Leon Lemmer: Flip Buys se ‘Die pad na selfbestuur’

Cor Ehlers besin oor Afrikaner-selfbeskikking in sy boek, ‘n Heimat vir Afrikaners: Die tiende provinsie (Praag 9.02.2020). Hy wys op die agteruitgang van die land sedert 1994 en bied ‘n padkaart aan vir die voortbestaan van Afrikaners as ‘n Westerse volk. Hy skram weg van die term “volkstaat” of “tuisland” en noem sy voorgestelde gebied vir die territoriale selfbeskikking van Afrikaners eerder die tiende provinsie. Hy poog om ras of kleur en regsheid te vermy. Met die oog op plaaslike en internasionale erkenning moet die kultuur, dus eiesoortige leefwyse, van Afrikaners eerder beklemtoon word. Om Afrikaners teen verswelging te beskerm, moet hulle aangemoedig word om hulle in groter konsentrasies in sy voorgestelde tiende provinsie te vestig. Die meer gekonsentreerde (her)vestiging van Afrikaners is ook die kern van Flip Buys (kyk hier onder) se oorlewingsplan. Ehlers skryf: “Afrikaners is polities ontmagtig omdat grondgebied nêrens in Suid-Afrika só afgebaken is dat hulle die meerderheid in ‘n spesifieke deel van die land vorm waar hulle ten minste tot op provinsiale vlak groepsoutonomie geniet nie” (Kindle 1587).

Ehlers is krities oor AfriForum omdat daardie instansie bv aanvoer “dat Afrikaners nie reg is vir selfbeskikking nie” (518). Nou blyk dit uit ‘n boek geskryf deur die voorsitter van die Solidariteit Beweging dat die term “selfbestuur” (wat ‘n administratiewe konnotasie het) bo “selfbeskikking” (wat ‘n politieke of staatkundige konnotasie het) verkies word; klaarblyklik om taktiese redes, want soos Ehlers dit stel: “Dit is sinloos om selfbeskikking na te streef wat nie uit die staanspoor gemik is op volle onafhanklikheid met internasionale erkenning nie” (3150). In hierdie rubriek bespreek ek vervolgens Flip Buys se boek, Die pad na selfbestuur: Anderkant die mislukking van staatsbestuur (Centurion: Kraal Uitgewers, 2019, 402p, R450). Soos uit die newetitel blyk, is Buys net so krities oor die ANC-regime as Ehlers. Maar Buys weerhou hom daarvan om die oorgangsproses te verdoem. Maar dit is hoe ons in ons huidige haglike situasie beland het.

By Buys is daar ‘n goeie skeut optimisme; dat ons moet aanbeweeg en die beste probeer maak van die gemors waarin ons is; dus om te red wat daar te redde is. Volgens sterrekundiges kan niks uit ‘n swartkolk (“black hole”) ontsnap nie. So ‘n kolk kan vir die plaaslike blankes ‘n realistiese beeld van hulle situasie bied; hoewel hulle darem steeds die onverkwiklike opsie van emigrasie het. Maar ‘n mens moet die moontlikheid van lig in die stikdonker, dus van beter omstandighede vorentoe, probeer voorsien, anders sou dit sinloos wees om met die maak van planne voort te gaan.

Die indruk wat Buys by my wek, is ten minste ‘n mate van onbekeerdheid tot die Afrikanersaak en ‘n oorversigtigheid om die fundamentele boosheid van die ANC te erken. “Mandela het almal verseker dat daar nooit weer verdrukking van een groep deur ‘n ander sou wees nie” (p 96). Dit word genoem sonder om duidelik te sê dat Mandela doelbewus gelieg het. In 1997, tydens Mandela se ANC-leierskap, is bv op die verderflike beleid van rasverteenwoordigendheid besluit (260). Ek dink ook daar kan nie met reg enige twyfel wees dat die “skikking” van 1990/94 mandaatloos uitgevoer is nie; dus dat die blankes, insluitende Afrikaners, uit hulle toekoms verneuk is. Die mandaatloosheid van hierdie gebeure, dus dat die blanke kiesers tydens die 1992-referendum vir magsdeling – en nooit vir magsoorgawe nie – gestem het, word bv deur Hermann Giliomee onderskryf.

Maar wat beweer Buys? “Die grondwetlike skikking … deur die meeste Afrikaners gesien is as die billike verruiling van meerderheidsregering vir minderheidsbeskerming. Die swart meerderheid sou hul regmatige regte kry sonder dat die Afrikanerminderheid syne sou verloor … Die meeste Afrikaners se destydse aanvaarding van die nuwe bedeling het nie beteken dat afstand gedoen is van die historiese strewe na kulturele vryheid nie. Die nuwe bedeling is bloot as die beste manier gesien om dit te verwesenlik en in die proses ook die uiteenlopende historiese vryheidstrewes van swart en wit te versoen” (344-345).

Dit is ‘n skewe voorstelling van sake. Die 1992-referendumvraag was bloot of met die grondwetlike onderhandelinge voortgegaan kon word. As FW de Klerk eerlik was en direk gevra het of die blanke kiesers tot swart meerderheidsregering instem, sou hy sleg verloor het, soos meningsopnames uit daardie tyd baie duidelik maak. Van die wigte en teenwigte wat De Klerk herhaaldelik belowe het, het (feitlik) niks tereg gekom nie. Dit was reeds in die 1993-Oorgangsgrondwet duidelik en glashelder in die huidige 1996-Grondwet. Rina Venter (Praag 26.10.2019) vertel dat De Klerk se strategie was dat alles wat destyds tydens die onderhandelinge met die ANC verkeerd geloop het, in die Grondwet reggestel sou word.

Buys stel in hierdie opsig die teenoorgestelde standpunt: “Die feit dat die Grondwet ruimte vir selfbeskikking maak, laat die vraag ontstaan of dit ooit deel van ‘n oplossing vir Afrikaners kan wees” (225). Mettertyd het dit geblyk dat nie eens die blankes se eiendomsreg behoorlik verskans is nie. In elk geval: Meerderheidsregering met algemene, gelyke stemreg in ‘n eenheidstaat maak dit vir die swart kiesers moontlik om met hulle getalsoorwig die Grondwet na willekeur te verander. Verder het Thabo Mbeki kort ná die 1994-verkiesing onomwonde verklaar dat die ANC hom nie gebonde voel aan enige ooreenkoms wat met die NP-regering tydens die onderhandelinge aangegaan is nie omdat die ANC toe nie vry was nie. “Die ANC het by die grondwetlike onderhandelinge toegewings gemaak om die mag te kry, en het stelselmatig daardie mag gebruik om hul oorspronklike doelstellings te verwerklik” (99).

Al laat hy na om De Klerk te verdoem, toon Buys soms realistiese insig. “Die meerderheid gaan altyd in die versoeking wees om ‘n presterende minderheid se bates te vat, sy instellings oor te neem, en hulle vir hul eie mislukkings te blameer. Daarom bly dit onverantwoordelik vir ‘n minderheid om vir hul toekoms staat te maak op die verdraagsaamheid van die meerderheid. Geen grondwet, politieke stelsel, hof of selfs militêre mag kan ‘n magtelose minderheid blywend verskans teen die gevolge van die oorheersing van die meerderheidsgroep nie. Die hoogs opgeleide deel van die minderheid gaan bloot begin emigreer na veiliger en gelyker weivelde, wat tot die ondergang van die hele volk kan lei” (79). Dit is dus sinloos om soos De Klerk te redeneer dat nie net by die letter nie, maar ook by die gees van die Grondwet gehou moet word. Die immorele ANC kan nóg met die nakoming van die letter nóg met dié van die gees vertrou word. Die punt is dat De Klerk en sy mede-onbekwame onderhandelaars versuim het om hulle bevredigend van hulle taak te kwyt.

Ná 1994 het dit spoedig duidelik geword dat die nuwe Suid-Afrika ‘n distopie is. “Die ‘wonderwerk-skikking’ van 1994 het in ‘n gewone meerderheidsregering ontwikkel wat dreig om in meerderheidsoorheersing te ontaard” (61-62) – “dreig” of is dit reeds volskaals die geval? “Demokrasie sonder kulturele vryheid [is] … net vryheid vir die demografiese meerderheid … omdat elke deel van minderhede se lewe deur die meerderheid oorheers word. Demokrasie gaan immers oor die vryheid van almal en nie oor regte vir die meerderheid nie” (62). Wat ons beleef, is die “transformasie van die samelewing deur staatsmag … die herskepping van die samelewing volgens rasse-wetgewing … Hierdeur is wit mense in die praktyk tot tweederangse burgers afgradeer” (62). In Buys se boek word gesonde insigte soos hierdie afgewissel met oorversigtige formulerings wat die indruk van pogings tot ‘n (te groot) mate van politieke byderwetsheid wek.

Dat 1994 ‘n katastrofiese ramp vir die blankes was, word deur Giliomee in sy voorwoord erken: “In Suid-Afrika het wit mense in 1994 die mag onherroeplik verloor” (10). “Ná die oorgang in 1994 het die Afrikaners in ‘n sekere sin ineengestort” (13). Ek is nie ‘n onkritiese bewonderaar van kolonialisme nie, maar Giliomee toon reeds op die eerste bladsy van sy voorwoord dat hy te veel van die “ons” na die “hulle” oorleun wanneer hy noem dat kolonialisme die inheemse bevolkings “ontwrig” het, sonder om ewewigtigheidshalwe die kolonialiste se groot teenprestasies te noem (7). Daar mag van “blankes” gepraat word, maar die gelykluidende woord “swartes” moet glo nie gebruik word nie. Blykbaar moet dit “swart mense” wees; dus die beklemtoning van swartes se menswees, maar nie ook dié van wit mense nie. Giliomee dui sy verwerping van die woord “swartes”, wat in ‘n aanhaling voorkom, met “sic” aan (9). Buys doen dieselfde (300).

Die vvv-refrein in Buys se teks is: “Afrikaners [het] die reg op vrye, veilige en voorspoedige voortbestaan;” dus “die reg op voortbestaan [as] ‘n kultuurgemeenskap” (19). “Die meeste mense het veelvoudige identiteite. So is die Afrikaners ook Afrikane, Suid-Afrikaners en Afrikaanssprekendes” (19). Die Afrikaanheid word ingevryf met: Ons “het in Afrika Afrikaners geword” (27; ook 19). Dít ontken ek nie, want ons is nie steeds bv Hollanders, Duitsers of Franse nie. Insgelyks ontken ek nie dat Hollands plaaslik Afrikaans geword het nie. Maar daar is ‘n wesenlike Europeesheid in Afrikaners en Afrikaans wat vreemd in Afrika is. Daarom is dit my standpunt dat Afrikaners nie noodwendig Afrikane is nie. Ons kan ‘n volkstaat of tuisland op ‘n ander kontinent skep en Afrikaners bly.

Giliomee haal JD Kestell aan: “‘n Volk red homself” (15). Buys skryf: “Ons sal self verantwoordelikheid vir ons toekoms moet neem” (22). Die skepping van ‘n volkstaat of tuisland plaaslik of elders kan myns insiens deel hiervan wees. “Selfbeskking” word glo met “regse praatjies” (210; ook 214) en ‘n “volkstaat” geassosieer, gevolglik verkies Buys die woord “selfbestuur” (211), spesifiek gemeenskapselfbestuur (213), dus iets op ‘n kleiner skaal en klaarblyklik staatkundig minder onafhanklik as ‘n volkstaat. “Onafhanklike selfbeskikking is nie … prakties haalbaar of werkbaar nie” (215).

“Wat Buys versuim om te doen, is om hiërargies oor sy genoemde veelvoudige identiteite uitsluitsel te gee. Hy skryf waaragtig ‘dat nie een noodwendig belangriker as die ander is nie'”

Buys word soos volg deur ANC-propaganda geïntimideer: “Die probleem is dat Afrikanerselfbeskikking in die vorm van die afskeiding van ‘n sogenaamde volkstaat, in Suid-Afrika ‘n verregse kleur gekry het en met ‘n vasklou aan of terugkeer na apartheid vereenselwig word” (219). “Hoewel die eertydse groot volkstaatplanne nie haalbaar is nie, kan interne selfbestuur in ‘n ylbevolkte gebied van ‘onder’ af ontwikkel, soos die plan wat Orania het om van dorp- tot stadsgebied te ontwikkel” (222). Buys se “model kom neer op groeiende selfbestuur en is ver verwyder van die rassevolkstaatkaarte van vroeër” (222). Kortom, Buys ontken ras maar erken eiesoortige kultuur/lewenswyse in sy planne. Sy plan kan glo net werk “as dit van enige sweem van rassisme ontkoppel word” (222-223).

Wat Buys versuim om te doen, is om hiërargies oor sy genoemde veelvoudige identiteite uitsluitsel te gee. Hy skryf waaragtig “dat nie een noodwendig belangriker as die ander is nie” (24; ook 27). “Iemand kan dus met groot vreugde gelyktydig ‘n goeie Afrikaanssprekende, Afrikaner, Suid-Afrikaner én Afrikaan wees sonder dat daar enige hiërargie of botsing bestaan” (27). Ek, daarenteen, is primêr ‘n Afrikaner/Boer en daarom noodwendig Afrikaanssprekend. Identiteite soos Suid-Afrikaner en Afrikaan is in my geval opsioneel. Buys beweer selfs “groeplidmaatskap is vrywillig” (24) terwyl Afrikanerskap in my hart en niere ingeweef is. Toegegee, die groeplidmaatskap vir verloopte Afrikaners, bv hanskakies, is aan verandering onderhewig. Hulle identiteit is soos ‘n vlieër – dit hang af van die rigting waarin die wind waai.

