Leon Lemmer: Carel Boshoff: apart sonder apartheid

Carel Boshoff (1927-2011) was ‘n sendeling, teologiedosent en die grondlegger van Orania. Hy het lewenslank sy skoonpa, Hendrik Verwoerd (1901-1966), se visie van ‘n gemenebes van onafhanklike, etnies-kulturele state (aanvanklik embrio- of tuislande genoem) in Suider-Afrika nagestreef. Ek gaan die aandag vestig op enkele aspekte wat in sy outobiografie, Dis nou ek, Carel Boshoff (Pretoria: LAPA Uitgewers, 2012, 595p; ook as e-boek beskikbaar) aangeroer word en myns insiens tersaaklik is, bv “Terwyl Verwoerd vanuit ‘n bestaande kulturele en religieuse verskeidenheidsituasie geredeneer het, is [Nelson] Mandela die holis wat uitgaan van die ubuntu-standpunt dat die geheel die ondergeskikte dele karakteriseer, bepaal, omsluit en definieer. Dit is ‘n kommunalistiese idee, gebaseer op ‘n onrealistiese utopie. Die utopiese beeld van die werklikheid oefen voortdurend druk uit om ‘n beter wêreld tot stand te bring. In Afrika het dit tot die teendeel van die bedoelde ideaal gelei, naamlik die opheffing van veelpartydemokrasieë, ‘n eweredige verspreiding van radikale armoede, sentralisasie van mag en van middele, miskenning van die regte van etniese minderhede en les bes, in Suider-Afrika, die verengelsing van die landsadministrasie en die onderwys” (p 199).

Dis_nou_ek_-_Carel_BoshoffMet aanhalings gaan ek sonder veel inmenging Boshoff toelaat om sy standpunt te stel. Boshoff en sy vrou, Anna (1932-2007), was lewenslank ongetwyfeld buitengewoon diensbare, noeste Afrikaners. Ek laat biografiese besonderhede hier egter grootliks agterweë, behalwe waar dit toepaslik is, bv: “Ek het grootgeword met ‘n liefde vir ons volk, ons land en ons taal, maar ook vir ons veld, ons bome en vir die stilte en eensaamheid van die natuur” (60). Boshoff het in ‘n plaasmilieu opgegroei. “Mens het respek vir jou osse* gehad” (69). “Daar is baie op hulle staatgemaak, op die agterosse se krag en op die voorosse se intelligensie” (68). In die Afrikanerpolitiek het hierdie ossebeeld in die na-Verwoerd-era ontnugterend skeef geloop. Die agterosse het hulle krag verloor en die voorosse was hulle intelligensie kwyt. Boshoff was lief vir perde en perdry. “Om die Waterberge tussen die twee ore van ‘n perd deur te sien, is die gelukkigste ervaring wat ‘n natuurliefhebber kan begeer” (290).

[* Tweedrag is kenmerkend van die Afrikanergeskiedenis. Oor die herdenking van die Groot Trek in 1988 het die trekleier, Mossie van den Berg, gesê “hoe langer hy met sy trekgenote getrek het, hoe liewer het hy vir sy osse geword” (348). Tydens die 1938-trek het NJ van der Merwe Afrikaner-eenheid bepleit: “Die Afrikaners moet mekaar weer vind, want hulle het een afkoms, een taal, een geloof, een hoop, een toekoms” (353). In 1988 het Boshoff gesê: “Die beginselideaal waarmee ons volk weer verenig moet word, lê diep in die sin en betekenis van die Groot Trek bewaar: dit was die doel om as volk vry te wees, onder sy eie owerheid te staan en sy eie vaderland te bewoon. Wat ons minder as dit het, maak ons minder as ‘n volk. Alleen ‘n volk mag aanspraak maak op ‘n eie vaderland en staatkundige selfbeskikking om sy eie kultuurlewe te bewaar” (354).]

