Leon Lemmer: Cor Ehlers oor Afrikaner-selfbeskikking

Deel op

Cor Ehlers (gebore in 1958) is geen onbekende op Praag nie. Op 11 Julie 2017 het hy Christi van der Westerhuizen in besonderhede geantwoord oor haar kommentaar op Helen Zille se uitlatings oor kolonialisme. 16 lesers het daarop gereageer. Op 13 Mei 2014 het Johann Wingard verwys na wat Ehlers, in antwoord op Christo Landman se standpunt, oor regsaspekte van selfbeskikking geskryf het. Daar was 128 reaksies. Op 13 Oktober 2013 is Ehlers deur Manfred Delport gekritiseer omdat hy eerder kultuur as velkleur as eie aan Afrikaners beskou. Hierdie keer was daar 240 reaksies. Wanneer ek skryf, is daar baie minder reaksies. Is dit omdat my uitlatings bv minder omstrede of interessant is, of omdat daar minder lesers is, of omdat daar minder belangstelling is? Twee dinge is duidelik: Ehlers besin reeds geruime tyd oor Afrikaner-selfbeskikking en daar word nie sonder meer (oor alles) met hom saamgestem nie.

Ehlers woon in die omgewing van Bethal en is ‘n sakeman en boer. Sedert 2011 is hy in ‘n leidende hoedanigheid by die drukgroep OASE (Onafhanklike Afrikaner-selfbeskikkingsekspedisie) betrokke. Sy dogter is ‘n regsgeleerde en ondersteun hom in sy studie van die Suid-Afrikaanse reg (bv die Grondwet) en internasionale reg. Op 2 Oktober 2011 het Dan Roodt ‘n raak karakterisering van OASE en ander Afrikaner-instansies op Praag verskaf. Daar was geen leserreaksie nie terwyl die uitstekende teks ‘n herlees waardig is. Ehlers het onlangs die volgende boek gepubliseer: ‘n Heimat vir Afrikaners: Die tiende provinsie (2019, 301p; Amazon Kindle $9,20). Die teks is ook gratis op die internet beskikbaar. Die Kindle-weergawe is nie sonder gebreke nie. Die voorwoord is gedateer “16 Desember 2018 – Geloftedag” (312), maar daar is ook inligting wat later bygewerk is, bv die “Maart 2019”-aanhaling (1425). Daar is baie inligting in die boek wat aan ingeligte lesers bekend is, maar dit is goed om nogeens kennis te neem van bv die agteruitgang wat sedert die dwase 1994-magsoorgawe plaasgevind het. Verval in die dorp Bethal word met foto’s geïllustreer. Dit behoort vir iedere nie-verloopte Afrikaner ontstellend te wees.

Wat ons hier mee te make het, is ‘n Afrikaner wat ‘n dekade lank ernstig oor Afrikaner-selfbeskikking besin het. Nieteenstaande ‘n ernstige hartaanval in 2016 (316), het Ehlers hom die moeite getroos om die teks, wat oor jare ontstaan het, af te rond en as ‘n boek te publiseer. “Die boek poog om ‘n volhoubare oplossing voor te stel en bied ‘n padkaart vir Afrikaners se voortbestaan as ‘n Westerse volk” (1). Ten spyte van al die bravade by my en Ehlers, het sy boek by my tuisgebring hoe klein die Afrikanerdom getalsgewys is. Dieselfde is ook (in ‘n bietjie mindere mate) waar van die blankedom in Suid-Afrika. Verswelging is ons voorland tensy ons in ‘n tuisland laer trek. Daarom is Afrikaner-eenheid van deurslaggewende belang terwyl ons ongelukkig juis daarvoor bekend is dat ons nie eensgesind is nie. Ek aanvaar Ehlers se bona fides. Maar dit onthef my nie van die verpligting nie om aan te toon, nie net waaroor ek met Ehlers staamstem nie, maar ook waaroor ek met hom verskil.

