneer as dit nougeset volgens regsbeginsels geskied. Sodra daar vir politieke oorwegings en eie belang met die beginsels gepeuter word, is die stelsel ook daarmee heen. Tog bestaan daar ‘n algemene behoefte onder volke en lande aan iets soos ‘n internasionale regsorde en die beginsels waarvolgens die Volkereg fungeer, wanneer dit korrek toegepas word, is wel regsbeginsels.

Die grondslae van die volkereg is gelê deur die groot Nederlandse juris van die sewentiende eeu, Hugo de Groot, soos uiteengesit in sy twee monumentale werke, De Jure Belli ac Pacis (Aangaande die reg van oorlog en vrede) en Mare Liberum (Die reg van die seevaart).

Die hoofdoel van die volkereg, (in teorie in elk geval), is om wêreldvrede te bevorder, geskille tussen lande te besleg, die swakkeres teen die magtiges te beskerm, asook die internasionale handelsverkeer te vergemaklik. Soos met alle menslike ondernemings is die volkereg ook onvolmaak en die toepassing daarvan, veral deur die VN, soms heeltemal verwronge. Daarby is die volkereg sg. “swak  reg” in die sin dat daar nie ‘n opperste gesag is wat dit kan afdwing nie. Dikwels is dit die magtige state wat hulle wil deurvoer, of ‘n gesamentlike poging van ‘n groep lande met ‘n gemeenskaplike ideologiese oogmerk.

Die volkereg behels dus betrekkinge tussen soewereine state en die hoofbron daarvan is internasionale verdrae. Die VVO is trouens self deur ‘n verdrag in die lewe geroep, nl. die “United Nations Charter”, oftewel VN-handves. Verdrae speel in die volkereg die rol van kontrakte in die privaatreg en beide berus op konsensus. Net soos met kontrakte het die partye tot verdrae meesal die bedoeling om deur hulle ooreenkoms gebonde te wees en so verloop verdrae dan ook meesal redelik ongestoord. Verdragspartye, soos ook kontraktuele partye, kom ooreen op ‘n bepaalde gedragspatroon en hou daarby. Dis slegs wanneer sake skeefloop dat hofgedinge ter sprake kom. Die verskil is weer dat kontrakte in die nasionale reg afdwingbaar is, terwyl verdrae moeilik afgedwing kan word. Verdragspartye kan ooreenkom om hulle in probleemsituasies te wend tot bv. onafhanklike arbitrasie of strafmaatreëls, boetes ens., soos in die verdrag bepaal, maar in die finale instansie kan ‘n staat in beginsel nie gedwing word om sy verdragsverpligtinge na te kom nie.

Hoewel verdrae nie afgedwing kan word nie, is die wêreldmening gekant teen die verbreking van verdrae. ‘n Eensydige verbreking van ‘n verdrag kan ook ‘n land se internasionale aansien en geloofwaardigheid ernstig skaad. ‘n Beroemde geval van verdragbreuk was toe Hitler in 1942 Rusland binnegeval het ten spyte van ‘n nie-aanvalsverdrag wat op 23 Augustus 1939 in die Kremlin deur verteenwoordigers van die twee lande onderteken is. Hiervoor het Duitsland ‘n verskrikike prys betaal naamlik dat hy die oorlog verloor het.

Nog ‘n bron van die volkereg is die opinies en beslissings van die hoofregsorgaan van die VVO nl. die Wêreldhof, met setel in Den Haag. Die primêre funksie van die Wêreldhof is om internasionale dispute tussen soeweine state te skik en om adviserende menings te verskaf oor regsvrae wat deur die VN aan hom voorgelê word. Sommige lesers onthou miskien nog die groot gedinge van die vyftiger- en sestigerjare waarin die Wêreldhof versoek is om ‘n opinie rakende Suid-Afrika se administrasie van Suidwes-Afrka te verstrek. ‘n Sleutelelement, ooreenkomstig die beginsels van die volkereg, in die Suidwesgeskil was dat dit van ‘n internasionale aard moes wees, d.w.s. dat minstens twee soewereine state in die geding betrokke moes wees, in hierdie geval dus Suid-Afrika en Suidwes-Afrika. Suidwes-Afrika was egter geen soewereine staat nie, maar was volkeregtelik ingevolge ‘n mandaat van die Volkerebond onder Suid-Afrikaanse beheer. Oor hierdie punt is eindeloos geredekawel. Daarbenewens is die geding nie deur enigeen van die hoofpartye aanhangig gemaak nie, maar deur Ethiopië en Liberië.

Die beslissing van die hof was tereg dat die partye wat die geding aanhangig gemaak het, nie ‘n direkte belang by die aangeleentheid gehad het nie en het hulle aansoek verwerp. Die Hof het dus die vraag of Suid-Afrika se administrasie van Suidwes regmatig was, gesystap en so die deur oopgelaat vir die VN om voort te gaan met sy program van strafmaatreëls en sanksies teen Suid-Afrika. Hier was dus ‘n duidelike geval van gebrekkige regstoepassng en die reg moes uiteindelik swig voor politiekery, die Achilleshiel van die internasionale reg.