Ek kan die versoeking nie weerstaan nie om ‘n insident uit die goeie ou dae aan te haal waarin Boshoff se evangelis, Seth Mofutsanyane, beland het. “Eendag het hy onwetend op ‘n boer se plaas beland en die boer het op hom afgekom. ‘Wie se kaffer is jy?’ wou die boer kwaai weet. ‘God se kaffer, my baas,’ het Seth verskrik geantwoord” (146). Interessant is die feit dat die swart woongebiede (167) en die kampongs vir trekarbeiders (168) aan die Rand destyds in taalsones ingedeel is. Ook dat dit vir ‘n sendeling onwenslik is om gesamentlike naweekuitstappies vir albei geslagte swartes te onderneem. “Gesamentlike kampe vir seuns en dogters was ‘n hopelose mislukking en ons het gou daarvan afgesien” (172). Ek hou van Boshoff se benadering tot preke: “Ek stel dit steeds as ‘n maatstaf vir myself om nie in die preek te sê wat ‘n lidmaat self kon uitgedink het nie” (394).

In sy teks rol Boshoff kosbare pêrels uit. “‘n Onderwyser moet gevorm word en nie net opgelei word nie … Hulle word nie verniet deur GA Watermeyer [1917-1972] die ‘gietvorms van ons jeug’ genoem nie” (187). Boshoff se slagspreuk was: “Elke geslag neem verantwoordelikheid vir sy eie tyd” (338) of “Elke geslag is verantwoordelik vir sy eie tyd” (487). Hy het groot waarde geheg aan die volgende woorde van Hendrik Verwoerd, “‘n Volk skep sy eie toekoms” (487) en dié van JD Kestell, “‘n Volk red homself” (476, 487). Boshoff het graag gedigte geskryf. In een van hulle kom die volgende reëls voor: “om eiesoortig, trots, weer Boer te wees … jou erfdeel mag nie onderhandel word … Trek koersvas na jou eie Afrika” (355).

Boshoff skryf dat hy met FW de Klerk gebots het “oor die oorgawe van mag sonder dat iets vir die Afrikaner uitgehou is” (14). “Dis merkwaardig dat geen objektiewe beoordelaar geglo het dat die Afrikaner sy selfbeskikking so roemloos aan die ANC sou afstaan nie” (261). Dit het gebeur weens onbekwame onderhandelaars. “Die vervanging van dr Gerrit Viljoen met mnr Roelf Meyer as minister van staatkundige ontwikkeling en hoofonderhandelaar was ‘n ramp” (429). Later noem Boshoff Meyer “die nikswerd onderhandelaar” (434). Reeds in 1985 het Boshoff helder voorsien wat in 1990/1994 gaan gebeur toe hy verwys het na “die gruwelikste uitverkoping van Afrikanerselfbeskikking” (563). “Die oorheersing van minderheidsgroepe deur ‘n meerderheid, met gepaardgaande ontwrigting van hulle lewensomstandighede en selfs die bedreiging van hulle voortbestaan, kan net so min tot vrede lei as wat die oorheersing van meerderhede deur ‘n minderheid daartoe kan lei” (239).

FW de Klerk se standpunt was “dat die onderhandelinge op die veelpartykonferensie in Kemptonpark die Afrikaner se toekoms sal waarborg by wyse van ‘n regering van nasionale eenheid, wigte en teenwigte en die beskerming van minderhede. Hy het hoegenaamd nie die behoefte aan so ingrypende saak soos ‘n volkstaat vir Afrikaners gesien nie en dit was in elk geval volgens hom nie haalbaar nie. Dr [Andries] Treurnicht se reaksie op die volkstaatvoorstelle was dat die Afrikanervolk darem ‘n plaas en nie net ‘n plot wil hê nie, en dr [Ferdie] Hartzenberg het die ‘posseëlvolkstaat’ verwerp. My pleidooie dat daar ten minste iets vir die Afrikaner uitgehou moes word, is in die wind geslaan” (252). Uiteindelik was daar in werklikheid geen magsdeling nie, wel algehele magsoorgawe. “The new constitution contains no provision for the continuation of any form of joint decision making in the executive branch of government” (433).