Van vrywillige groeplidmaatskap gly Buys na “selfdefiniëring” (25), wat deesdae die euwel insluit dat ‘n mens self oor jou geslag kan besluit, al is dit teenstrydig met wat jy met jou eie oë in die spieël sien. ‘n Onderskeid word tussen geslag (“sex”) en geslagtelikheid (“gender”) getref. Jou LGBTQIA+-status is anders as hoe jy oënskynlik is. Selfs blankheid mag glo “nie [as] ‘n diskriminerende geslote definisie gebruik [word] nie” (26). “Die term ‘wit volk’ van die Verwoerd-era [is] lankal uitgedien” (27-28). Dus, teoreties kan enigeen homself bv blank verklaar. “Dit was nie in die verlede korrek om bruin mense op grond van hul ras [van die blankedom] uit te sluit nie” (26). In die praktyk is dit egter ‘n ander storie. As genetiese blankes hulleself ter selfbevoordeling swart verklaar, sou die ANC-regime geen erkenning daaraan gee nie. Hierdie ANC-kamerade verdeel die plaaslike bevolking steeds in dieselfde vier rasgroepe as tydens apartheid. Ten spyte van al die polities byderwetses wat beweer dat daar nie so iets soos verskillende rasse is nie, bv dat ras ‘n “konstruk” is, of dat daar net een ras, naamlik die menseras, is, bewys die ANC-regime daagliks, getrou aan die apartheidsresep, dat daar in Suid-Afrika vier (maklik) identifiseerbare rasse is. Hierdie rasse word vir bevoordelingsdoeleindes hiërargies, van positief na negatief, soos volg gerangskik: swart, bruin, Asiaties, blank.

Waarmee Buys besig is, is om te veel aan polities byderwetsheid toe te gee, deur bv Afrikanerskap af te water. “Begrippe soos ‘Afrikaner’ of ‘volk’ is in die ou bedeling om politieke redes misbruik of dikwels in ‘hoofletters’ geskreeu, maar die kulturele ‘moord’ op ‘n kultuurgemeenskap as gevolg van die verlede kan tog nie geregverdig word nie” (27). In die huidige omstandighede is dit juis nodig om nog harder as in die verlede vir die heil en behoud van die Afrikaner en Afrikaans te “skreeu”. Pleks van die ANC se wanvoorstelling van die verlede te aanvaar, behoort alle Afrikaners, insluitende Buys, eerder die baie voortreflikhede in ons verlede by die ANC-kamerade tuis te bring; des te meer deur die verlede met die onverkwiklikhede van die hede te kontrasteer. Ook word die absolute breuk in die Afrikaner se geskiedenis in 1994 glad nie genoeg beklemtoon nie. Dit was louter dwaasheid. “Dit is soos om ‘n boom af te kap en dan te dink jy sal steeds die vrugte en koelte kan bly geniet” (178).

‘Is Afrika ‘n regverdigbare rede vir Afrikanernasionalisme? Dit lyk asof Buys op twee stoele probeer sit.’

Eintlik besef Buys dat hy op die verkeerde pad is; dus dat hy polities te verlig probeer wees. Hy voer die volgende eierdans uit: “Die goedbedoelde aandrang dat Afrikaners eerder opgeneem word in ‘n breë Suid-Afrikaanse of selfs Afrikaanse groep het ongelukkig onbedoelde gevolge. Afrikaners het vir té lank hul bande met Afrikaanssprekendes van ander groepe afgeskeep, en daardie bande moet dringend versterk en uitgebou word. Maar om ‘n volksgroep tot ‘n taalgroep te reduseer, beteken dat daar afstand gedoen word van ‘n hele stel internasionaal erkende regte – soos die reg om besluite te neem wat die groep se voortbestaan en identiteit [bv hulle taal] raak” (29).

Tereg skryf Buys: “Ons mag maar aan ons eie kant wees” (31), maar hy bly nie altyd daar nie. Hy bepleit “kulturele patriotisme of [én?] gesonde en ewewigtige Afrikanernasionalisme” (32), maar hy hou nie deurgaans daarby nie. Sy weifeling blyk reeds uit sy kwalifisering van Afrikanernasionalisme in die vorige sin. Later skryf hy: “Ons [moet] … ‘n gesonde Afrikanernasionalisme ontwikkel, want [!] dit is ‘n voorvereiste vir ‘n gesonde Afrikapatriotisme” (391). Is Afrika ‘n regverdigbare rede vir Afrikanernasionalisme? Dit lyk asof Buys op twee stoele probeer sit.

Volgens ‘n berig deur Gert van der Westhuizen streef Buys en Solidariteit volksveelheid eerder as volkseenheid na. Buys wil ‘n kultuurakkoord met die ANC aangaan, hande vat, brûe bou, ens (“Solidariteit streef ‘volksveelheid’ pleks van volkseenheid na,” Netwerk24, 10.10.2019). Sy fokus is klaarblyklik nie sterk genoeg op Afrikaners en Afrikaans gerig nie. Buys noem Afrikaans “een taal met vele kulture” (315). Nêrens spreek hy egter sy kommer oor die gehalte/suiwerheid van hedendaagse Afrikaans uit nie. Hy laat hom hier, soos in ander opsigte, lei deur wat as polities byderwets geag word. Tog slaan sy onderliggende gesonde Boersheid soms deur: “Dit is siek dat ‘n rassistiese twiet deur ‘n wit mens meer opspraak maak as al hierdie plaasmoorde saam” (320). “Die boere is ‘n mikrokosmos van die Afrikaner, en wat met hulle gebeur is tekenend van die groter gebeure” (324).

Hoewel bruin mense kultureel nader aan die blankes en Afrikaanssprekende bruines nader aan Afrikaners as swartes en Asiate is, is daar etniese verskille. “Taal- en kultuurgemeenskappe [is] nie dieselfde … nie” (31). Hy onderskei dus tussen “Afrikaanssprekendes en Afrikaners” (317). Maar Buys versuim om hierdie onderskeid te handhaaf wanneer hy soms van “Afrikaanse” pleks van “Afrikaner-” skryf, bv “Afrikaanse leefwyse” (193, 303), “Afrikaanse bestaan” (194) en “Afrikaanse kultuurkarakter” (305). Volgens die ANC se amptelike rasformule is 9% van die bevolking blank en 9% bruin. Dit maak dus sin om “bande” tussen die blankes en die bruines te versterk sodat hulle gesamentlik beter weerstand teen verswelging deur die 80% swartes kan bied. Maar daardie samewerking moet, wat die blankes betref, ter bevordering van blanke belange geskied en nie ten koste daarvan nie. Dit beteken onder meer dat blankes en Afrikaanssprekende bruines hulle gesamentlik daartoe kan verbind om die heil van Afrikaans te bevorder. Maar die blankes moet die moed van hulle oortuiging hê om ordentlike – dus so suiwer moontlike nie-Engelse – Afrikaans, bv Standaardafrikaans, van die bruines te verwag/vereis. As die bruines op die bevordering van geradbraakte, Engelsbesoedelde Afrikaans, bv Kaaps, aandring, is samewerking nie die moeite werd nie omdat dit tot die uiteindelike vernietiging van Afrikaans sal lei.

In die UDF-era het baie bruines hulle as anti-blank en baasboikotters bewys. Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) sit hierdie tradisie voort deur enige onderhandelinge met die oog op eenheid met die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) onderhewig aan die vooraf ongekwalifiseerde aanvaarding van die Belhar-belydenis te maak. Insgelyks behoort Afrikaners van bruines te verwag dat hulle hulle tot lojaliteit jeens ordentlike Afrikaans verbind, anders word die prys van samewerking te hoog. Deesdae word dikwels beweer dat die meeste Afrikaanssprekendes bruin is, maar dan word sprekers van die brouseltaal Kaaps daarby ingereken. “Alexis de Tocqueville het … gesê dat die meerderheid slegs die minderheid sal aanvaar as hy dít prysgee wat vir hom die waardevolste is” (30). Dit is presies wat Afrikaanstaal- en -letterkundiges en sogenaamde Afrikaansinstansies, soos die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Afrikaanse Taal- en Kultuurverenging (ATKV), deesdae doen deur eerder Kaaps as Standaardafrikaans te bevorder en nooit Afrikaanstaalsuiwerheid te bepleit nie. Op hierdie manier gaan Afrikaans nie oorleef nie. Giliomee het gewaarsku “dat die kans dat Afrikaners en Afrikaans in die een-en-twintigste eeu kan verdwyn, nie meer vergesog is nie” (18).

Op enkele uitsonderings na is my kommentaar tot dusver eintlik grootliks deur die voorwoord, inleiding en eerste hoofstuk in Buys se boek gedikteer. Ek sal my betoog dus meer selektief en bondig moet voortsit. Ter aanvulling van my bespreking kan Deon Geldenhuys se oorsigtelike, gunstige resensie van Buys se boek gelees word (LitNet 19.12.2019). Let ook daarop dat ek soms Buys-aanhalings gebruik om self so ‘n bietjie te improviseer. Die Solidariteit Beweging is daarvoor bekend/berug dat hy homself oorgraag oordrewe positief adverteer. Buys se boek is geen uitsondering nie, maar ek staan geen ruimte hieraan af nie. Inligting word onnodig dikwels in die boek herhaal; iets wat ek probeer vermy.

Die bevolkingsamestelling van Suid-Afrika, veral die oorwig swartes, het die plaaslike geskiedenis ingrypend beïnvloed; vandaar bv die beleid van rasse-segregasie/apartheid. Die demografie is ook bepalend in die hede en sal die toekoms deurslaggewend beïnvloed. Buys skryf tereg: “Demografiese inligting [is] die basiese data en beginpunt van toekomsbeplanning” (49). Hy is op minder vaste grond as hy byvoeg: “Bevolkingsveranderinge is die oorsaak én die gevolg van die 1994-oorgang” (49). Deurlopend was daar buitensporige aanwas by swartes, wat die politieke druk op die blanke bewind uit daardie geledere verhoog het, maar die 1994-oorgang is in groot mate ook te wyte aan die verregaande onbekwaamheid en ruggraatloosheid van die NP-onderhandelaars. Maar Buys het deels reg: Sedert 1994 het Suid-Afrika demografies ingrypend verander weens die instroming van onwettige inkommers, wat die nieblanke komponent verder vergroot het en allerhande vreemde etnisiteite/kulture hier laat beland het.

In ons veelgeroemde “jong demokrasie” stem die kiesers eerder volgens ras as op grond van beleid. “Vir ‘n opposisieparty om die meerderheidsteun te verwerf, moet hy soos die meerderheid word” (49). Dit is waarom die EFF beter as die DA geposisioneer is. Die DA probeer om sowel die meerderheid as minderhede ter wille te wees, wat ‘n onbegonne taak is. Demografie verseker dat die nuwe Suid-Afrika nag vir sowel die blankes as die land is. Slegs in homogene samelewings kan demokrasie heilsame gevolge hê. “Minderhede het wel stemreg, maar nie stemkrag nie. Daarom weeg die individuele regte van die meerderheid in die praktyk swaarder as die individuele regte van minderhede” (51). Die kultuurregte van Afrikaners word deur die ANC-regime as ‘n bedreiging vir nasionale eenheid gesien. Daarom word pogings tot eendersmaking aangewend; dus dat almal moet afrikaniseer en verengels. “Die ANC wil die multikulturele werklikheid van die land omskep tot sy beeld van ‘n monokulturele samelewing” (118).

“Die spanningslyne in die toekoms gaan bepaal word deur die ongelyke verspreiding van politieke mag en ekonomiese welvaart in die land” (55). Die kiesers is oral en op alle vlakke terwyl welvaart in kleiner konsentrasies en net op die hoogste vlakke voorkom. Die ANC-regime het geen probleem met te veel of merietelose swart welvaart nie. Byvoorbeeld, rasteikens word in die werkplek misbruik waar swartes onderverteenwoordig is. Die oorverteenwoordiging van swartes, bv in die staatsdiens, is vir die ANC-regime egter heeltemal aanvaarbaar (56). Waarteen die ANC dit het, is welvarende blankes wat glo nie deur harde werk, kundigheid, toewyding, ens, hulle besittings bekom het nie, maar (uitsluitlik) deur die uitbuiting van swartes. Vandaar die beleid van die herverdeling van rykdom; dus om die blankes te verarm en die swartes ryker te maak.

Buys noem dit “afvat met staatsmag” (52), maar eintlik is dit gewoon diefstal, dus soortgelyk aan korrupsie. Later noem hy dit wel diefstal (159). Dink aan die beoogde onteiening sonder vergoeding van blankes se eiendom. Van die gevolge van hierdie beleid is dat bykans 25% van die bevolking staatstoelaes ontvang terwyl 90% van die inkomstebelasting deur 10% van die bevolking betaal word (56). “Die punt is dat die demografie uiteindelik nie net die demokrasie bepaal nie, maar die ekonomie en grondverdeling ook sal probeer skik volgens die getallesamestelling” (57). “Die beginsel van verteenwoordigendheid het die werktuig geword wat die land en sy instellings die vorm van die bevolking laat aanneem, en rasseformules [bv 80-9-9-2% – 98] die metode waarmee dit bewerkstellig word” (58). Helen Zille het gesê dat “verteenwoordigendheid ‘n ander woord vir geïnstitusionaliseerde rassisme is” (98).

“Mense voel meer tuis tussen mense van hul eie kultuur en die instellings wat daaruit voortspruit … maar … Suid-Afrika [het] nou deel van die [historiese] tuislande geword” (59-60); dus ‘n enkele groot swart tuisland terwyl die blankes geen tuisland hoegenaamd het nie. Insgelyks, op die vlak van munisipale bestuur “het die histories swart townships politieke beheer oor die voormalige wit dorpe oorgeneem” (206), gevolglik kry die dorpe al hoe meer die aanskyn van lokasies. Dít is die konkrete resultate van FW de Klerk se grondwetlike inisiatiewe. “Die ANC-beheerde munisipaliteite slaag nie daarin om doeltreffende dienste te lewer nie en swak munisipale bestuur het in die meeste dorpe die ekonomie afgetakel. In die proses het die belastingbasis gekrimp, terwyl die aantal mense wat deur middel van belastinggeld onderhou word, skerp toegeneem het” (208). Eiendomsbelasting en die koste van munisipale dienste word jaariks met meer as die inflasiekoers verhoog. Vir blankes is die betaling hiervan verpligtend terwyl dit (hoogs) opsioneel vir swartes is. Inligting oor hierdie verregaande en onvolhoubare wantoestand word grootliks verswyg, uitgaande van die valse veronderstelling dat hierdie nuwe opset regverdiger is as wat die vorige bedeling was.

