praag.co.za

Tag: volkereg

  • Karel Combrinck: Die reg van volke

    Karel Combrinck: Die reg van volke

    Daar is dikwels bespiegeling oor die vraag of die internasionale reg of, soos dit in Afrikaans heet, die volkereg, ‘n toevlug kan bied vir ons as Afrikaners. Moontlik mag dit dus van nut wees om vlugtig ‘n paar gedagtes oor hierdie onderwerp te wissel.

    Ons as Afrikaners het nie ‘n alte gelukkige ervaring van die volkereg nie. Eintlik gaan dit nie om die volkereg as sodanig nie, maar om die haatdraende houding jeens Suid-Afrika voor 1994 van die hooforgane van die moderne volkereg, naamlik die Veiligheidsraad en veral die Algemene Vergadering van die VVO, deesdae meer as die “VN” bekend. Oor die jare was die hantering van Suid-Afrikaanse aangeleenthede ‘n politieke gekonkel van die VN eerder as toepassing van die volkereg en daarmee het die organisasie ‘n betreurenswaardige bydrae gelewer, nie net ten opsigte van Suid-Afrika nie, maar ook wat betref die volkereg self. Enige regstelsel kan net gesond funksioneer as dit nougeset volgens regsbeginsels geskied. Sodra daar vir politieke oorwegings en eie belang met die beginsels gepeuter word, is die stelsel ook daarmee heen. Tog bestaan daar ‘n algemene behoefte onder volke en lande aan iets soos ‘n internasionale regsorde en die beginsels waarvolgens die Volkereg fungeer, wanneer dit korrek toegepas word, is wel regsbeginsels.

    Die grondslae van die volkereg is gelê deur die groot Nederlandse juris van die sewentiende eeu, Hugo de Groot, soos uiteengesit in sy twee monumentale werke, De Jure Belli ac Pacis (Aangaande die reg van oorlog en vrede) en Mare Liberum (Die reg van die seevaart).

    Die hoofdoel van die volkereg, (in teorie in elk geval), is om wêreldvrede te bevorder, geskille tussen lande te besleg, die swakkeres teen die magtiges te beskerm, asook die internasionale handelsverkeer te vergemaklik. Soos met alle menslike ondernemings is die volkereg ook onvolmaak en die toepassing daarvan, veral deur die VN, soms heeltemal verwronge. Daarby is die volkereg sg. “swak  reg” in die sin dat daar nie ‘n opperste gesag is wat dit kan afdwing nie. Dikwels is dit die magtige state wat hulle wil deurvoer, of ‘n gesamentlike poging van ‘n groep lande met ‘n gemeenskaplike ideologiese oogmerk.

    Die volkereg behels dus betrekkinge tussen soewereine state en die hoofbron daarvan is internasionale verdrae. Die VVO is trouens self deur ‘n verdrag in die lewe geroep, nl. die “United Nations Charter”, oftewel VN-handves. Verdrae speel in die volkereg die rol van kontrakte in die privaatreg en beide berus op konsensus. Net soos met kontrakte het die partye tot verdrae meesal die bedoeling om deur hulle ooreenkoms gebonde te wees en so verloop verdrae dan ook meesal redelik ongestoord. Verdragspartye, soos ook kontraktuele partye, kom ooreen op ‘n bepaalde gedragspatroon en hou daarby. Dis slegs wanneer sake skeefloop dat hofgedinge ter sprake kom. Die verskil is weer dat kontrakte in die nasionale reg afdwingbaar is, terwyl verdrae moeilik afgedwing kan word. Verdragspartye kan ooreenkom om hulle in probleemsituasies te wend tot bv. onafhanklike arbitrasie of strafmaatreëls, boetes ens., soos in die verdrag bepaal, maar in die finale instansie kan ‘n staat in beginsel nie gedwing word om sy verdragsverpligtinge na te kom nie.