Die inmenging van die VVO in die huishoudelike sake van ‘n soewereine staat, Suid-Afrika, was sekerlik anti-volkeregtelik. Maar daar is ander voorbeelde : Die inval in Irak deur die VSA was een van die blatantste gevalle en insgelyks die moord op Moeammar Ghaddafi. Ook die verklaring deur Amerika van Israeliese “soewereiniteit”  oor die Golanhoogland, wat deel is van die soewereine staat, Sirië en die eensydige uittrede van die VSA uit die multilaterale internasionale kernsperverdrag met Iran. Die VSA se onttrekking aan die internasionale verdrag oor klimaatsverandering wat in 2016 in Parys onderteken is deur so te sê alle lande van die wêreld onde rmeer die VSA, was tegnies wel regmatig (‘n klousule in die verdrag het hiervoor voorsiening gemaak), maar die onttrekking word wêreldwyd as strydig met die gees van die verdrag ervaar.

Om verskeie redes is dit hoogs te betwyfel of die jongste aanval deur die VSA teen Iranese militêre teikens in Irak ooreenkomstig die volkereg geskied het. In reaksie daarop het Iran onmiddellik aangekondig dat hy sy kernwapenprogram in hoogste rat hervat en het die Irakese regering Amerika versoek om sy militêre personeel uit Irak te onttrek, iets wat die VSA weier om te doen. Enkele dae ná die aanval op hulle generaal skiet die Iranese weermag ‘n burgerlike vliegtuig neer met 176 passasiers aan boord. Dis hoe dit gaan wanneer die reg van die oerwoud in internasionale betrekkinge oorneem.

‘n Betreklik onlangse verwikkeling in die Volkereg is die erkenning deur die VN van volksmoord (genocide) as ‘n misdaad . Hierdie vertakking het sy oorsprong in die vervolging van Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Volksmoord is streng gesproke nie ‘n volkeregtelike aangeleentheid nie, want konflik tussen soewereine state is selde ter sprake. Nietemin, word volksmoord soos bv die uitroeiïng van Armeniërs deur die Turke, of die massamoord teen die Kambodjaanse bevolking deur die monsteragtige Pol Pot of die volksmoord teen die Toetsi’s deur die Hoetoes in Rwanda of die massamoorde deur die Sowjetunie en Mao Tsetoeng se Rooi Sjina algemeen deur die beskaafde wêreld veroordeel. Of die VN wel bereid of in staat is om iets omtrent sulke gevalle te doen, is ‘n ander vraag, maar ervaring tot dusver dui eerder op die teendeel.

In die jongste tyd was daar ook vervolgings deur die Wêreldhof teen bewindhebbers, staatshoofde ens. op aanklagte van “misdade teen die mensdom” en “oorlogsmisdade” in hul eie lande. Die geval van die voormalige Serwiese president, Slobodan Milosevic in 2006 is ‘n voorbeeld hiervan.

Is dergelike vervolgings egter van volkeregtelike aard ? Waarskynlik nie.

Van watter betekenis is dit alles vir ons as Afrikaners? Soos beklemtoon, is die volkereg in beginsel gemoeid met betrekkinge, vriendelik of vyandig, tussen soewereine state. Die volkereg bemoei hom in beginsel nie met die lotgevalle van indiwidue nie, behalwe waar dit gaan om politiekery en die enkele situasies wat hier bo geskets is. Weliswaar is daar in die jongste tye tekens van volkeregtelike erkenning van indiwidue, “vryheidsbewegings” ens., maar of die VN enige beskerming van hierdie aard aan blanke Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners sal verleen, kan elkeen maar vir homself uitmaak. Dr Roodt maak in sy artikel oor die Finne melding van talle klein volke wat oor eeue vir hulle vryheid en onafhanklikheid moes veg. Die sleutelwoord is veg, m.a.w. stry. En verder hulle hoop vestig op die gelukskoot. ‘n Interessante geval van ‘n gelukskoot is dié van Skotland wat die Brexit-verwikkeling gaan aangryp om onafhanklik van die  “Verenigde” Koninkryk te raak.

Onder dié wat moes stry vir hulle vryheid was ons miskien die uitsondering wat sy vryheid sonder stamp of stoot prysgegee het. Die groot Franse dramaturg van die sewentiende eeu, Corneille, praat van die skande van te sterwe sonder om te veg. Maar hierdie is ‘n onaangename waarheid waarvan ons seker maar moet probeer vergeet.

Ten spyte van alles kry ‘n mens steeds die gevoel dat dit in die internasionale verkeer ten slotte tog maar die magtiges is wie se wil deurslaggewend is. Gedurende al die jare waarin die Sowjetunie tientalle kleiner volke oorheers, onderdruk en uitgemergel het, het die Verenigde Nasies weinig of niks uitgevoer om hulle lot te verlig nie. Ook in hierdie geval was dit maar net weer ‘n gelukskoot wat hierdie volke van die kommunistiese juk bevry het in die vorm van die byna onverwagse ineenstorting van die Sowjetgedrog.