“Wit mense in die algemeen en Afrikaners in die besonder is ‘n verspreide, oorpresterende, herkenbare … minderheidsgroep … Die beginpunt van ‘n demografiese uitdaging moet ‘n demografiese strategie wees. Hoe hoër die konsentrasie van Afrikaners in ‘n dorp, voorstad of streek, hoe meer gaan hierdie gebiede ‘n weerspieëling wees van Afrikaners se kultuur en siening van veiligheid,” (61), ens. Dit is die kern van Buys se voorstel: Afrikaners moet ter wille van kulturele (en dalk ook doodgewone) oorlewing meer gekonsentreed woon; dus as ‘t ware nieu-laers trek. Buys se plan is dus soortgelyk aan dié van Cor Ehlers. Met albei se pogings het ek groot simpatie. ‘n Mens kan immers redeneer dat albei boere is wat planne maak. Albei poog om ‘n opset te skep waarin Afrikaners meer tuis sal voel. Die lakmoestoets is egter of dit op die lange duur die uitwissing van die Afrikanerdom en Afrikaans gaan verhoed. Buys is nie heeltemal blind vir hierdie moontlikhede nie. Hy verwys na die dorp “Louis Trichardt, waar die toekoms reeds gebeur het … Tyd is uiteindelik die enigste verskil tussen hierdie noordelike en talle [alle?] suidelike dorpe” (252-253). “Die toekoms vereis [immers] dat ons in terme van geslagte … moet dink, beplan en optree” (254).

Is dit nie dalk ‘n geval van in die see urineer en jy jou dan troos met die gedagte dat al die bietjies help nie? Die golwe sal hierdie sandkastele vernietig; des te meer omdat dit sedert 1994 hoogwater vir swart mag is, al is dit laagwater vir die ekonomie en (Europese) beskawing. Buys kom ook by die kasteel-metafoor uit: Diegene wat sy selfbestuurplan “as ‘n onhaalbare lugkasteel sien, moet dit opweeg teen wat ander as ‘n onvolhoubare Suid-Afrikaanse sandkasteel sien. Selfbestuur bly die enigste antwoord op swak staatsbestuur” (243). Die werklikheid van verswelging en die onontwykbare gevolge daarvan veral op die langer termyn stem my so pessimisties dat watter ná-1994-planne ook al gemaak word, alles tevergeefs kan wees. James Anthony Froude (1818-1894) het geskryf: “To what purpose the ineffectual strivings of short-lived humanity? Man’s life was but the shadow of a dream, and his work was but the heaping of sand which the next tide would level flat again” (Herbert W Paul, The life of Froude, New York: Scribner/Good Press, 1906/2019, Amazon Kindle 3531).

“Liberale mense [het] die nare gewoonte … om linkse kommuniste aan die bewind te help bring” (136). Van die dinge wat my die droewigste stem, is eertydse Afrikaners, selfs Broederbonders, wat die kluts heeltemal kwyt geraak het. “Baie Afrikaners het getuimel vanaf ‘n oormatige selfvertroue [in die nuwe politieke bedeling] tot ‘n punt waarop hulle nie hulself ‘n bestaansreg gun nie” (82). Dink bv aan Willie Esterhuyse vir wie dit ‘n roeping geword het om skuldige Afrikaners te kweek. Ek kon nie verstaan hoe dit moontlik was dat daar in die land (en die wêreld) ‘n krisis kon wees en apartheid (en die blankes/Afrikaners) kry nie die skuld daarvoor nie. Maar Esterhuyse het in ‘n brief in Die Burger (31.03.2020—sien onderaan die artikel – red.) daarin geslaag om Covid-19 en apartheid met mekaar in verband te bring. Hy loof Cyril Ramaphosa, nie-rassigheid, regstellings en is beswaard oor die onreg van apartheid. Dit is in ooreenstemming met “die ANC se meesterverhaal … dat al die grootste probleme van die land deur apartheid veroorsaak is” (105). Esterhuyse se verlooptheid het nie grense nie. Hoe is dit moontlik dat enige blanke/Afrikaner met selfrespek en insig die bose ANC kan aanhang? Eintlik bied Covid-19 ‘n heeltemal ander apartheidsboodskap: As jy wil oorleef, bewaar ‘n gesonde afstand tussen jou en jou medemens. Tydens die grendeltyd is apartheid in hierdie sin weer in die mode.

“Dit lyk al hoe meer of die ANC die klassieke sosialistiese resep [van gekamoefleerde kommunisme] volg, naamlik buit eers die belastingbetalers uit, teer dan op die spaarders se pensioenfondse en plunder dan die beleggers se eiendom … Boonop misbruik die ANC sy staatsmag om sy eie rassisme te ‘wettig’ en af te dwing” (102). Zille het gesê: “Die veroordeling van ‘n hele groep mense as gevolg van hul [wit] ras is die nuwe gesig van rassisme in Suid-Afrika” (103). “Die ANC het hulle vóór en net ná 1994 as bevryders voorgehou, later soos oorwinnaars begin optree, en word nou oorheersers. Dit voel reeds vir baie mense al hoe meer of die ANC soos ‘n tipiese besettingsmag optree. In plaas daarvan om soos ‘n regmatige regering … almal in die land se regte en vryhede te bevorder, regeer hulle téén bepaalde groepe” (109-110) – veral ten koste van die blankes.

“As die uitdaging yl verspreiding [van Afrikaners] is, is die oplossing groter konsentrasies op plekke waar mense tuis voel” (179) – “tuisvoelruimtes” genoem (209). Maar hoe jy voel, weerspieël nie noodwendig jou werklike situasie nie. Buys se plan is primêr op Afrikaner-oorlewing ingestel. Dit los nie naasteby al die probleme op waarmee ons sedert 1994 gekonfronteer word nie. Maar hy dink ‘n nuwe Groot Trek is reeds aan die gang. “[Wit] mense trek al dekades lank uit vervalle klein dorpies na streekdorpe en na die stede toe; hulle trek van vervreemde middestede na voorstede; uit gevaarlike gebiede na privaat leefstyldorpe” (179-180). “Namate die gesentraliseerde politieke stelsel misluk, stel die bevolking self federale, oftewel gedesentraliseerde oplossings in werking” (375). “Suid-Afrika het in ‘n soort postgrondwetlike era inbeweeg” (377). Afrikaners “strewe na selfbesluitneming in kulturele leefruimtes” (181), wat “kulturele kantons” genoem word (180). Buys identifiseer ‘n dertigtal “ankerdorpe en -stede”, met die grootste kantons in Pretoria en in die Wes- en/of Suid-Kaap. Orania sal ook ‘n “groeipunt” wees (182).

“Daar is niks wat Afrikaners keer om byvoorbeeld Orania van ‘n dorp tot ‘n Afrikanervrystad uit te bou nie. So ‘n vrystad kan later tot ‘n provinsie of selfs meer groei” (234). Maar is die mate van sukses wat Orania behaal nie grootliks te danke aan isolasie/apartheid nie? Byvoorbeeld, daar is slegs volkseie verblyf- en eiendomsreg en geen nieblanke arbeid word toegelaat nie. Buys erken dit met die opmerking: “Orania [word] weliswaar gekniehalter … deur politieke bagasie” en hy koester die hoop dat hierdie dorp se “politieke beeld verbeter” (241). By wie? Die ANC-regime? Hoe? Daar is net een manier om die ANC te behaag: gedwonge rasse-integrasie.

Buys wil Orania heruitvind: “Die nuwe strewe om Orania van ‘n dorp tot ‘n stad uit te bou in plaas van ‘n volkstaat, is meer werkbaar en in ooreenstemming met die nuutste ontwikkelings … Orania het bepaalde nadele, soos sy afgeleë ligging, klein getalle [inwoners] en politieke beeld” (242). Onderhandelinge (met die ANC-regime?) “kan die dorp in staat stel om mettertyd meer magte uit te oefen, totdat dit in ‘n vrystad met ‘n string omliggende vrydorpe … kan ontwikkel” (242) – “‘n Orania-kanton” (243). Carel Boshoff (1927-2011), die stigter van Orania, het ‘n soortgelyke ideaal gekoester, maar anders as Buys was hy volkstaatgetrou: “Die idee is dat Orania die eerste groeipunt vir ‘n Afrikaner-volkstaat moet wees en dat dit deur ander soortgelyke groeipunte in die omgewing gevolg word, ”n pêrelstring van dorpe'” (Praag 19.12.2015). Sedert 1991 het nog geen pêrels bygekom nie. Buys regverdig sy standpunt soos volg: “Daar is nie meer volmaakte oplossings oor nie … Daar is geen waarborg dat [sy visie van?] Orania sal slaag nie, maar die mislukking van Suid-Afrika lyk ongelukkig al meer na ‘n groter moontlikheid” (244).

‘Daarom het die Nederlandse denker Bob Goudzwaard [gebore in 1934] gesê die Afrikaner se geskiedenis is nie ‘n stryd om oorheersing nie, maar ‘n stryd om oorlewing’

Buys voorsien “‘n proses van groeiende selfbestuur tot by die bereiking van selfbestuur in kulturele kantons” (200); dorps- en stadsgebiede “waar Afrikaners ‘n meerderheid is, en dorpsgebiede waar Afrikaners ‘n meerderheid kan word en bly” (200) – dit is by “en bly” waar ‘n groot vraagteken geplaas moet word, want terselfdertyd wil Buys se Afrikaners hulle glo nie afsonder of isoleer nie (200). “Ons wil nie onsself hiermee [dus met Buys-selfbestuur] afsonder of net selfsugtig na eie belange omsien nie” (215). Die weë na hande vat, brûe bou en ubuntu bly dus oop. Buys se resep is in hierdie kernopsig dieselfde as dié van Cor Ehlers en laat my wanhoop aan die moontlike sukses daarvan. Die keuse is glo “konsentreer of emigreer” (202), maar nie konsentreer in of emigreer na ‘n volkstaat nie.

Die werklikheid van verswelging – dat Afrikaners ‘n al hoe “kleiner deel van ‘n groter groeiende bevolking” (189) is – waarteen geen plan dalk verskansing kan bied nie, behalwe miskien ‘n Afrikanervolkstaat plaaslik of elders, word in te groot mate deur Buys ontken. “Die Afrikaner se bestaansvraagstuk is … nie sy klein getalle nie … Die bestaansvraagstuk is dat die Afrikaners nie gekonsentreerd saam woon … nie. Daar is nie ‘n gebied wat hoofsaaklik deur Afrikaners besit, bewoon en bewerk word nie. Daarom is die Afrikaner nou al vir eeue lank ‘n kwesbare minderheid tussen ‘n groter meerderheid. Daarom het die Nederlandse denker Bob Goudzwaard [gebore in 1934] gesê die Afrikaner se geskiedenis is nie ‘n stryd om oorheersing nie, maar ‘n stryd om oorlewing” (186-187).

Buys beweer “privaat dorpe wat hulself regeer [is] besig om landswyd te ontwikkel” (239). Dit lyk asof hy eerder na woongebiede verwys, wat op ‘n nie-rassige en nie-etniese (dus nie-kultureel eksklusiewe) grondslag funksioneer. Daarna noem hy hulle egter “kultuur- of vrydorpe.” “Omdat vrydorpe steeds deel van stede is, is die vlak van outonomie wat hulle kan uitoefen uiters beperk en ook steeds blootgestel aan die verswakkende bestuur van die stede” (240). Dus, sy vrydorpe is (tans) nie danig vry nie en steeds deel van en onderhewig aan die euwel genaamd die nuwe Suid-Afrika oftewel die ANC-regime.

Buys sluit sy boek soos volg af: “Afrikaners sal hul selfvertroue moet terugkry en minder gevoelig wees vir kwaadwillige politici wat Afrikaners verkwalik vir dinge wat in die verlede gebeur het, maar wat nie self verantwoordelikheid vir hul eie huidige dade neem nie. Hierdie aanvalle moet gesien word vir wat dit is, naamlik pogings om blaam te verplaas, verantwoordelikheid te ontduik, en om Afrikaners met skuldgevoelens onderdanig te hou en gewillig laat bly betaal om die onproduktiewe elite (met hul luukse leefstyl) aan die bewind te hou” (397). Iemand soos Willie Esterhuyse rugsteun hierdie ANC-kornuite in die vertrapping van Afrikaners. “Die Afrikaner moet sy politieke verlamming afskud en weer die hand aan die ploeg slaan. Giliomee vra tereg: ‘Kan die fatalistiese afwagting van ‘n gewisse kollektiewe nederlaag en finale ondergang, vervang word met die kenmerkende geheimsinnige lewenskragtigheid van Afrikaners?'” (397).

Gestel Buys se selfbestuurplan misluk. Wie is dan die eintlike skurk in die verhaal, die ANC of die regses? “Die grootste uitdaging gaan nie weerstand deur die ANC wees nie, maar eerder weerstand of ‘n gebrek aan geesdrif onder Afrikaners wat wil vasklou aan ‘n vergange era” (396).

Brief deur Willie Esterhuyse in Die Burger op 31 Maart 2020

Ek voeg graag hiermee my stem by dié van pres. Cyril Ramaphosa, asook opposisie-, sake-, kerk- en ander leiers, om eendragtig die globale en nasionale viruspandemie hok te slaan.

Ek ondersteun sy besluite, deeglike beplanning en doelgerigte leierskap om ’n verenigde front teen die pan­demie te vorm. Om politieke leiers met uiteenlopende politieke oortuigings langs hom te sien staan, was iets besonders. Ek is veral opgewonde oor die skepping van ’n nierassige solidariteitsfonds, met Gloria Serobe en Adrian Enthoven in beheer.