    Hoewel verdrae nie afgedwing kan word nie, is die wêreldmening gekant teen die verbreking van verdrae. ‘n Eensydige verbreking van ‘n verdrag kan ook ‘n land se internasionale aansien en geloofwaardigheid ernstig skaad. ‘n Beroemde geval van verdragbreuk was toe Hitler in 1942 Rusland binnegeval het ten spyte van ‘n nie-aanvalsverdrag wat op 23 Augustus 1939 in die Kremlin deur verteenwoordigers van die twee lande onderteken is. Hiervoor het Duitsland ‘n verskrikike prys betaal naamlik dat hy die oorlog verloor het.

    Nog ‘n bron van die volkereg is die opinies en beslissings van die hoofregsorgaan van die VVO nl. die Wêreldhof, met setel in Den Haag. Die primêre funksie van die Wêreldhof is om internasionale dispute tussen soeweine state te skik en om adviserende menings te verskaf oor regsvrae wat deur die VN aan hom voorgelê word. Sommige lesers onthou miskien nog die groot gedinge van die vyftiger- en sestigerjare waarin die Wêreldhof versoek is om ‘n opinie rakende Suid-Afrika se administrasie van Suidwes-Afrka te verstrek. ‘n Sleutelelement, ooreenkomstig die beginsels van die volkereg, in die Suidwesgeskil was dat dit van ‘n internasionale aard moes wees, d.w.s. dat minstens twee soewereine state in die geding betrokke moes wees, in hierdie geval dus Suid-Afrika en Suidwes-Afrika. Suidwes-Afrika was egter geen soewereine staat nie, maar was volkeregtelik ingevolge ‘n mandaat van die Volkerebond onder Suid-Afrikaanse beheer. Oor hierdie punt is eindeloos geredekawel. Daarbenewens is die geding nie deur enigeen van die hoofpartye aanhangig gemaak nie, maar deur Ethiopië en Liberië.

    Die beslissing van die hof was tereg dat die partye wat die geding aanhangig gemaak het, nie ‘n direkte belang by die aangeleentheid gehad het nie en het hulle aansoek verwerp. Die Hof het dus die vraag of Suid-Afrika se administrasie van Suidwes regmatig was, gesystap en so die deur oopgelaat vir die VN om voort te gaan met sy program van strafmaatreëls en sanksies teen Suid-Afrika. Hier was dus ‘n duidelike geval van gebrekkige regstoepassng en die reg moes uiteindelik swig voor politiekery, die Achilleshiel van die internasionale reg.

    Die inmenging van die VVO in die huishoudelike sake van ‘n soewereine staat, Suid-Afrika, was sekerlik anti-volkeregtelik. Maar daar is ander voorbeelde : Die inval in Irak deur die VSA was een van die blatantste gevalle en insgelyks die moord op Moeammar Ghaddafi. Ook die verklaring deur Amerika van Israeliese “soewereiniteit”  oor die Golanhoogland, wat deel is van die soewereine staat, Sirië en die eensydige uittrede van die VSA uit die multilaterale internasionale kernsperverdrag met Iran. Die VSA se onttrekking aan die internasionale verdrag oor klimaatsverandering wat in 2016 in Parys onderteken is deur so te sê alle lande van die wêreld onde rmeer die VSA, was tegnies wel regmatig (‘n klousule in die verdrag het hiervoor voorsiening gemaak), maar die onttrekking word wêreldwyd as strydig met die gees van die verdrag ervaar.

    Om verskeie redes is dit hoogs te betwyfel of die jongste aanval deur die VSA teen Iranese militêre teikens in Irak ooreenkomstig die volkereg geskied het. In reaksie daarop het Iran onmiddellik aangekondig dat hy sy kernwapenprogram in hoogste rat hervat en het die Irakese regering Amerika versoek om sy militêre personeel uit Irak te onttrek, iets wat die VSA weier om te doen. Enkele dae ná die aanval op hulle generaal skiet die Iranese weermag ‘n burgerlike vliegtuig neer met 176 passasiers aan boord. Dis hoe dit gaan wanneer die reg van die oerwoud in internasionale betrekkinge oorneem.