“Die kernvraag het geword: Hoe oorleef die Afrikanervolk in Afrika?” (252). Vir ‘n minderheidsgroep is daar drie moontlikhede: verswelging, uitdrywing of uitwissing (252,482). Diegene wat selfbeskikking nie verlore wil laat gaan nie, koester die ideaal van ‘n blanke tuisland. “Dan sal die wit mense of die Afrikaners opnuut moet besluit teen watter koste en langs watter weë hulle ‘n selfstandige toekoms kan verwesenlik … die tuislandbeleid het volkstaatideaal geword” (253). “Dat ‘n vaderland waarin hulle die onbetwiste meerderheid uitmaak nie aan wit mense gegun word nie, lyk onredelik en onaanvaarbaar … ‘n Swart volkstaat kan nie reg wees en ‘n blanke volkstaat verkeerd nie” (258). Vir Boshoff was die keerpunt die 1983-grondwet met sy driekamerparlement. “Politieke integrasie wat trapsgewyse ingevoer word, kan nie op diskriminerende wyse toegepas word nie; uiteindelik sal dit volledig voltrek word” (273). “Oor ‘n kort tyd van slegs sowat tien jaar het een en dieselfde owerheid [die Nasionale Party-regering] afsonderlike ontwikkeling laat vaar en met sy teenoorgestelde, integrasie, vervang” (254).

“Deur die denkrigting van een gemengde samelewing te aanvaar, het die owerheid alle moontlike uitweë vir die Afrikaner om swart oorheersing te vermy, toegekap. In een gemengde samelewing waarvan die wit deel klein was en stadig gegroei het, terwyl die swart deel groot was en vinnig gegroei het, kon wit mense uiteraard nie in die aanvraag na geskoolde werkers voorsien nie en ook nie die stygende aantal swart mense onbepaald doeltreffend bestuur nie. Om die lewenspeil, ook van wit mense, op ‘n manier te probeer handhaaf, moes swartes in groot getalle opgelei en alle beroepe vir hulle oopgestel word. Volslae ekonomiese integrasie was dus onvermydelik in ‘n eenheidstaat. Die moontlike keuse van die Afrikaner om selfstandig te word en sy eie staat in stand te hou, is so toegestop. Die wit mense is met geen ander politieke keuse gelaat as integrasie en swart oorheersing nie. Die regering het al hierdie toegewings gemaak en tog geglo dat hulle wit gesag met mag kon handhaaf” (257).

Oor die sug na eenheid by die vier NG kerke het ek voorheen geskryf dat skynbaar niemand kommer oor die implikasies vir Afrikaans uitspreek nie. As helder denker het Boshoff wel voorsien dat Engels die lingua franca van so ‘n saamgesmelte kerkgenootskap sal wees (14, 538). Oor ‘n volkstaat en kerkeenheid verwys Boshoff na God wat “die mense in volke opgedeel” het (Deuteronomium 32:8 en Handelinge 17:26; p 525) en “Eenheid en verskeidenheid uiteraard in die Bybel geleer word, maar dan tog nooit as gelyke groothede nie” (231, 515). “Prinsipieel moet aangevoer word dat die kerk nie geslote kan wees nie, maar dat die kerk ook nie ‘n agent vir ‘n bepaalde [politieke] ideologie gemaak mag word nie. En laat niemand ontken dat nasiebou en transformasie ook ‘n ideologie is nie” (230).

Orania, wat in 1990 gestig en in 1991 amptelik geopen is, word met Boshoff geassosieer. Hy het hom in 1993 daar gevestig. Hy verskaf die volgende motivering vir Orania. “My oordeel was steeds dat alle instellings in ‘n bepaalde grondgebied met ‘n oorweldigende meerderheidsbevolking uiteindelik die aard van daardie bevolking aanneem,* of mettertyd in praktiese of prinsipiële dilemmas beland. Sou ‘n kultuurgemeenskap vrees dat hy onder bepaalde omstandighede verswelg kan word, lê die oplossing nie in die isolasie van daardie gemeenskap nie, maar in die skep van ‘n eie lewensruimte waar hy sy eie instellings skep en enige besoeker of tydelike inwoner kan akkommodeer sonder vrees om verswelg te word … Daar is geen rede om morele of godsdienstige wroegings te hê as maatreëls getref word wat op die behoud van volksidentiteit gerig is nie, behalwe as dit kwetsend of diskriminerend is, of aan ‘n medegelowige aanstoot gee. Die goue reël van jou naaste lief te hê soos jouself, en aan ander te doen soos jy wil hê aan jou gedoen moet word, is ook hier van toepassing” (229).