Dit is ’n nierassige projek om die noodsaaklike ekonomiese restitusie na ’n meer aanvaarbare en suksesvolle vlak te bring. Ek is dankbaar dat kleinsake daarby baat sal vind, en dat dit hopelik sal help dat baie van hul werknemers nie hul werk verloor nie. “Kleinsake is groot sake,” soos dr. Anton Rupert eenkeer gesê het.

Ek stel nie bloot in verklarings en verskonings belang nie, maar streef na regstellings wat ’n verskil maak. Daarom juig ek die uitsonderlike regstellende aksie van die Rupert- en Oppenheimer-familie toe. Dit is sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheid in aksie.

Apartheid moet steeds ’n groot deel van die blaam dra vir die sosio-ekonomiese en veral opvoedkundige tekortkomings in die land. Daar is geen beter tyd as nou, waar almal saam voor ’n reuse-uitdaging staan, om saam te werk om die onreg van die verlede, en ook die baie probleme wat meer onlangs ontstaan het, reg te stel nie.

Dankie, President!

Leon Lemmer: Cor Ehlers oor Afrikaner-selfbeskikking

Cor Ehlers (gebore in 1958) is geen onbekende op Praag nie. Op 11 Julie 2017 het hy Christi van der Westerhuizen in besonderhede geantwoord oor haar kommentaar op Helen Zille se uitlatings oor kolonialisme. 16 lesers het daarop gereageer. Op 13 Mei 2014 het Johann Wingard verwys na wat Ehlers, in antwoord op Christo Landman se standpunt, oor regsaspekte van selfbeskikking geskryf het. Daar was 128 reaksies. Op 13 Oktober 2013 is Ehlers deur Manfred Delport gekritiseer omdat hy eerder kultuur as velkleur as eie aan Afrikaners beskou. Hierdie keer was daar 240 reaksies. Wanneer ek skryf, is daar baie minder reaksies. Is dit omdat my uitlatings bv minder omstrede of interessant is, of omdat daar minder lesers is, of omdat daar minder belangstelling is? Twee dinge is duidelik: Ehlers besin reeds geruime tyd oor Afrikaner-selfbeskikking en daar word nie sonder meer (oor alles) met hom saamgestem nie.

Ehlers woon in die omgewing van Bethal en is ‘n sakeman en boer. Sedert 2011 is hy in ‘n leidende hoedanigheid by die drukgroep OASE (Onafhanklike Afrikaner-selfbeskikkingsekspedisie) betrokke. Sy dogter is ‘n regsgeleerde en ondersteun hom in sy studie van die Suid-Afrikaanse reg (bv die Grondwet) en internasionale reg. Op 2 Oktober 2011 het Dan Roodt ‘n raak karakterisering van OASE en ander Afrikaner-instansies op Praag verskaf. Daar was geen leserreaksie nie terwyl die uitstekende teks ‘n herlees waardig is. Ehlers het onlangs die volgende boek gepubliseer: ‘n Heimat vir Afrikaners: Die tiende provinsie (2019, 301p; Amazon Kindle $9,20). Die teks is ook gratis op die internet beskikbaar. Die Kindle-weergawe is nie sonder gebreke nie. Die voorwoord is gedateer “16 Desember 2018 – Geloftedag” (312), maar daar is ook inligting wat later bygewerk is, bv die “Maart 2019”-aanhaling (1425). Daar is baie inligting in die boek wat aan ingeligte lesers bekend is, maar dit is goed om nogeens kennis te neem van bv die agteruitgang wat sedert die dwase 1994-magsoorgawe plaasgevind het. Verval in die dorp Bethal word met foto’s geïllustreer. Dit behoort vir iedere nie-verloopte Afrikaner ontstellend te wees.

Wat ons hier mee te make het, is ‘n Afrikaner wat ‘n dekade lank ernstig oor Afrikaner-selfbeskikking besin het. Nieteenstaande ‘n ernstige hartaanval in 2016 (316), het Ehlers hom die moeite getroos om die teks, wat oor jare ontstaan het, af te rond en as ‘n boek te publiseer. “Die boek poog om ‘n volhoubare oplossing voor te stel en bied ‘n padkaart vir Afrikaners se voortbestaan as ‘n Westerse volk” (1). Ten spyte van al die bravade by my en Ehlers, het sy boek by my tuisgebring hoe klein die Afrikanerdom getalsgewys is. Dieselfde is ook (in ‘n bietjie mindere mate) waar van die blankedom in Suid-Afrika. Verswelging is ons voorland tensy ons in ‘n tuisland laer trek. Daarom is Afrikaner-eenheid van deurslaggewende belang terwyl ons ongelukkig juis daarvoor bekend is dat ons nie eensgesind is nie. Ek aanvaar Ehlers se bona fides. Maar dit onthef my nie van die verpligting nie om aan te toon, nie net waaroor ek met Ehlers staamstem nie, maar ook waaroor ek met hom verskil.

In baie gevalle toon Ehlers goeie insig. “Die Afrikaner Broederbond het as dinkskrum van die NP al in 1986 besluit dat Suid-Afrika ‘n multikulturele eenheidstaat sou word met ‘n swart staatspresident” (1035). Die vraag wat aan die blanke kiesers in die 1992-referendum gestel is, word deur Ehlers dalk te sagkens “misleidend” genoem (247). Daar is verraderlik gehandel. “Op ‘n vraag destyds aan De Klerk oor waar die NP se onderhandelaars staan ten opsigte van selfbeskikking vir wittes en meer spesifiek vir Afrikaners, het hy soos volg geantwoord: ‘Ons doen alles in ons vermoë om enige blanke vrese te besweer. U het niks te vrese van die Nuwe Suid-Afrika nie. Ons te onderhandele wigte en teenwigte staan steeds vas soos die Rots van Gibraltar.’ En nou, 25 jaar later, weet ons dat daar maar min tereggekom het van De Klerk se ‘wigte en teenwigte'” (1046). “Die referendum van 1992 was duidelik net nog ‘n voorbeeld van politieke vuilspel” (1058). “Ons volk se politieke vryheid … [is] in 1994 op ‘n skinkbord weggegee … aan ‘n spul plunderaars en kommuniste” (321). “Afrikaners sit vandag opgeskeep met die gebakte pere van De Klerk en sy onderhandelingspan se manewales” (403). “Dit is Afrikaners se politieke onmag wat veroorsaak dat hulle sedert 1994 nie in beheer is van hul eie mense se veiligheid nie” (1130). John Kane-Berman skryf: “The police are better at implementing their employment equity targets than in combating crime” (1194).

“Demokratiese verkiesings in Suid-Afrika is bloot ‘n rasgebaseerde sensusopname” (1130). “Die ANC geniet die steun van nagenoeg tweederdes van stemgeregtigdes in Suid-Afrika en meer as 96% hiervan is swartes. Dit bring mee dat wit mense, veral Afrikaners wat minder as 6% van die land se bevolking uitmaak, haas geen politieke invloed in die land kan uitoefen nie” (1135). “Afrikaners is polities ontmagtig omdat grondgebied nêrens in Suid-Afrika só afgebaken is dat hulle die meerderheid in ‘n spesifieke deel van die land vorm waar hulle ten minste tot op provinsiale vlak groepsoutonomie geniet nie. Die implikasie hiervan is dat Afrikaners hul aanspraak op selfbeskikking ontsê word terwyl die swart meerderheidsregering skuil agter demokratiese geregtigheid” (1587). “Beperkte vorms van groepsoutonomie [sal] weinig verbetering bring aan Afrikaners se lot onder ‘n swart meerderheidsregering” (1847).

“Wittes probeer om binne die DA met die steun van bruin mense se getalle nog ‘n mate van politieke beheer oor die Wes-Kaap uit te oefen, maar dit is nie volhoubaar nie” (1146). Op die lange duur sal die getalsoorwig van swartes, dus verswelging, oral in die eenheidstaat Suid-Afrika in alle verkiesings deurslaggewend wees. Desnieteenstaande is daar blankes “wat valse hoop koester dat die nuwe president, Cyril Ramaphosa, die land sal red van die rand van die huidige afgrond waarvoor dit tans staan” (1547). “Navorsing bewys dat waar ‘n minderheid deur ‘n meerderheid onderdruk word, lede van die minderheid verkies om in ontkenning te leef wat betref die werklikheid, omdat dit hulle beter laat ‘cope’ [opgewasse wees] in hulle daaglikse lewe” (1714).

“Ten spyte van die feit dat apartheid in 1994 finaal afgeskaf is, word die land se burgers steeds amptelik volgens ras geklassifiseer deur die regering, naamlik: Swartes, Wittes, Kleurlinge en mense van Asiatiese afkoms” (1058). “Diskriminerende wetgewing soos Regstellende Aksie, Swart Ekonomiese Bemagtiging en die regering se voorgenome onteiening van wit boere se plase sonder enige vergoeding lei daartoe dat die Afrikaner-minderheid stelselmatig verarm” (961). Daar gaan “al hoe meer swart stemme op vir Marxisme en staatsbeheer oor alles, waar privaat besit geen bestaansreg het nie. Swartes was vir eeue lank die grootste slagoffers van rassediskriminasie in Suid-Afrika, maar sedert 1994 word hulle op wetlike gronde bevoordeel as gevolg van hul velkleur. Hulle is die grootste groep bevoorregtes wat betref wetgewing, wat op niks anders neerkom as rassediskriminasie nie” (967).

“Nêrens elders in die wêreld word ‘n meerderheid in ‘n land so op die wetboek bevoordeel ten koste van ‘n minderheid nie. Die ANC sorg daarvoor dat daar meer as 100 wette is wat sedert 1994 deur die parlement gepromulgeer is en wat teen wit mense in Suid-Afrika diskrimineer op grond van hul velkleur” (1597). Afrikaners het “sedert 1994 die slagoffers geword van ‘n vyandige regering en van ander lede van die samelewing wat daartoe lei dat Afrikaners niks anders is as tweederangse burgers van die land nie” (1581). Hoewel die ANC-regime roem op bv nie-rassisme en nie-seksisme en die gelykheid van alle inwoners, weet die blankes dat dit nie die geval is nie.

“Daar is ‘n goed georkestreerde poging in Suid-Afrika aan die gang wat Afrikaner-identiteit ondermyn en aftakel. Die gevolg hiervan is dat sommige Afrikaners hulleself vandag eerder sien as Suid-Afrikaners. Die ironie is dat Afrikaners wat taal, kultuur, waardes en norme betref totaal verskil van die meeste ander Suid-Afrikaners” (420). “Vandag se Afrikaners handhaaf ‘n duidelik herkenbare Westerse kulturele identiteit” (841). “Dit is nie net die ANC en hul bondgenote wat poog om Afrikaner-identiteit te vernietig nie. Selfs Afrikaanse dagblaaie, tydskrifte en KykNet dien dikwels as mediakanale waarmee Afrikaners onbewustelik vervreem word van hul volksidentiteit. Sommige tersiêre instellings werk ook saam aan hierdie proses van kulturele aftakeling” (425). “Die stelselmatige en voortdurende sosiale marginalisering, kulturele aftakeling en ekonomiese ontmagtiging wat Afrikaners sedert 1994 in Suid-Afrika ondergaan, is niks anders as menseregtevergrype nie” (430). Dit is inderdaad verontmensliking, soos die ANC en sy meelopers so graag oor apartheid beweer.

Hierbo het ek verwys na ‘n “tuisland”. Ek gebruik dit as ‘n sinoniem vir ‘n “volkstaat”, dus ‘n plek waar die Afrikanervolk tuis sal voel. Ehlers skryf egter: “Die konsep van ‘n volkstaat, soos in die verlede voorgehou aan Afrikaners, is lankal uitgedien” (508). Waarteen Ehlers dit het, is dat die indruk gewek kan word “dat OASE ‘n regse organisasie is wat uitgediende konsepte propageer” (508). Dit blyk dat Ehlers, met die oog op internasionale erkenning, wil wegkom van ras en kleur en slegs kultuur/lewenswyse as dié onderskeidende kenmerk van Afrikaners wil erken. “Afrikaners wat glo dat hulle ‘n ‘volkstaat’ op grond van hul ras, dws as ‘blankes’, tot stand kan bring, leef in ‘n droomwêreld. So iets druis in teen Suid-Afrika se grondwet en teen internasionale regsbeginsels” (991). “Dit is juis Afrikaners se kulturele identiteit as volk wat vir hulle aanspraak bied op selfbeskikking en nie die feit dat hulle as wit geklassifiseer word nie” (986).

Ehlers se beswaar teen die term “volkstaat” en sy onderbeklemtoning van velkleur kan as taktiese skuiwe beskou word. Maar hy verwys telkens na Afrikaners as ‘n “volk”. As daar ‘n spesiale gebied vir hulle geskep word, kan dit dus ‘n “volkstaat” genoem word. As dit ‘n plek is waar Afrikaners tuis voel, kan dit ‘n “tuisland” genoem word. Ehlers se voorkeurfrase is egter “tiende provinsie”. Een van die redes hiervoor, soos hier onder blyk, is dat hierdie voorgestelde provinsie steeds met ‘n potpourri van rasse en etnisiteite gaan sit, al hoop hy op ‘n (uiteindelike, dalk kortstondige) Afrikaner meerderheid. Daar is ‘n vraag wat hom bly voordoen: Gaan al die moeite die moeite werd wees?