    ‘n Betreklik onlangse verwikkeling in die Volkereg is die erkenning deur die VN van volksmoord (genocide) as ‘n misdaad . Hierdie vertakking het sy oorsprong in die vervolging van Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Volksmoord is streng gesproke nie ‘n volkeregtelike aangeleentheid nie, want konflik tussen soewereine state is selde ter sprake. Nietemin, word volksmoord soos bv die uitroeiïng van Armeniërs deur die Turke, of die massamoord teen die Kambodjaanse bevolking deur die monsteragtige Pol Pot of die volksmoord teen die Toetsi’s deur die Hoetoes in Rwanda of die massamoorde deur die Sowjetunie en Mao Tsetoeng se Rooi Sjina algemeen deur die beskaafde wêreld veroordeel. Of die VN wel bereid of in staat is om iets omtrent sulke gevalle te doen, is ‘n ander vraag, maar ervaring tot dusver dui eerder op die teendeel.

    In die jongste tyd was daar ook vervolgings deur die Wêreldhof teen bewindhebbers, staatshoofde ens. op aanklagte van “misdade teen die mensdom” en “oorlogsmisdade” in hul eie lande. Die geval van die voormalige Serwiese president, Slobodan Milosevic in 2006 is ‘n voorbeeld hiervan.

    Is dergelike vervolgings egter van volkeregtelike aard ? Waarskynlik nie.

    Van watter betekenis is dit alles vir ons as Afrikaners? Soos beklemtoon, is die volkereg in beginsel gemoeid met betrekkinge, vriendelik of vyandig, tussen soewereine state. Die volkereg bemoei hom in beginsel nie met die lotgevalle van indiwidue nie, behalwe waar dit gaan om politiekery en die enkele situasies wat hier bo geskets is. Weliswaar is daar in die jongste tye tekens van volkeregtelike erkenning van indiwidue, “vryheidsbewegings” ens., maar of die VN enige beskerming van hierdie aard aan blanke Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners sal verleen, kan elkeen maar vir homself uitmaak. Dr Roodt maak in sy artikel oor die Finne melding van talle klein volke wat oor eeue vir hulle vryheid en onafhanklikheid moes veg. Die sleutelwoord is veg, m.a.w. stry. En verder hulle hoop vestig op die gelukskoot. ‘n Interessante geval van ‘n gelukskoot is dié van Skotland wat die Brexit-verwikkeling gaan aangryp om onafhanklik van die  “Verenigde” Koninkryk te raak.

    Onder dié wat moes stry vir hulle vryheid was ons miskien die uitsondering wat sy vryheid sonder stamp of stoot prysgegee het. Die groot Franse dramaturg van die sewentiende eeu, Corneille, praat van die skande van te sterwe sonder om te veg. Maar hierdie is ‘n onaangename waarheid waarvan ons seker maar moet probeer vergeet.

    Ten spyte van alles kry ‘n mens steeds die gevoel dat dit in die internasionale verkeer ten slotte tog maar die magtiges is wie se wil deurslaggewend is. Gedurende al die jare waarin die Sowjetunie tientalle kleiner volke oorheers, onderdruk en uitgemergel het, het die Verenigde Nasies weinig of niks uitgevoer om hulle lot te verlig nie. Ook in hierdie geval was dit maar net weer ‘n gelukskoot wat hierdie volke van die kommunistiese juk bevry het in die vorm van die byna onverwagse ineenstorting van die Sowjetgedrog.

    Ten einde ‘n subjek van die volkereg te kan wees, m.a.w die houer van volkeregtelike regte en verpligtinge, sal ons op die een of ander manier aanspraak moet kan maak op ‘n vorm van soewereiniteit, dit wil sê ‘n gemeenskap van mense met ‘n eie identiteit wat homself regeer of minstens die potensiaal moet hê om dit te kan doen, op ‘n bepaalde grondgebied en met die vermoë om internasionale betrekkinge te kan aanknoop en onderhou. Is dit op die oomblik die geval? Dit sal ons volgehoue strewe moet wees en ook sal ons hierdie oogmerk daadwerklik moet bereik voordat daar enigsins ‘n kans sal wees op volkeregtelike erkenning. Vir ons voortbestaan as ‘n volk is hierdie die hoogste prioriteit.

