Leon Lemmer: Rina Venter oor die oorgang na swart meerderheidsregering

Deel op

Rina Venter (gebore in 1938) was die minister van gesondheid (1989-1994) in FW de Klerk se kabinet. Sy het in 1963 met ‘n geneesheer getrou en in 1973 ‘n doktorsgraad in maatskaplike werk verwerf. In die vroeë jare negentig was sy moontlik die eerste en (feitlik) enigste politikus van die Nasionale Party (NP) wat alarm gemaak het deur te beweer dat die NP besig was om op grootskaal met die onderhandelinge droog te maak. Haar outobiografie is onlangs gepubliseer: ‘n Stukkie van die legkaart (Pretoria: Malan Media, 2018/2019, 432p, R350; Amazon Kindle $17,25). Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook die LW Hiemstra Trust, het met finansiële ondersteuning die publikasie van hierdie boek moontlik gemaak.

Volgens die Kindle-katalogus handel die boek “oor die Afrikaner se opkoms en ‘ondergang’ tussen 1938 en 1994.” Hermann Giliomee skryf in sy resensie: “Venter se boek is die gesaghebbendste ontleding wat tot dusver geskryf is oor die vraag hoe en waarom die NP-regering nie die belofte van ‘n bestel van magsdeling, wat hy aan sy kiesers gemaak het, nagekom het nie … Venter se boek is meer onthullend en meer pynlik eerlik oor ons demokratiese oorgang as enige ander boek wat bestaan” (Netwerk24/Rapport 16.06.2019). Giliomee verskaf ‘n uitstekende oorsig oor die inhoud van die boek. Die onbekwaamheid van FW de Klerk en sy onderhandelaars is eintlik ongelooflik. Wat in 1990/94 gebeur het, is so ‘n radikale breuk met die voorafgaande geskiedenis van die Afrikaner en die NP dat ek al hoe meer vermoed dat die volgende “stukkie van die legkaart” ‘n onhulling kan wees van die rol wat buitelandse instansies, soos die CIA, asook geld, in die onderhandelinge gespeel het, soos wat PW Botha reeds jare gelede gesuggereer het.

‘n Ander faktor in die magsoorgawe was kruipsug. Hoe meer dit gelyk het asof die ANC beheer gaan oorneem, hoe meer inskiklik het sommige NP-ministers geword. Niël Barnard skryf: “Baie oë” was “reeds stewig gevestig op ‘n politieke possie in die nuwe Suid-Afrika” (Vreedsame revolusie, 2017, p 277 – Praag 8.07.2017). Sommige van die NP-onderhandelaars en ministers “het heimlik en van meet af die oog op die toekoms gehou en só opgetree dat hulle nie onnodig hul kanse by ‘n toekomstige ANC-regering versuur nie” (271). Naas De Klerk is dit Pik Botha. Roelf Meyer en Dawie de Villiers wat in 1994 kabinetsposte in die Regering van Nasionale Eenheid gekry het. Volgens Venter het Sam de Beer as NP-minister ook hartlik met die ANC saamgewerk. Hy het later by die ANC aangesluit en ‘n Gautengse provinsiale raadslid geword.

Hoewel die eerste uitgawe van Venter se boek in Oktober 2018 vrygestel en dit op 6 Maart vanjaar by die Woordfees op Stellenbosch bekend gestel is, het ek die gedrukte weergawe nog nie in ‘n enkele boekwinkel gesien nie. Dit is glo by die FAK teen R450 (koerierkoste ingesluit) beskikbaar. Die Kindle-weergawe wat onlangs gepubliseer is, is op 19 Oktober plaaslik bekend gestel. Die boek is, met die uitsondering van die illustrasies, uitstekend gereproduseer. Ek vermoed dat die outeur lank na ‘n uitgewer gesoek het; soortgelyk aan Ian Smith (1919-2007) wat nie ‘n bekende uitgewer vir sy outobiografie (The great betrayal / Bitter harvest, 1997 – Kindle-weergawe $ 5,96) kon vind nie. Myns insiens is daar om politieke redes geen moontlikheid dat bv ‘n Naspers-uitgewery die outobiografie van Venter of Smith sou publiseer nie. Vir bv Trevor Manuel, eens die sekretaris-generaal van die UDF, geld dit natuurlik nie. Sy biografie, geskryf deur Pippa Green, is in 2009 in sowel Afrikaans as Engels deur Tafelberg gepubliseer.

Reeds in die voorwoord maak Venter dit duidelik dat die NP reeds teen 1993 beheer oor die situasie in Suid-Afrika verloor het. “Die deur is wyd oop vir destabilisering van die landsadministrasie deur die ANC” (Kindle 161). Sy was bekommerd oor die lot van die kiesers in haar kiesafdeling, Innesdal, omdat baie van hulle staatsamptenare was. “Die swak ooreenkoms oor regstellende aksie gaan lei tot talle amptenare wat om politieke redes hulle werk verloor” (161). Kontrasteer dit met FW de Klerk se belofte voor die 1992-referendum dat niemand sy werk sal verloor nie. “Ek voel diep aanspreeklik teenoor alle kiesers en kan nie aan die gevoel ontsnap dat die NP die staatsadministrasie en sy kiesers – onder wie die staatsamptenare – in die steek laat nie. Die moontlikheid van magsmisbruik deur die ANC is duidelik sigbaar op die horison” (166).

Thabo Mbeki beweer in ‘n toespraak op 31 Maart 1995 “die Oorgangsgrondwet [1993] word hersien omdat onderhandelings daaroor nie demokraties was nie en dus ongeldig is” (172): “At no stage were these elements of transition conceived as elements of permanence, as a perennial feature of South African society” (177). “Mbeki wys hoe irrelevant skikkings in die Oorgangsgrondwet vir die ANC is. Onderhandelings oor ‘n grondwet is hoofsaaklik vir die ANC ‘n middel tot sy ware politieke doel om onbeperkte mag uit wit hande te neem. Die [NP-]regering laat dit toe” (10116). Die 1996-Grondwet waarmee ons sedertdien sit, is opgestel nadat die ANC die meerderheidsparty in die parlement geword het en dus die inhoud daarvan kon dikteer. Dit was volslae onnoselheid van die NP om so iets toe te laat. Oor die finale Grondwet moes tydens die onderhandelinge ooreengekom gewees het en daardie Grondwet moes, volgens FW de Klerk se 1992-belofte, aan die blanke kiesers vir goedkeuring voorgelê word, wat verraderlik nooit gedoen is nie. Een die gevolge was dat Afrikaans sy status as die gelyke van Engels as ampstaal verloor het (Praag 12.10.2019).

Die immorele ANC het ‘n dubbele agenda gehad deur tydens die grondwetlike onderhandelinge skynooreenkomste met die NP te sluit maar terselfdertyd te beoog om later na goeddunke daarvan af te wyk. Daar was natuurlik ook die ANC se dubbele agenda van onderhandelinge met die NP en om tot die verkiesing in 1994 terselfdertyd onverminderd met die gewapende stryd voort te gaan. Die Nasionale Intelligensiediens het tevergeefs hierteen gewaarsku. Geen doelgerigte teenstrategieë is deur die NP ontwikkel nie (183). Vir die bose ANC was Kodesa en die onderhandelinge “slegs ‘n instrument tot die politieke doel om onbeperkte mag te wen” (183). “Ons het in werklikheid te doen met rou oorname van politieke mag” (189); dus ‘n (sosialistiese/kommunistiese) revolusie.

Venter skryf: “My wortels gaan terug na 1696 toe Johanna de Klerk met Pieter Becker, my stamvader, trou. Haar broer Abraham de Klerk is [die] stamvader van FW de Klerk” (1202).* “Ironies is dat Pa se stammoeder ‘n vrygestelde slavin was. Sy is Maria Pieterse, dogter van Pieter van Bengale en sy vrou, Johanna Arends, albei vrygestelde slawe. Oupa Frans Heinrich Stapelberg [Venter se nooiensvan] kom in 1755 vanaf Stade, Hanover in Duitsland, in Kaapstad aan en trou met Maria” (1286). Venter is dus hoog in die hedendaagse mode waarvolgens ‘n Afrikaner liefs ‘n slavin as voorouer moet hê. Venter se pa was ‘n lid van die Ossewabrandwag (397). As kind het die outeur, danksy die invloed van ‘n ouma, “‘n sterk volksbewussyn” ontwikkel (381). “Ons raak via Pa bewus van haar dryfkrag vir die Afrikanersaak” (408); dus “haar manier om ons deurgaans van ons volksidentiteit bewus te maak” (439). Profeties was hierdie ouma se versugting soms: “Wee Afrika” (540).

[* FW de Klerk skryf in sy outobiografie: “Susanna was the daughter of Diana of Bengal, an Indian slave who was sold to one Augustin Boccart in 1667. Nevertheless, Susanna was raised with her father’s (Detlef Bibault) legitimate (and white) children by his Dutch wife Willemyntjie de Wit, apparently without any problem or discrimination. Susanna married Wilhelm Odenthal in 1711 and was the mother of Engela Odenthal, who married my direct ancestor, Barend de Klerk, on 7 April 1737” (The last trek – A new beginning, 1998, p 4).]