“Tensy Afrikaners territoriale selfbeskikking geniet, sal hul Westerse sosiale, kulturele en ekonomiese strewes altyd onder ernstige druk wees in ‘n multikulturele demokrasie waar die oorgrote meerderheid van die bevolking Afrikakultuur en -waardestelsels aankleef” (1146). “Die transformasie wat Suid-Afrika se samelewing onder ANC-bewind ondergaan, het duidelik tot gevolg dat die wil van die swart meerderheid afgedwing word op almal in die land – ook wat betref die howe en grondwetlike sake” (1815). Gedwonge rasse-integrasie is oral in die nuwe Suid-Afrika aan die orde van die dag. In die United Nations Declaration on the Rights of Indigenous Peoples staan: “States shall provide effective mechanisms for prevention of, and redress for (2035) … any form of forced assimilation or integration” (2039). Waarom word toegelaat dat die ANC-regime hiermee wegkom? “Daar is eenvoudig geen ander uitweg as territoriale selfbeskikking nie” (1570).

Afrikaners word daaraan gekenmerk dat hulle, naas ‘n eie kultuur, aan die blanke ras behoort. Dit beteken dat Afrikaners deel is van ‘n groep wat al eeue lank uitmuntend presteer. Volgens Ehlers is daar nie ‘n wit nasie in Suid-Afrika nie. Alle Suid-Afrikaners vorm die nasie (984), ‘n uitspraak wat meer optimisties is as die ANC-regime, wat nog bou aan die nasie, dus na groter eensgesindheid en eendersheid streef. Afrikaners en Engelssprekende blankes vorm nie ‘n eenheid wat sodanig is dat hulle ‘n blanke nasie of volk genoem kan word nie. Myns insiens is ras ‘n baie belangrike saambindende faktor, by uitstek in die nuwe Suid-Afrika waar alle blankes die slagoffers van blatante rassediskriminasie is. Maar Ehlers se standpunt is dat ras nie ‘n norm is op grond waarvan mense internasionale goedkeuring vir selfbeskikking kan kry nie (991). Hy meen ook dat ras/kleur aanvanklik nie ‘n (groot) rol aan die Kaap gespeel het nie: “Die eerste gedokumenteerde voorvalle van rassisme [aan die Kaap] kom eers in die 1780’s voor. Eers van die 1790’s kom die term blanke in gebruik en dan is dit besoekende Europese amptenare wat die voortou neem” (819).

Ek vind dit bedroewend dat Ehlers, wat reeds op Praag (soos hierbo aangedui) gepubliseer het, nêrens erkenning aan hierdie instansie gee nie terwyl dit duidelik is dat sy mening, bv oor Wannie Carstens, deur skrywes op Praag beïnvloed is, bv “dat die boek waarop Carstens hom so roem [Die storie van Afrikaans] vol slordighede en feitefoute is” (866). Hennie van Coller se resensie, wat tot soortgelyke gevolgtrekkings kom (LitNet 8.01.2020), is lank ná die verskyning van Ehlers se boek gepubliseer. “Die politiek korrekte houding van sommige Afrikaner-akademici soos prof Wannie Carstens, afgetrede hoof [voorsitter] van die Afrikaanse Taalraad, doen taalwetenskap ‘n onreg aan. Sy benadering getuig van oordrewe politieke korrektheid waar die kind saam met die badwater uitgegooi word” (846). Ehlers het ‘n meer korrekte siening van Afrikaans as Carstens, bv dat “Afrikaans uit 17de-eeuse Nederlands [Hollands] ontwikkel [het]. Onder Afrikaners se politieke beheer het Afrikaans ontwikkel tot ‘n internasionaal erkende taal tot op die hoogste akademiese vlak” (933). Hy noem ook dat “daar baie bruines is wat verkies om Engels te praat” (933). “Dat Afrikaans as taal onder ‘n vyandiggesinde ANC-regering verontregting ondergaan, is nie te betwyfel nie” (1736).

Ehlers distansieer hom openlik van die regse politiek, skynbaar veral in die hoop dat dit sy voorgestelde Afrikaner-tuisland internasionaal aanvaarbaar sal maak. “Deur telkens te versplinter in klein regse en verregse partye en groepies word die Afrikanerstem net verder verdeel en versterk dit die hande van Afrikaners se vyande” (3331). “Dit is net die ANC, hul kommunistiese bondgenote en ‘n klompie ultraregse wittes wat nog vasklou aan apartheid. Die ANC se beleid van transformasie, wat op niks anders neerkom as afrikanisering (‘indigenisation’) van die samelewing nie, veroorsaak dat Afrikaners sosiaal gemarginaliseer, kultureel afgetakel en ekonomies ontmagtig word; dit is veral as gevolg van die feit dat Afrikaners as ‘Wittes’ geklassifiseer word” (1078). Sou die ANC minder vyandig gesind wees as Afrikaners hulle kultuur (bv Afrikaanssprekendheid) pleks van blankheid as hulle onderskeidende kenmerk voorstoot? Ek dink nie so nie. Internasionaal dalk wel, maar in die praktyk ook onwaarskynlik.

Hy is krities oor AfriForum omdat daardie instansie bv aanvoer “dat Afrikaners nie reg is vir selfbeskikking nie. Dit is verbasend om te sien hoedat sekere Afrikaner-belangegroepe bly vasklou aan die reënboogmentaliteit wat deur De Klerk en sy span op Afrikaners afgedwing is” (518). “Daar is mense wat aanvoer dat Solidariteit Beweging en sy vertakkinge, soos AfriForum, grootliks as besighede met ‘n winsmotief bedryf word en dat die belange van Afrikaners nie die organisasie se hoofdoel is nie. Dit verklaar moontlik die organisasie se anti-selfbeskikkingshouding, behalwe dan wat betref die Orania-inisiatief waar senior bestuur van Solidariteit Beweging na bewering geld belê het” (1810). Later noem hy Solidariteit ‘n multikulturele organisasie “wat nie spesifiek vir Afrikaners selfbeskikking bepleit nie” (2854).

Oor die Vryheidsfront Plus, wat hom deesdae as pleitsbesorger vir alle minderheidsgroepe voordoen, is Ehlers meer positief omdat hierdie party selfbeskikking vir al die plaaslike minderheidsgroepe voorstaan (523). Die VF Plus word beskryf as “Afrikaners se amptelike verteenwoordiger by die internasionale liggaam, Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO)” (532). “OASE handhaaf sedert 2014 ‘n mondelinge samewerkingsooreenkoms met die VF Plus waarvolgens die twee organisasies mekaar nie in die openbaar ondermyn nie” (539). “Totdat daar … ‘n politieke party of vryheidsbeweging na vore tree wat openlik selfbeskikking vir Afrikaners bepleit, met bewese steun wat groter is as dié van VF Plus … sal OASE voortgaan om VF Plus te steun en om samewerking met die party te bevorder” (550).

“Voorts het VF Plus se voorganger, die Vryheidsfront, onder leierskap van generaal [Constand] Viljoen, in aanloop tot die demokratiese verkiesing van [23 April] 1994 ‘n regsgeldige akkoord met die ANC gesluit vir ‘n outonome gebied vir Afrikaners” (539). Hieraan moet myns insiens liefs geen waarde geheg word nie. Dit was ‘n duidelike poging van die ANC om Afrikanergemoedere vóór die 1994-verkiesing te sus. Ehlers erken: “Oor die moontlike instelling van territoriale selfbeskikking vir Afrikaners is daar egter in die finale Grondwet van 1996 niks te vinde nie” (1889). Verskeie akkoorde is gedurende 1990/94 deur die NP met die ANC aangegaan, bv dat geweld opgeskort sou word. In werklikheid het die ANC die gewapende stryd met groter oorgawe voortgesit. Geen waarde behoort aan ANC-beloftes geheg te word nie.

Volgens die Menseregtekommissie is 21 000 mense van 1948 tot 1994, dus tydens apartheid, in politieke geweld in Suid-Afrika dood, “waarvan 14 000 dood is tydens die oorgangstydperk tussen 1990 en 1994 … Van alle sterfgevalle is die oorgrote meerderheid (92%) voorvalle waar swart mense ander swart mense doodgemaak het, soos byvoorbeeld tydens faksiegevegte” (1108); dus nie ter bestryding van apartheid nie, maar veel eerder om te probeer verseker dat die ANC die 1994-verkiesing wen. Dít laat geen twyfel oor die fundamentele boosheid van die ANC nie. Sedert 1994 is “Afrikaners as etniese groep, per kapita van die bevolking die grootste slagoffers … van moorde onder wittes in Suid-Afrika” (1118). “Dr Stanton van Genocide Watch is van mening dat sulke aanvalle en moorde op wittes minstens haatgedrewe, indien nie rasgedrewe nie, is” (1640).

“David Ben-Goerion [1886-1973], die oprigter van die staat Israel, het gesê selfbeskikking sonder ‘n territoriale basis is sinloos” (1847). Hierop volg dan die vraag waarmee seker iedere voorstander van ‘n Afrikaner-tuisland gekonfronteer word: Waar gaan daardie tuisland wees? Ehlers voorsien dat sy tuisland nie in die buiteland nie maar plaaslik gaan wees. Die plasing daarvan berus op veral twee grondslae, te wete histories en demografies. “Afrikaners as volk het in die verlede territoriale selfbeskikking geniet in die vorm van twee onafhanklike Boererepublieke, naamlik die ZAR [Transvaal] en Oranje-Vrijstaat” (1854). Met die uitsondering van Boererepublieke wat, in wat tans Natal genoem word, bestaan het en by die ZAR ingelyf is, het Afrikaners nooit territoriale selfbeskikking in die res van Suid-Afrika geniet nie. Wat Ehlers betref is ‘n Afrikaner-tuisland in die drie Kaapprovinsies dus uit (2536). Teen 2031 sal daar na verwagting net 370 294 Afrikaners in hierdie provinsies woon (2594).

Wat demografie betref bly 70% van Afrikaners tans noord van die Oranjerivier. Ehlers plaas sy Afrikaner-tuisland waar daar reeds ‘n groot konsentrasie Afrikaners is omdat die minimum ontwrigting moet plaasvind (3246). Die oppervlakte van sy voorgestelde tuisland is ongeveer so groot soos Oostenryk (2541). Die gebied sluit die volgende in: Gauteng: Pretoria, Oos-Rand, Meyerton, Heidelberg, Krugersdorp; Noord-Wes: Potchefstroom, Rustenburg, Klerksdorp; Mpumalanga: Ermelo, Secunda, Middelburg; Vrystaat: Bloemfontein, Bethlehem, Welkom; Kwazulu-Natal: Richardsbaai (2551). Teen 2031 sal daar na verwagting 1 275 011 Afrikaners in hierdie voorgestelde tuisland woon (2573).

Maar die voorgestelde opset word ingewikkeld omdat net sekere dele van die genoemde stede en dorpe by die tuisland ingesluit sal word, naamlik daardie dele waar daar baie Afrikaners woon. Hy noem sommige hiervan “grensdorpe en -stede” (2629). “Begrensing van die afgebakende gebied bring mee dat dele van dorpe en stede wat tradisioneel Afrikaner-woonbuurte is, afgeskei word van omliggende woonbuurte waar Afrikaners nie eintlik voorkom nie” (2613). Dit sal bv logistieke probleme veroorsaak, om dit sag te stel.

Oor die grense sal met die (ANC-)regering onderhandel moet word (2623, 2833). Die resultate van die 1990/94-onderhandelings is sodanig dat dit heelwat moed sal verg om selfs maar net weer met so iets te begin. Ehlers wil “gesoute onderhandelaars” gebruik. “Afrikaners kan nie bekostig om weer ‘n reserwespan aan te wend om politieke vryheid te bekom nie” (2942). Vooraf sal ‘n referendum gehou moet word, wat verskillende vorme kan aanneem (2957). Internasionale steun is ook nodig (2966).

Die hoop word gekoester dat Afrikaners die meerderheid inwoners in die tuisland sal wees of word. Op die oomblik is Afrikaners die helfte van die inwoners (2675). “Sonder ‘n getalsoorwig in ‘n duidelik afgebakende territorium sal Afrikaners nooit weer politieke vryheid geniet nie” (2822). Dit is ‘n (feitlik) onoorkomelike probleem. Die (natuurlike) bevolkingsgroei van blankes is laer as dié van ander groepe en daar is geen sekerheid oor die mate waarin Afrikaners uit ander gebiede hulle in hierdie tuisland sal vestig nie.

Daar is “geen rede om bruines wat in OASE se afgebakende gebied gevestig is, uit te sluit op grond van ras of velkleur nie” (2599). Nie-Afrikaanssprekende blankes hoef ook nie uitgesluit te word nie (2680). “Groot getalle wit Engelssprekendes sal tuis voel in ‘n Afrikanerbeheerde [tiende] provinsie, aangesien hulle tans ook die slagoffers is van rassediskriminasie in Suid-Afrika” (3360). Die ironie is dat Ehlers die hele tyd [moet] wegstuur van rassediskriminasie, maar dit word daagliks met oorgawe deur die ANC-regime gepleeg. Dit kom neer op dubbele standaarde. Blankes mag nie teen nie-blankes diskrimineer nie, maar andersom kan dit maar gedoen word.

Onwettige swart immigrate sal uitgesit word, maar wat van swart Suid-Afrikaners? “Dit maak nie saak hoe of waar Afrikaners hul politieke vryheid opeis nie – dit kan nie volhoubaar wees solank as wat daar aan nie-Afrikaners ‘n trekpleister gebied word om permanent in hul midde te verkeer nie” (2773). Dit is ‘n kernprobleem. Enersyds sal daar nie maklik ontslae geraak word van swartes wat tans in die voorgestelde tuisland woon nie. Andersyds sal dit ‘n nog groter probleem wees om swartes buite te hou as die tuisland suksesvol, bv welvarend, blyk te wees.

Ehlers diskrediteer instromingsbeheer: “Die inperking van swart burgers se bewegingsvryheid in die ou Suid-Afrika was een van die grootste euwels van apartheid” (3114). Aandklokreëlings in Ehlers se gedeelde stede en dorpe sal sekerlik ook taboe wees. Is die veiligheid wat blankes/Afrikaners eens in hulle vaderland geniet het dan enigsins haalbaar?