     

  • Krimvolkstaat: onwettig maar legitiem…

    Krimvolkstaat: onwettig maar legitiem…

    wingard_johanndeur Johann Wingard

    Hierdie week het ons weer gesien hoe die internasionale reg of volkereg deur lande geplooi word om hul eie geopolitieke belange te dien.

    Ons het ook waargeneem hoe vinnig Oos-Europa se grense verander het.

    Die Krimvolkstaat het sonder slag of stoot tot stand gekom toe Wladimir Poetin gister die ooreenkoms onderteken het wat die totstandkoming van die Krimvolkstaat as outonome Republiek erken het. Die Krimvolkstaat is nou deel van die Russiese Federasie.

    Die Krimskiereiland was eers deel van Rusland, maar is tydens die totstandkoming van Oekraïne in 1954 deur Nikita Kroestjof as deel van die Oekraïne ingelyf. Die nuwe staat was mos deel van die Sowjetunie. Maar met die verbrokkeling van die Sowjetunie het die skiereiland deel van die Oekraïne gebly.

    Vir meer as 200 jaar was die Krimskiereiland Rusland se Swartsee-vlootbasis en meer as 80% van die inwoners is steeds etniese Russe.

    Met die hulp en aanmoediging vanaf die Weste het nasionalistiese Oekraïners die mag in Kiëf met “terreur en bloedvergieting” op ondemokratiese en onwettige wyse oorgeneem. Hulle het dit kwansuis as ‘n rewolusie bestempel om van ‘n korrupte regering ontslae te raak.

    Die propagandaveldtog van die Weste wat daarop gevolg het, beklemtoon dat die nuwe tussentydse regering die legitieme verteenwoordigers van die mense van die Oekraïne is en dat die nuwe selfaangestelde regeerders volgens die internasionale reg erken word.

    Die Konstitusie (2010) van die Oekraïne lees egter soos volg:

    “Article 37
    The establishment and activity of political parties and public associations are prohibited if their program goals or actions are aimed at the liquidation of the independence of Ukraine, the change of the constitutional order by violent means, the violation of the sovereignty and territorial indivisibility of the State, the undermining of its security, the unlawful seizure of state power, the propaganda of war and of violence, the incitement of inter-ethnic, racial, or religious enmity, and the encroachment on human rights and freedoms and the health of the population.”

    Maar volgens die 2010-grondwet, asook vorige weergawes daarvan, moet die demokraties verkose President en minstens 45 parlementslede die grondwetlikheid van enige stap, wat die status van die Republiek mag aantas, goedkeur.

    Die Krim
    Die Krim

    W. Janoekowitsj was die laaste verkose President en is dus volgens die grondwet die enigste wettige staatshoof wat mag optree t.o.v. die Krimvolkstaat.

    Maar nou paradeer die nuwe selfaangestelde regeerders as legitiem en die Weste val oormekaar om hulle as sodanig te erken en maak selfs beloftes van groot geld aan hierdie regime.

    Dit is presies hier waar die siniese en dubbelslagtige plooïng van die internasionale regspraak voorkom:

    Volgens hul optrede blyk dit dat dit heeltemal wettig sou wees om met geweld en bloedvergieting die regering van die dag omver te werp en bonop strydig met hul eie land se grondwet op te tree deur te verklaar dat die Oekraïense taal die amptelike voertaal sal wees en dat Russies voortaan ‘n ondergeskikte status sal geniet.

    Volgens die Westerse regerings se optrede is die oorname van die mag deur geweld derhalwe nie strydig met die volkereg nie. Die politieke rede is egter dat hulle die Oekraïne as ‘n NAVO-bondgenoot wil sien en dat die Krimskiereiland na die Weste sal oorgaan.