Ten einde ‘n subjek van die volkereg te kan wees, m.a.w die houer van volkeregtelike regte en verpligtinge, sal ons op die een of ander manier aanspraak moet kan maak op ‘n vorm van soewereiniteit, dit wil sê ‘n gemeenskap van mense met ‘n eie identiteit wat homself regeer of minstens die potensiaal moet hê om dit te kan doen, op ‘n bepaalde grondgebied en met die vermoë om internasionale betrekkinge te kan aanknoop en onderhou. Is dit op die oomblik die geval? Dit sal ons volgehoue strewe moet wees en ook sal ons hierdie oogmerk daadwerklik moet bereik voordat daar enigsins ‘n kans sal wees op volkeregtelike erkenning. Vir ons voortbestaan as ‘n volk is hierdie die hoogste prioriteit.

 

Leon Lemmer: Dirk Mudge oor die onafhanklikwording van Namibië

Dit is algemeen bekend dat Dirk Mudge (gebore in 1928) ‘n leidende rol in die onafhanklikwording van Suidwes-Afrika (SWA, nou bekend as Namibië) gespeel het. Die blanke bewind in Rhodesië (nou bekend as Zimbabwe) het in 1980 tot ‘n val gekom. Hiervoor moet John Vorster en Pik Botha ‘n mate van verantwoordelikheid aanvaar. In 1990 het dieselfde lot SWA getref. Hierdie magsoorgawe het plaasgevind met Vorster en daarna PW Botha as die Suid-Afrikaanse staatshoof, met Pik Botha deurgaans as die minister van buitelandse sake (1977-1994). Ek onthou hoe Vorster vertel het dat dieselfde lot as Rhodesië ons nie sal tref nie omdat Suid-Afrika ‘n “soewereine, onafhanklike staat” is. Oor SWA was die profesie dieselfde: “Dat wat in Suidwes-Afrika gebeur nooit in Suid-Afrika sou gebeur nie” (bron hier onder, p 374). Suid-Afrika se “bevryding” van blanke bewind in 1994 weerspieël egter in baie opsigte wat in hierdie twee buurlande (en veral in Namibië) gebeur het.

Mudge stel Vorster gunstig en PW Botha ongunstig voor. “My verhouding met PW Botha was so anders as dié wat ek met John Vorster – vir my altyd oom John – gehad het” (p 260). PW Botha was lus om Mudge te “donner” (p 259). Dit is moeiliker om Pik Botha, wat “‘n formidabele onderhandelaar was” (p 326), te karakteriseer. Mudge het gesê “dat Pik graag die bruidegom op elke bruilof en die lyk op elke begrafnis wou wees” (p 261, 400). Max du Preez noem Pik ‘n “cowboy-diplomaat” (p 16).

Sedert die onafhanklikwording van Zimbabwe en Namibië het die Suid-Afrikaanse nuusmedia in opvallende mate belangstelling in hulle verloor. Dit is nie polities korrek om oor die wanprestasies van ‘n swart bewind te berig nie. Omdat wat in SWA gebeur het nie altyd in detail bekend was nie, moet die publikasie van Mudge se outobiografie verwelkom word: Enduit vir ‘n onafhanklike Namibië (Pretoria: Protea Boekhuis, 2015, 551p, R350). Mudge skryf in merkwaardige besonderhede oor sy politieke loopbaan, vanaf die begin daarvan in 1961 tot in 1983 (tot by Hoofstuk 11). “Ek wou sover moontlik alles wat ek gedurende my lang en dikwels opdraande politieke lewe ervaar het op rekord plaas” (p 29). Hoofstuk 12, oor die gebeure van 1984 tot 1989, is egter sketsmatig, asook wat daarna gebeur het. Dit is asof die outeur moeg geword het om alles in dieselfde voortreflike mate as voorheen te vertel. Hoofstuk 13, oor die totstandskoming van die grondwet, is egter skitterend omdat ‘n potensieel saai onderwerp baie interessant aangebied word.

In die geheel beskou het Willie Breytenbach reg as hy hierdie boek “‘n monument vir gryskrag” noem (Netwerk 24, 6 deser). In sy resensie vra Breytenbach egter hierdie onvanpaste vraag: “Waarheen gaan hierdie dagboeke en dokumentasie eendag?” Mudge het uitdruklik geskryf: “Baie van die inligting wat ek in hierdie boek verstrek, kom uit dokumente, briewe, verklarings en toesprake wat ek jare lank tot my beskikking gehad het, maar intussen aan die Universiteit van Suid-Afrika geskenk het” (p 29).