[* Dink aan Max du Preez se wens dat Afrikanerstudente hulle soos opstandige, nie-studerende swart studente moet gedra.]

By al die blanke staatshoofde sedert Verwoerd, asook by ander politieke leiers, het Boshoff gepleit: “Laat ons liewer ons volk tot die aanvaarding van ‘n gereduseerde bestaan lei as om te eis wat ons nie kan volhou nie en ons uiteindelik alles verloor” (251). Reeds in 1984 het Boshoff gesê: “Geen volk is sonder vaderland denkbaar nie en wat is die werklikheid van ons vaderland vandag? Die ‘blanke’ land het ‘n mite geword. Die blanke is besig om ‘n nietige minderheid in sy ‘eie’ land te word sodat dit vir hom onmoontlik geword het om dit te behou” (317-318). Boshoff se ideaal was dat by Verwoerd se visie van afsonderlike ontwikkeling gehou moet word. “Afsonderlike ontwikkeling beteken dat volke langs mekaar soewerein bestaan, nie deurmekaar nie” (573). “Dit sou beteken dat volkere soewerein langs mekaar bestaan, nie deurmekaar nie, en dat die Afrikaner en ander wittes wat saam met hom ‘n staat wou stig op ‘n eie grondgebied geregtig is … Die swart volke het ook nie op die hele land aanspraak nie en moes langs die Afrikaner bestaan, pleks van bo-oor hom. Goeie gesindheid kan nie behou word deurdat die een volk die ander verkneg nie” (341). In 1985 het Boshoff gesê: “Die swart volke het geen reg of aanspraak op die hele Afrika nie. Hulle het [Suid-]Afrika ook maar stukgewys van die noorde af beset soos die Afrikaner dit van die suide af gedoen het. Daar bestaan geen ander heenkome vir Afrikaners as in Afrika nie, daarom moet die ondergeskikte swart volke langs die Afrikaner vry word en langs hom bestaan pleks van bo-oor hom” (574).

“In Orania word geen volksvreemde arbeid in diens geneem nie” (389). “As die eis van volkseie arbeid laat vaar word, stort enige vooruitsig op selfbeskikking in duie” (441). Enigeen is as ‘n dagbesoeker welkom. Die NG kerkdienste is oop vir enigeen. Die Volkskool van Orania neem buite Orania aan gemengde sport deel (408). Die huidige politieke opset word as die werklikheid aanvaar in soverre dit buite Orania bestaan. “Die werklikheid is dat Suid-Afrika nie weer tot wit leierskap beweeg sal word nie en dat ‘n nierassige owerheid net die weelde van swart politiek is wat aan die wittes sê: ‘Aanvaar wat ons julle aanbied of kry julle ry’… Regstelling in die samelewing en in al sy instellings maak van die Afrikaner ‘n randverskynsel wie se belange in die swart meerderheid se behoeftes verdwyn” (475). Binne Orania word ‘n volkseie orde gekoester. Anders as aanvanklik na sy stigting het die Vryheidsfront Plus “‘n ordebevestigende party geword” (451) wat sy ywer vir die volkstaat verloor het (450). “Eerder as om ordebevestigend teenoor [die nuwe] Suid-Afrika te handel, moet ‘n nuwe orde vir Afrikaners parallel met die Republiek van Suid-Afrika geskep word” (483).