In baie gevalle toon Ehlers goeie insig. “Die Afrikaner Broederbond het as dinkskrum van die NP al in 1986 besluit dat Suid-Afrika ‘n multikulturele eenheidstaat sou word met ‘n swart staatspresident” (1035). Die vraag wat aan die blanke kiesers in die 1992-referendum gestel is, word deur Ehlers dalk te sagkens “misleidend” genoem (247). Daar is verraderlik gehandel. “Op ‘n vraag destyds aan De Klerk oor waar die NP se onderhandelaars staan ten opsigte van selfbeskikking vir wittes en meer spesifiek vir Afrikaners, het hy soos volg geantwoord: ‘Ons doen alles in ons vermoë om enige blanke vrese te besweer. U het niks te vrese van die Nuwe Suid-Afrika nie. Ons te onderhandele wigte en teenwigte staan steeds vas soos die Rots van Gibraltar.’ En nou, 25 jaar later, weet ons dat daar maar min tereggekom het van De Klerk se ‘wigte en teenwigte'” (1046). “Die referendum van 1992 was duidelik net nog ‘n voorbeeld van politieke vuilspel” (1058). “Ons volk se politieke vryheid … [is] in 1994 op ‘n skinkbord weggegee … aan ‘n spul plunderaars en kommuniste” (321). “Afrikaners sit vandag opgeskeep met die gebakte pere van De Klerk en sy onderhandelingspan se manewales” (403). “Dit is Afrikaners se politieke onmag wat veroorsaak dat hulle sedert 1994 nie in beheer is van hul eie mense se veiligheid nie” (1130). John Kane-Berman skryf: “The police are better at implementing their employment equity targets than in combating crime” (1194).

“Demokratiese verkiesings in Suid-Afrika is bloot ‘n rasgebaseerde sensusopname” (1130). “Die ANC geniet die steun van nagenoeg tweederdes van stemgeregtigdes in Suid-Afrika en meer as 96% hiervan is swartes. Dit bring mee dat wit mense, veral Afrikaners wat minder as 6% van die land se bevolking uitmaak, haas geen politieke invloed in die land kan uitoefen nie” (1135). “Afrikaners is polities ontmagtig omdat grondgebied nêrens in Suid-Afrika só afgebaken is dat hulle die meerderheid in ‘n spesifieke deel van die land vorm waar hulle ten minste tot op provinsiale vlak groepsoutonomie geniet nie. Die implikasie hiervan is dat Afrikaners hul aanspraak op selfbeskikking ontsê word terwyl die swart meerderheidsregering skuil agter demokratiese geregtigheid” (1587). “Beperkte vorms van groepsoutonomie [sal] weinig verbetering bring aan Afrikaners se lot onder ‘n swart meerderheidsregering” (1847).

“Wittes probeer om binne die DA met die steun van bruin mense se getalle nog ‘n mate van politieke beheer oor die Wes-Kaap uit te oefen, maar dit is nie volhoubaar nie” (1146). Op die lange duur sal die getalsoorwig van swartes, dus verswelging, oral in die eenheidstaat Suid-Afrika in alle verkiesings deurslaggewend wees. Desnieteenstaande is daar blankes “wat valse hoop koester dat die nuwe president, Cyril Ramaphosa, die land sal red van die rand van die huidige afgrond waarvoor dit tans staan” (1547). “Navorsing bewys dat waar ‘n minderheid deur ‘n meerderheid onderdruk word, lede van die minderheid verkies om in ontkenning te leef wat betref die werklikheid, omdat dit hulle beter laat ‘cope’ [opgewasse wees] in hulle daaglikse lewe” (1714).

“Ten spyte van die feit dat apartheid in 1994 finaal afgeskaf is, word die land se burgers steeds amptelik volgens ras geklassifiseer deur die regering, naamlik: Swartes, Wittes, Kleurlinge en mense van Asiatiese afkoms” (1058). “Diskriminerende wetgewing soos Regstellende Aksie, Swart Ekonomiese Bemagtiging en die regering se voorgenome onteiening van wit boere se plase sonder enige vergoeding lei daartoe dat die Afrikaner-minderheid stelselmatig verarm” (961). Daar gaan “al hoe meer swart stemme op vir Marxisme en staatsbeheer oor alles, waar privaat besit geen bestaansreg het nie. Swartes was vir eeue lank die grootste slagoffers van rassediskriminasie in Suid-Afrika, maar sedert 1994 word hulle op wetlike gronde bevoordeel as gevolg van hul velkleur. Hulle is die grootste groep bevoorregtes wat betref wetgewing, wat op niks anders neerkom as rassediskriminasie nie” (967).