Al was albei sy oupas Sappe (p 39) en sy pa ook (p 59) tot 1950 (p 74) was Mudge in sy jeug ‘n Afrikaner, bv lid van die Voortrekkers (p 56), die Nasionale Party (NP), die Rapportryers en die Broederbond (p 72). Hy is steeds ‘n lidmaat van die NG Kerk (p 72). In die politiek is hy tot groter verligtheid gebrei. Hy het tot die besef gekom dat buitelandse en internasionale faktore deesdae ‘n groot rol in die binnelandse politiek speel. Hy het apartheid afgesweer, in 1977 van die NP weggebreek en die Republikeinse Party (RP) gestig. Daarna het die veelrassige Demokratiese Turnhalle Alliansie (DTA), met die PR as deel daarvan, tot stand gekom. Die DTA was nodig om ‘n mate van verenigde weerstand teen die terroristiese South West Africa People’s Organisation (SWAPO) te bied. Dié DTA-weerstand was deurgaans vreedsaam. Die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte (weermag en polisie) het SWAPO militêr bestry. Interne politieke partye, soos die NP-SWA en RP, het nie inspraak in militêre besluite gehad nie.

Die teks is ‘n inskerping van, of skoling in, politieke verligtheid. Dit is reeds aan die begin duidelik. In die aanhef is daar ‘n aanhaling van die manteldraaier Abraham Lincoln en dan volg ‘n voorwoord deur die skynbaar onvermybare Max du Preez. Mudge word deur Du Preez in die konteks van “die mees uitmuntende Afrikaner-leiersfiguur” geplaas; iemand wat “nie in die eerste plek of eksklusief ‘n leier van Afrikaners” is nie, maar “ook ‘n volbloed Afrikaan” is (p 13). “Die eerste leier uit die hoofstroom Afrikaner-establishment wat besef het dat hy ook Afrikaan is, dat sy lot volledig [!] met dié van swart Afrikane verbind is en dit boonop sy politieke platform gemaak het, was Dirk Mudge … Mudge se ommeswaai van ‘n stoere Afrikaner-nasionalis en ondersteuner van apartheid tot ‘n bevryde Namibiese patriot wat teen rassediskriminasie veg, het oor ‘n paar jaar plaasgevind” (p 14). Let op die oordrywing wat so kenmerkend van Du Preez se joernalistiek is: volbloed, volledig, ommeswaai, stoere, bevryde Namibiese patriot. In werklikheid was Mudge se politieke ommeswaai nie so volledig soos Du Preez beweer nie en sy politieke “bevryding” het hom nie naasteby van sy Afrikanerkultuur laat afsien nie, soos hier onder blyk. In ruil vir Du Preez se voorwoord gee Mudge die volgende komplimentjie: “As dit nie vir Max du Preez en sommige media was nie, sou min mense in Suid-Afrika geweet het wat hier by ons in die politieke arena gebeur het” (p 422).

Een van Mudge se hoofargumente teen apartheid is dat blankes ‘n rasse- of kleurgroep is wat in Namibië verskillende etnisiteite, nasies, volks- of kultuurgroepe, soos Afrikaners, blanke Engelssprekendes en blanke Duitssprekendes, insluit. Deur nie-blankes saam te groepeer en van hulle te verwag om geriewe te deel, word ras of kleur eweneens as norm gebruik en verskillende etnisiteite saam gegroepeer, bv Basters, Boesmans, Capriviane, Damaras, Herero’s, Kavango’s, Kleurlinge en Namas (p 30, 56, 142, 213, 257, 290, 334, 371). Mudge aanvaar “dat differensiasie tussen mense op grond van hul bevolkingsgroep vir die grootste deel van die bevolking aanvaarbaar is, maar dat differensiasie op grond van kleur of ras vernederend is en nie verdedig kan word nie. Ek wil dit by wyse van ‘n eenvoudige voorbeeld illustreer. Elf verskillende skole vir die verskillende bevolkingsgroepe maak sin, maar slegs drie verskillende skole vir swart, wit en bruin mense is vir hulle [die swartes] nie verantwoordbaar nie, omdat dit slegs op kleur gebaseer is en nie met die taal- en kultuurverskille tussen verskillende swart groepe rekening hou nie. Dit het die indruk geskep dat dit slegs om die beskerming van die blanke groep gaan. Eweneens kan dit nie verdedig word nie dat sommige openbare geriewe slegs vir blankes gereserveer was, terwyl al die ander groepe geriewe wat vir ‘nieblankes’ afgesonder was, moes deel” (p 200).

As daar gebiedskeiding was, sou aparte geriewe vir die elf etniese groepe die ideale oplossing gewees het en dus ook die skepping van elf nasiestate, moontlik as lede van ‘n oorkoepelende federasie. Omdat al die etniese groepe se woon- en gebruiksgebiede nie sinvol sonder groot bevolkingverskuiwings geskei kan word nie, is almal sonder etniese onderskeid met onafhanklikheid saamgegooi. Myns insiens word die swartes hierdeur bevoordeel en die wittes (en in mindere mate die bruines) hierdeur benadeel en groot opofferings word van veral die blankes geverg. Dit is by uitstek een kleurgroep, naamlik die swartes, wat bevoordeel en ‘n ander kleurgroep, naamlik die blankes, wat in die nuwe opset benadeel word. Ontwikkelde Europese beskawing word nie op hierdie manier bevorder nie. Maar dan word beweer dat Westerse beskawing nie tot die norm verhef mag word nie, want dit sou minderwaardigheid by veral swart etniese groepe impliseer, wat taboe is.