“Op ‘n keer moet Oupa keer dat gevoelens nie handuit ruk nie toe Pa na een man se ‘Union Jack’ teen sy bors as ‘n spinnekop se nes verwys” (461). “Ons is grootgemaak om te glo Suid-Afrika ‘behoort aan die Afrikaner’ … Pa het ons as jong kinders skepties gemaak jeens die Unievlag. Die Vierkleur was sy vlag en Ma het ons die woorde van die Vlaglied leer sing” (516). “Die Voortrekkers was ons helde” (488). Die ironie is dat die Afrikanerdom se situasie sedert 1994 in so ‘n mate versleg het dat een van haar pa se kleinkinders na Australië geëmigreer het (659). “Pa laat nie toe dat ons een Engelse woord gebruik wanneer ons Afrikaans praat nie … Ons het dus vroeg in ons lewe Afrikaans suiwer gepraat en in die ontwikkeling van ons moedertaal begin belangstel” (493). “My selfvertroue om in Engels op te tree bly ‘n probleem, selfs nadat ek [in 1984] tot die politiek toetree” (697).

Venter se pa het sy ses kinders aangemoedig om self te dink. “‘Jy is ‘n slaaf wanneer iemand anders vir jou dink.’ Op hierdie wyse onderrig Pa my om ‘n selfstandige denker te word” (505). Haar geskiedenisonderwyser “herinner ons die wenner skryf ná ‘n oorlog gewoonlik sy eie vertolking van gebeure” (708), soos die skeefgetrekte geskiedenis wat die ANC-regime deesdae aan al die plaaslike skoolkinders opdring. “In hierdie jare in die geskiedenisklas word ek sterker van nasionalisme in ‘n historiese sin bewus … Nasionalisme is ‘n sterk krag wat klem lê op mense se strewe na onafhanklikheid, hul regte en vryheid” (713).

“Teen die tyd dat ek in 1957 inskryf as student in maatskaplike werk aan die Universiteit van Pretoria (UP), is ek ‘n nasionalis in hart en siel. Gedurende my tweede jaar maak ek kennis met die Tomlinson-verslag as deel van my sosiologiestudie. Hierdie verslag maak sin en lê klem op mense se ontwikkeling. Dit is waaroor my professie gaan. Ek besluit dit is waar die antwoord lê … Weens swart mense se tradisionele kulturele gebruike wat ons vreemd vind, die meerderheid se ontwikkelingsvlak en die rol wat hulle oor dekades in wit mense se lewe speel, ontwikkel ‘n houding en ‘n siening dat ons as volk die reg het om Afrikaners se belange te bevorder. Alle nasies doen dit oor eeue” (755).

“Ek leer onder leiding van prof Geoff Cronjé [1907-1992] op Tukkies hoe belangrik my houding teenoor diegene is wat hulp nodig het” (1034). Deesdae word Cronjé sonder meer van rassisme beskuldig omdat hy bv teen rassevermenging in seksuele verhoudings was. “Ek onthou dat Cronjé in sy boek Regverdige rasse-apartheid [1947], wat vir Sosiologie I voorgeskryf is, beskryf hoe die staat die Afrikanergemeenskap met wetgewing teen kulturele vermenging probeer beskerm” (1040). “Ná 1962 raak ek sterker bewus van die regering se planne om rassuiwerheid tot ‘n spesiale waarde te verhef. Ek onthou Ma se waarskuwing in 1956 dat die Afrikaner nie ‘n superieure volk is nie … Min het ek destyds besef hoe ek geleidelik al sterker betrokke sou raak by die skade wat uit hierdie ideologiese mistasting ontwikkel” (1131). Is dit noodwendig ‘n mistasting? In absolute terme kan die Afrikanerdom, as ‘n volk tussen talle etniese volke, of die blankes, as ‘n ras tussen ‘n hele aantal rasse, nie sonder meer as meerderwaardig bestempel word nie. Maar waarvoor daar ‘n sterk saak uitgemaak kan word, is dat bv die ontwikkelingsvlak, ervaring en kundigheid van blankes, insluitende Afrikaners, sodanig is dat hulle beter as bv swart mense toegerus is om oor ‘n gesofistikeerde Westerse land, soos die ou Suid-Afrika, te regeer.

Toegegee, om oor Suid-Afrika as ‘n (tipiese) Afrikaland te regeer, verg ander vaardighede as dié waaroor blankes beskik. Maar dan kan die vraag gestel word: Is sodanig getransformeerde opset in die beste belang van die meeste inwoners? Swart mense benader sake anders as blankes. Daar is fundamentele verskille in waardes. Byvoorbeeld, die ANC se MK-terreurbendes, onder die leiding van Nelson Mandela, het volgens getuienis voorgelê aan die sogenaamde Waarheids- en versoeningskommissie meer as 400 dade van sabotasie tussen 1961 en 1963 gepleeg. Vir hierdie ernstige misdade is Mandela tronkstraf opgelê. Was daar enige skuldgevoelens by Mandela? Nee. Het hy iemand om verskoning gevra? Nee. “Hy lê klem op die edel politieke oogmerke om swart mense se politieke regte reg te stel. Sonder enige wroeging oor die wyse waarop hulle dood en verwoesting saai. Die doel heilig die middele en maak hom ‘n held” (1218). “As jong mense sien ons nie bevryding in Afrika nie – net ellende. Daarom klou wit mense vas aan afsonderlike ontwikkeling” (1223). Die NP-regering oortuig kiesers tuislandontwikkeling is die antwoord op politieke konflik in die land” (1632).

As maatskaplike werkster beskou Venter haarself nie as “‘n politieke aktivis nie” (1045). Ervaring in haar werksituasie lei egter mettertyd tot ‘n mate van politieke verligtheid: “Aanvaarding van mense se gelykwaardigheid, almal se uniekheid en reg om self besluite oor hul lewe te neem, is nie voorwaardelik nie. Ek begin verstaan hoe apartheid die samelewing verwring [en] wat rassisme is” (1062). Wat myns insiens eerder nodig is, is om vas te stel in watter opsigte mense gelyk of ongelyk is. Dit is ook wenslik om te erken dat sommige mense in hulle eie belang liefs nie met besluite oor hulle lewens vertrou moet word nie. Apartheid kan nie net sleg wees nie. “Ek weet van talle faksiegevegte wat soms tussen swart werkers op die myn uitbreek. Hierdie konflik word beheer deur faksies apart te huisves” (1120). Byvoorbeeld, Soweto het tradisioneel bestaan uit aparte woongebiede vir die verskillende etniese groepe.

Venter besef gelukkig “die werklikhede wat in Afrika opgesluit is … Die kontinent is nie gereed vir demokrasie nie. Geleidelik leer praktiese ervaring my hoe kompleks en tydsaam verandering en ontwikkeling in mense se lewe kan wees” (1083). Hier kan ek ‘n konkrete voorbeeld verskaf: Daar kan nie, moet nie en mag nie van ‘n groepie ANC-terroriste verwag word om sonder politieke, bestuurs- en administratiewe ondervinding oornag die beheer van ‘n ontwikkelde, vooruitstrewe en suksesvolle Westerse land oor te neem en dan daarmee suksesvol te wees nie. Na aanleiding van gebeure in Kenia en die Belgiese Kongo skryf Venter se pa in 1960 uit Noord-Rhodesië/Zambië: “Hy kan nie sien hoe onervare swart mense die gesofistikeerde mynbedryf sal kan bestuur nie. Hy meen dr Hendrik Verwoerd is reg met sy tuislandbeleid vir swart mense” (1088). Gebeure soos hierdie maak “my bewus van anargie en chaos in Afrika ná dekolonisasie” (1185).

Blanke vlugtelinge uit die Belgiese Kongo het gesê: “Ons gaan terug België toe. Dié Afrika wat ons leer ken het, druis in teen alle beskaafde standaarde waarvoor ons leef. Afrika is nie ‘n plek vir wit mense nie. Julle beurt kom! Dit is nie ‘n kwessie van óf nie, maar wanneer!” (1099). “Hulle het alle vertroue in swart mense verloor. Volgens hom verstaan swart mense nie ‘n demokrasie nie. Hulle erken nie hulle eie onvermoë om die land te kan regeer nie. Hulle sien net politieke mag en vernietig alles op pad na mag” (1104). (Byvoorbeeld, Jacob Zuma verstaan nie demokrasie nie. Volgens hom het lede van die meerderheid meer regte as lede van minderheidsgroepe. “Dit is hoe demokrasie werk.”) “Só word Afrika, geweld, onbeheerste bevolkingsgroei en afhanklikheid toe deel van my lewe op ‘n wyse waaraan ek nog nooit voorheen gedink het nie” (1104). Die ironie is: In swart Afrika beteken politieke onafhanklikheid (dikwels/meesal) ‘n groeiende getal afhanklike inwoners; mense wat van bv owerheidstoelaes, aalmoese en misdaad vir hulle voortbestaan afhanklik is.

Desnieteenstaande neig Venter om ellende in al hoe groter mate op ‘n oorvereenvoudigde manier aan die uitwerking van apartheid toe te skryf; asof ellende saam met apartheid sou verdwyn. Sy maak haar toenemend los van haar Afrikanerwortels. “Ek en Hennie [haar man] besluit om hulle [hul kinders] sover moontlik weg te hou van formele indoktrinasie en Afrikanervolksfeeste wat terugkyk en nie vorentoe nie” (1751). En vandag? Is dit vir skoolkinders moontlik om ANC-indoktrinasie via die skoolleerplanne vry te spring? Neem die openbare vakansiedae die prestasies van blankes in die ou Suid-Afrika in ag of eerder opstandigheid en misdade gepleeg deur ANC-kornuite? Vorentoe sien Afrikaners deesdae net duisternis. As hulle terugkyk, ervaar hulle nostalgie vir en trots op wat hulle en hulle voorgeslagte alles tot stand gebring het.