“Nêrens elders in die wêreld word ‘n meerderheid in ‘n land so op die wetboek bevoordeel ten koste van ‘n minderheid nie. Die ANC sorg daarvoor dat daar meer as 100 wette is wat sedert 1994 deur die parlement gepromulgeer is en wat teen wit mense in Suid-Afrika diskrimineer op grond van hul velkleur” (1597). Afrikaners het “sedert 1994 die slagoffers geword van ‘n vyandige regering en van ander lede van die samelewing wat daartoe lei dat Afrikaners niks anders is as tweederangse burgers van die land nie” (1581). Hoewel die ANC-regime roem op bv nie-rassisme en nie-seksisme en die gelykheid van alle inwoners, weet die blankes dat dit nie die geval is nie.

“Daar is ‘n goed georkestreerde poging in Suid-Afrika aan die gang wat Afrikaner-identiteit ondermyn en aftakel. Die gevolg hiervan is dat sommige Afrikaners hulleself vandag eerder sien as Suid-Afrikaners. Die ironie is dat Afrikaners wat taal, kultuur, waardes en norme betref totaal verskil van die meeste ander Suid-Afrikaners” (420). “Vandag se Afrikaners handhaaf ‘n duidelik herkenbare Westerse kulturele identiteit” (841). “Dit is nie net die ANC en hul bondgenote wat poog om Afrikaner-identiteit te vernietig nie. Selfs Afrikaanse dagblaaie, tydskrifte en KykNet dien dikwels as mediakanale waarmee Afrikaners onbewustelik vervreem word van hul volksidentiteit. Sommige tersiêre instellings werk ook saam aan hierdie proses van kulturele aftakeling” (425). “Die stelselmatige en voortdurende sosiale marginalisering, kulturele aftakeling en ekonomiese ontmagtiging wat Afrikaners sedert 1994 in Suid-Afrika ondergaan, is niks anders as menseregtevergrype nie” (430). Dit is inderdaad verontmensliking, soos die ANC en sy meelopers so graag oor apartheid beweer.

Hierbo het ek verwys na ‘n “tuisland”. Ek gebruik dit as ‘n sinoniem vir ‘n “volkstaat”, dus ‘n plek waar die Afrikanervolk tuis sal voel. Ehlers skryf egter: “Die konsep van ‘n volkstaat, soos in die verlede voorgehou aan Afrikaners, is lankal uitgedien” (508). Waarteen Ehlers dit het, is dat die indruk gewek kan word “dat OASE ‘n regse organisasie is wat uitgediende konsepte propageer” (508). Dit blyk dat Ehlers, met die oog op internasionale erkenning, wil wegkom van ras en kleur en slegs kultuur/lewenswyse as dié onderskeidende kenmerk van Afrikaners wil erken. “Afrikaners wat glo dat hulle ‘n ‘volkstaat’ op grond van hul ras, dws as ‘blankes’, tot stand kan bring, leef in ‘n droomwêreld. So iets druis in teen Suid-Afrika se grondwet en teen internasionale regsbeginsels” (991). “Dit is juis Afrikaners se kulturele identiteit as volk wat vir hulle aanspraak bied op selfbeskikking en nie die feit dat hulle as wit geklassifiseer word nie” (986).

Ehlers se beswaar teen die term “volkstaat” en sy onderbeklemtoning van velkleur kan as taktiese skuiwe beskou word. Maar hy verwys telkens na Afrikaners as ‘n “volk”. As daar ‘n spesiale gebied vir hulle geskep word, kan dit dus ‘n “volkstaat” genoem word. As dit ‘n plek is waar Afrikaners tuis voel, kan dit ‘n “tuisland” genoem word. Ehlers se voorkeurfrase is egter “tiende provinsie”. Een van die redes hiervoor, soos hier onder blyk, is dat hierdie voorgestelde provinsie steeds met ‘n potpourri van rasse en etnisiteite gaan sit, al hoop hy op ‘n (uiteindelike, dalk kortstondige) Afrikaner meerderheid. Daar is ‘n vraag wat hom bly voordoen: Gaan al die moeite die moeite werd wees?

