Selfbeskikking en die Internasionale reg

Dr Christo Landman
Dr Christo Landman

Deur Christo Landman

Die onlangse “bitsige” korrespondensie van sekere rolspelers in sake die belang van selfbeskikking in die internasionale reg en betekenis daarvan vir Afrikaner selfbeskikking, noop my om die pen op te neem.

Die beledigings wat my toegesnou is, het my weer onder die indruk gebring dat ons (die Afrikaners) nie ons selfbeskikking moet probeer regverdig op oppervlakkige (lees: onwetenskaplike) interpretasies van die internasionale regsposisie nie.

Die reaksie deur een of twee mense was verbasend venynig en onbroederlik.

My standpunt was dat die “people’s”-begrip nie as kultuurgemeenskappe vertaal moet word nie, maar eerder as nasies (die polities-staatkundige begrip).

Intussen het ek met drie staatsregsgeleerdes gesprek gevoer. Die drie stem saam, maar omdat ek skriftelike terugvoer van prof. Marinus Wiechers gekry het, gee ek graag sy standpunt weer.

Intussen het Paul Kruger in rustige korrespondensie daarop gewys dat raadgewende uitspraak van die Internasionale Hof betreffende Kosovo wel ‘n president geskep het, wat die selfbeskikkingsbegrip breër sanksie gee.

Hier was my argument dat ons onself mislei deur die “people’s”-begrip as volk/kultuurgemeenskap in die Afrikaans oor te sit en dat nasie (die staatkundige begrip) korrek is.

Verder was my argument dat selfbeskikking in die internasionale regsdokumente verwys na die reg van nasies om uit koloniale kontekste uit te tree en hulle soewereiniteit te vestig.

Hieroor skryf Wiechers soos volg:

“Selfbeskikking in die internasionale reg moet — soos Landman tereg aanwys — teen die dekolonisasie tendense en ontwikkeling beoordeel word. Hierdie aandrang op selfbeskikking van ‘peoples’ het impetus na die Eerste Wêreldoorlog verkry en word daar stukrag agter die dekolonisasie van voorheen afhanklike gebiede gegee.”

Internasionale selfbeskikkingsreg afgeweeg teen nasionale grondwette

Hieroor het ek beweer dat die SA-grondwet territoriale selfbeskikking bemoeilik. Daar is tans beterweters wat argumenteer dat “’n volk se reg op selfbeskikking nie onderhewig is aan die RSA of enige ander staat se Grondwet nie”.

Hieroor skryf Wiechers soos volg:

“Die internasionale reg sanksioneer ‘n grondwet van die hele land, algemene burgerskap en selfbeskikking van die bevolking as geheel. Hierdie sterk beginsel is ‘n direkte uitvloeisel van die opkoms van die nasionale staat en vorm trouens die grondslag van state-erkenning in die internasionale reg.”

In die geval van die RSA-grondwet lees die grondleggende beginsel van die grondwet in die Aanhef dat die RSA aan al sy inwoners behoort. In artikel 2 word die RSA as een grondgebied  getipeer en op ‘n ander plek as ‘n land met een burgerskap vir almal. In a.235 word die reg op selfbeskiiking van ‘n taal-, godsdiens-, en kultuurgemeenskap onderhewig gemaak aan die reg van die RSA-bevolking in die geheel.

Kosovo as presedent?

In ‘n netjiese brief het Paul Kruger tot die gesprek toegetreë met die argument dat die raadgewende uitspraak betreffende Kosovo van die Internasionale Hof alles verander het en ‘n presedent vir sesessie skep. Alhoewel ‘n raadgewende uitspraak van die Internasionale Hof nie ‘n beslissende uitspraak [legal case adjudicate] is nie, is die VN daardeur nogtans van advies bedien oor die grondwetlikheid van die Kosovo-sesessie.  Die Internasionale Hof word in hoofstuk VI van die statute met gesag bekleë om regsadvies aan die VN of sy organisasies te gee.

Hieroor skryf Wiechers dat dit onseker is of die Kosovo-advies ‘n presedent skep. Die US State Department het op 19 Februarie 2008 verklaar dat “every territorial conflict unique” is en dat die Kosovo-advies nie deur ander separatistiese groepe gevolg kan word nie. Die VN se sekretaris-generaal Ban Ki-Moon het verklaar dat die Kosovo-geval “highly distinctive” is.

Aan die anderkant van die munt het separatistiese bewegings, soos die Parti Quebecois van Kanada, onder meer voorbeelde, onmiddelik Kosovo aangegryp as sou dit sesessie kondoneer.

Die vraag is nou wat Kosovo uniek maak:  Kosovo was vroeër ‘n deelstaat van Jugoslawië met sy eie wetgewer, administrasie, regsinstellinge en selfs met ‘n vetoreg in die Federale Parlement van Jugoslawië. Die Serbiër, Milosevic, het gepoog om met die interne soewereiniteit van deelstate soos Kosovo, Kroasië, Slovenië, Bosnia en Herzegovina weg te doen.  Dit het ‘n oorlog ontketen en vandag is hierdie eens Jugoslawiese deelstate vry en onafhanklik.

In kort: om die Kosovo-uitspraak nolens volens op die selfbeskikkingsreg van Afrikaners van toepassing te maak, is juridies gewaagd. Alvorens die Afrikaners nie ‘n deelstaat beset met ‘n eie administrasie en wetgewer nie, kan ons nie op die Kosovo-uitspraak steun nie.

Ek wil dit daarom duidelik stel dat ek ten gunste van ‘n Volkstaat en selfbeskikking is, maar waarsku dat regsargumente wat op valse gronde gebaseer is, tot mislukkig gedoem is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.