“Ek voel onverskillig teenoor Afrikanerinstellings en besluit om nooit enige volksfees by te woon nie. Ek wil nie weet hoe spesiaal die Afrikaner is nie. Ek ken my eie kwaliteite as Afrikaner en besef ons moet saamwerk en -woon met swart mense en hulle waardigheid as mense respekteer. Soos ons ouers ons geleer het. Ek begin my losmaak van die ideologiese siening oor Afrikanerskap … Saam distansieer ons [Venter en haar man] ons van alle kultuurbedrywighede wat die Afrikaner onrealisties bly verhef as ‘God se plan om Afrika te kersten'” (1275). Maar sy behou haar geloof in afsonderlike ontwikkeling “omdat dit in essensie deel is van ‘n politieke plan om SA te vrywaar van verval en te verseker ons bly ‘n ordelike staat. My liefde vir my taal hou my in murg en been Afrikaans” (1291). “Teen 1970 … [het] ‘n soeke na ware geregtigheid begin. Hoe raak ons van rassisme ontslae sonder om ordelike regering prys te gee?” (1309). Later formuleer Venter dit soos volg: “Hoe verander ons die politieke bestel om reg en geregtigheid te verseker sonder om beheer oor ‘n ordelike staat te verloor? (2039). ‘n Kort antwoord is: Nie soos FW de Klerk dit probeer doen het nie.

“Konflik ontstaan vinnig tussen diegene met behoudende en dié met verligte uitsprake oor wie ons is en moet wees, en hoe ons samelewing moet lyk” (1408). “Verligte denkers in die joernalistiek en in die samelewing word belangrik, ook hervormingstappe wat die NP doen en hoe regse denke hierdie debat rem” (1340). “Ek besef dit is onvermydelik dat ons die pad sal moet loop wat ongeregtighede herstel; maar nie die Afrikapad nie. Gevolglik word die hervormingspolitiek van die NP, wat konstitusionele antwoorde soek, vir my belangrik. My konflik strek veel dieper as politieke denke oor Afrikanerskap. Watter soort volk word ons?” (1356). Dalk moes sy nog dieper gedink het: Wat gaan op die lange duur van die Afrikanervolk word? Gaan iets daarvan oorbly of gaan alles, die Afrikanerdom in sy geheel, verswelg word?

“Ek is as Afrikaner deel van ‘n multikulturele samelewing” (1362). Sy is op soek na “‘n politieke grondslag wat vir SA kan werk. Wat elke kultuurgroep gelykwaardig akkommodeer. SA behoort aan al sy mense – minderhede en meerderhede” (1368); dus, alles moet nie deur die meerderheid ingepalm word nie. “Konstitusionele verandering is nodig wat minderhede se belange en behoeftes beskerm en terselfdertyd verseker SA veval nie soos groot dele van die res van Afrika in ‘n onordelike staat nie” (1445). Sy toon begrip vir “emosionele geborgenheid” (1403) maar sy dink ook “Afrikaners se lewenshouding teenoor volksvreemdes moet verander. Werkbare antwoorde, vry van gevestigde ideologiese opvattings, raak noodsaaklik vir Afrika se politieke realiteite” (1413).

“Weerstand teen verandering … word gedryf deur die Afrikaner se politieke ideaal om ‘n onafhanklike volk te wees, en die onversoenbaarheid van realiteite in Afrika met hierdie ideaal. As gesagvoerders in die gemeenskap staan die meerderheid Afrikanerindoenas [1521, 1568, “waghondindoenas” – 1413, “agterosdenkers – 1429] in die kerk, die kultuur en politiek alle vernuwing van denke aggresief en veroordelend teë” (1419). Dit is sekerlik ‘n oordrewe formulering. Maar Venter borduur voort: “Inteling van denke vind plaas omdat buite-invloed ontmoedig word. Verdeeldheid en afsondering tussen kultuurgroepe word wetlik gereguleer. Afsondering van Afrikanerkinders word gesien as antwoord op ‘n multikulturele samelewing sonder om te erken hoe isolasie die Afrikaneridentiteit verarm eerder as verryk” (1489).

Kom ons kyk realisties na hierdie saak. Afrikaanse skole word sedert 1994 op groot skaal getransformeer tot tweetalige en daarna eentalige Engelse skole. Terselfdertyd word die leerlingkorps multikultureel, met bv messtekery as ‘n byvoordeel. ‘n Eens Afrikaner- en Afrikaanse universiteit soos Stellenbosch loop dieselfde pad en kry bv vandalisme, brandstigting en ‘n verkragtingskultuur op die koop toe. Is dit kulturele verryking of verarming? Terselfdertyd daal die akademiese standaarde in die skole en aan die universiteite. Is die kool die sous werd? Venter besef in ‘n mate dat die opheffing van die sogenaamde isolasie, oftewel apartheid, die Afrikanerdom benadeel. “Derhalwe raak Afrikaners stadig maar seker vervreemd van hul kulturele wortels, onderling verdeeld, en die werking van gesinne en die gesinstruktuur verander” (1489). Wat word die ideologie genoem wat die kern van die Westerse samelewing, die gesin, wil vernietig? Kulturele marxisme, soos uitgedra deur die ANC en sy meelopers. Die NP-regering se werkreservering word voorgestel as die (selfsugtige) beskerming van eie, dus blanke, belange. Sulke “afsondering verhoog Afrikaners se siening van hul eksklusiwiteit” (1507). En die ANC se beleid van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging? Dit is per slot van sake die herinstelling van werkreservering, maar op ‘n baie groter en ekonomies skadeliker skaal.

Maar Venter bly op die verligte pad. “My onderrig in ‘n dubbelmediumhoërskool maak my bewus daarvan dat my Engelse maats saam met my Suid-Afrikaners is. Tien jaar later vind ek aanklank by verligtes wat hierdie punt uitlig, sonder om skuldig te voel oor my Afrikanerskap” (1693). Maar tweetalige skole en universiteite word deesdae tot eentalig Engelsmedium instansies getransformeer. En Afrikanerskap kan in Suid-Afrikanerskap verwater en deesdae in Afrikaskap verswelg word. Venter toon nie genoegsame begrip vir sulke gevare nie, bv: “Jonger vroue speel ‘n konstruktiewe rol om ‘n meer byderwetse beeld uit te dra. Hulle is ingelig oor sake van landsbelang en maak die debat breër as net tradisionele volksbelang” (2558). Om volksbelang voorop te stel, noem sy “skrefie-denke” (2733). As maatskaplike werkster van die Suid-Afrikanse Vrouefederasie kom sy telkens in opstand teen wat die Afrikaanse kerkgenootskappe op hierdie terrein in die samelewing doen. Sy raak “in toenemende mate bewus van die sterk rol wat my kerk speel om Afrikaners se denke te beheer” (1802). Sedertdien het hierdie kerke boedel oorgegee. Hulle weerhou hulle van kritiek op die huidige politieke bestel en huldig polities byderwetse standpunte, skynbaar sonder Bybelse fundering. Het die kerke vooruit of agteruit geboer? Die kerk het glo voorheen “rassisme ondersteun en bevorder” (1808).

Een van die verdienstelikste aspekte van die boek is dat Venter die wesenlik gewelddadige aard van die United Democratic Front (UDF) uitlig (2017). “Solidariteit tussen swart mense word met ongekende wreedheid en geweld bewerkstellig. Die verdeelde swart samelewing is magteloos om weerstand te bied teen die revolusionêre geweld wat teen hulle gebruik word” (3136, ook 3276), bv “die straatkomitees se wreedheid en genadelose, misdadige gedrag” (3281). “Persone wat verdink word dat hulle met wit mense of teen die UDF collaborate, kan genecklace word” (3288). “Swart gesinne [kom] onder revolusionêre beheer van die UDF” (3295). Daar is “die genadelose wyse waarop kinders gebruik word” (3295). “Politieke geweld in swart woongebiede kry ‘n eie momentum wat alle beskaafde en demokratiese reëls verbreek en tot onbeskryflike menslike ontberings lei … Die UDF onderdruk alle politieke en kulturele verskille en behoeftes tussen swart groepe met geweld en om swart solidariteit teen [die] wit bewind te bewerkstellig” (3308).

“Daar is by die UDF geen politieke verdraagsaamheid nie” (3542). Swart leiers wat met plaaslike owerhede saamwerk, “word stelselmatig uitgemoor” (3486). “Elke begrafnis word omskep in politieke weerstand teen die staat” (3553). “Die einddoel is onbeperkte oorname van politieke mag oor ‘n ‘koloniale wit minderheid’, wat op enige wyse bereik moet word” (3460). Hierdie vergrype word “voetstoots deur die internasionale gemeenskap ondersteun” (3465). “Swart mense word vrygespreek van alle verantwoordelikheid vir geweld omdat ‘apartheid geweld regverdig'” (3542).

Die UDF is in 1983 gestig as oënskynlike reaksie op die instelling van die Driekamerparlement. In werklikheid is die UDF toegelaat om as die binnelandse vleuel van die ANC se terroristiese MK te funksioneer totdat die ANC se terroriste van 1990 af uit die buiteland na Suid-Afrika terugkeer het, of van bv Robbeneiland vrygelaat is, of nuut in Suid-Afrika gewerf en opgelei is. In 1997 tydens die sittings van die sogenaamde Waarheids- en versoeningskommissie gee die ANC en sy meelopers voor dat hulle hande silwerskoon is. “Hierdie skynheiligheid verdoesel swart-op-swart-wreedhede [asook swart-op-wit wreedhede] wat gesanksioneer is as deel van ‘n ‘eerbare struggle‘” (3324).