    Maar o wee, wanneer die ganse bevolking van die Krimskierreiland, op ‘n bloedlose en vreedsame rewolusie sy selfbeskikking opeis, soos Kosovo ‘n paar jaar gelede, en wat deur die Weste bewerkstellig is, dan is dit onwettig en strydig met die land se grondwet en wil hulle dit nie erken nie.

    Gelukkig is Poetin sterk genoeg om hom nie aan hierdie klug te steur nie. Tydens die ondertekening van die verdrae gister het hy verklaar: “Ek kan net nie vat kry aan die gedagte dat wanneer ek ons vlootbasis gaan besoek, ek deur NAVO-vlootsoldate verwelkom gaan word nie.”

    Maar nou is die Krimvolkstaat, volgens Russiese wetgewing, ‘n deelstaat van die Russiese Federasie. Obama en sy handlangers sal maar daaraan gewoond moet raak, want daar is niks wat hulle kan doen om die situasie weer om te keer nie.

  • Burgeroorlog in Suid-Afrika?

    Ek is geen regsgeleerde nie, maar tydens my diens by die volkstaatraad het befaamde regsgeleerdes soos prof Hercules Booysen en adv Chris de Jager ons slim gemaak om die volkereg mbt selfbeskikking te verstaan. Sommige mense verwys daarna as die internasionale reg. Met daardie onderliggende bietjie kennis, en aan die hand van my eie navorsing, wil ek graag ‘n baie belangrike saak vandag aanroer.

    Gewapende konflikte tussen strydende partye van dieselfde land word deur verskeie woordeboeke as burgeroorloë gedefinieer.  Volgens die Webster-woordeboek is ‘n burgeroorlog ‘n oorlog tussen geografiese streke of politieke faksies van dieselfde nasie.

    Om tussen burgeroorloë en kleiner opstootjies te onderskei, kwantifiseer ander bronne die getal sterftes gedurende die tyd wat die stryd gewoed het.  Daar word algemeen aanvaar dat daar minstens 1000 sterftes tydens so ‘n gewapende stryd moet wees.

    Die motiewe vir burgeroorloë word soos volg omlyn: Enige groep wat ‘n ander groep met gewapende geweld aanval met die doel om grondgebied of natuurlike hulpbronne te bekom, is besig om oorlog te maak teen die ander groep.

    Of die regering die heersende burgeroorlog erken of nie, of dat dit sy bedoeling is om ‘n burgeroorlog in Suid Afrika aan te vuur of nie, is nie ter sake nie.  Wat wel ter sake is, is die feit dat die regering die feitelike situasie nie wil erken nie, en dit as gewone misdaad tipeer. Gister nog het Minister Mthetwa gepleit dat mense moet ophou om ‘n politieke motief aan die plaasmoorde te koppel.  Op dieselfde dag is daar egter nog twee bloedige insidente, waar niks geroof is nie.  Watse “misdaad” is dit?

    Die klaarblyklike motief vir die barbaarse plaasmoorde is om boere van hul plase te verjaag deur ‘n vreespsigose te skep.  Grondgebied en natuurlike hulpbronne is ‘n tipiese motief vir burgeroorloë tussen verskillende etniese groepe in Afrika.

    Deur die skuld vir die moorde dan op die boere te pak, word die geweld gekondoneer en word die regering aandadig aan die gruweldade.

    In 1996 het die regering die Eerste Protokol van die Geneefse Konvensie onderteken.  Die NP-regering het vroeër geweier om dit te doen, omdat dit volgens hul mening die staat se vermoë om burgeroorloë te bekamp of te verhoed in die wiele sou ry.

    Die RSA-regering is egter nou aan die reëls van daardie Protokol verbind, wat ‘n jus cogens-verpligting op die staat plaas.