“Tensy Afrikaners territoriale selfbeskikking geniet, sal hul Westerse sosiale, kulturele en ekonomiese strewes altyd onder ernstige druk wees in ‘n multikulturele demokrasie waar die oorgrote meerderheid van die bevolking Afrikakultuur en -waardestelsels aankleef” (1146). “Die transformasie wat Suid-Afrika se samelewing onder ANC-bewind ondergaan, het duidelik tot gevolg dat die wil van die swart meerderheid afgedwing word op almal in die land – ook wat betref die howe en grondwetlike sake” (1815). Gedwonge rasse-integrasie is oral in die nuwe Suid-Afrika aan die orde van die dag. In die United Nations Declaration on the Rights of Indigenous Peoples staan: “States shall provide effective mechanisms for prevention of, and redress for (2035) … any form of forced assimilation or integration” (2039). Waarom word toegelaat dat die ANC-regime hiermee wegkom? “Daar is eenvoudig geen ander uitweg as territoriale selfbeskikking nie” (1570).

Afrikaners word daaraan gekenmerk dat hulle, naas ‘n eie kultuur, aan die blanke ras behoort. Dit beteken dat Afrikaners deel is van ‘n groep wat al eeue lank uitmuntend presteer. Volgens Ehlers is daar nie ‘n wit nasie in Suid-Afrika nie. Alle Suid-Afrikaners vorm die nasie (984), ‘n uitspraak wat meer optimisties is as die ANC-regime, wat nog bou aan die nasie, dus na groter eensgesindheid en eendersheid streef. Afrikaners en Engelssprekende blankes vorm nie ‘n eenheid wat sodanig is dat hulle ‘n blanke nasie of volk genoem kan word nie. Myns insiens is ras ‘n baie belangrike saambindende faktor, by uitstek in die nuwe Suid-Afrika waar alle blankes die slagoffers van blatante rassediskriminasie is. Maar Ehlers se standpunt is dat ras nie ‘n norm is op grond waarvan mense internasionale goedkeuring vir selfbeskikking kan kry nie (991). Hy meen ook dat ras/kleur aanvanklik nie ‘n (groot) rol aan die Kaap gespeel het nie: “Die eerste gedokumenteerde voorvalle van rassisme [aan die Kaap] kom eers in die 1780’s voor. Eers van die 1790’s kom die term blanke in gebruik en dan is dit besoekende Europese amptenare wat die voortou neem” (819).

Ek vind dit bedroewend dat Ehlers, wat reeds op Praag (soos hierbo aangedui) gepubliseer het, nêrens erkenning aan hierdie instansie gee nie terwyl dit duidelik is dat sy mening, bv oor Wannie Carstens, deur skrywes op Praag beïnvloed is, bv “dat die boek waarop Carstens hom so roem [Die storie van Afrikaans] vol slordighede en feitefoute is” (866). Hennie van Coller se resensie, wat tot soortgelyke gevolgtrekkings kom (LitNet 8.01.2020), is lank ná die verskyning van Ehlers se boek gepubliseer. “Die politiek korrekte houding van sommige Afrikaner-akademici soos prof Wannie Carstens, afgetrede hoof [voorsitter] van die Afrikaanse Taalraad, doen taalwetenskap ‘n onreg aan. Sy benadering getuig van oordrewe politieke korrektheid waar die kind saam met die badwater uitgegooi word” (846). Ehlers het ‘n meer korrekte siening van Afrikaans as Carstens, bv dat “Afrikaans uit 17de-eeuse Nederlands [Hollands] ontwikkel [het]. Onder Afrikaners se politieke beheer het Afrikaans ontwikkel tot ‘n internasionaal erkende taal tot op die hoogste akademiese vlak” (933). Hy noem ook dat “daar baie bruines is wat verkies om Engels te praat” (933). “Dat Afrikaans as taal onder ‘n vyandiggesinde ANC-regering verontregting ondergaan, is nie te betwyfel nie” (1736).

Ehlers distansieer hom openlik van die regse politiek, skynbaar veral in die hoop dat dit sy voorgestelde Afrikaner-tuisland internasionaal aanvaarbaar sal maak. “Deur telkens te versplinter in klein regse en verregse partye en groepies word die Afrikanerstem net verder verdeel en versterk dit die hande van Afrikaners se vyande” (3331). “Dit is net die ANC, hul kommunistiese bondgenote en ‘n klompie ultraregse wittes wat nog vasklou aan apartheid. Die ANC se beleid van transformasie, wat op niks anders neerkom as afrikanisering (‘indigenisation’) van die samelewing nie, veroorsaak dat Afrikaners sosiaal gemarginaliseer, kultureel afgetakel en ekonomies ontmagtig word; dit is veral as gevolg van die feit dat Afrikaners as ‘Wittes’ geklassifiseer word” (1078). Sou die ANC minder vyandig gesind wees as Afrikaners hulle kultuur (bv Afrikaanssprekendheid) pleks van blankheid as hulle onderskeidende kenmerk voorstoot? Ek dink nie so nie. Internasionaal dalk wel, maar in die praktyk ook onwaarskynlik.