Die UDF se hoofbelhamels was Desmond Tutu en Allan Boesak. Tot op hede word die valse front voorgehou dat hierdie twee teoloë nie-gewelddadige wesens is, soos onlangs weer tydens die verjaardagvieringe van die 90-jarige Tutu. Ongelukkig help Venter bou aan hierdie valse beeld van Tutu. Na aanleiding van gebeure in 1986 skryf sy: “Tutu bevorder ‘n gesindheid om vrede te bewerkstellig te midde van ernstige politieke geweld” (3076). Sy beskou selfs die toekenning van die Nobel-prys vir vrede aan Tutu as geregverdig (3081). In werklikheid het Tutu geweld aangemoedig en nie veroordeel nie (Praag 1.09.2011). Die gewelddadige nuwe Suid-Afrika is die erflating van sowel die UDF as die ANC: “Solidariteit tussen alle swart mense word met geweld deur die UDF afgedwing. Hieruit volg ‘n politieke kultuur van geweld, burgerlike ongehoorsaamheid, destruktiewe optrede wat infrastruktuur vernietig, en verswakking van plaaslike owerhede se administratiewe vermoë om dienste te ontwikkel en te beheer. Grootskaalse wanorde heers” (4818).

Die rassistiese anti-blanke gesindheid in die UDF word nie belig nie. In plaas daarvan word “die regses” eerder van rassisme beskuldig, bv: “Die politieke skeuring [in die NP] verhoog rassistiese vooroordele, wat weer deur regse denke versterk word sonder enige [!] siening oor medemenslike verantwoordelikheid” (2211). “Regse denkers skep ‘n persepsie [in die jare tagtig] dat die NP besig is om Afrikaners uit te verkoop” (2221, ook 3329), dus verraad te pleeg (2541). In 1990/94 en sedertdien het dit geblyk dat die regses 100% reg gehad het. Nogtans beskryf Venter die regse standpunt as “kortsigtig … en onnodig” (3174) en selfs: “Dit is moeilik om te aanvaar Afrikaners tree so selfvernietigend op onder die waan hulle beskerm hul eie belang” (3179).

Ná 1994 het die ANC-regering gesorg dat owerheidsubsidies “in sekere gevalle van 66% tot 28% daal” (2259). Dit is veral blanke belange wat doelbewys benadeel word. Daarenteen is die toelaes aan bv ongehude (dus veral swart) moeders verhoog en skouspelagtig uitgebrei. Een van die prominentste kenmerke van die ANC se “nie-rassige en nie-seksistiese” nuwe Suid-Afrika is blatante diskriminasie teen blanke mans, wat ten minste in sekere opsigte beter as enige ander plaaslike groep presteer het, bv in die opbou oor eeue van Suid-Afrika. Met verwysing na die Irene-konsentrasiekampkerkhof skryf Venter met lof van “‘n jong volk wat die moed gehad het om op te staan vir wat hulle geglo het reg en geregtigheid is. Dit is waarin ons inspirasie moet vind … Ons moet die moed hê om as Afrikaners op te staan vir wat nou … relevant is” (2418). Noudat die voortbestaan van die Afrikanerdom en Afrikaans ongetwyfeld ernstig bedreig word, het dit nie hoog tyd geword vir daadwerklike versetaksies nie?

FW de Klerk het aanvanklik die 1983-Grondwet gebruik om sy visie vir die beskerming van groepsbelange te ontwikkel (3657) – die “eiesakekonsep” (3756) – waarvan uiteindelik niks in die onderhandelinge of die 1996-Grondwet tereg gekom het nie. “Hy staan in die politieke debat ver weg van die realiteite in swart politiek” (3657). De Klerk het klaarblyklik in die waan verkeer dat hy met redelike, rasionele en eerbare ANC- en SAKP-mense, soortgelyk aan sommige van die blanke politici wat hy geken het, sou onderhandel terwyl dit glad nie die geval was nie. De Klerk het met “‘n beeld as konserwatief en behoudend” (4018) leier van die Transvaalse NP en daarna in 1989 van die NP geword (3729). Hy was ‘n “’ronde man’ … oorversigtig en geneig om hom aan te bied as iemand wat alles vir almal wil wees” (3735).

In die NP-koerantjie, Die Nasionalis (Mei 1987), skryf De Klerk oor “die instandhouding van eie gemeenskapslewe en volwaardige selfbeskikking oor groepsbelange. Oorheersing van enige groep sal effektief uitgeskakel word. Ontwikkeling van billike geleenthede vir ander bevolkingsgroepe word verseker en medebesluitneming oor gemeenskaplike sake word bevorder” (3840). Sedert 1994 sit die blankes met swart oorheersing, dus geen medebesluitneming nie, en selfs nie eens billike geleenthede nie. Deesdae besef ons: “Politieke beloftes staan sonder geloofwaardigheid in die breër samelewing” (3846), bv die hooftema van die NP-regering se beleid ná 1987: “Eie seggenskap en selfbeskikking en medeverantwoordelikheid tussen alle groepe” (3925). Maar dit is nie net NP-politici, veral De Klerk en sy onderhandelaars, wat ‘n U-draai gemaak het nie. Baie blankes, insluitende mense wat eens Afrikaners was, het feitlik onherkenbaar ontaard. “Mense konformeer maklik om ‘in te voel'” (4221).

Ná die algemene verkiesing op 6 September 1989 woon Venter as nuut aangestelde minister haar eerste kabinetsvergaderings by, asook ‘n bosberaad in Desember 1989. De Klerk het toe volle ondersteuning vir sy hervormingsingesteldheid geniet. Suid-Afrika was daarvolgens op pad na ‘n “nuwe konstruktiewe toekoms” (4645). “Die land sal verander. ‘n Swart regering sal oorneem. De Klerk is vol vertroue ‘n magsdelingmodel sal ontwikkel kan word” (4661) al is dit “duidelik dat die ANC onbeperkte oorname van mag nastreef” (4687). My indruk is dat De Klerk en sy onbekwame onderhandelaars baie vroeër as wat in die openbaar erken is, swart meerderheidsregering aanvaar het. Maar Venter fouteer (moontlik) deur dit so vroeg as 1989 te dateer. Dit sou immers die valsheid onderliggend aan die NP-retoriek vóór die 1992-referendum nog erger maak, al het sommige NP-politici moontlik toe reeds besef dat politieke magsdeling ‘n verbeeldingsvlug is; dus dat magsoorgawe ons voorland was.

Later herhaal Venter eintlik daardie vroeë NP-besluit van oorgawe. Oor “sedert 1990” skryf sy: “Geen twyfel bestaan waar die regering staan met betrekking tot die ANC-meerderheid wat mag gaan oorneem nie. Die vraag is: Hoe word verseker die ANC se sterk magsposisie verswelg nie die belange en behoeftes van wit en swart minderhede nie?” (7228), dus De Klerk se “wigte en teenwigte”, wat later geblyk het fiktief te wees (9293, 9990). “De Klerk se siening is dat voldoende wigte en teenwigte in ‘n nuwe grondwet sal omsien na alle sake wat sedert 1990 onafgehandel wag. Uiteindelik kom daar niks van behoorlike wigte en teenwigte nie” (8742). “Die regering weet hulle gaan politieke mag afstaan. Vasklou aan politieke mag is nie ter sprake nie – wel akkommodering van verskeie minderhede se belange en behoeftes” (7256).

Heelwat later skryf Venter dat “teen September 1992” (7558) is daar “die eerste formele teken van politieke oorgawe deur die NP-regering” (7564), deurdat toegegee word aan die ANC se eise vir regeringsoptrede teen hostelle wat IVP-ondersteuners huisves. Dit het gevolg na die Boipatong-menseslagting op 17 Junie 1992 toe IVP-Zoeloes ‘n wraakaanval teen ANC-kaders geloods en 45 mense gedood is (7762). Die ANC het valslik beweer dat die veiligheidsmagte as “‘n derde mag” hulle by die Zoeloes geskaar het (7768). “Die ANC … slaag met die hulp van die regering om die IVP as politieke magsfaktor te marginaliseer” (7956). “Die ANC se siening van hoe die nuwe Suid-Afrika sal lyk, word nie formeel deur die regering teëgestaan nie” (7730). Dit lyk asof hierdie afstaning van mag (in hierdie en die vorige paragraaf) nie bloot magsdeling bedui nie, maar inderdaad die toegee aan en aanvaarding van swart meerderheidsregering kan insluit. Dan was die NP reeds voor die 1992-referendum, met sy talle valse beloftes, besig om die blanke kiesers te bedrieg. (Kyk hier onder oor die slinkse formulering in 1992 van die vraag wat aan die blanke kiesers in die referendum gestel is.)

Verder: “Oorhaastigheid om met onderhandelings te begin lei tot swak voorbereiding” (7209). Eintlik was die hele onderhandelingsproses, gesien vanuit die oogpunt van die blanke kiesers, ‘n volslae gemors. Hulle het beter as dit verdien maar moet sedert 1994 daagliks die gelag betaal. Dit was geen “regverdige skikking” (7262) nie. Wat die kiesers begeer het, was “‘n regverdige nuwe bedeling” (7752), maar dít is hulle nie beskore nie. Aan die ander kant beweer Patti Waldmeir (Anatomy of a miracle, 1997) teen die pas genoemde vroeë NP-oorgawe dat De Klerk vol vertroue was dat “hy ‘n 51%-meerderheid teen ‘n ANC-alliansie [kon] mobiliseer” (7306). Ek herinner my dat Pik Botha voor die 1994-verkiesing voorspel het dat die NP met 8 miljoen stemme sou wen. Die hele 1990/94-debakel is op valse NP-verwagtinge gebou.