    Jus cogens word beskryf as ‘n oorheersende en gebiedend noodsaaklike verpligting wat op ‘n staat gelê word.  Enige oortreding daarvan is strydig met die fundamentele reëls van die volkereg.

    Sommige bronne beweer dat ‘n jus cogens-norm die volgende kriteria moet hê:

    • Die doel van die jus cogens-norm is die beskerming van ‘n gemeenskap se belange;
    • die norm moet aan moraliteitsbeginsels voldoen;
    • die norm moet van ‘n absolute aard wees, dws daar is geen ruimte vir enige ander vertolking nie;
    • die oorgrote meerderheid nasies moet die gebiedendheid daarvan erken.

    Dus, alle state wat hierdie norm oortree, staar wettige vergeldingsmaatreëls deur die lydende staat of gemeenskap in die gesig.

    Hierdie jus cogens norm is ook van toepassing op burgeroorloë, en op krygsgevangenes van so ‘n oorlog. Deur hulle as gewone misdadigers te beskou, en onmenslik te behandel, of in voetboeie in die openbaar te paradeer is dus strydig met die bepalings van die Eerste Protokol wat die meeste state onderteken het.

    Aan die hand van bogenoemde is Suid-Afrika reeds sedert 1994 in ‘n volskaalse burgeroorlog gewikkel, deurdat duisende slagoffers jaarliks omkom. Dit is ‘n feit wat deur die media verswyg word, en wat nooit deur die ANC-regering erken sal word nie, aangesien dit ‘n bewys is dat die onderhandelde skikking van 1993/1994 ‘n mislukking was.

    Dit sal ook die regering se siniese ingesteldheid aan die kaak stel om voortdurend die verkeerde beleidsopsies ten opsigte van grondverdeling te neem en te ondersteun, sodat die gewapende geweld inherent aangemoedig word.  Malema se uitsprake ná sy besoek aan Zimbabwe versterk die motiewe vir ‘n burgeroorlog.

    Iemand het onlangs op die Praagwerf geskryf dat ‘n  streep in die sand getrek moet word, en het voorgestel dat daardie lyn oorgesteek sal word met die eerste gewelddadige plaasbesetting.

    Afrikaners sal dus waarskynlik heeltemal binne hul regte wees om eersdaags die regering daarvan te verwittig dat hulle hulle in ‘n staat van burgeroorlog verkeer teen ‘n onsigbare guerillamag wat ten doel het om Afrikaners uit te moor en van hul plase te verdryf.

    Die regering moet ook ingelig word dat, soos in enige ander burgeroorlog, die lydende party sy volkeregtelike regte sal uitoefen om sy goed en bloed teen insurgente te beskerm.

    Die jus cogens-bepalings van die Geneefse Konvensie se Eerste Protokol sal dus van toepassing wees op sy lede wat hulle nie noodwendig aan die insurgente se grondwetlike regte sal laat lei nie, maar deur die aanvaarde volkereg betreffende burgeroorloë.   Voordat dit kan gebeur, sal indringende gesprekke deur die Afrikaners se te stigte gesagsowerheid met die regering gevoer moet word.  Die gesagsowerheid sal sy saak ook aan buitelandse howe stel om uitspraak te verkry.

    Die RSA-grondwet bind die staat tot die bepalings en bevindings van die volkereg.

    Afrikaners sal dus gou moet speel om hul volkshuis in orde te kry, want die intensiteit van die heersende burgeroorlog is besig om in felheid toe te neem.

    no deposit slotsФільчаков прокурор

  • ‘n Land mét mense

    Ongelooflike geskiedkundige tonnelvisie, noem Volksblad vanoggend ‘n siening dat mnr. F.W. de Klerk 20 jaar gelede die land se lot ondergeskik moes stel aan die regte van minderhede.

    Die grondslagfase van Politieke Wetenskap en ander staatswetenskappe leer egter dat geen grondgebied ‘n land kan wees sonder mense nie. Wanneer in landsbelang opgetree word, kan dit dus nie geskei word van die belang van die inwoners nie. Minderhede geniet ook volkeregtelike regte om hul belange te verskans.

