Suid-Afrika het Israel se ambassadeur na die departement van Internasionale Betrekkinge ontbied om sy land se aanvalle op die Gasastrook te verklaar.
Dié aanvalle is ‘n growwe skending van die internasionale reg.
Die jongste diplomatieke wrywing kom nadat sowat 200 Palestyne, waaronder meestal burgerlikes en kinders, reeds in lugaanvalle deur die Israelse weermag gedood is.
Israel probeer voorgee dat die Palestyne “oorlogsmisdade” pleeg in weerwil van die feit dat daar geen Israeli-slagoffers is nie.
Die minister van Internasionale Betrekkinge, Maite Nkoana Mashabane het by die BRICS-beraad in Brasilië gesê dat Ambassadeur Arthur Lenk ingeroep sal word.
Israel sê die doel van die lugaanvalle is om ‘n einde te bring aan Hamas se vuurpylaanvalle uit Gasa.
President Jacob Zuma het by die BRICS-beraad gesê Suid-Afrika is bekommerd oor die jongste geweld en lewensverlies in Palestina en Israel.
Volgens Zuma moet BRICS-lande ‘n dringende inisiatief steun om die twee lande terug te bring na vreedsame onderhandelinge met die doel om ‘n tweestaat-oplossing te verkry.
Israel het sy lugaanvalle op Gasa vir ‘n negende dag voortgesit.
Die Israelse weermag het ‘n waarskuwing uitgereik aan inwoners in die ooste en noorde van Gasa, en hulle aangeraai om hul huise te verlaat.
Met vorige waarskuwings is die Palestyne slegs enkele sekondes gegun om hul huise te verlaat.
Israel het Dinsdag sy lugaanvalle hervat nadat internasionale pogings om ‘n skietstilstand te bereik, skipbreuk gely het.