‘n Interessante maar feitlik onbekende gebeurtenis werp lig op die fundamentele boosheid en immoraliteit van die ANC en sy buitelandse meelopers. Die NP-regering word (in 1990?) ingelig “dat daar kinders van politieke uitgewekenes in ‘n kamp in Tanzanië is. Die ANC versoek hierdie kinders moet na SA teruggebring [!] word” (4687). “Ná ‘n ondersoek blyk dit hierdie ANC-kinders het tussen groepe Tanzaniese wees- en straatkinders beland. Hulle word in ‘n kamp versorg. Tanzanië wil dadelik die geleentheid gebruik om al die wees- en straatkinders saam met hierdie kinders na SA oor te plaas. Ons maak seker slegs kinders met aanspraak op Suid-Afrikaanse burgerskap word oorgeplaas” (4693). “Geleidelik word dit duidelik dat ons te doene het met verwaarloosde, verlate buite-egtelike kinders van ANC-uitgewekenes wat oor jare sonder sorg in hierdie kampe beland het” (4703). Verder: “Die meeste is nie meer kinders nie” (4703) maar volwassenes. Hierdie saak word “buite die openbare oog bestuur” (4703), dus, die publiek moet nie weet van hierdie vroeë toegewing van die NP-regering aan die ANC nie en ook nie die ANC-slenter waarmee die NP hom om die bos laat lei het nie. Die uiteinde van die saak was “307 volwasse jong mense en sewe kinders [het] op die destydse Jan Smutslughawe [by Johannesburg] aangekom” (4708).

Terugkerende terroriste is stilswygend net so buitensporig goed met belastinggeld deur die NP-regering behandel. “Die regering het ‘n ooreenkoms met die National Coordination Committee for the Repatriation of South African Exiles (NCCR) onder voorsitterskap van [die militante ANC-kornuit] dr Frank Chikane om die komitee met toepaslike gesondheids- en welsynsdienste te ondersteun. ‘n Gebeurlikheidsplan is opgestel vir die ontvangs van terugkerendes by 72 toegangspoorte tot die land. Die kabinet keur die gebeurlikheidsplan goed” (4714). Eintlik was niks meer nodig nie as ontwapening en streng kwarantynmaatreëls. Die NP-kabinet leun egter agteroor van welwillendheid en gedienstigheid. Hierdie gebeurlikheidsplan “maak voorsiening vir alle [!] moontlike behoeftes soos voedsel, klere, huisvesting, vervoer, maatskaplike hulptoelaes, oorbruggingstoelaes, huweliks- en gesinsprobleme [dink bv aan die buite-egtelike volwassenes en kinders genoem in die vorige paragraaf] asook gesondheidsprobleme” (4714). “Die owerheid se samewerking met die NCCR vind plaas binne ‘n klimaat wat goeie gesindheid bevorder” (4723) – ja, van die een kant af. Die NP-regering se hantering van die ANC se buite-egtelikes en terugkerende terroriste “illustreer die eg menslike aspek van die oorgangsfase wat simpatiek en ondersteunend deur die regering hanteer is” (4723). Wat het dit die NP-regering in die sak gebring? Verskerpte geweldpleging en terrorisme tot die verkiesingsdag in 1994.

In 1990 is die noodtoestand op aandrang van die ANC herroep (4823). Die ANC wou immers vryer wees om geweld en terrorisme te bedryf. “Die kabinet is bewus daarvan dat geweld ná 1990 ernstig toeneem” (6542). “Geweldsyfers vir 1985 is 879 insidente wat, ná De Klerk se aankondiging in 1990, styg tot 3 699” (6547). Dít is wat gebeur as ‘n mens ‘n uitgelese terroris soos Nelson Mandela vrylaat. Hierdie latere vredesikoon het sedert Februarie 1990 tot die 1994-verkiesing ‘n leidende rol in die binnelandse geweld en terrorisme gespeel. Die NP-regering is oorinskiklik jeens die ANC. In Maart 1990 kom ‘n Onafhanklike Ontwikkelingstrust (OOT) ten bedrae van twee miljard rand tot stand wat die ANC aan maatskaplike ontwikkeling kan bestee (4828). Daar word gehoop dat die OOT die ANC sou “help om die vernietigingskultuur [onder veral swartes] onder beheer te kry” (4833). “Pleks daarvan begin hulle [die ANC] hierdie inisiatief aanval op dieselfde negatiewe wyse as waarop hul teenoor alle stappe wat die regering doen en teen alle instellings in die land optree. Verskerping van geweld in swart gemeenskappe en die ANC se aanslag op die administrasie is gou aanduidend van hul werklike agenda. Hulle het self geen politieke belang by die herstel van wanorde en in maatskaplike ontwikkeling nie … En die regering doen geen stappe om die NP te posisioneer om hierdie optrede van die ANC aan die groot klok te hang nie” (4849).

Vir my is dit baie duidelik dat die ANC van die verderflikste organisasies in die annale van die mensdom is en by name die ANC-leiers. Die ANC “funksioneer nie op demokratiese beginsels nie, maar vestig en handhaaf ‘n politieke kultuur wat dmv geweld, afdreiging en intimidasie in swart woongebiede beheer neem. Die ANC wys ook hul beskik nie oor die administratiewe vaardighede om hierdie hulpbron [die OOT] werklik te kan benut nie” (4855). “Wanorde in swart woongebiede en geweld [was] die ANC se sterkste politieke wapen” (4874). Dienste stort in duie (4874) en die regering word hiervoor geblameer (4879). “Die enigste wyse om ‘n mate van orde te probeer handhaaf vind plaas met die ondersteuning van veiligheidsmagte. Die ANC posisioneer dié veiligheidsmagte as sy belangrikste politieke vyand” (4879). Dit is sy oorverligte broer, Wimpie, wat FW de Klerk in ‘n faks waarsku dat hy die veiligheidsmagte nie moet vertrou nie (6565). Tot voordeel van die ANC word die veiligheidsmagte (polisie en weermag) se doeltreffendheid hierna sterk aan bande gelê (6582). Dit was deels ook te wyte aan FW de Klerk se versugting om hom van sy voorganger, die “sekurokraat” PW Botha, te distansieer (6592).

Om kanse met die NP-regering te probeer vat, is kenmerkend nie net van die ANC nie, maar ook van swart inwoners, bv: “Ongeveer 15 tradisionele dokters daag eendag in hul tradisionele drag by my kantoor op. Hulle soek formele erkenning as geneeshere en toegang tot mediese fondse” (5132). Lede van die Konserwatiewe Party (KP) het hierdie “tradisionele dokters” eerder “toordokters” genoem (5132). In sommige selfregerende state is 12% van die gesondheidsbegroting wanaangewend (5227). In Venter se tyd as minister van gesondheid is alle fasiliteite vir alle bevolkingsgroepe oopgestel (5270), maw apartheid is reeds in Mei 1990 afgeskaf (5945). Dit is opdrag van De Klerk gedoen (5392). “Vanuit KP-geledere is daar ontnugtering en ontsteltenis, gebrek aan kennis, sterk vooroordele maar ook onsekerheid” (5275).

Tog toon Venter ‘n mate van begrip vir die besware. “Persoonlike higiëne en sekere gebruike, soos eet met die hande, gee aanstoot aan pasiënte met ‘n ander kultuuragtergrond” (5296). “Om siek mense van verskillende ontwikkelingsvlakke onbepland saam te groepeer, vra vir moeilikheid … mense se ontwikkelingsvlak en kulturele gebruike vereis verdraagsaamheid en wyse bestuur” (5301). Ek dink ‘n mens behoort pasiënt-georiënteerd te dink. As ek na ‘n operasie wakker word en om my kyk, moet dit nie lyk asof ek in ‘n lokasie platgeslaan is nie. Dit moet eerder voel asof asof ek tuis by my eie mense is. Wat nou in die praktyk gebeur, is dat blankes teen hoë koste eerder van privaat hospitale gebruik maak en nie die voordele geniet van die staatshospitale wat hulle met belasting subsidieer nie. Dieselfde is besig om by ons skole en universiteite te gebeur; dus die blankes wend hulle al hoe meer tot privaat instansies.

Wat het De Klerk in 1990 te sê gehad? “Verandering sal eers nadat dit onderhandel is, soos die NP oor jare onderneem, aan die kieserspubliek voorgelê word” (4728). Hiervan het dadels gekom. “Ordelike regering en wet en orde sal gehandhaaf word” (4728). In werklikheid was 1990/94 meer chaosties as enige ander tydperk ná 1910 in Suid-Afrika se geskiedenis. Die kern van De Klerk se onvermoë word spoedig duidelik: “Geen voorafgaande plan of strategie [is] waarskynlik ontwikkel … vir ‘n omvattende politieke oorgangsfase wat begin nie” (4739). Daar is ‘n “gebrek aan nasionale leiding in die kabinet” (4750).

“Geen gekoördineerde politieke en administratiewe plan vir die verdeelde apartheidsadministrasie [sentrale en provinsiale regerings] kom tot stand nie. Vordering met hersiening van dienste is swak as gevolg van swak politieke en administratiewe leiding en magstrukture wat teen mekaar werk … Sedert Februarie 1990 ontwikkel ‘n ongesonde bestuurstyl. Sake word reaktief en ad hoc hanteer. Toe Kodesa begin [Desember 1991] voel dit vir my daar is nie ‘n oorhoofse stuurman wat sake beheer en bestuur nie. Al die fokus is op die daarstelling van ‘n nuwe grondwet wat SA gaan lei na ‘n nuwe bedeling. Ek raak bekommerd oor hoe ons hierdie bult gaan uitkom sonder duidelike bestuursdoelwitte vir die politieke proses, administratiewe rekonstruksie en die grondwetlike proses” (4756). “Tydens die oorgangsfase is riglyne … nodig oor hoe ‘n regering vir ‘n doeltreffende administrasie verantwoordelik moet bly. Dit vereis ‘n politieke bestuursplan wat sekerheid skep oor hoe en wanneer politieke partye, buite die parlement, inskakel met die besluitnemingsproses. So ‘n plan ontwikkel nie” (4772).