    Ook oor die opsies wat tot ‘n land se beskikking is om die realiteite en aspirasies te versoen, is ‘n magdom beproefde modelle beskikbaar, terwyl niks die betrokke land verhinder om uit ervaring van ander en eiesoortige omstandighede ‘n nuwe model saam te stel nie.

    Om dan uit pas met al hierdie opsies op te tree en te verwag dat alles sal regkom dui op “ongelooflike geskiedkundige tonnelvisie.”

    Die pot kan die ketel dus met gemak verwyt.

    Trouens, uit die harde nuusberigte wat met die Rubiconvieringe saamgeval het, is dit duidelik dat die skeptici oor hoe sake aangepreek is, ‘n besliste voordeel het omdat hulle die huidige realiteit kan kritiseer sonder dat die feesgangers met harde feite kan bewys dat ‘n meer politiek-wetenskaplike oplossingsbenadering ook sou faal.

    Die politieke wetenskaplikes kan wel put uit die voordele wat meer wetenskaplike opsies elders in die wêreld ingehou het waar ook staatkundige opsies gevolg is wat dan staatsregtelik en in pas met die volkereg neerslag vind.

    Daar word gereeld gewag gemaak daarvan dat Suid-Afrika se grondwet op die Indiese geskoei is. In werklikheid is dit hoogstens ten opsigte van die hoofstuk oor menseregte waar.

    Die eerste verskil kom reeds in by die spesiale verskanste setels wat Indië se oorspronklike inheemse bevolking, die sowat 30 miljoen Adivasi, in die sentrale parlement het. Verder maak die grondwet voorsiening dat die deelnemende state se grense volgens die woonverspreiding van groepe getrek word, en word nog etniese deelstate gevorm wanneer die behoefte ontstaan.

    Net oorkant ‘n nou seestraat, in Sri Lanka, het ‘n etniese burgeroorlog 26 jaar lank gewoed, voor die Singalees-oorheersde regering deur militêre mag die Tamil-opstand onderdruk het. Wat Sri Lanka nou beleef, is geen model vir vrede nie. Die pas-afgelope verkiesing is deur geweld gekenmerk, en die president, as kandidaat met ‘n hardvogtige houding teenoor die Tamilaspirasies, is oorweldigend herkies. Dit verhoog die polarisasie. In die buiteland het die Tamils in diaspora ‘n sambreelliggaam gevorm om te besin oor hoe om die stryd verder te voer. Voor die einde van die burgeroorlog het hulp ter waarde van sowat $300 miljoen per jaar die Tamil-opstandelinge bereik.

    Die land hou, volgens die opposisie, nog derduisende Tamils in interneringskampe aan, en beweer dat die president self agter die bevel tot die pleeg van oorlogsmisdade staan. Sri Lanka beklee die 162ste posisie uit ‘n moontlike 175 op die persvryheidsindeks, en volgens Verslaggewers sonder Grense het onverdraagsaamheid jeens die media na die verkiesing nog verder toegeneem.

    Maak die politieke wetenskaplikes hulself skuldig aan dieselfde soort oppervlakkigheid as die media se kundigheidsvlak op hierdie terrein, is dit eenvoudig om te sê Suid-Afrika se grondwet het meer ooreenkomste met dié van Sri Lanka as met dié van Indië. Op die staatkundige terrein is niks egter so eenvoudig nie, en baie van die vertolkings wat nou gelees en gehoor word het meer te make met ideologiese oogklappe as politiek-wetenskaplike suiwerheid.

    Net omdat ter aanvang die fout gemaak is om teen alle staatkundige en staatsregtelike logika in die liberale opsie te volg, beteken nie dat die saak nie later meer wetenskaplik suiwer beoordeel kan word nie.

    Begrawe ego’s en tree vir ‘n slag in belang van die land én sy mense, ál sy mense, op

    online casino freeтопкарго