“Arbeid uit eie geledere [is] die sleutel tot volhoubare Afrikaner-selfbeskikking” (2783). In Orania verg dit groot inspanning om te verseker dat slegs van volkseie arbeid gebruik gemaak word. In die Ehlers-tuisland met sy bonte mengelmoes mense sal dit myns insiens ‘n onbegonne taak wees om so iets af te dwing. Maar Ehlers is optimisties: “Dit is wel moontlik om lede van ander bevolkingsgroepe te ontmoedig om te gaan woon in die voorgestelde gebied waar Afrikaners nou reeds gekonsentreerd woon deur bloot die motivering vir diesulkes om daar te wees weg te neem, sodat hulle rede het om liewer elders te gaan woon waar daar wel vir hulle werksgeleenthede is” (2783).

Die voorgestelde tuisland bly onderhewig aan die onverkwiklikhede van die nuwe Suid-Afrika: “Selfs al sou Afrikaners territoriale selfbeskikking in ‘n tiende provinsie of in die vorm van ‘n deelstaat binne ‘n federasie kry, sal alle burgers van Suid-Afrika steeds die reg hê om in die Afrikanerbeheerde territorium te gaan werk en hulle daar te gaan vestig. Afrikaners sal ook nie beheer kan uitoefen oor Suid-Afrika se eksterne immigrasiebeleid nie” (3119). “Die kanse dat Afrikaners onder bogenoemde omstandighede op die lang duur hul getalsmeerderheid sal kan handhaaf in ‘n gebied waar hulle territoriale selfbeskikking geniet, is nie baie goed nie” (3124). Dit lyk asof Ehlers realisties genoeg is om te besef dat sy eie Afrikaner-utopie onprakties kan wees. Pleks van al die moeite te doen vir so ‘n tuisland lyk dit vir my verkieslik om maar voort te gaan waar ek tans is, met as alternatief om weg te vlieg en weg te bly.

Dit is om grondwetlike redes dat Ehlers voorstel dat sy Afrikaner-tuisland ‘n tiende provinsie moet wees. Daarvoor is slegs ‘n parlementêre meerderheid nodig (1909). ‘n Deelstaat of kanton sou ‘n tweederde meerderheid verg (1869). Ander vereistes wat hy stel, is dat dit nie ‘n versnipperde gebied moet wees nie, maar aaneengeslote, sodat dit bv makliker geadministreer en beveilig kan word (456, 2536).

“Waar volke blootgestel is aan ernstige en voortdurende menseregteskendings, ontstaan die reg op regstellende afskeiding (‘remedial secession’)” (1975, 3145). Byvoorbeeld, volgens internasionale reg: “In no case may a people be deprived of its own means of subsistence” (1986). Maar dit is presies wat by grondonteiening sonder vergoeding en in sommige gevalle weens ander regstellende aksies gebeur. In die African Charter on Human and Peoples’ Rights staan: “All peoples shall have the right to existence” (2005). Om lewend te wees is immers die voorvereiste vir die benutting van alle ander regte. Maar dit kan bevraagteken word of die veiligheidsituasie in die nuwe Suid-Afrika sodanig is dat aan hierdie basiese vereiste voldoen word. In dieselfde handves staan: “All peoples shall freely dispose of their wealth and natural resources … In no case shall a people be deprived of it” (2013). “In case of spoliation the dispossed people shall have the right to lawful recovery of its property as well as to an adequate compensation” (2017). Onteiening en veral onteiening sonder vergoeding druis hierteen in, asook die mate waarin blankes oorbelas word sodat ellende onder ander bevolkingsgroepe bestry kan word en daar geld in die staatskas is waarmee korrupsie gepleeg kan word.

Hoewel die plaaslike blankes, veral die Afrikaners, in ‘n benarde situasie verkeer, verkies Ehlers om so vreedsaam moontlik te werk te gaan, al noem hy ‘n enkele keer die moontlikheid van “verdedigende geweld” (3345). In die laaste hoofstuk skryf hy: “Dit is nie die bedoeling om … eksterne selfbeskikking te bepleit en daardeur sesessie van grondgebied te propageer met die oog op soewereiniteit nie” (3086). Maar “Afrikaners as ‘n klein minderheidsvolk met hul Westerse kultuur en waardestelsel [staar] werklik ‘n bedreiging in die gesig tussen miljoene mense in Suid-Afrika wat Afrikakulture en -waardestelsels aankleef. Gaan kyk ‘n mens na die ernstige gevolge wat die demokratisering van Suid-Afrika vir Afrikaners meegebring het, sal hulle op die lange duur moeilik oorleef as ‘n Westerse volk waar hulle nie politieke beheer uitoefen oor alle regeringsfunksies nie” (3103).

“Dit is sinloos om selfbeskikking na te streef wat nie uit die staanspoor gemik is op volle onafhanklikheid met internasionale erkenning nie” (3150). Dit beteken dat die tuisland deur afskeiding van Suid-Afrika of van ‘n ander land verkry moet word. Hiervoor sal Afrikaners onder meer uitgelewer wees aan die internasionale reg en ten minste in ‘n mate aan die goedkeuring van die internasionale gemeenskap, wat berug is vir bv opportunisme en dubbele standaarde. Maar ook hierdie paadjie word eintlik deur Ehlers grootliks toegemaak: “Volke in ‘n eenheidstaat verkry normaalweg nie die reg op eksterne selfbeskikking oftewel die reg van afskeiding (sesessie) nie. Volke het wel die reg op interne selfbeskikking” (3184), waarmee ons terug by die (onpraktiese) OASE-tuisland is.

Enersyds is dit nodig om te oorweeg watter voordele daar vir Afrikaners gaan wees elke keer as ‘n Afrikaner-tuisland voorgestel word. Party voorstelle is meer aanvaarbaar en prakties uitvoerbaar as ander. Andersyds moet daar uit die oogpunt van die ANC-regime na die saak gekyk word, as dit ‘n poging is om die tuisland plaaslik te vestig. Sedert die dwase magsoorgawe in 1994 is die verderflike ANC ‘n faktor waarmee rekening gehou moet word. Die ANC-regime is mags- en geldhonger. In OASE se voorgestelde tiende provinsie is daar niks wat dit ‘n aantreklike moontlikheid vir die kamerade maak nie. Selfs vir Afrikaners hou so ‘n tuisland myns insiens nie voldoende voordele in nie. Soos in die geval van kommunistiese regerings streef die ANC-regime na oordrewe gesentraliseerde beheer. Daar is geen moontlikheid dat die kamerade die ideaal van volle onafhanklikheid (soos genoem in die vorige paragraaf) aan Afrikaners sal gun nie. Soos Abraham Lincoln in Amerika sal die terroristiese ANC eerder oorlog voer as om die eenheidstaat te laat verbrokkel. Dit is nie dat die ANC ‘n gedugte weermag tot sy beskikking het nie, maar dit kan tog lastigheidswaarde hê.

Hoe verder? “Het dit nie nou weer tyd geword dat Afrikaners in Suid-Afrika laer trek ter wille van hul oorlewing nie?” (3315). Dus, probeer hou wat jy het. “Totdat Afrikaners nie in beduidende getalle die wíl toon om oor hul eie mense te regeer nie [eerder: deur hulle eie mense regeer te word nie], sal hulle weer vry wees van onderdrukking deur ‘n swart meerderheidsregering in Suid-Afrika nie” (3326). Apatie weens die onwilligheid om die huidige en die langtermyn situasie in oënskou te neem, is ‘n fundamentele probleem wat tans alle pogings om ‘n Afrikaner-tuisland tot stand te bring, saboteer.

Brief: Cor Ehlers antwoord liberaal-marxis Christi van der Westhuizen

Die feminis en liberaal-marxis, Christi van der Westhuizen, het onlangs kritiek op Helen Zille se twiets oor kolonialisme op die linkse webblad Netwerk24 gelewer. Sy meen dat kolonialisme en “liberalisme” (waaronder sy liberalisme sónder ‘n marxistiese sous verstaan) nog altyd “kop in een mus” was. Sy maak ook die afrosentriese stelling: “Die denkfout hier is die gedagte dat Afrika nooit deel van moderniteit kon wees sonder kolonialisme nie.” Hierteenoor verdedig mnr. Cor Ehlers, ‘n voorstander van Afrikanerselfbeskikking, Zille se uitsprake en meen dat daar miljarde “vir post-koloniale Afrika… in die vorm van ontwikkelingshulp veral sedert 1945 deur die Weste ingepomp is en waar daar weinig tekens is van ontwikkeling of omarming van moderniteit”.

Cor Ehlers skryf verder in antwoord op Christi van der Westhuizen:

Hoe lank nog moet Blankes, wat minder as 10% van die bevolking in SA verteenwoordig, inboet om die “ongelykheid” warvan Van der Westhuizen praat uit te skakel? Een van die historiese feite wat dikwels deur linkses soos sy genegeer word is dat milarde rande, ook in die vorm van innovasie, energie en Westerse middele in minder as drie dekades ter wille van ontwikkeling in voormalige swart tuislande ingepomp is, sonder enige noemenswaardige sukses. Dieselfde geld vir postkoloniale Afrika waar miljarde in die vorm van ontwikkelingshulp veral sedert 1945 deur die Weste ingepomp is en waar daar weinig tekens is van ontwikkeling of van omarming van moderniteit.

Helen Zille se gewraakte twiet oor kolonialisme

Van der Westhuizen sê: “In die twiets waarvoor Zille voor stok gekry word, het sy spesifiek meritokrasie genoem as een van die redes waarom Singapoer ten spyte van sy koloniale geskiedenis goed vaar. Sy vat dit toe selfs verder en noem die ‘positiewe aspekte van die koloniale nalatenskap’ as een van die ander redes. Die aspekte wat sy noem, het almal te make met moderniteit, byvoorbeeld vervoer-infrastruktuur en gespesialiseerde mediese versorging. In ‘n onderhoud noem sy intussen ook universiteite.”

Waar mense nie op basis van meriete aangestel word om die leiding te neem in samelewings nie, lei dit dikwels tot middelmatigheid en is daar selde sprake van ontwikkeling in mense se kultuur. Die Afrikaner Broederbond was ‘n toonbeeld hiervan. In post-apartheid SA, net soos in post-koloniale Afrika, lei ‘n gebrek aan meritokrasie veral tot grootskaalse korrupsie en uitbuiting. Die agtergeblewe burgers van sulke lande vind niks baat by nivellering of die uitskakeling van meriete nie. Solank mense nie op grond van ras uitgesluit word nie, is daar niks fout met meriete as basis vir leidinggewing nie.

Van der Westhuizen skryf: “Die denkfout hier is die gedagte dat Afrika nooit deel van moderniteit kon wees sonder kolonialisme nie”

Dit is nie ‘n denkfout nie. Burundi is een van die lande in Afrika waar kolonialisme haas geen invloed gehad het nie omdat dit van kortstondige duur was. Vandag is Burundi en ander lande, soos Papua-Nieu-Guinee in die Verre-Ooste, veel agterliker as enige van die Afrikalande wat wel gekoloniseer is.

En verder: “Dit suggereer ook dat geen elemente van modernisering in Afrika ontstaan het nie”

Gee vir my een voorbeeld van modernisering wat wel in Afrika suid van die Sahara ontstaan het en wat enigsins noemenswaardige invloed op die ontwikkeling van Afrika se mense gehad het.

Ook sê sy: “Dit wil sê, hoewel Zille in haar twiets ook ‘globalisme’ noem as ‘n rede vir Singapoer se sukses, neem sy nie in ag dat mense se natuurlike prosesse van globalisering oor die eeue heen beteken dat geen ontwikkeling net op een plek geïsoleer bly nie. Afrika was van die begin deel van moderniteit.”

Vanaf watter begin? Reeds in die 1300’s het die Portugese d.m.v. handel (nie kolonisering nie) in Wes-Afrika se Kongogebied die wiel aan Swartes bekend gestel. Dit was niks anders as ‘n vorm van globalisering nie. Alhoewel Afrikane in daardie deel van Wes-Afrika die wiel vir bykans ‘n eeu hoofsaaklik vir handels- en militêre doeleindes aangewend het, het hierdie belangrike westerse tegniese skepping binne enkele dekades totaal en al verdwyn nadat die Portugese opgehou het om met Wes-Afrika handel te dryf. Teen die tyd van kolonisering in die 19de eeu (d.w.s. meer as 400 jaar later) was daar geen teken van die wiel meer oor in die gebied nie.

Sy sê ook: Maar deur die geweld van kolonialisme is Afrikane in ‘n onderdanige posisie in die wêreldhiërargie geforseer en daarom smaak net sommige, in plaas van almal, vandag die voordele van modernisering (let wel, nie kolonialisme nie).

Die Romeine het 2000 jaar gelede die Germane dwarsoor die hele Europa met uiterste geweld in ‘n onderdanige posisie geforseer, maar die Germane het relatief snel al die voordele wat die Romeinse besetting met hulle saamgebring het deel gemaak van hul eie kultuur en waardestelsel en daarop voortgebou. Dit was ten spyte van bykans 400 jaar Romeinse oorheersing. Kolonialisme het wat Swartes in SA betref minder as 200 jaar geduur, sou ons apartheid as deel daarvan beskou. Behalwe vir sekere Westerse tegniese skeppinge, wat hoofsaaklik vir statusdoeleindes aangeneem word deur baie Swartes – soos selfone, motors, TV’s, ens. – is daar nie veel deur hulle oorgeneem uit die res van ons Westerse kultuur en waardestelsels nie.

Selfs tydens die stagnasieperiode in die Middeleeue het Europiërs voortgegaan om massiewe strukture soos kerke, katedrale, regeringsgeboue, ens. op te rig. Daarna het die Renaissance gevolg wat daartoe gelei het dat Westerlinge tot vandag toe ligjare voor die res van die wêreld is op vele terreine van tegnologiese ontwikkeling en vaardighede. Ons as Westerlinge skroom nie om te erken dat dit alles te danke is aan die (Grieke) en Romeine wat ons grondgebied meer as 2000 jaar gelede gekoloniseer het nie. Vandag is die Duitsers en ander Europeërs van Germaanse afkoms meer welvarend en innoverend as die Italianers, wat die direkte nasate is van die Romeine. Dit was juis die kolonisering van Europa deur gemelde hoogkulture waaruit moderniteit voortgespruit het.