Uiteindelik word die blankes tot in hierdie hoek gedryf: Dat bv “skoolintegrasie onafwendbaar is ten spyte van taal- en kultuurverskille” (p 370), al “was dit die DTA se beleid dat daar kultuurgebonde én ook oop skole moes wees” (p 382). In die praktyk word dit later: “Dat skole in die land toeganklik sal wees vir enige voornemende skolier” (p 417). Mudge wou hê dat die belangrikheid van “moedertaalonderrig in die een of ander vorm” erken word (p 446), maar daardie “een of ander vorm” toon reeds dat daar nie sterk hierop as ‘n onvervreembare reg aangedring is nie.

Wat hier gebeur het, is soortgelyk aan die erkenning in Suid-Afrika, nie van elf etniese groepe nie, maar van elf amptelike tale. Nege tale baat deurdat hulle amptelike status kry; iets wat hulle voorheen nie gehad het nie. Engels baat buitensporig omdat dit in die praktyk as feitlik die enigste amptelike taal funksioneer. Afrikaans, wat ‘n sterk funksionerende amptelike taal was, boet die meeste aan status in. ‘n Belangrike verskil met wat in die vorige paragrawe staan, is dat dit juis die koloniale en imperiale hooftaal, Engels, is wat sonder wroeging as die amptelike hooftaal in die Suid-Afrikaanse praktyk ingeburger is. In Namibië is Engels die enigste amptelike taal (kyk hieronder). Die skepping van elf etniese tuislande in Namibië is onprakties, maar elf amptelike tale word in Suid-Afrika die sotlike werklikheid al is dit eweneens heeltemal onprakties en natuurlik onekonomies.

Mudge vestig deurgaans die aandag op die verskil tussen “people” (die hele bevolking) en “peoples” (etniese groepe) (bv p 131). Hy verkies dat daar na “people”, die bevolking in sy geheel, verwys word en nie na “peoples”, dus bevolkingsgroepe, nie omdat dit aan afsonderlike ontwikkeling, oftewel ‘n vorm van apartheid, herinner. Tog sou afsonderlike gebiede vir al die etniese groepe (teoreties, maar nie prakties nie) die ideale oplossing gewees het.

‘n Ander kenmerk van Mudge se boek is die klem wat hy op medemenslikheid/menswaardigheid plaas. Hy wou hê dat blankes hulle “selfsugtige voorregte” moet prysgegee (p 175, 333). Daar moet ‘n gesindheidsverandering intree (p 199). Daar was ‘n verhoudingsprobleem (p 216). Soos in Suid-Afrika duik die gewilde frase van “hande vat” kort-kort op. Mudge fundeer sy standpunt op sy christelike oortuigings en ook op Hendrik Verwoerd se uitspraak dat “hy vir die swart inwoners van die land alles sou doen wat hy vir homself gun” (p 26, 152). In die jare sestig was Mudge nie blind vir kultuur- of ontwikkelingsverskille tussen wit en nie-wit nie: “Ons moet met ons hoër ontwikkelings- en beskawingspeil ‘n voorbeeld van wedersydse respekbetoning vir die nieblankes stel” (p 105). “Ek staan vandag nog daarby dat jy nie etniese, godsdienstige en selfs beskawingsverskille kan ignoreer wanneer na vreedsame oplossings gesoek word nie” (p 146). “My standpunt was dat ek my taal en my geloof beskerm wil hê” (p 447).

Voogdyskap word nie geïmpliseer nie. “Om die verskeidenheid van die skepping as argument te gebruik om teen mense wat eenders [?] geskape is te diskrimineer en hulle menswaardigheid te misken, het my gepla … Hoewel niemand die ryke verskeidenheid van die skepping ontken nie (dit selfs bewonder), kan niemand [?] op Christelike gronde aanvaar dat God minderwaardige wesens geskep het nie. As daar beskawings- en ervaringsverskille ontstaan het, moet die Skepper nie vir alles verantwoordelik gehou word nie” (p. 152-153). Mudge kon met hierdie soort redenasie ook ontken dat gestremdes in ‘n benadeelde posisie verkeer. Natuurlike/aangebore verskille word hiermee ontken. Alle verskille word oor die boeg van empiriese faktore, soos ervaring en opvoeding, gegooi, op die gevaar af dat as mense in die praktyk nie gelyk of eenders is nie, blankes vir die agterstande van nie-blankes verantwoordelik gehou kan word.