Hy is krities oor AfriForum omdat daardie instansie bv aanvoer “dat Afrikaners nie reg is vir selfbeskikking nie. Dit is verbasend om te sien hoedat sekere Afrikaner-belangegroepe bly vasklou aan die reënboogmentaliteit wat deur De Klerk en sy span op Afrikaners afgedwing is” (518). “Daar is mense wat aanvoer dat Solidariteit Beweging en sy vertakkinge, soos AfriForum, grootliks as besighede met ‘n winsmotief bedryf word en dat die belange van Afrikaners nie die organisasie se hoofdoel is nie. Dit verklaar moontlik die organisasie se anti-selfbeskikkingshouding, behalwe dan wat betref die Orania-inisiatief waar senior bestuur van Solidariteit Beweging na bewering geld belê het” (1810). Later noem hy Solidariteit ‘n multikulturele organisasie “wat nie spesifiek vir Afrikaners selfbeskikking bepleit nie” (2854).

Oor die Vryheidsfront Plus, wat hom deesdae as pleitsbesorger vir alle minderheidsgroepe voordoen, is Ehlers meer positief omdat hierdie party selfbeskikking vir al die plaaslike minderheidsgroepe voorstaan (523). Die VF Plus word beskryf as “Afrikaners se amptelike verteenwoordiger by die internasionale liggaam, Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO)” (532). “OASE handhaaf sedert 2014 ‘n mondelinge samewerkingsooreenkoms met die VF Plus waarvolgens die twee organisasies mekaar nie in die openbaar ondermyn nie” (539). “Totdat daar … ‘n politieke party of vryheidsbeweging na vore tree wat openlik selfbeskikking vir Afrikaners bepleit, met bewese steun wat groter is as dié van VF Plus … sal OASE voortgaan om VF Plus te steun en om samewerking met die party te bevorder” (550).

“Voorts het VF Plus se voorganger, die Vryheidsfront, onder leierskap van generaal [Constand] Viljoen, in aanloop tot die demokratiese verkiesing van [23 April] 1994 ‘n regsgeldige akkoord met die ANC gesluit vir ‘n outonome gebied vir Afrikaners” (539). Hieraan moet myns insiens liefs geen waarde geheg word nie. Dit was ‘n duidelike poging van die ANC om Afrikanergemoedere vóór die 1994-verkiesing te sus. Ehlers erken: “Oor die moontlike instelling van territoriale selfbeskikking vir Afrikaners is daar egter in die finale Grondwet van 1996 niks te vinde nie” (1889). Verskeie akkoorde is gedurende 1990/94 deur die NP met die ANC aangegaan, bv dat geweld opgeskort sou word. In werklikheid het die ANC die gewapende stryd met groter oorgawe voortgesit. Geen waarde behoort aan ANC-beloftes geheg te word nie.

Volgens die Menseregtekommissie is 21 000 mense van 1948 tot 1994, dus tydens apartheid, in politieke geweld in Suid-Afrika dood, “waarvan 14 000 dood is tydens die oorgangstydperk tussen 1990 en 1994 … Van alle sterfgevalle is die oorgrote meerderheid (92%) voorvalle waar swart mense ander swart mense doodgemaak het, soos byvoorbeeld tydens faksiegevegte” (1108); dus nie ter bestryding van apartheid nie, maar veel eerder om te probeer verseker dat die ANC die 1994-verkiesing wen. Dít laat geen twyfel oor die fundamentele boosheid van die ANC nie. Sedert 1994 is “Afrikaners as etniese groep, per kapita van die bevolking die grootste slagoffers … van moorde onder wittes in Suid-Afrika” (1118). “Dr Stanton van Genocide Watch is van mening dat sulke aanvalle en moorde op wittes minstens haatgedrewe, indien nie rasgedrewe nie, is” (1640).