Noord-Afrikane en volke aan die Europese kant van die Middelandse See, soos die Portugese, is met afgryslike geweld deur die Arabiere (More) eeue gelede ingeforseer tot minderwaardigheid. Nietemin het hulle die Arabiese oorheersing te bowe gekom en vandag erken hulle nie net die slegte goed wat Arabiese kolonialisme vir hulle meegebring het nie, maar ook die voordele daarvan. Ek lees ook selde van die gevolge van Arabiese kolonisasie in Oos-Afrika wat vir eeue lank gegeld het – veel langer as kolonisasie deur Westerse lande in Afrika. Ook in hierdie geval het kolonialisme nie net slegte gevolge vir Oos-Afrika gehad nie.

Puik voorbeelde van hoedat moderniteit aan sommige Swartes in SA verbygaan is oudpresident Mbeki en sy aanhangers soos prof. Pityana – afgetrede rektor van Unisa. Mbeki kan skaars as ‘n slagoffer van kolonialisme of apartheid beskou word, want hy het in Engeland skoolgegaan, daar gestudeer en ‘n groot deel van sy volwasse lewe tot in 1990 daar gewoon. Tydens sy presidentskap het Mbeki geweier om die grondliggende oorsake van die verspreiding van HIV VIGS onder Swartes te erken, synde bepaalde seksuele gedragspatrone. Hy het verkies om binne sy swart tradisionele kultuurraamwerk eksterne lokusse van kontrole te blameer soos armoede, ens. wat natuurlik volgens hom en sy mutual admiration society alles die skuld van kolonialisme en apartheid is. So sterk het hy daarin geglo dat hy ‘n minister van gesondheid aangestel het wat almal in SA probeer oortuig het dat Afrikawortel en beet die siekte kan genees. Mbeki se ontkenning van Westerse mediese (wetenskaplike) bewyse vir die verspreiding van die siekte en sy geloof aan tradisionele Afrika-medisyne het daartoe gelei dat meer as 300 000 Suid-Afrikaners voortydig dood is aan die siekte, want hulle is deur die Mbeki-administrasie weerhou van ARV-medisyne wat in die Weste (kolonialiste) ontwikkel is.

Ten spyte van globalisering is daar ook in SA ‘n duidelike terugkeer na Afrikakultuur en –waardestelsels. Voorbeelde hiervan is besnydenisrituele, kommunale grondgebruik, ens. Ek sien nog nie waar dit tot enige ontwikkeling vir mense in SA lei nie, laat staan nog die skepping van gevorderde tegnologie of die ontwikkeling van tegnologiese vaardighede.

Zuma (en waarskynlik die oorgrote meerderheid Swartes in SA) glo dat korrupsie ‘n westerse begrip is waaraan Swartes in Afrika hulle nie hoef te steur nie. Zuma het self in die openbaar gesê dat dit ‘n westerse begrip is. Ten minste is hy eerlik hieromtrent. Geen wonder die ANC, EFF en hul ondersteuners beskou Mmusi Maimane, met sy uitgesprokenheid teen korrupsie, as ‘n token Black in die DA nie.

Van der Westhuizen meen: Zille is dus feitelik verkeerd. Verstrik in liberalisme se dekontekstualisering en dehistorisering, is sy oënskynlik blind vir die werklike verhouding tussen modernisering en kolonialisme. Die vraag is altyd: Wat is die effek van ‘n argument? In dié geval is dit die regverdiging van kolonialisme, ‘n stelsel wat gepaardgegaan het met grootskaalse, barbaarse slagtings van dermiljoene mense – ‘n holocaust in eie reg – en die vernietiging van unieke filosofiese en estetiese wêreldbeelde en onvervangbare ekologiese stelsels.

Nonsens. Die ware holocaust het gepaard gegaan met die georkestreerde slagting van meer as 6 miljoen Jode deur die Nazi’s in minder as 4 jaar (1941-1945). Ten spyte hiervan het die oorblywende Jode in 1948 die staat Israel in die woestyn gaan ontwikkel wat in minder as vyf dekades uitgegroei het tot ekonomies onafhanklike en een van die mees gevorderde state van die wêreld op tegnologiese vlak.

Selfs na twee eeue se blootstelling aan moderniteit in ‘n geglobaliseerde wêreld kan Swartes in Afrika met al sy natuurlike hulpbronne, goud, minerale, olie, aardgas, ens. nie eers vir hul eie mense sorg nie. Hulle is steeds afhanklik van VN- en ontwikkelde lande se hulp en bystand net om te kan oorleef. SA is na 23 jaar van swart meerderheidsregering vinnig oppad na dieselfde afhanklikheid van die internasionale gemeenskap.

Ek is nie bewus van enige ontwikkeling van enige aard wat die “unieke filosofiese en estetiese wêreldbeelde” van Afrikane teweeg gebring het nie. In ruil vir hul “onvervangbare ekologiese stelsels” is hulle aan die lot van natuurelemente soos ernstige droogtes, weerlig, storms, ens. oorgelaat wat histories tot die dood van miljoene mense gelei het omdat hulle nie oor die tegnologiese vlak van ontwikkeling van Westerse lande (koloniseerders) beskik het nie. Hongersnood tydens die mfecane kan o.a. toegeskryf word aan langdurige periodes van droogte wat die tydperk (1815-1835) voorafgegaan het en wat tot die dood van honderdduisende mense binne enkele jare in suidelike Afrika gelei het. Hulle unieke filosofiese en estetiese wêreldbeelde en onvervangbare ekologiese stelsels het hulle nie gered nie, want ten grondslag daarvan lê ‘n bestaansekonomie wat hoegenaamd nie produksie-georienteerd is nie en wat dus nie voorsiening maak vir sulke natuurrampe nie.

Dekades nadat Afrika gedekoloniseer is sterf daar jaarliks tienduisende mense wat juis deels toegeskryf kan word aan hul sogenaamde onvervangbare ekologiese stelsels en wat deur die eeue niks anders as o.a. oorbeweiding deur sulke mense se vee insluit nie. Die gevolge hiervan was voortdurende etniese imperialisme op basis van “survival of the fittest” wat tot grootskaalse menseslagtings gelei het ten einde beheer oor grondgebied en waterbronne te verkry – so kenmerkend van die massamigrasies van Swartes vanuit die Groot Meregebied tussen 400 en 1600 nC. Dit was lank voor kolonialisme. Dieselfde geld vandag in groot dele van ‘n gedekoloniseerde Afrika waar sulke tradisionele praktyke aan die orde van die dag is.

Ons sien hoedat Swartes se veekuddes dikwels tot vandag toe in SA, selfs na 200 jaar van kolonisasie en ten spyte van globalisering, gekenmerk word deur swak genetika en ondervoeding. Dit is omdat vee se waarde nie in terme van swartes se kultuur opgesluit lê in die gehalte van die diere nie, maar in die getalle wat die eienaar besit. Terselfdertyd het beeste steeds lobola-waarde en word dit veral tydens tradisionele rituele soos by troues en begrafnisse geslag. In ‘n geglobaliseerde handelswêreld lei sulke waardes wat betref die besit van vee tot armoede en verval, want daar kan nie op grond van die gehalte van die diere en hul vleis- of melkproduksiewaarde meegeding word nie.

Dekades na die dekolonisasie van Sentraal-Afrika het militante Tutsi’s meer as 800 000 Hutu’s en gematigde Tutsi’s binne 3 maande uitgemoor in 1993. Hierdie etniese slagtings duur intussen voort dwarsoor post-koloniale Afrika. Wat het dit met kolonialisme te make? Dit is lankal wetenskaplik bewys dat dit juis sulke etniese konflikte is wat daartoe gelei het dat Bantoetaalsprekendes die Groot Meregebied van Afrika veral na 400 nC verlaat en suidwaarts gemigreer het tot in suidelike Afrika. Onderweg daarheen en in SA self het hulle net sulke menseslagtings gepleeg, o.a. teen die ware first nations van SA, naamlik die Khoi en San wat tot ‘n totaal ander rassegroep behoort as Bantoetaalsprekers. Hierdie plundering en menseslagtings deur Swartes het voortgeduur tot en met die mfecane (1815-1835) wat deur die koms van Voortrekkers in 1836 tot halt geroep is. Sedertdien is per kapita (van SA se bevolking) meer Wittes as Swartes deur Swartes uitgemoor, terwyl net in die afgelope twee dekades nagenoeg 500 000 mense van alle rasse (meer as 70 000 hiervan is Wittes) in post-apartheid SA deur Swartes uitgemoor is. Wat deesdae as Xenofobiese geweld beskryf word, is niks anders as etniese moorde nie. Die groot etniese slagting lê waarskynlik nog voor vir SA – count my words.

Toe Blankes (Afrikanerpioniers) vir die eerste keer in 1836 in noemenswaardige getalle met Swartes in die binneland van Suid-Afrika in aanraking gekom het, was dit juis a.g.v. die voorafgaande mfecane (1815-1835) dat meer as ‘n miljoen Swartes en Bruines deur tiranne soos Shaka en Dingane van die Zoeloes, Mzilikazi van die Matabeles, Mantathisi van die Tlokwas en Jan Bloem en die Bergenaars van die Khoi voortydig dood is. Toe was daar nog geen sprake van kolonisering nie. Die linkse prof. Cobbing van Rhodes (waarskynlik in opdrag van die ANC) het in die 1990’s gepoog om die mefcane tot ‘n mite te probeer verklaar, maar danksy gerespekteerde antropoloë van dwarsoor die wêreld insluitend die anti-apartheidsaktivis Omer-Cooper, is Cobbing se drogredenasies ontbloot. Selfs die linkse prof. Delius van Wits ontken nie die mfecane of die totale verwoesting en menseslagtings waartoe dit gelei het nie (sien dokument aangeheg). Dit is alles gebeure wat in SA afgespeel het voordat Swartes se tradisionele grondgebied deur Westerlinge (Blankes) gekoloniseer is. Vreemd genoeg erken die Basotho’s van Lesotho openlik in hul staatsbronne dat hulle as ‘n koninkryk in die Malutiberge tot stand gekom het na aanleiding van veral die mfecane.

Sy skryf voorts: “Dit is hier waar die blindheid ‘n rassedimensie aanneem. Die ramp wat kolonialisme was, is destyds geregverdig deur rassisme. Zille se aanmerkings suggereer dat Afrika van nature primitief, agterlik en intellektueel minderwaardig is, ‘n situasie wat net deur kolonialisme gewysig kon word.”

Dit is nie hoe ek Zille verstaan nie. Ek lees nêrens dat Zille beweer of suggereer dat Afrika as kontinent primitief, agterlik of intellektueel minderwaarðig is nie. Hoe kan ‘n stuk aarde (kontinent) in elkgeval oor sulke eienskappe beskik? Ek lees ook nêrens dat Zille meld dat die situasie “net deur kolonialisme”gewysig kon word nie. Ek lees en begryp wel dat Zille aanvoer dat kolonialisme nie net slegte goed vir SA meegebring het nie.

Vd Westhuizen verval in dieselfde redenasie waarvan die oorgrote meerderheid Bantoetaalsprekende swartes in Afrika deel is, naamlik ‘n geloof in eksterne lokus van kontrole. Alles en almal kry die skuld vir die agterstand waarin Swartes hulleself bevind, behalwe die mense self. Totdat Swartes nie soos Westerlinge en ander beskawings persoonlike (individuele) verantwoordelikheid deel maak van hul eie kultuur en waardestelsel nie, en nie aanspreeklikheid aanvaar vir hul eie doen en late nie, sal hulle aanhou om alles en almal die skuld te gee vir hul agtergeblewenheid. Implisiet (dit is Vd Westhuizen se afleiding en dit pas miljoene Swartes se kultuur waarvolgens mense se lot uitgelewer is aan eksterne lokusse van kontrole) “is die mense wat met Afrika geassosieer word – swart mense – dus ook van nature agterlik en minderwaardig, in teenstelling met die kolonialiste, wat wit was.” Dit is presies hoe linkses mense se woorde verdraai om rassisme te probeer bewys. Mense in hul genetiese manifestasie, ongeag van welke ras ookal, is nie van nature agterlik of minderwaardig nie – of ten minste is dit nog nooit wetenskaplik bewys nie. Ek twyfel sterk of Zille haar enigsins aan hierdie tipe van rassisme skuldig maak. Sekere kulture of volke het wel ‘n empiries bewysbare agterstand wat betref tegniese skeppinge en tegnologiese vaardighede. Saam met die ontwikkeling van Westerse tegnologie en tegnologiese vaardighede het daar ook nuwe waardes en norme ontwikkel wat daartoe lei dat sulke kultuureienskappe in stand gehou en verder ontwikkel word.

Kolonialisme het spesifiek in SA se geval na alle waarskynlikheid meer bygedrae tot die ontwikkeling van die land as wat dit tot die uitwissing van miljoene mense gelei het, soos wat Vd Westhuizen in haar artikel suggereer en probeer veralgemeen. Sonder kolonialisme sou daar teen hierdie tyd waarskynlik miljoene meer mense in SA omgekom het as wat reeds die geval is. Dit is nie net omdat kolonialisme ‘n milieu geskep het waarin Swartes in SA die afgelope 200 jaar soos konyne kon aanteel nie, maar ook omdat baie meer mense van alle rasse deur Swartes op wreedaardige wyse om die lewe gebring sou gewees het – soos wat bewys word sedert hulle in 1994 politieke beheer oor die land geneem het. Begrippe soos demokrasie, wet en orde en ‘n regstaat is alles Westerse (koloniale) konsepte wat nie bestaan in tradisionele Afrikakultuur nie. Ons Germaanse voorouers het dit reeds 2000 jaar gelede by die Romeine (en voor dit by die Grieke) oorgeneem en deel gemaak van ons eie kultuur. Ons hoef net te gaan kyk hoe sake gestaan het kort voor kolonialisme onder tradisionele gesagstrukture van mense soos Shaka, Dingane, Mzilikazi, ens.