Dan word “gelyke geleenthede” die pleidooi (p 153); iets wat in die praktyk kwalik bygebring kan word. Vryheid om geleenthede te benut, moet eerder die wagwoord wees. “Geen politieke reëling in hierdie land wat vrede en voorspoed tot gevolg kan hê, kan plaasvind en kan ‘n sukses wees as ons nie die nieblankes se goedkeuring daarvoor kan kry nie” (p 147). Myns insiens is die probleem dat die nie-wit meerderheid hiermee ‘n vetoreg verkry wat nie aan die blanke minderheid gegun word nie. Naas kwantiteit/getalle moet kwaliteit/gehalte/meriete ook verreken word.

Die eerste SWAPO-vegters is in 1962 in Egipte opgelei en die eerste terreurdade is in 1965 in SWA gepleeg (p 122-123). Die amptelike beginjaar van die militêre stryd is egter 1966, met 26 Augustus wat deesdae ‘n openbare vakansiedag, Heroes’ Day, is (p 124-125). ‘n Positiewe klank is dat Mudge met verwysing na SWAPO by voorkeur van terroriste praat en selde van vryheidsvegters. Hy aanvaar ook dat die Suid-Afrikaanse weermag die militêre stryd teen SWAPO gewen het (p 24, 422). SWAPO kon nooit eens ‘n enkele militêree basis in SWA vestig nie. Die Verenigde Nasies (VN) het SWAPO egter as “die enigste ware en outentieke verteenwoordigers van die mense van Suidwes-Afrika erken” (p 159, 284).

In 1969 het die VN besluit om die gebied se naam na Namibië te verander. Hieroor was Mudge “baie ongelukkig en soos baie ander van my landgenote, het ek geweier om die nuwe naam te aanvaar” (p 134). Reeds in 1974 gebruik Mudge egter die naam Namibië in ‘n toespraak in die Wetgewende Vergadering (p 181). Soms kom Mudge se historiese DNS tog na vore, bv: “Dit het my gegrief dat sommiges die Afrikaners, die Boere, vir alles wat sleg was in die land verantwoordelik gehou het” (p 364). Ook: “Individue wat die minste of geen belasting betaal nie, baat dikwels die meeste uit belastinginkomste” (p 411) en hy sou dit nooit eens oorweeg om in ‘n SWAPO-kabinet te dien nie (p 522).

Daar was aanvanklik sprake van die verdeling van die land; dat die suide van SWA aansluiting by Suid-Afrika sou soek om oorheersing deur die swart meerderheid, die Owambo’s in die noorde, te voorkom (p 162). Owambo’s maak meer as die helfte van die land se bevolking uit. Daar was ook ‘n afskeidingsbeweging in die Caprivi, dus in die noord-ooste (p 509). Soos in die geval van Suid-Afrika het die koloniale grense egter behoue gebly en het die terroriste, soos in Suid-Afrika, politieke beheer oor die land in sy geheel verkry, hoewel SWAPO, soos die ANC, militêr glad nie die oorwinning behaal het nie. In albei lande het swart mag dus die oorhand gekry. Die koloniale grense is selfs uitgebrei deurdat ‘n ANC-gedienstige NP-regering op 28 Februarie 1994 die Walvisbaai-enklawe (1 124 km²) sonder slag of stoot gratis aan Namibië verkwansel het. Die VN het sedert 1978 hierop aangedring (p 286). Walvisbaai was al van 1878 af deel van die Kaapkolonie, maar volgens die VN se Veiligheidsraad “Walvis Bay must be reintegrated [!] into South-West Africa” (p 343).

Soos in Suid-Afrika was daar aanvanklik sprake van ‘n federale politieke bestel; iets wat baie nodig is in enige land met ‘n heterogene bevolkingsamestelling, dus vanweë verskille in bv etnisiteit, kultuur, taal en tradisie. Soos in Suid-Afrika is ‘n gesentraliseerde eenheidstaat, waarin die meerderheid op grond van een mens, een stem, die politieke mag inpalm, aan die hele gebied opgedring. In albei lande is die ydele hoop gekoester dat “geen minderheidsgroep deur meerderheidsgroepe oorheers sal word nie” (p 177). In ‘n poging om swart oorheersing te verdoesel, word groepregte deesdae in albei lande ontken. Pleks daarvan word net indiwiduele regte erken (p 188, 335, 432, 457). Op hierdie manier verkry net die meerderheid, die swartes, effektief groepregte, naamlik die reg om ander groepe te oorheers en alles wat daaruit volg, bv (teoreties) vrywillige assosiasie (p 335) maar in die praktyk gedwonge rasse-integrasie en proporsionele parlementêre verteenwoordiging vir die politieke partye pleks van die kiesafdelingstelsel (p 338). Sodanige resultate word “geregtigheid” genoem. In Namibië is daar blykbaar afgesien van die voorstel van ‘n proporsionele ten gunste van die kiesafdelingstelsel (p 508), maar in Suid-Afrika sit ons steeds met uitsluitlik proporsionele verteenwoordiging.