“David Ben-Goerion [1886-1973], die oprigter van die staat Israel, het gesê selfbeskikking sonder ‘n territoriale basis is sinloos” (1847). Hierop volg dan die vraag waarmee seker iedere voorstander van ‘n Afrikaner-tuisland gekonfronteer word: Waar gaan daardie tuisland wees? Ehlers voorsien dat sy tuisland nie in die buiteland nie maar plaaslik gaan wees. Die plasing daarvan berus op veral twee grondslae, te wete histories en demografies. “Afrikaners as volk het in die verlede territoriale selfbeskikking geniet in die vorm van twee onafhanklike Boererepublieke, naamlik die ZAR [Transvaal] en Oranje-Vrijstaat” (1854). Met die uitsondering van Boererepublieke wat, in wat tans Natal genoem word, bestaan het en by die ZAR ingelyf is, het Afrikaners nooit territoriale selfbeskikking in die res van Suid-Afrika geniet nie. Wat Ehlers betref is ‘n Afrikaner-tuisland in die drie Kaapprovinsies dus uit (2536). Teen 2031 sal daar na verwagting net 370 294 Afrikaners in hierdie provinsies woon (2594).

Wat demografie betref bly 70% van Afrikaners tans noord van die Oranjerivier. Ehlers plaas sy Afrikaner-tuisland waar daar reeds ‘n groot konsentrasie Afrikaners is omdat die minimum ontwrigting moet plaasvind (3246). Die oppervlakte van sy voorgestelde tuisland is ongeveer so groot soos Oostenryk (2541). Die gebied sluit die volgende in: Gauteng: Pretoria, Oos-Rand, Meyerton, Heidelberg, Krugersdorp; Noord-Wes: Potchefstroom, Rustenburg, Klerksdorp; Mpumalanga: Ermelo, Secunda, Middelburg; Vrystaat: Bloemfontein, Bethlehem, Welkom; Kwazulu-Natal: Richardsbaai (2551). Teen 2031 sal daar na verwagting 1 275 011 Afrikaners in hierdie voorgestelde tuisland woon (2573).

Maar die voorgestelde opset word ingewikkeld omdat net sekere dele van die genoemde stede en dorpe by die tuisland ingesluit sal word, naamlik daardie dele waar daar baie Afrikaners woon. Hy noem sommige hiervan “grensdorpe en -stede” (2629). “Begrensing van die afgebakende gebied bring mee dat dele van dorpe en stede wat tradisioneel Afrikaner-woonbuurte is, afgeskei word van omliggende woonbuurte waar Afrikaners nie eintlik voorkom nie” (2613). Dit sal bv logistieke probleme veroorsaak, om dit sag te stel.

Oor die grense sal met die (ANC-)regering onderhandel moet word (2623, 2833). Die resultate van die 1990/94-onderhandelings is sodanig dat dit heelwat moed sal verg om selfs maar net weer met so iets te begin. Ehlers wil “gesoute onderhandelaars” gebruik. “Afrikaners kan nie bekostig om weer ‘n reserwespan aan te wend om politieke vryheid te bekom nie” (2942). Vooraf sal ‘n referendum gehou moet word, wat verskillende vorme kan aanneem (2957). Internasionale steun is ook nodig (2966).

Die hoop word gekoester dat Afrikaners die meerderheid inwoners in die tuisland sal wees of word. Op die oomblik is Afrikaners die helfte van die inwoners (2675). “Sonder ‘n getalsoorwig in ‘n duidelik afgebakende territorium sal Afrikaners nooit weer politieke vryheid geniet nie” (2822). Dit is ‘n (feitlik) onoorkomelike probleem. Die (natuurlike) bevolkingsgroei van blankes is laer as dié van ander groepe en daar is geen sekerheid oor die mate waarin Afrikaners uit ander gebiede hulle in hierdie tuisland sal vestig nie.

Daar is “geen rede om bruines wat in OASE se afgebakende gebied gevestig is, uit te sluit op grond van ras of velkleur nie” (2599). Nie-Afrikaanssprekende blankes hoef ook nie uitgesluit te word nie (2680). “Groot getalle wit Engelssprekendes sal tuis voel in ‘n Afrikanerbeheerde [tiende] provinsie, aangesien hulle tans ook die slagoffers is van rassediskriminasie in Suid-Afrika” (3360). Die ironie is dat Ehlers die hele tyd [moet] wegstuur van rassediskriminasie, maar dit word daagliks met oorgawe deur die ANC-regime gepleeg. Dit kom neer op dubbele standaarde. Blankes mag nie teen nie-blankes diskrimineer nie, maar andersom kan dit maar gedoen word.