“Eie politieke oogmerke van die ANC word dmv opsweping en geweld afgedwing in swart gemeenskappe” (4777). “Wanvoorstellings oor elke aspek van die bestuur van die land word deur die ANC geskep. Die ANC verhoog onsekerheid oor die regering se reg om die land tydens die oorgangsfase te regeer. Hulle bevorder hulself as die alternatiewe regering. Die administrasie van dienslewering in swart woongebiede word direk geraak” (4807). “Burgerlike ongehoorsaamheid oor niebetaling” word openlik deur die ANC aangemoedig (4777). Ons pluk daagliks steeds die nadelige gevolge van hierdie dwaasheid.

In sy outobiografie skryf De Klerk: “In my team there was no place for inner circles and no by-passing the cabinet” (p 153). Volgens Venter is dit ‘n leuen – een van baie. Vergelyk die hemelsbreë verskil tussen wat De Klerk geskryf het (Praag 23.09.2017) met wat Venter in haar boek meedeel, bv “Geleidelik begin ek besef De Klerk betrek nie ministers wat elke dag met dié sake werk by onderhandelings met die ANC nie” (4796), bv by die vredesverdrag wat op 14 September 1991 met Cosatu gesluit is, is die kabinetministers verantwoordelik vir maatskaplike dienste nooit betrek nie. “Kort brokkies ad hoc-inligting is soms tussenin gegee. Die [voorafgaande regerings-]verslag is ook nie beskikbaar gestel aan die hoofde van staatsdepartemente nie, maar is as ‘n politieke aangeleentheid hanteer” (4905). De Klerk se onbekwaamheid uitkristalliseer al hoe duideliker, bv: “Dit word duidelik dat De Klerk nalaat om ‘n behoorlik gekoördineerde ontleding deur kundiges te laat doen oor die omvattende, fel revolusionêre aanslag teen sy regering, asook die ontwikkeling van teenrevolusionêre stappe” (4884). Dit word vroeg al duidelik “tot watter mate ANC-simpatiseerders beheer geneem het” (4911). Waarmee die NP-regering besig was, is “reaktiewe optrede en krisisbestuur, wat nie politieke partye se aandeel in geweld erken en hanteer nie” (4921).

“Die magskonflik tussen verskillende politieke partye in swart gemeenskappe is die belangrikste oorsaak van geweld” (4932), maar die ANC beweer dat apartheid die oorsaak van die geweld is (4926). “In die afwesigheid van politieke teenstand deur die NP lyk sulke wanvoorstellings soos die waarheid” (5333). “Aangesien die NP nie behoorlike, strategiese teenstappe in die openbaar doen wat die ANC se wanvoorstellings regstel nie, versterk swart mense se wanpersepsie van wit mense” (5339). Die regering word verantwoordelik gehou “vir die uitfasering van geweld deur maatskaplike behoeftes te ondervang” (4932). “Die regering se swak leiding begin in ‘n krisis ontaard” (4942). “Swak ontleding en leierskap lei tot gebrekkige bestuurdoelwitte vir die kabinet” (4952). “Ek begin raaksien hoe gefragmenteerd De Klerk sake bestuur en is bekommerd” (4968). “Binne die staat is daar bekwame amptenare vir die taak, maar hulle is net soos die veiligheidsmagte op die kantlyn geplaas” (4984).

“Toe Kodesa in Desember 1991 begin, bestaan geen verstandige brug na vrede en ‘n ordelike bestuursplan vir die administrasie van die land wat omvattende maatskaplike disorganisasie begin herorganiseer, en op politieke onderhandelings voorberei nie. Ten spyte van die vredesverdrag verdiep die politieke proses wat die regering stelselmatig in ‘n swakker posisie vir onderhandelings plaas. Die regering se onsekere optrede teen die ANC se negatiewe gedrag verswak sy eie gesag. De Klerk wil almal se vriend wees en is huiwerig om sterk stelling in te neem teen onaanvaarbare politieke gedrag” (4989). Dít is ‘n simptoom van politieke verligtheid. Swartes mag nie gekritiseer of tereggewys word nie. Verder: “Verligte denkers is huiwerig om enige erkenning aan wit mense en die [NP-]regering te gee” (5344).

Anders as die eerste helfte van die boek, is die teks in die tweede helfte minder goed gesistematiseer en te dikwels herhalend. Ek dink nie ek vaar (veel) beter nie, maar ek doen ‘n beroep op lesers om hierdie rubriek (en/of Venter se boek) tot die einde te lees, wanneer hulle sal besef dat hulle van ‘n verdienstelike nuwe of aanvullende siening van hierdie tragiese gebeure kennis geneem het. Wat Venter se boek en my teks weerspieël is die chaos waarin die land in 1990/94 verval het; enersyds weens die onbekwaamheid van veral FW de Klerk en andersyds weens die onrusstoking en geweld van veral die ANC onder die leiding van Nelson Mandela. Tot Venter se eer is daar nêrens ‘n loflied vir Mandela nie. Daarvoor het hierdie geweldenaar hom te swak gedra, bv: “Mandela met sy politieke vaardighede word ‘n belangrike gesig van die ANC se propaganda wat De Klerk bly verneder en beledig” (7801). Eintlik word alle blankes deurlopend deur die ANC verneder (7907). “Baie wit mense verloor perspektief en begin glo hulle verdien niks nie en moet vernedering aanvaar as ‘n manier om te vergoed vir hul skuld aan apartheid” (7913).

In Venter se boek kom De Klerk sleg daarvan af, maar sy erken dat sy hom eintlik sag beoordeel omdat “ek nie die beeld van die president wil afkraak nie” (8061). “Swak beheer deur die kabinet en onsekerheid oor die bestuur van sake vorm die kern van my storie” (5074). “In effek het die regering nie beheer oor die oorgangsproses nie, terwyl die ANC met eie taktiese stappe die administrasie ondermyn en geleidelik begin maneuvreer in ‘n ‘lame duck’-posisie” (5509). “Die NP het ‘n belofte aan sy kiesers gemaak. Die party sal nie die land in chaos dompel nie. Hierdie belofte vereis ‘n goedbeplande oorgangsproses. Wat nie besig is om vorm aan te neem nie” (5525). “[My] ervaring open my oë vir De Klerk se bestuurstyl: Talle sake bly onseker en word uitgestel vir grondwetlike onderhandelings met die verwagting onderhandelings gaan alle kwessies oplos. Die afwesigheid van ‘n voorbereide oorgangsbestuursplan vir die kabinet word ‘n al hoe groter probleem” (5552). “Ons weet nie waarheen ons op pad is nie” (5557).

“Die ANC is besig om sterk stemming te maak dat die kabinet nie die land eensydig kan regeer nie. Hulle soek vooraf inspraak in alle besluite” (5754). Dit volg ná die instelling van ANC-forums in 1990 (5986). “Die wit regering, word beweer, het nie die reg om die land tydens die oorgangsfase te bestuur nie. Hul uitgangspunt is dat alles wat die regering doen, onwettig is” (5997). “Gevestigde kultuur- en welsynsinstellings, sowel as sportliggame is onder druk om dadelik te begin transformeer volgens hul voorskrifte” (6014). Die ANC “verwag volle beheer oor die oorgangsproses wat begin is. Forums begin die ANC se politieke siening ondemokraties vestig as enigste geldige beleid met geen oorweging van ander partye se regte en belange nie” (6051). “Forums van die ANC het ‘n vrye hand om enige soort aantyging teen die regering of ministers te maak” (6103). “‘n Aktiewe propagandaveldtog teen ministers laat die politieke leuen soos die waarheid lyk (6109). Byvoorbeeld: “Aan die een kant kla die ANC oor maatskaplike agterstande in die swart gemeenskappe. Aan die ander kant doen die party geen stappe om ‘n kultuur van vernietiging stop te sit nie” (6067). “‘n Gemeenskaplike bestuursplan vir funksies van die staat wat hierdie druk van forums gekoördineerd en konstruktief kan bestuur, word nie ontwikkel nie” (6167). Die regering se onvermoë om die ANC se propaganda doeltreffend teen te werk, “lei spontaan daartoe dat redelike mense ‘n behoefte ontwikkel om reg te maak, om boete te doen en om verskoning te vra” (6324).

Tevergeefs word gehoop “dinge sal normaliseer namate die oorgangsproses geloofwaardigheid kry” (6067). “Objektiewe beoordeling in die kabinet verswak. ‘n Neiging steek kop uit om oor die skouer te kyk na die ANC en provinsies se belange” (5759). “Die president het geen gesag oor provinsies nie” (5797). Dikwels word niks aan die verslegtende situasie gedoen nie omdat “die regering nie die grondwetlike proses wil vooruitloop nie” (5785). “Alle fokus bly op stappe wat gedoen moet word sodat grondwetlike onderhandelings kan begin ‘waar alles hanteer sal word'” (5817). “Die ANC begin die regering in ‘n terugvalposisie inrangeer” (5904). “Die persepsie word geskep dat magsdeling bloot ‘n voortsetting van apartheid sal wees” (6009, ook 6530). “Die media se houding is onrusbarend, daar word weggedeins van kritiese beoordeling van die ANC se wanvoorstelling van sake” (6093). “Koerante wil nie beskuldig word dat hulle apartheid verdedig nie” (6098).