Oor die Orania-plan was Boshoff realisties. “Niemand sou hom gekies het as daar ‘n alternatief was nie, maar dit is die enigste plan” (444) en “In alle beskeidenheid word die Orania-plan aangebied, alleen omdat daar geen alternatief gevind kan word nie” (479). Die idee is dat Orania die eerste groeipunt vir ‘n Afrikaner-volkstaat moet wees (491) en dat dit deur ander soortgelyke groeipunte in die omgewing gevolg word, “‘n pêrelstring* van dorpe” (481). “Ek is aangegryp deur die koersloosheid, die verval, die onvryheid en ook die verarming van die Afrikanervolk. Onderlinge verbondenheid tussen Afrikaners het ná 1994 se mags- en statusverlies verlore gegaan en het hoogstens Afrikaans as gemeenskaplike band behou” (473). Dit is waarom ek eerder Afrikaans as godsdiens as die onderskeidende kenmerk van Afrikaners beskou. Protestantse godsdiens plaas Afrikaners in ‘n veel wyer (selfs wêreld-) konteks. Onder Afrikaners heers daar godsdienstige verdeeldheid. In Orania is aanvanklik gepoog om al die godsdienstige groeperinge in gemeenskaplike kerkdienste byeen te bring, maar daar het spoedig ‘n einde aan hierdie eksperiment gekom. As NG Kerk-lidmaat het Boshoff teleurstellings met sy kerkgenootskap ervaar maar nogtans tot sy dood lojaal daaraan gebly. “Die NG Kerk word saam met die Afrikaner-Broederbond en die Nasionale Party as die drie pilare van die vervalle Afrikanerskap beskou” (474). “Die NG Kerk moet ophou om skaam te wees om Christus se kerk vir die Afrikanervolk te wees” (477).

[* Hierdie idee lewe. Onlangs is berig dat Dick Davel 3 000 hektaar naby die Weskus, tussen Lutzville en Nuwerus, teen R10 000 per hektaar as nog ‘n Afrikanertuiste wil bemark (Rapport, 13 deser, p 9).]

Boshoff: “‘n Gees van verset wat in ‘n geestelike herlewing kan uitloop, kan slaag as dit diepte het, al is dit nie wyd nie … Die kern van ‘n volk is sy kultuur, tradisie en geskiedenis … Ons moet daadwerklik begin om Afrikanerkultuur op sy suiwerste en diepste te herontdek en te anker en uit te bou tot ‘n meevoerende krag wat ons in beheer van ons lot en toekoms sal plaas” (576). “Die Afrikanervolk sal … weer nuut gebore moet word om te kan oorleef” (279). Orania, wat eerder ‘n tuiste of tuisland as ‘n volkstaat is, is ‘n beskeie maar egte uitlewing van die ideaal wat Boshoff reeds in 1984 gestel het: “Die Afrikaner se reg om vry en blank te wees in Afrika en in sy eie grondgebied homself te regeer” (547).

Naskrif: Verwysings na Orania het in die taalstryd aan die Universiteit Stellenbosch opgeduik. ‘n Vorige rektor, Chris Brink, het diegene wat die behoud van die US as ‘n Afrikaanse universiteit voorgestaan het “Neo-Afrikaners” genoem, wat ‘n “volkstaat van die gees” in die vorm van ‘n “kulturele Orania” wil skep. ‘n Vorige US-raadslid, Ruda Landman, het so ‘n universiteit in 2006 ‘n “taal-Orania” genoem (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, 2013, p 136). Die giftigste anti-Afrikaans- en anti-Afrikanergesindheid het destyds van ‘n ander vorige US-raadslid, die bruin Francois Groepe, gekom. Hy is tans ‘n adjunk-goewerneur van die Reserwebank, maar was toe in diens van Naspers. Hy het na die US as ‘n “neo-Orania-enklawe” verwys (138) en die pro-Afrikaanse groep van “versluierde rassisme en diskriminasie teen niewittes beskuldig … Groepe se brief het getoon dat die rassisme nie aan die pro-Afrikaanse groep se kant was nie, maar aan die ander kant” (171). In 2009 was die bewoording van Groepe se aanval op die “taalstryders” in die US-raad so ongemanierd dat vyf raadslede uit protes uit die vergadering gestap het (173).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.