Onwettige swart immigrate sal uitgesit word, maar wat van swart Suid-Afrikaners? “Dit maak nie saak hoe of waar Afrikaners hul politieke vryheid opeis nie – dit kan nie volhoubaar wees solank as wat daar aan nie-Afrikaners ‘n trekpleister gebied word om permanent in hul midde te verkeer nie” (2773). Dit is ‘n kernprobleem. Enersyds sal daar nie maklik ontslae geraak word van swartes wat tans in die voorgestelde tuisland woon nie. Andersyds sal dit ‘n nog groter probleem wees om swartes buite te hou as die tuisland suksesvol, bv welvarend, blyk te wees.

Ehlers diskrediteer instromingsbeheer: “Die inperking van swart burgers se bewegingsvryheid in die ou Suid-Afrika was een van die grootste euwels van apartheid” (3114). Aandklokreëlings in Ehlers se gedeelde stede en dorpe sal sekerlik ook taboe wees. Is die veiligheid wat blankes/Afrikaners eens in hulle vaderland geniet het dan enigsins haalbaar?

“Arbeid uit eie geledere [is] die sleutel tot volhoubare Afrikaner-selfbeskikking” (2783). In Orania verg dit groot inspanning om te verseker dat slegs van volkseie arbeid gebruik gemaak word. In die Ehlers-tuisland met sy bonte mengelmoes mense sal dit myns insiens ‘n onbegonne taak wees om so iets af te dwing. Maar Ehlers is optimisties: “Dit is wel moontlik om lede van ander bevolkingsgroepe te ontmoedig om te gaan woon in die voorgestelde gebied waar Afrikaners nou reeds gekonsentreerd woon deur bloot die motivering vir diesulkes om daar te wees weg te neem, sodat hulle rede het om liewer elders te gaan woon waar daar wel vir hulle werksgeleenthede is” (2783).

Die voorgestelde tuisland bly onderhewig aan die onverkwiklikhede van die nuwe Suid-Afrika: “Selfs al sou Afrikaners territoriale selfbeskikking in ‘n tiende provinsie of in die vorm van ‘n deelstaat binne ‘n federasie kry, sal alle burgers van Suid-Afrika steeds die reg hê om in die Afrikanerbeheerde territorium te gaan werk en hulle daar te gaan vestig. Afrikaners sal ook nie beheer kan uitoefen oor Suid-Afrika se eksterne immigrasiebeleid nie” (3119). “Die kanse dat Afrikaners onder bogenoemde omstandighede op die lang duur hul getalsmeerderheid sal kan handhaaf in ‘n gebied waar hulle territoriale selfbeskikking geniet, is nie baie goed nie” (3124). Dit lyk asof Ehlers realisties genoeg is om te besef dat sy eie Afrikaner-utopie onprakties kan wees. Pleks van al die moeite te doen vir so ‘n tuisland lyk dit vir my verkieslik om maar voort te gaan waar ek tans is, met as alternatief om weg te vlieg en weg te bly.

Dit is om grondwetlike redes dat Ehlers voorstel dat sy Afrikaner-tuisland ‘n tiende provinsie moet wees. Daarvoor is slegs ‘n parlementêre meerderheid nodig (1909). ‘n Deelstaat of kanton sou ‘n tweederde meerderheid verg (1869). Ander vereistes wat hy stel, is dat dit nie ‘n versnipperde gebied moet wees nie, maar aaneengeslote, sodat dit bv makliker geadministreer en beveilig kan word (456, 2536).

“Waar volke blootgestel is aan ernstige en voortdurende menseregteskendings, ontstaan die reg op regstellende afskeiding (‘remedial secession’)” (1975, 3145). Byvoorbeeld, volgens internasionale reg: “In no case may a people be deprived of its own means of subsistence” (1986). Maar dit is presies wat by grondonteiening sonder vergoeding en in sommige gevalle weens ander regstellende aksies gebeur. In die African Charter on Human and Peoples’ Rights staan: “All peoples shall have the right to existence” (2005). Om lewend te wees is immers die voorvereiste vir die benutting van alle ander regte. Maar dit kan bevraagteken word of die veiligheidsituasie in die nuwe Suid-Afrika sodanig is dat aan hierdie basiese vereiste voldoen word. In dieselfde handves staan: “All peoples shall freely dispose of their wealth and natural resources … In no case shall a people be deprived of it” (2013). “In case of spoliation the dispossed people shall have the right to lawful recovery of its property as well as to an adequate compensation” (2017). Onteiening en veral onteiening sonder vergoeding druis hierteen in, asook die mate waarin blankes oorbelas word sodat ellende onder ander bevolkingsgroepe bestry kan word en daar geld in die staatskas is waarmee korrupsie gepleeg kan word.