“Die ANC berei voor om op eie voorwaardes deur die oop deur na onderhandelings te stap” (6109). En hy kry dit reg. Die ANC sweer nie geweld af nie en kommuniste mag maar deel van sy afvaardiging wees. Daarna sien die NP af van ‘n federale bestel en minderheidsregte; insluitende kulturele regte, wat Afrikaans grootliks in die stof laat byt. “Mandela se standpunt is openlik dat hulle nie hul wapens sal oorhandig voordat hulle mag oorgeneem het nie” (7222). “Die ANC behaal sekere politieke winste oor die vrylating van politieke gevangenes en uitgewekenes wat terugkom na Suid-Afrika, sonder ‘n eerlike verbintenis tot die staking van geweld” (6814). Mandela was bv in beheer van die ondergrondse Vula-insurgensieprogram (6452) en hy werf openlik MK-lede (6460). “Die ANC speel gevolglik ‘n dubbele rol ten einde mag hoofsaaklik op eie voorwaardes oor te neem” (6474; ook 6486). Oliver Tambo sê: “Negotiate, yes, but step up the armed struggle too” (6491).

“Die ANC slaag daarin om De Klerk reaktief besig te hou met talle griewe en eise teen die veiligheidsmagte. Dit posisioneer die president in die rol van fasiliteerder wat sy taak as staatshoof en leier van die NP beperk” (6536). Die veiligheidsmagte word bv valslik deur die ANC daarvan beskuldig dat hulle die derde mag is in die stryd tussen die ANC en die IVP en dat die regering hom op hierdie manier aan die kant van die IVP skaar. Dit bring mee dat De Klerk sy veiligheidsmagte verkeerdelik al hoe meer wantrou. “Die ministers van verdediging en wet en orde [Magnus Malan en Adriaan Vlok] is uitgesluit van die eerste ontmoeting met die ANC by Groote Schuur, asook ontmoetings daarna” (6790). Die NP-regering beland daarna al hoe meer op “‘n politieke glybaan” (6974) na swart meerderheidsregering. In werklikheid het die ANC reeds “teen die middel 1980’s in Dresden, Oos-Duitsland, besluit om IVP-leiers en -hoofmanne te elimineer” (7285).

De Klerk se vrome maar valse beloftes aan die blanke kiesers voor die 1992-referendum is nog vars in my geheue: magsdeling – nie magsoorgawe nie – en eie woongebiede, eie skole, niemand sal sy werk verloor nie en die grondwet waarop tydens onderhandelinge ooreengekom is, sal in ‘n tweede referendum aan die blanke kiesers vir goed- of afkeuring voorgelê word. Venter gee ‘n heeltemal ander en ontstellend perspektief op De Klerk: “De Klerk wil die vraag [wat deur die kiesers in die referendum beantwoord moet word] sodanig formuleer dat hy loskom van sy onderneming dat kiesers die finale seggenskap oor ‘n onderhandelde skikking het. ‘n Onbeduidende vraag word dus geformuleer wat bloot voortsetting van die proses magtig: ‘Steun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het, en wat op ‘n nuwe grondwet deur onderhandelings gerig is?'” (7431). Volgens Venter se vertolking het De Klerk die kiesers met hierdie formulering doelbewus bedrieg. Wat myns ook duidelik is, is dat sekerlik die oorgrote meerderheid van diegene wat “Ja’ op hierdie vraag geantwoord het, daarmee nie ‘n mandaat vir oorgawe aan swart mag aan De Klerk of die NP gegee het nie. Dit is ‘n onomstootlike feit dat die meerderheid blanke kiesers nie tot so iets sou inwillig nie. Daardie referendumvraag “word bemark met die klem op ‘n mandaat om te onderhandel vir magsdeling” (7436), nie magsoorgawe nie, soos ook duidelik gemaak is in NP-advertensies kort voor die referendum.

Venter skryf: “Hierdie saak waarmee ek ywerig in talle kiesafdelings help, word een van die grootste gewetenswroegings wat my lewe gedurende 1993 diep omkrap toe dit duidelik word hoe ernstig ons ons kiesers tydens die finale onderhandelings in die steek laat” (7441). De Klerk se onderhandelinge het in “konformeringspolitiek” ontaard (7950, 8039). “Die NP … word die lakei van die ANC se politieke agenda” (8126). Soos die kommunis, Joe Slovo, dit gestel het: “They caved in on everything” (8226). Die kiesers, daarenteen, “soek die einde van apartheid, maar nie die prysgawe van ‘n ordelike staat en eie kulturele behoeftes en belange nie” (7447). “Die regering laat nou toe dat die ANC hulle met ‘n revolusie afpers … Dit word duidelik geen politieke dryfkrag, selfvertroue en helder denke bestaan [by De Klerk/die NP] wat bereid is om die rug styf te maak in belang van ‘n regverdige, nuwe Suid-Afrika nie” (7968). “Geweld manipuleer in werklikheid die proses” (7973). “Politieke mag wat dmv geweld gewen word, is nooit onskuldig en eerbaar nie” (8071).

“Geweldsomstandighede plaas druk op grondwetlike onderhandelings om so gou moontlik te skik ‘voor geweld handuit ruk'” (8034). “Die regering verloor geleidelik eie politieke onafhanklikheid” (8034). “Kiesers verstaan nie waarom die regering hul nou ‘by die ANC posisioneer nie’ … Die regering is nou die fasiliteerder van die oorgangsproses” (8028, ook 8295) ooreenkomstig die wense/eise van die ANC; dus, “Die NP is nou in die kooi met die ANC” (8061). “Die gebeure reduseer wit mense tot konformerende rassiste wat met die ANC moet saamloop om die verlede reg te stel” (8066). Dít is waarskynlik onderliggend aan die inlywing in 2005 van die NP by die ANC deur Marthinus van Schalkwyk. “Elke NP-kieser [word] deur die president [De Klerk] onvoorwaardelik aan die ANC se agenda uitgelewer” (8071). “Die NP-regering verloor koers. Ook die politieke integriteit waaraan so hard gewerk is sedert die party in 1980 begin het om van ongeldige politieke beginsels [bv apartheid en Afrikaner-nasionalisme, volgens Venter] ontslae te raak” (8098).

Nadat die NP so dwaas wat om hom voortydig tot ‘n vaste verkiesingsdatum te verbind, kry die ANC ook beheer oor die tempo van die oorgangsproses (8247). “De Klerk laat toe dat Mandela met sy talle voorskrifte die politieke ritme bepaal … Mandela laat roep hom selfs uit die kabinet[svergaderings]. … Hy verwag sy versoeke moet dadelik uitgevoer word” (8843). “Die wyse waarop hy na die president verwys, toon geen ontsag nie. Hy sê hy sal De Klerk opdrag gee om in te gryp” (8858). “Onder die president se leiding is almal huiwerig en onseker om op Mandela en die ANC se tone te trap” (8874). “Mandela gebruik nou apartheid om sy wil op elke faset van die proses af te dwing” (8880). Reeds op 15 Februarie 1993 het die regering en die ANC hulle verbind tot 27 April 1994 as die verkiesingsdatum (8716). “De Klerk en Mandela kondig die verkiesingsdatum op 2 Julie 1993 aan” (8748). “Mandela maak blykbaar kort hierna die opmerking: Die datum vir magsoorname is cast in stone” (8721). ‘n Politieke drukgang is geskep wat sake by finaliteit moet bring” (8727). “Toe die verkiesingsdatum vas is, het [baie van die] onderhandelings nog nie begin nie” (8795).

“Die regering beskik nie oor die politieke vaardigheid om selfgeldend in belang van die land op te tree nie” (8549). “Teen Desember 1993 weet ek dit is polities naïef om te glo ‘n nuwe grondwet alleen lê ‘n goeie grondslag vir die oorgang. In Desember weet ek SA is ernstig in die moeilikheid te midde van ‘n politieke euforie wat heers omdat die NP die indruk skep sake is suksesvol afgehandel” (8559). “Ek weet daar wag groot ontnugtering en is diep teleurgesteld. Ek kan nie saam met De Klerk en sy onderhandelaars hande klap nie” (8790). “Die ANC se politieke vooroordele beheer die openbare mening” (8769). “Ons speel nou vir die internasionale galery wat onder die indruk kom dat SA saam met die ANC werk en daarin slaag om suksesvol ‘n grondwet te skryf wat ‘ons losmaak van die verlede'” (9083). “Ek sien raak die ANC het min aan te bied om ‘n regverdige, doeltreffende SA daar te stel” (8832). “Die ANC se sosialistiese ideologie neem onbeperkte beheer van elke beginsel van die nuwe Grondwet” (9221) omdat ANC-kornuite ná 1994 die 1993-Oorgangsgrondwet verander en daarna die 1996-Grondwet na goeddunke gaan vertolk.

Tydens die NP-kabinet se bosberaad in Julie 1993 word aangekondig dat daar afgestap is van ‘n magsdelingsmodel waaraan die NP verbind was (9137). “Tydens ete lig [Roelf] Meyer, wat langs [Dawie] De Villiers staan, ‘n aantal lede van die kabinet in hulle moet gewoond raak aan die idee dat meerderheidsregering onafwendbaar is” (9200) … sonder dat die beginsel van onbeperkte meerderheidsregering in die kabinet hanteer, bespreek of goedgekeur is” (9205). “Die kabinet word tydens die bosberaad teen wil en dank medepligtiges van besluite wat namens ons gemaak is” (9158). “Die regering se onderhandelaars … [het] sonder magtiging van die kabinet, tot meerderheidsregering ingestem” (9236). Patti Waldmeir beweer: “Once morality and ambition had set Meyer on the road to majority rule, he pursued it with a vigor and a commitment not shared by anyone else in the National Party, including FW de Klerk” (9241). (Dit laat my dink aan ‘n opmerking waarna Francois Retief verwys het: “Jy moet sien dat daardie mannetjie [Roelf Meyer] gaan klim vir ‘n belangrike pos, maar hy is nie ‘n groot gees nie!” – OJO Ferreira, Broederskap, 2018, p 406 – Praag 23.09.2018). Meyer was eens ‘n Broeder. Venter skryf: “Waldmeir beweer Meyer verteenwoordig die verligte of liberale sektor van die kabinet, en dat hy soms voel hy, De Villiers en Leon Wessels, die regering se onderhandelingspan, ‘were only three and a half in cabinet’, met stukkies daarby [verwysende blykbaar na De Klerk en Pik Botha]. ‘Even De Klerk himself was often a reluctant convert to Meyer’s position'” (9249).