Soos Suid-Afrika het Namibië na bewering ‘n modelgrondwet (p 436, 440). Enigiets waarmee blankes se gesag ondergeploeg word, moet blykbaar goed wees. Volgens die aanhalings in die boek het die verrigtinge tydens die skryf van die grondwet (veral) in Engels geskied; die taal waarop SWAPO aangedring het. SWAPO se konsepgrondwet het as besprekingsdokument gefunksioneer (p 439). Dit is deur ‘n Suid-Afrikaanse regter, Ismail Mohamed (1931-2000), opgestel (p 439, 490). Dele is uit die Indiese grondwet oorgeskryf (p 490). Mohamed, met ‘n LLB-graad, is in 1996 deur Nelson Mandela as hoofregter bo ‘n blanke kandidaat, wat meer ondervinding en ‘n doktorsgraad gehad het, aangestel. Mohamed was bekend vir sy linkse politiek; vandaar retoriek soos die volgende: “Whereas these rights have for so long been denied the people of Namibia by colonialism, racism and apartheid; Whereas we, the people of Namibia, have finally emerged victorious in our struggle against colonialism, racism and apartheid” (p 441-442). In die Suid-Afrikaanse grondwet is daar ‘n soortgelyke klank: “We, the people of South Africa, Recognise the injustices of the past; Honour those who suffered for justice and freedom in our land.” Daar word dus weggespring uit die perspektief van die ANC en swartes. Eers daarna is daar ‘n kniebuiging na veral die blankes: “Respect those who have worked to build and develop our country.” Drie linkse Suid-Afrikaanse regsgeleerdes was by die formulering van sowel die Namibiese as die Suid-Afrikaanse grondwet betrokke: Arthur Chaskalson [(1931-2012, van Rivonia-faam en die eerste hoof van die Grondwethof], Marinus Wiechers [wat as rektor Unisa aktief verswart het] en Gerhard Erasmus [‘n Dakar-ganger] (p 458).

In die grondwetlike besprekings in Windhoek was daar dinge waarvan met vrug kennisgeneem kan word:

  • Gedagtig aan die Zuma-kabinet: “A proliferation of ministries would not serve us well” (p 453, 528). Die praktyk lyk egter soos in Suid-Afrika, want Mudge maak melding van “‘n onrealisties groot uitvoerende gesag” (p 528).
  • Mudge het tereg geoordeel “dat regstellende aksie op die fundamentele beginsel van gelykheid en vryheid van diskriminasie inbreuk sou maak” (p 497). Tog was sy DTA in beginsel ten gunste van regstellende aksie, maar dit het, soos in Suid-Afrika, ontaard in omgekeerde rassediskriminasie (p 456). Aanvanklik is voorgestel dat regstellende aksie na 25 jaar uitgefaseer moet word, maar Chaskalson was beswaard daaroor. Die keerdatum is geskrap omdat ‘n periode van 25 jaar deur die Grondwetkomitee as te lank beskou is (p 528). “Ek dink dit [die skraping] was ‘n oordeelsfout, want 25 jaar ná onafhanklikheid word regstellende aksie nog steeds op diskriminerende wyse toegepas” (p 470). Mudge meen sodanige regstelling “kan nie onbepaald voortgaan nie” (p 528). Dieselfde oordeelsfout is in Suid-Afrika gemaak; eintlik ‘n onvergeefbare onnoselheid. Dit is onwaarskynlik dat ‘n swart meerderheidsregering ooit van hierdie soort rassistiese bevoordeling van swartes en benadeling van blankes sal afsien. Die speelveld word doelbewus ongelyk gehou omdat die swartes nie sonder bevoordeling suksesvol met die blankes kan meeding nie.
  • Mudge het nie daarvan gehou dat Afrikaans ondergeskik aan Engels gestel word nie, maar pleks van op Afrikaans aan te dring, is SWAPO se wens glad te geredelik aanvaar, te wete die sotlikheid van Engels as die enigste amptelike taal in ‘n land waar Afrikaans dwarsoor die hele gebied, met die moontlike uitsondering van Caprivi, die eintlike openbare spreektaal is (p 464). “Die meeste van die nuwe amptenary kan Afrikaans praat” (p 527), is ‘n skrale troos, maar tog heelwat beter as die situasie in Suid-Afrika waar die oorgrote meerderheid werkers in die openbare sektor nie Afrikaans kan of wil praat nie. In sowel Namibië as Suid-Afrika is daar glad nie hard genoeg en met oortuiging om eerbare amptelike status vir Afrikaans geveg nie.

Ten spyte van ernstige tekortkominge roem Mudge daarop dat hy en sy DTA saam met SWAPO “vorm en inhoud aan die Grondwet van die onafhanklike Namibië gegee” het. “Die eindresultaat is ‘n Grondwet wat ‘n veelpartydemokrasie gevestig het wat die fundamentele regte en vryhede van elke persoon in Namibië beskerm en wat ‘n missie bevat om die welsyn van die land se mense, met spesiale klem op die minderbevoorregtes en benadeeldes, te bevorder” (p 520). Daardie “spesiale klem” herinner aan die propaganda van bevrydingsteoloë en dui daarop dat die belange of heil van al die inwoners nie in dieselfde mate nagestreef word nie. Soos in die Suid-Afrikaanse grondwet is daar oordrewe klem op regte wat nie met verpligtinge gebalanseer word nie.