Hoewel die plaaslike blankes, veral die Afrikaners, in ‘n benarde situasie verkeer, verkies Ehlers om so vreedsaam moontlik te werk te gaan, al noem hy ‘n enkele keer die moontlikheid van “verdedigende geweld” (3345). In die laaste hoofstuk skryf hy: “Dit is nie die bedoeling om … eksterne selfbeskikking te bepleit en daardeur sesessie van grondgebied te propageer met die oog op soewereiniteit nie” (3086). Maar “Afrikaners as ‘n klein minderheidsvolk met hul Westerse kultuur en waardestelsel [staar] werklik ‘n bedreiging in die gesig tussen miljoene mense in Suid-Afrika wat Afrikakulture en -waardestelsels aankleef. Gaan kyk ‘n mens na die ernstige gevolge wat die demokratisering van Suid-Afrika vir Afrikaners meegebring het, sal hulle op die lange duur moeilik oorleef as ‘n Westerse volk waar hulle nie politieke beheer uitoefen oor alle regeringsfunksies nie” (3103).

“Dit is sinloos om selfbeskikking na te streef wat nie uit die staanspoor gemik is op volle onafhanklikheid met internasionale erkenning nie” (3150). Dit beteken dat die tuisland deur afskeiding van Suid-Afrika of van ‘n ander land verkry moet word. Hiervoor sal Afrikaners onder meer uitgelewer wees aan die internasionale reg en ten minste in ‘n mate aan die goedkeuring van die internasionale gemeenskap, wat berug is vir bv opportunisme en dubbele standaarde. Maar ook hierdie paadjie word eintlik deur Ehlers grootliks toegemaak: “Volke in ‘n eenheidstaat verkry normaalweg nie die reg op eksterne selfbeskikking oftewel die reg van afskeiding (sesessie) nie. Volke het wel die reg op interne selfbeskikking” (3184), waarmee ons terug by die (onpraktiese) OASE-tuisland is.

Enersyds is dit nodig om te oorweeg watter voordele daar vir Afrikaners gaan wees elke keer as ‘n Afrikaner-tuisland voorgestel word. Party voorstelle is meer aanvaarbaar en prakties uitvoerbaar as ander. Andersyds moet daar uit die oogpunt van die ANC-regime na die saak gekyk word, as dit ‘n poging is om die tuisland plaaslik te vestig. Sedert die dwase magsoorgawe in 1994 is die verderflike ANC ‘n faktor waarmee rekening gehou moet word. Die ANC-regime is mags- en geldhonger. In OASE se voorgestelde tiende provinsie is daar niks wat dit ‘n aantreklike moontlikheid vir die kamerade maak nie. Selfs vir Afrikaners hou so ‘n tuisland myns insiens nie voldoende voordele in nie. Soos in die geval van kommunistiese regerings streef die ANC-regime na oordrewe gesentraliseerde beheer. Daar is geen moontlikheid dat die kamerade die ideaal van volle onafhanklikheid (soos genoem in die vorige paragraaf) aan Afrikaners sal gun nie. Soos Abraham Lincoln in Amerika sal die terroristiese ANC eerder oorlog voer as om die eenheidstaat te laat verbrokkel. Dit is nie dat die ANC ‘n gedugte weermag tot sy beskikking het nie, maar dit kan tog lastigheidswaarde hê.

Hoe verder? “Het dit nie nou weer tyd geword dat Afrikaners in Suid-Afrika laer trek ter wille van hul oorlewing nie?” (3315). Dus, probeer hou wat jy het. “Totdat Afrikaners nie in beduidende getalle die wíl toon om oor hul eie mense te regeer nie [eerder: deur hulle eie mense regeer te word nie], sal hulle weer vry wees van onderdrukking deur ‘n swart meerderheidsregering in Suid-Afrika nie” (3326). Apatie weens die onwilligheid om die huidige en die langtermyn situasie in oënskou te neem, is ‘n fundamentele probleem wat tans alle pogings om ‘n Afrikaner-tuisland tot stand te bring, saboteer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.