Behalwe vir tegniese skeppinge en tegnologiese vaardighede kan geen ander faset van menslike kultuur empiries bewys word as meerderwaardig of minderwaardig nie. Sonder kolonialisme sou Westerse skeppinge en vaardighede, wat bewysbaar beter is as dit wat Afrikane self opgelewer het, nie in SA tot die mate bestaan het wat lankal reeds die geval is nie. Daar sou ook nie sprake gewees het van tegnologiese ontwikkeling tot op die vlak wat SA in 1994 geken het en wat toe op ‘n skinkbord aan Swartes se politieke beheer oorgegee is nie. Hieroor het ek werklik geen twyfel nie.

Van der Westhuizen val terug op die idee van “stereotipes”: “Dit is niks minder as ‘n opgewarmde stel koloniale stereotipes wat Zille aan ons aanbied asof dit neutvars is. Nostalgiese wit revisionisme is die term daarvoor.”

Linkses is lief daarvoor om sulke drogredenasies name te gee en dit dan as evangelie te verkondig aan hul eie mutual admiration societies.

Sy vervolg dan: “Wat wel vars in Suid-Afrikaanse liberalisme is, is Maimane se aandrang, soos verwoord in S’thembiso Msomi se biografie oor hom, dat ‘As jy nie sien dat ek swart is nie, sien jy my nie.’ Soortgelyk vernuwend was die DA se steun vir die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming in 2013 in die parlement, onder leiding van Lindiwe Mazibuko. Soos een naamlose swart DA-leier destyds aan die media gesê het: ‘Daar is nie ‘n manier waarop jy ‘n probleem wat deur ras veroorsaak is, kan oplos sonder verwysing na ras nie.’ Mazibuko en haar koukus is in die bek geruk en sy is uiteindelik heeltemal uitgeskuif.”

Ag tog, hoe politiek korrek kan een mens nie wees nie – en dít onder die vaandel van akademiese insig. Gelukkig sien al hoe meer Westerlinge dat slegs Wittes rassiste kan wees in die oë van baie Swartes (en volgens ‘n beperkte groepie linkse Wittes); omgekeerde rassisme bestaan volgens laasgenoemde groepe nie. Nog so ‘n drogredenasie onder linkses.

Christi van der Westhuizen sluit af deur te sê: “Die DA staan voor ‘n waterskeidingsoomblik. Die opkomende geslag swart leiers breek met die liberale ontkenning van die geskiedenis en die effek van ras. Mense soos Maimane en Mazibuko opper die moontlikheid – weliswaar nog in embrio-vorm – van ‘n nuwe soort Afrika-liberalisme wat nie ras-blind is nie, wat eerlik oor kolonialisme is, en miskien selfs die gevolge van rassisme en kolonialisme op daadwerklike wyse kan aanpak. Gegewe Suid-Afrika se geskiedenis en die huidige werklikheid van ras-gebaseerde ongelykheid, moet Zille besluit of sy een van die struikelblokke wil wees wat die DA en uiteindelik die politieke moontlikheid van ‘n nuwe liberalisme in Suid-Afrika pootjie.”

Nêrens elders in die wêreld word Regstellende Aksie en Ekonomiese Bemagtiging deur ‘n meerderheid op ‘n minderheid afgeforseer nie, en dan nog so toenemend intensief ook soos in SA nie; laat staan nog deur ‘n oorweldigende meerderheid op so ‘n klein minderheid.

As dit inderdaad Maimane en Mazibuko se ideale is, voorspel ek dat sulke Afrika-liberalisme net so ‘n stil dood sal sterf soos Mbeki se Afrika-Renaissance. Renaissance beteken HER-lewing. Binne die konteks van Swartes in Afrika suid van die Sahara is daar niks wat kan herleef nie, want daar het nog nooit in hul beskawing enige noemenswaardige vlak van “ontwikkeling” bestaan nie. What culture is there in a clay jug?

Selfbeskikking of selfbedrog?

wingard_johanndeur Johann Wingard

In sy onlangse Praag-artikel oor Selfbeskikking en die Internasionale Reg skryf Dr Christo Landman onder meer dat Afrikaners hulself nie deur oppervlakkige vertolkings van die internasionale reg moet laat mislei nie.

Hy word toe op kenmerkende wyse deur Cor Ehlers van Oase tereggewys. Laasgenoemde beweer dat ‘n volk se reg op selfbeskikking nie onderhewig is aan ‘n land se grondwet nie, maar slegs aan die internasionale reg.

Dit is so dat die reg op selfbeskikking ‘n universele mensereg is. Maar dit is waar dit ongelukkig eindig. Dit is by die uitoefening van daardie reg waar probleme ontstaan en waar die geloofwaardigheid van die internasionale reg self in gedrang kom.

Geskiedenis leer dat erkenning van ‘n minderheidsvolk se onafhanklikheidstrewe nie voldoende is om sy selfbeskikking te verkry nie, maar dat dit slegs die regsbasis vorm waarop verdere aksies geloods kan word.
Daardie aksies is polities, ekonomies en militêr van aard. Dit word in die strate van die betrokke gebied besleg en nie in die howe van Europa nie. Die nuutste voorbeelde daarvan speel hom tans in Oekraïne af.

Hoewel dit volgens internasionale reg vertolk word dat die bevolking van die Krimskiereiland die inherente reg besit om sy selfbeskikking op te eis, word dit deur die internasionale gemeenskap as onwettig beskou om op eie versoek aansluiting by Rusland te vind. Die groot moondhede erken die internasionale reg dus slegs wanneer dit hul geopolitieke belange pas.

Rusland was waarskynlik agter die Krim se hele selfbeskikkingstrategie, want hy wou die Krimskiereiland, wat sy strategiese vlootbasis huisves, terugkry. Klaar.

Dieselfde geld vir die res van Oos-Ooskraïne waar referendums tans gehou word om volgens die “internasionale reg” hul selfbeskikking te verkry. Maar sou Rusland daardie reg van sy kultuurgenote probeer afdwing, word hy met sanksies gedreig.

Selfs vir ‘n leek is dit duidelik dat die internasionale reg slegs ‘n handige rasionalisering geword het waarmee moondhede hul selfbelang kan bevorder. Kyk na die VSA se gruwelike skendings van menseregte in die Midde-Ooste en Oos-Europa.

Dit is dus nie selfbeskikking nie, maar selfbedrog om mede-Afrikaners te mislei deur ‘n grondgebied op kultuurhistoriese begronding as ‘n Afrikanervolkstaat te omlyn en dan op die internasionale reg staat te maak om politieke onafhanklikheid te verkry.

Die internasionale reg is tandeloos en skep slegs ‘n morele grondslag vir die selfbeskikkingsgedagte. Selfbeskikking kan slegs deur die mense van ‘n gebied afgedwing word.

Vir langdurige vrede moet selfbeskikking op ‘n meer fundamentele grondslag berus, naamlik die werklikheid van praktiese politiek. Sou dit in belang van ‘n gebied wees om groter selfseggenskap oor eie sake vir sy inwoners te verkry, sal dit logieserwyse kan gebeur.

Dit is waarby die NBR se kantongedagte aansluiting vind. Langdurige stabiliteit en vooruitgang kan nie slegs op die wankelrige beginsel van kultuuridentiteit geskoei word nie, maar moet ook die beginsel van ekonomiese oorlewing en vooruitgang van al die inwoners van ‘n gebied tot gevolg kan hê.

Die kantongedagte kan op ‘n praktiese wyse vrede en voorspoed vir Afrikaners as mede-inwoners van kleiner gebiede op federale gondslag verseker. Dit sal egter nooit ‘n onafhanklike staat vir Afrikaners kan wees nie.

Dit is selfbedrog om selfbeskikking slegs op die teoretiese grondslag van die internasionale reg op te eis.
Daar sal niks van kom nie.

Wit Oktober

By die Rooi Oktober-betoging voor die Uniegebou
By die Rooi Oktober-betoging voor die Uniegebou

deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Die Rooi Oktober-veldtog, ‘n protesaksie van blankes teen die verval in Guptatopie en die diskriminasie wat ons ervaar, het heel voorspelbaar, redelik polemiek veroorsaak. Een bron van dié polemiek was te wagte: ‘n anglofiel uit die noordelike voorstede van Johannesburg was erg opgeklits in die linkse virtuele koerant, The Daily Maverick. Hoe durf wittes rassesolidariteit toon, en kla oor riool in riviere of slaggate in die paaie, het ene Nicky Falkof in haar stuk in The Daily Maverick geweeklaag. (My instinktiewe reaksie was om te sê dat Nicky eerder moet Falk Off as om sulke onnosel vrae te vra.)

‘n Ander bron van bykans histeriese verontwaardiging, is Sipho Hlongwane in Business Day. Hlongwane vind dit “bisar” dat blankes durf aandring op beter openbare dienste en veiligheid. Wat wel uiters vreemd is, is die volgende sinnetjies uit die gifpen van Hlongwane: “Their attitude is one of whites first, with blacks getting whatever they can after that. Whites must be protected and should not die.”

Wel, ja. Ek sou graag na my eie mense se belange wou omsien, en ja, ek wil graag hê dat my gesin veilig moet wees. Ek gaan nie eens poog om te probeer bedink waarom ‘n rubriekskrywer laasgenoemde bisar sou vind nie. Persoonlike veiligheid is immers heel onder aan Maslow se hiërargie van menslike behoeftes; een van die mees basiese menslike bekommernisse.

Dit is eweneens opmerklik dat, alhoewel beide Hlongwane en Falkof gróót probleme met blanke rassesolidariteit het, en voorspelbaar verskriklik skree oor apartheid, hulle nog nooit een enkele woord gerep het oor organisasies soos die Black Management Forum of die Black Lawyers’ Association nie. So ook rep hulle geen woord oor rassistiese, swart-op-wit geweld, of die neo-apartheid en rassissme bekend as regstellende aksie en SEB nie.

Swart rassesolidariteit, swart-op-wit rassisme en selfs swart-op-wit rassistiese geweld is dus skynbaar heeltemal aanvaarbaar in jou beter voorstede van Johannesburg, of in die nuuskantore van Engelse publikasies, maar dieselfde voorreg word nie aan blankes gegun nie, en veral nie as hulle toevallig Afrikaners is nie.

Maar goed; ek kan verstaan dat ‘n RA-rubriekskrywer op anti-blanke rassisme moes staatmaak om sy pos te kon bekom. Ek kan ook amper verstaan waarom ‘n identiteitslose en verwarde anglofiel haar bedreig sou voel deur Afrikaners. Dit moet erg wees om te wonder wie en wat jy nou eintlik is, siende hoe daar nie juis in Guptatopie vir blankes plek is nie.

Wat vir my heelwat vreemder is, is dat daar ook blankes is wat beswaar aanteken teen die Rooi Oktober-veldtog. Een van hierdie blanke beswaarmakers is admiraal-generaal Cor Ehlers, die voorsittter, skriba, militêre bevelvoerder, tesourier en teemaker van die OASE-organisasie. Na die tipiese dwarstrekkerige fatsoen wat helaas so kenmerkend van ons ou volkie is, skryf adm-genl Ehlers die volgende oor die Rooi Oktober-veldtog:

“OASE is onlangs deur sommige Afrikaners kwalik geneem toe ons bestuur aangekondig het dat ons nie aan Sunette Bridges se protesoptog, Red October, op 10 Oktober in Pretoria gaan deelneem nie. Ons redes hiervoor is spesifiek omdat die Red October-inisiatief gebaseer is op ras deurdat daar na die “wit” etniese minderheid verwys word. Wit dui op mense se velkleur, terwyl etnies dui op mense se kultuur en waardestelsel. Laasgenoemde het niks met mense se ras of velkleur te make nie. Daar bestaan ook nie iets soos ‘n “wit etniese minderheid” nie, want die twee terme (ras en etnisiteit) is nie versoenbaar nie.”

Ai, tog. Dat Naspers-agtige politieke korrektheid selfs diegene wat hulself vir ‘n Afrikanervolkstaat kan beywer, so kan maak bokspring! Hoe kan iemand wat ‘n volkstaat wil bekom, nog so verward wees oor wie presies die volk is wat die staat moet bewoon? Uit pure moedeloosheid het ek per epos van adm-genl Ehlers probeer verneem of Allan Boesak dan ook welkom sou wees in OASE se volkstaat, siende hoe Boesak ook Afrikaans praat en ‘n lidmaat van die Susterskerke is, maar ek kon helaas ook nie ‘n reguit ja of nee van adm-genl Ehlers kry nie, en sy reaksie was bloot ‘n spoeg-en-plak van skakels na ‘n aantal VN-publikasie toe.

My boodskap aan almal, ook aan adm-genl Ehlers, is die volgende: Die ANC skroom glad nie om jou as ‘n blanke te klassifiseer nie, en om daardie klassifikasie teen jou te gebruik om rassisme soos RA teenoor jou te pleeg nie. Boere se wit velle is hul uniforms en veroorsaak dat plaasaanvallers hulle teiken. Jimmy Manyi en kie beleef geen oomblik se wroeging om swart rassesolidariteit te pleeg in organisasies soos die Black Lawyers’ Association nie.

Hou dus op om om verskoning te vra vir jou wit vel. Ja, Afrikaners is blankes. Ja, ons is trots op ons kultuur, taal en ook ons Europese herkoms. Ja, blankes hoef niemand om verskoning te vra dat ons na ons volk en ook ons ras se belange wil omsien nie. Wyle Tom Clancy kon net sowel ‘n boek oor Afrikaners geskryf het: The Hunt for White October. Basta dus met kruipery en politieke korrektheid! Gaan neem met trots deel aan die Rooi Oktober-aksies.

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.