VSA prys Swapo se onderhandelaar

Martti Athisaari het mbv die VN se Resolusie 435 in die laat sewentiger- en tagtigerjare gesorg dat die mag aan die verloorder Swapo in Suidwes-Afrika, vandag Namibië, oorhandig word.

Hy was eweseer by die konflikte in Noord-Ierland, Kosovo en Indonesië betrokke waar die VSA kon voordeel trek uit vredesonderhandelinge. Die VSA het hul grootste basis, Camp Bondsteel, in Kosovo opgerig danksy die Fin.

Camp Bondsteel is nooit afgebreek na die vrede in Kosovo gesluit is nie, en huisves selfs ‘n Thaise masseersalon.

Athisaari, wie se familie eers Adolfsen uit Noorweë geheet het, het in 1929 Finse burgerskap gekry en in 1937 hul van van Adolfsen na Athisaari verander. Sy jakkalsstreke om die “vrede” dmv geweld in Suidwes-Afrika af te dwing, is alombekend.

Hy het Brent Carlsson, ‘n Sweed, vervang as die VN se gesant. Carlsson is op 21 Desember 1988 in die Pan Am-vliegtuigongeluk dood, vermoedelik deur die Britse geheimediens neergeskiet, omdat hy ‘n ondersoek wou loods na uraan- en diamanthandel in die streek.

Athisaari was vanaf 1977 tot 1981 die VN se kommissaris van Suidwes-Afrika. Sy taak was om Swapo aan bewind te bring nadat dit duidelik geraak het dat die terroriste nie die mas gaan opkom nie.

Resolusie 435 van die Veiligheidsraad van die VN is in 1978 aanvaar, maar die implementering daarvan is meer as tien jaar later eers finaal voltrek.

Die Fin is in April 1989 as die VN se spesiale verteenwoordiger en hoof van die UNTAG-vredesmag na Namibië gestuur.

Hy het Swapo in staat gestel om die land vanuit Angola binne te val terwyl hy gesorg het dat Suid-Afrikaanse soldate “ter wille van vrede” moet terugtrek, maar die destydse administrateur-generaal, adv. Louis Pienaar, was glo ingelig oor sy plan.

Pienaar het Athisaari versoek om Suid-Arika toe te laat om troepe in die gebied te ontplooi en die situasie te stabiliseer. Suid-Afrikaanse troepe het Swapo-insypelaars teruggedryf.

In getuienis wat in September 2000 voor die Waarheids- en Versoeningskommissie in Suid-Afrika gelewer is, het dit aan die lig gekom twee lede van die destydse Burgerlike Beskermingsburo (BSB), Kobus le Roux en Ferdi Barnard, opdrag gekry het om Athisaari ‘n “goeie pak slae” te gaan gee.

Barnard het glo beplan om Athisaari in sy hotel op Keetmanshoop met ‘n vuisyster te gaan oorreed om aan Suid-Afrikaanse troepe toestemming te gee om Swapo te keer, maar Athisaari is gewaarsku om nie die vergadering by te woon nie.

Hy het nogtans daarna ingestem dat troepe teen die Swapo-inval ontplooi word.

Ná die Namibiese verkiesing in 1989 het Athisaari ereburgerskap verkry, terwyl Suid-Afrika aan hom die O.R. Tambo-toekenning gegee het vir “sy buitengewone prestasie as diplomaat en sy toewyding tot die vryheidsproses in Afrika en vrede in die wêreld”.

Dié toekenning moes waarskynlik eerder aan Le Roux en Barnard gegaan het vir hul moeite om die vredesproses nie te laat ontspoor nie. In plaas daarvan is die twee verguis.

‘n Duidelike aanduiding van die Fin se gewildheid by die Amerikaanse magskliek, is sy hagiografie in die New York Times.

Kort ná die Nobelprys vir Vrede in 2008 aan hom toegeken is, het dié koerant Athisaari se “warmte, patos, humorsin en oorredingsvermoë” geprys, waarskynlik weens sy onderdanigheid en kruiperigheid aan Washington.

In 1973 is Athisaari as Finland se ambassadeur in Tanzanië aangestel, met akkreditasie tot Zambië, Somalië en Mosambiek. In dié tyd het hy kontak gemaak met die Swapo-verteenwoordigers in Dar-es-Salaam en oudpres. Hifikepunye Pohamba, ontmoet.

Die Finse Sendinggenootskap is destyds deur die Rynse Sending uit Duitsland, genooi om in Suidwes-Afrika te werk.

Die eerste groep Finse sendelinge het in 1869 in Hereroland aangekom. Finland, soos Duitsland, het daarmee hul netwerk in ontwikkelende lande uitgebrei. Swapo se Nickey Iyambo, uiteindelik die land se vise-president, is op dié wyse deur Finland geborg.