“Daar word bloot verwag die kabinet moet die seël op skikkings [van die onderhandelaars] plaas” (9194). Pleks van ‘n federale bestel word die provinsies se magte erg verskraal omdat die ANC aandring op die sterk sentralisering van magte (9163). Nege provinsies is onbekostigbaar maar die ANC wil nege provinsies hê, gevolglik het die NP daartoe ingestem (9168). Die NP het nie net die blankes en ander ras- en etniese minderheidsgroepe in die steek gelaat nie, maar ook al die nie-ANC politieke partye. “Die regering se onderhandelaars meen onderhandelings met die ANC is voldoende vir ‘n skikking en ‘ander swart minderhede is nie belangrik nie.’ Hierdie siening sluit aan by die ANC-propaganda dat swart minderhede maaksels van apartheid is” (8988). Daar heers ‘n siening “dat ‘n skikking met die ANC die regering se hoogste prioriteit is, en dat dit inderdaad ten koste van ander swart minderhede sal geskied. Ook ten koste van die wit minderheid … Wat in gedagte gehou moet word, is dat geen georganiseerde swart eenheidsmag teen die regering in 1990 bestaan toe die proses begin het nie” (8993). Die mate waarin swart eenheid daarna bewerkstellig is, kan aan die ANC se intimidasie, geweld en terrorisme toegeskryf word. “Die ANC [wil] hierdie verskeidenheid polities met geweld eenders … maak” (9077).

“In plaas daarvan dat die beginsel van Afrikaanse skole onderhandel word, word dit aangepas tot moedertaalonderrig. Nou kom die ANC met nog ‘n bepaling: Elke kind het die reg op toegang tot enige skool in die taal van sy keuse. Verskeie lede van die kabinet wys op die skuiwergat dat Afrikaanse skole so uitgefaseer gaan word ‘omdat Afrikaanse skole vir die ANC die voortsetting van apartheid beteken'” (9271). “Die regering laat hierdie politieke konkelry toe” (9276). “De Klerk meen blykbaar wat ontbreek in die Oorgangsgrondwet [1993] kan in die finale Grondwet [1996] ingeskryf word. ‘n Totaal ongegronde verwagting. Afrikaans as taal verloor in die finale Grondwet sy status as een van die grootste spreektale in die land” (9283). “Die ANC het ‘n politieke agenda teen Afrikaans” (9271). “Taal is ‘n belangrike wapen waarmee ‘n veroweraar sy mag probeer vestig” (10371). “Die ANC se eerste keuse is om Engels die enigste amptelike taal te maak” (9293). Die regering skik op 11 amptelike tale “en gee daarmee toe aan die ANC se ideologiese strategie dat Engels by implikasie die belangrikste ampstaal word” (9298).

Op 1 Augustus 1993 verskyn daar ‘n berig in Rapport dat daar tweespalt in die kabinet is (9326). Venter se naam word nie genoem nie, maar wel dié van Tertius Delport, Kobie Coetzee, George Bartlett, Hernus Kriel en Danie Schutte (0333) as die sogenaamde “anties” (9349) wat as verkramptes voorgestel word omdat hulle nie tevrede is met waaroor met die ANC ooreengekom is nie. In werklikheid is alles glo in orde en word daar na wense gevorder. “Dit is ‘n growwe misleiding van die publiek” (9349). “Geen minister maak in die kabinet beswaar oor die koerantberig nie” (9405). “Die oogmerk is blykbaar om die grondwetlike onderhandelings so gou moontlik afgehandel te kry, met die minste weerstand. Volgengs my is ons in ‘n proses van politieke oorgawe” (9436). Die “konflik en probleme [wat van 1994 af opduik] kan myns insiens toegeskryf word aan die oppervlakkige en oorhaastige wyse waarop sake in 1993 afgehandel is” (10072). “De Klerk moet probeer regmaak wat verkeerd begin is. Dit is ‘n onmoontlike saak noudat die ANC onbeperkte mag oorgeneem het” (10095).

Teen die einde van 1993 word oor ‘n Regering van Nasionale Eenheid (RNE) ooreengekom en ‘n Uitvoerende Oorgangsraad (UOR) daargestel (9541). “Die UOR is ingestel om die politieke speelveld tussen die regering en politieke partye (die ANC) gelyk te maak” (9588). Die era van blanke politieke beheer is verby. “Die UOR vertolk sy magte so wyd as moontlik, en wend pogings aan om die regering se bevoegdhede sover as moontlik te beperk” (9630). Die ANC neem “die ‘regering onder toesig’ … en die UOR [word] vir hul eie belange gebruik” (9657); dus: “Die ANC gebruik die UOR soos alle ander instellings om sy eie magsposisie te verstrek” (9673). “Die regering laat toe dat die ANC se agenda onbeperkte beheer neem, onder die mistasting dat dit hul reg as meerderheid is” (10387).

“Teen Januarie 1994 is dit duidelik hoe swak die NP se inspraak binne die RNE sal wees” (9866). Die ANC “maak seker voldoende beperkings vir ‘n konstruktiewe rol in die RNE word op die NP geplaas” (9918). Maar “die NP skep ná November 1993 [valslik] by sy kiesers ‘n persepsie dat ‘n goeie grondslag vir ‘n nuwe bedeling van samewerking met die ANC gelê is” (9871). “Die voorstelling dat ‘n verstandige politieke skikking bereik is, is ‘n sprokie sonder substansie” (9912). “Die politieke euforie wat De Klerk en die onderhandelaars bevorder, is onrealisties en moeilik om teë te staan of te weerspreek” (9891). “Op daardie stadium bestaan ‘n negatiewe houding in die NP teen ministers wat enige kritiek op die politieke skikking lewer. Ek het reeds aangekondig ek verlaat die politiek omdat ek besef die NP is aan die wil van die ANC uitgelewer” (9935).

“Dit is rou oorname van politieke mag sonder enige substansiële onderbou wat die oorgang ondersteun en begelei” (9901). “De Klerk se regering val dramaties uit die bus met hierdie sake en lê self die grondslag vir die verval van die land se administrasie” (10354). “Die NP het oor die afgelope jare toegelaat dat ‘n patalogiese politieke proses in sy midde ontwikkel. Almal wil so verlig as moontlik lyk. Almal buig agteroor om in tel te wees binne die klimaat wat die ANC teen apartheid bou. Die skeppers van apartheid neem huiwerig verantwoordelikheid. Die gevolg is dat ‘n standpunt oor die regte van die Afrikaanse minderheid en hulle taal, as regse denke vertolk word” (9974).

“Die NP het hulself teen 1995 uitbestuur uit politieke mag en geloofwaardige demokratiese inspraak verloor” (6520). Venter bied ‘n siening van Nelson Mandela, wat minder vleiend en meer waarheidsgetrou is as dié van bv Zelda la Grange en diesulkes. ‘n Aanvullende en beter perspektief as gebruiklik word op FW de Klerk gegee. Nie een van die twee verdien die Nobel-vredesprys nie; onder meer omdat daar steeds eerder buitensporige geweld as vrede is. Die mite van ‘n vreedsame oorgang na swart meerderheidsregering is absoluut vals omdat die oorgang van 1990 tot 1994 deurlopend deur geweld gedikteer is. Dit gaan my verstand te bowe dat Mandela en De Klerk dink dat hulle op verering geregtig is. As ek my aan sulke oneerbare gedrag skuldig gemaak het, sou ek my nooit aangematig het om ná die 1994-verkiesing in die openbaar te verskyn nie. Wat in 1990/94 gebeur het, “is soos ‘n grafskrif oor alles wat goed was in Suid-Afrika” (8753).

Ná 40 hoofstukke het die nuwe Suid-Afrika aangebreek. Dit is tyd vir ANC-kamerade om KFC te eet. Die kabinet begin om ideologie-gebaseerde en ondeurdagte wraakbesluite te neem. Ingevolge sy nie-rassige beleid word op groot skaal van die ervare blanke personeel in die staatsdiens ontslae geraak. In hulle plek kom onervare swart personeel, mans en vroue, aangestel teen hoër salarisse en in ooreenstemming met seksistiese en nie-meriete oorwegings. “Omgekeerde rassisme neem oor” (10431). Venter herinner ons daaraan dat Aristoteles (384-322 vC) geskryf het: “gehalte [is] nie ‘n daad … nie maar ‘n gewoonte” (10317). “‘n Persepsie vat pos dat ‘n demokrasie hoofsaaklik oor die regte van die meerderheid handel” (10436). “Die eensydige beklemtoning van mense se regte [deur die ANC] versterk eiegeregtigheid, afhanklikheid en ‘n uitdeelkultuur” (10242). Die tafel is gedek vir ondoeltreffendheid, wanbestuur en korrupsie. “Suid-Afrika is op ‘n glybaan van verval en ongeregtighede” (10448). Dit is onwaarskynlik dat die land ooit weer ‘n suksesvolle en vooruitstrewende samelewing sal word. ‘n Oud-minister van die NP, Louis Shill, het tereg geskryf: “Ons is in ons moer in!” (10121, 10521).

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.